Wednesday, July 27, 2011

Jy kry wat jy sien



Hollywood-grootkoppe hou daarvan om die yslike begroting van die regtige duur flieks te verdedig deur te sê dié (hopelike) lokettreffers se verdienste stel hulle in staat om kleiner flieks met groter “artistieke meriete” te kan maak.

Beteken dit mens moet die groot ateljees ‘n fliek soos Transformers: Dark of the Moon vergewe omdat daar in dieselfde tyd ook ’n fliek soos Win Win uitgereik word? Nie een van die twee is noodwendig ‘n voorbeeld van die beste (of slegste) wat in hul onderskeie genres moontlik is nie, maar so vervelig en kouepampoen is eersgenoemde dit maak van Win Win, wat hoogstens maar ’n bogemiddelde drama is, ’n eksponensieel genotvoller fliek.

En terwyl die klem in Transformers op rekenaareffekte en produkplasing (dis reg, ons held Shia gaan loer sommer op die Duiste motorvervaardiger se webblad na sy meisie se nuwe tjor) val, is dit in Win Win uitsluitlik op die vaardighede van sy sterk rolverdeling.

’n Mens is die skrywer en regisseur Alexander Payne oneindig dankbaar vir Sideways, aangesien dié bekroonde fliek Paul Giamatti van betroubare byspeler tot oorrompelende hoofspeler omvorm het. Sedertdien is sy rolkeuse effe eklekties (van Cinderella Man en Lady in the Water tot Shoot ’Em Up en vroeër vanjaar se uitstekende Barney’s Version), maar dit weerspieël ’n avontuurlustigheid wat hom net tot krediet strek.

In Win Win bevind Giamatti hom in ’n rol wat hom soos ’n handskoen pas: dié van ’n middeljarige kêrel wat, ondanks sy foute, hard probeer om sy kop eerlik bo water te hou te midde van die lewe se aanslae. En hoewel hy nie die diepte haal wat hy in Barney’s Version vertoon het nie, kry hy die kyker nogmaals sonder moeite in sy hoek. Dis daardie algehele gebrek aan dubbelsinnigheid; die ontwapenende alledaagsheid van sy benadering wat die deurslag gee. Giamatti se sukkelende prokureur Mike Flaherty kan enige van ons se pa, oom of man wees.

Teenoor hom is die nuweling Alex Shaffer (hy was gepas verlede jaar die deelstaat New Jersey se o.17-stoeikampioen, berig IMDb.com) se Kyle allermins die stereotipiese, gekwelde tiener. Gooi daarby ’n wonderlike vertolking (die antitese van haar karakter in Gone Baby Gone) deur Amy Ryan as Flaherty se vuurvreter-vrou en Bobby Cannavale op sy beste as Flaherty se beste vriend en die skrywer en regisseur Thomas McCarthy (The Station Agent) wys opnuut hy’t g’n moeite om groot emosie in ’n kleindorpse bestaan raak te boor nie.

Mens kan seker kla oor die storie, wat allermins waterskeidend is, of oor die effe gemaklike ontknoping, wat nooit in gedrang is nie. Dit neem niks weg van die doeltreffendheid van McCarthy se gestroopte benadering en gepaardgaande voorliefde vir natuurlike beligting of van Giamatti en Kie. se stewige spel nie.

Wat Win Win so te midde van Transformers se siellose oordondering opnuut bewys, is dis die flieks met die “klein” oomblikke wat mens bybly en maak dat jy weer en weer daarna kan kyk.

Monday, July 4, 2011

Die vertroue beskaam nie



Wat’s dit wat mense in die oggend laat opstaan?

Gesig was, aantrek, die kinders regkry vir skool en gaan sloeg by die werk. Dis seker maar gewoonte, maar dalk is dit ook potensiaal, oftewel die moontlikheid van iets beter wat kan kom – of dit nou ‘n Stormers-sege, ‘n LED-TV of die volmaakte lewensmaat is.

En dis waarmee die vernuftig vervaardigde wetenskapfiksie-whodunit Source Code van die regisseur Duncan Jones (David Bowie se seun) sy karakters laat: potensiaal. Maar ook, soos dit ‘n behoorlike fliek betaam, met stukkies vlymskerp insig in die basiese elemente van die mens se bestaan. En ‘n skop-in-die-maag-ontknoping waarvoor jy tot die laaste tonele moet wag. Daarby, en in deesdae se oorvloed breinlose vermaak sonder ‘n ons subtiliteit, is Source Code ‘n welkome uitsondering met dié dat hy nooit sy kyker as vanselfsprekend aanvaar en nie sy intelligensie onderskat nie.

Dis ‘n fliek waarin mens nooit jou sit kry nie, want, soos die arme helikoptervlieënier Colter Stevens (Jake Gyllenhaal), weet jy nie wat de hel hier aangaan nie. Hy word in ‘n wildvreemde man se lyf wakker en het net 8 minute tyd om op ‘n voortsnellende verdiepingtrein na ‘n bomplanter te soek, anders word almal op die trein uitgewis - en daar’s ‘n dreigement van nog ‘n aanval. Veel meer vir sy bevelvoerders hom nie vertel nie.

‘n Voor die hand liggende vergelyking is met die vervelige stukkie wetenskapfiksie-romantiek The Adjustment Bureau, wat Philip K. Dick seker in sy graf laat omdraai. Dié se uitgangspunt, dat die liefde selfs ‘n “hoër hand” van plan kan laat verander, vervaag na niksseggendheid langs Source Code se elke-minuut-tel-slaankrag. Laasgenoemde is amper soos ‘n wetenskapfiksie-weergawe van 24 se vroeëre werklikheid gekruis met Groundhog Day-elemente.

Colter, wat boonop met ‘n paar demone van sy eie worstel, moet sy medepassasiers in ‘n oogwink opsom om die moontlike bomplanter te kan identifiseer. Soos die fliek vorder, verskuif sy fokus al hoe meer na hul menswees, en veral na dié van sy “dop” se kollega, die oulike onderwyseres Christina Warren (Michelle Monaghan). Sy amper terloopse waarnemings van haar karaktereienskappe speel toenemend ‘n bepalende rol in sy besluitneming en uiteindelik is die vraag waarmee hy gelaat word, ‘n eenvoudige een: wat doen mens as jy weet jy lewe nog net een minuut?

En dis waar die geheim van Source Code se sukses lê. Dis ‘n wekroep oor die manier waarop mens die wêreld en sy mense benader.

In ‘n ketting-e-pos wys die skrywer op die psigiater Redford Williams se langtermynstudie waarin hy bevind het daar’s ‘n sterk band tussen hartsiekte en “negatiewe” emosies. Mense met ‘n sterk gevoel van vyandigheid – soos ‘n siniese en wantrouige lewensbenadering – se kans is sewe keer groter om nie hul 51ste verjaardag te haal nie, meen Williams.

Midde-in die belangrikste opdrag van sy lewe tref dit Colter soos ‘n voorhamerhou: Hoewel hy nie een van sy medepassasiers kan vertrou nie, gaan dit hom nie help om die bomplanter op te spoor nie. Deur in elkeen van hulle eerder die groter potensiaal van hul beste eienskappe of ‘n oomblik van uitbundig lag te kan eien, maak dit vir hom moontlik om die moelikste besluit van sy lewe te kan neem.

Soos Edward Norton dit aan die einde van sy fliek Keeping the Faith, en ter nagedagtenis van sy pa, stel: Mens moet nooit jou geloof in jou medemens verloor nie.