Monday, June 13, 2011

Vinnig al hoe flouer


‘n Mens kan veel – en nie veel daarvan goed nie – van die vyfde Fast & Furious-fliek sê, maar een ding staan soos ‘n paal bo water: In die snikhete Rio de Janeiro is Dwayne Johnson se FBI-karakter die enigste een wat deurgaans soos ‘n vark sweet.

Dit daar gelaat.

Vele brullende motors, testosteroon, sjoebroekies en niksseggende Neanderdal-geluide vermom as “dialoog” later is die einde vir die Fast & Furious-konsessie skynbaar steeds nie in sig nie.

Van Rob Cohen se oorspronklike, genotvolle daai-wilde-manne-en-hul-bokspringende-krismislig-renmotors-fliek is daar min oor. Dáár was darem nog ‘n tikkie oorspronklikheid en joie de vivre te bespeur; selfs ‘n poging tot karakterontwikkeling, sou mens kon sê. Die Vin Diesel/Paul Walker-kombinasie het goed gewerk en het Cohen se stout-seuns-met-duurder-speelgoed-benadering mooi aangevul. Selfs bleeksiele in 1,1 liter-motortjies het hulle op pad terug huis toe verbeel hulle looi daai tjor dat hy rook en tuis wag ‘n warm Amasone in ‘n denimbroekie en wit T-hemp, gewapen met ‘n bier en ‘n moersleutel.

Sedertdien, en sonder Cohen en stuk-stuk ook sonder Diesel en Walker, het die wiele van Tokio tot Mexiko maar erg afgeval. Diesel is darem sedert no. 4 terug, maar al die silinders wil steeds nie vuur nie, hoewel Justin Lin, regisseur sedert no. 3, hard probeer om die jaagtoertjies so skouspelagtig moontlik te maak. En paradoksaal is dit darem een aspek van no. 5 wat wrintiewaar werk.

Die redenasie agter dié soort flieks is foutloos. Die teikenmark is pragtig vergestalt deur die jeugdige viertal met hul selfone, gebrekkige humorsin en aandag afleibaarheid in die ry agter my. En as daar nou een ding is wat Hollywood goed kan doen, is dit om dié teikenmark vir elke liewe sent van daddy en mommy se geld te melk. Dit verg nie veel nie: Mooi mense in skrapse kleertjies; een of twee one-liners; en ‘n verskoning om chaos te kan saai.

‘n Mens is nie te bekommerd oor Walker se loopbaan nie. Sy beste fliek is Pleasantville en net omdat Reese Witherspoon hom “pin” en so die kleurrevolusie ontketen. Maar die hart bloei vir Diesel en Johnson, wat albei beter as hul gemiddelde fliek is. En in dié fliek blyk dit nog duideliker, want daar’s geen kans om enige mate van identiteit of teenwoordigheid te vestig as elke karakter se totale dialoog uit 25 woorde bestaan nie. So, al wat jy eintlik hoef te doen vir daardie tjek van miljoene rande, is om op te daag.

En daarby, en dis een van die groot Hollywood-ironieë, ondergrawe flieks soos Fast & Furious se aksietonele net mooi al die goeie werk wat deur hiperrealistiese treffers soos The Bourne Identity gedoen word. Maar die teaterstoele word naweek ná naweek volgepak en daarom sal mens seker die een of ander tyd moet besef: Nee, Hollywood, onderskat nié mense se intelligensie nie.

Sunday, June 5, 2011

Diep pyn; vlak storie



Almal sê altyd mens moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie.

Deesdae geld dit enigiets van brandstof en jou meisie tot ononderbreekte kragvoorsiening en mense sonder ‘n chip op die skouer.

Sit Robert Duvall se naam maar ook op dié lysie. Kyk ‘n mens na sy verrinneweerde gelaat waarin die oë nog helder brand, is dit of die jare wegval en hy’s weer Boo Radley in To Kill a Mockingbird. Van Days of Thunder en Gone in Sixty Seconds (dalk moet hy wegbly van kar-flieks?) probeer ‘n mens vergeet, maar sy ontstellende The Prophet en daardie oubekende onverbiddelikheid in Open Range is darem ook in die geheue vasgebrand.

In Get Low is daar ‘n bietjie van albei laasgenoemde karakters in Duvall se Felix Bush, ‘n kluisenaar wat dekades reeds aan die mense van sy dorpie heerlike bangmaakstories verskaf. Dit kry oornag opnuut momentum wanneer hy aankondig hy hou sy eie begrafnispartytjie. Boonop kan mense, teen ‘n skamele $5 per kaartjie, ‘n kans “koop” om sy grond in ‘n trekking te wen.

Wat die “goeie mense van die wêreld” (met permissie van Sheryl Crow) nie besef nie, is dat hulle blote toeskouers is. Dis die sterk punt van dié draaiboek, geskryf deur onder andere C. Gaby Mitchell, wat ook aan Blood Diamond se storie gewerk het. Soos die kerkman Charlie Jackson (Bill Cobb) tereg opmerk: Bush het ‘n manier om ander mense sover te kry om sy wil te doen.

Die geleidelike delf in Bush se motiewe, en Duvall se oudergewoonte oorrompelende, veelvlakkige spel, maak van Get Low ‘n stewige fliek. Daarby het Aaron Schneider, regisseur, die goeie geluk dat die wonderlike Sissy Spacek, ‘n (genadiglik) rustiger Bill Murray en die onderbenutte Lucas Black van American Gothic-faam goeie steun verskaf. Schneider laat hulle hul ding gepas teen ‘n agtergrond van ryk winterkleure doen, maar hy hamer onnodiglik sy boodskap van die boetvaardige-siel-in-limbo vs. die-lewe-wat-aangaan tuis met die kontras wat hy tussen die amper-sepia-bruin van Bush se eiendom en die skynbaar permanente sonskyn by die begrafnisondernemer skep.

Die goeie spel vergoed ook nie vir die gebreke in die draaiboek nie. Bush word as ‘n amper-magiese, onpeilbare karakter gestel, maar die ontknoping skiet ver tekort van die verwagting wat daar geskep word. As ‘n mens so ‘n groot bohaai van 40 jaar se afsondering wil maak, moet jy sorg dat die rede daarvoor iets werklik aardskuddend is – of dit minstens op ‘n aardskuddende manier aanbied. En een van sterk storielyne, dat mense die partytjie mag bywoon as hulle bereid is om aan Bush ‘n “Bush-storie” te vertel, word nooit opgevolg nie.

Die einde is blote melodrama en eintlik maar mosterd ná die maal.

Get Low is in die eerste plek ‘n fliek wat jou laat besef briljante akteurs soos Duvall, Spacek en Murray gaan nie meer lank met ons wees nie. ‘n Mens kan jou daarom opnuut in hul boeiende spel verlustig. Maar Nobody’s Fool of The Short Story is dit gewis nié.

Wednesday, June 1, 2011

Weer sonder donder




Is Thor ‘n fliek?
Ja, dit is.

Is dit iets waaroor ‘n mens opgewonde raak?
As jy nie kan wag dat The Avengers uitgereik word nie, ja.

Dan is dit die moeite werd om van Thor kennis te neem.
Want dit dreun en donder en blits dalk 3D-blinkgepoets, maar dis ook al. Daar gebeur nie veel in Thor wat noemenswaardig is nie, maar dis noemenswaardig dat die fliek gemaak is, want Hollywood kan nie die Avengers-koei melk as ál die spene (net Captain America kort nog) nie daar is nie.

Soos van die meeste superheld-flieks is daar vooraf groot gewag gemaak van dié een. En dis elke keer dieselfde: Jippie, daar kom ‘n fliek van (skryf jou gunsteling se naam hier)! Maar nee, kyk net wie’s betrokke! Dis skokkend! Nee, dis nie! Het jy nie gesien wat hulle op ComicCon gewys het nie?! En so gaan dit tot vervelens toe aan.

Daar’s veral hoopvol na Thor se koms uitgesien, want die regisseur is Kenneth Branagh, daardie gewaardeerde Shakespeare-liefhebber met ‘n gepaste sin vir die teatrale. Want wat anders as grootse teater is Thor (Chris Hemsworth) se verhaal nie? Aan die hemelse hof van koning Odin (Anthony Hopkins) is hy die heethoof wat alles wil regdonner, terwyl broer Loki (Tom Hiddleston) die bedaarde goëlaar is. Wanneer Thor en sy bende amper ‘n tussenplanetêre oorlog ontketen, vervies Odin hom so hy werp Thor (sans sy magte) en dié se magtige hamer, Mjolnir, op die aarde en verval terstond in ‘n diep slaap.

En dis waar die wiele afval.

Want op aarde het die storie soveel trefkrag soos ‘n Natalie Portman-one-liner; Branagh en sy CG-mense het Asgard eenvoudig net te blink en, kom ons wees eerlik, awesome gemaak. Skaars laai Portman se wetenskaplike-karakter en dié se maats die gevalle held op of agent Coulson en sy S.H.I.E.L.D.-makkers konfiskeer als. En skaars wurm Thor, wat, gepas vir ‘n god buff soos môre heeldag lyk, hom in die wetenskaplike se eks se klere in en besef dié aardling is die Die Een (en vice versa) of die hemelse magte tree opnuut tussenbeide.

Dis nou playing by numbers, Marvel. En as jy nie down met die info oor die gebeure in dié heelal is nie, gaan ‘n klomp goed so sinvol soos ‘n verkiesingsveldtog wees. Soos Jeremy Renner met sy pyl-en-boog. En die toneel met Nick Fury héél aan die einde. Als daarop gemik om mooi in te pas wanneer Captain America en later Joss Whedon en sy Avengers eindelik hul opwagting maak.

Intussen kan ‘n mens terugsit en die volkleur-fliekgeboorte van die geteisterde Marvel-helde geniet. En dis nogal iets om te sien, want Marvel Studios het die leisels van dié span perde ferm in die hande en hy weet presies waarheen om te jaag. En ‘n mens kan goeie geld daarop verwed dis nie na Ang Lee se voordeur nie.