Monday, January 23, 2012

Feniks van hoop


Loshande die beste ding van die vierde Tom Cruise-doen-James Bond-episode is die feit dat Brad Bird, skepper van The Incredibles, sy kans aan die stuur van ‘n groot konsessie-uitreiking – en dié keer met regte akteurs – kry.

Bird was ook regisseur van die kultus-animasieprent The Iron Giant (1999) en meer onlangs van Ratatouille (2007). Dalk is sy aanslag die rede waarom dié M:I-fliek se soms strokiesprentagtige aksie dalk effe beter as dié in nos. 2 en 3 vloei (of eerder aksie-fantasie; dié is nie ‘n Bourne-fliek nie), maar dis nie so oorspronklik soos mens dalk gehoop het nie. Ateljee-riglyne en die ster se vereistes het dalk swaarder as skeppende vermoë geweeg.

Dit help in elk geval niks met die feit dat Cruise nog Cruise is nie en hy’s steeds ‘n yslike bron van irritasie. Hy’t lanklaas in enige rol oortuig en kyk mens na sy pogings die afgelope dekade staan net drie vertolkings uit - dié in Minority Report (2002), Collateral (2004) en War of the Worlds (2005). Dit beteken Mapother IV het sewe jaar laas iets op die groot skerm gedoen wat mens nié na selfverminking gedwing het nie.

Mens kan wel ‘n traan wegpink vir Cruise, wat in Julie sy 50ste verjaardag vier, se waagmoed om kaalbolyf afgeneem te word en, nog heldhaftiger, ‘n mate van kwesbaarheid in die aksietonele te wys. Dié agent Ethan Hunt is duidelik ‘n man met harde myle op die klok, maar sy hart klop nog sterk – vir land én vroulief.

Die storie, geskryf deur Josh Appelbaum en André Nemec, is allermins oorspronklik en die karakters maar plankdun. Dié twee het al saam (ook saam met J.J. Abrams, regisseur van M:I III en hier vervaardiger) aan verskeie TV-reekse, waaronder Alias, gewerk en dit lyk nie of hulle die beperkings van TV-skryfwerk kan ontsnap nie. Hunt se IMF-eenheid word ontbind en hy en sy groepie kollegas moet vlug wanneer die aartskurk Kurt Hendricks (die Sweedse ster Michael Nyqvist) die Kremlin opblaas in dié se plan om ‘n kernoorlog te ontketen. Skok.

Die span kry die skynbaar onvermydelike onwillige en skeptiese lid in die gedaante van die The Hurt Locker-ster Jeremy Renner (wat veel geloofwaardiger as enige van die ander voorkom) by; Simon Pegg verskaf oudergewoonte die noodsaaklike komiese verligting; en Paula Patton (onthou haar van Tony Scott se Déjà vu?) die noodsaaklike borste en bene. Elkeen, behalwe vir Pegg, worstel met sy eie demone. Gaap.

Die aksie verskuif na Dubai – die fliek se hoogtepunt danksy sy vloerskuif-knoeiery en stofstorm-jaagtoneel – en van daar na Indië, waar die arme Anil Kapoor van Slumdog Millionaire-faam in ‘n rolletjie gedruk word wat mens laat skaam kry. Dié gedwonge tonele saam met Patton se karakter is die fliek se laagtepunt en opnuut ‘n bewys van wanneer dinge in dié soort ateljeeprent skeefloop, loop dit ordéntlik skeef. Darem werk Bird ‘n vermaaklike, Monsters Inc.-agtige aksietoneel in ‘n verdieping-parkeergebou in wat sake effens beredder.

Desondanks bied die vierde M:I-prent bied min wat mens opgewonde maak, behalwe om te hoop Bird kry sommer gou nog werk.

1 comment: