Hoe is dit dat die grootste verhale se hart van ‘n onvernietigbare liefde klop?
Is ons nou maar uitgelewer aan die massamedia en sy totale aanslag van enkelloperskap = ongelukkigheid en jy gaan nooit vervuld wees as jy nie Die Een gevind (of ouerskap gesmaak) het nie?
Dalk.
Soos Hollywood, op sy onthoubaarste in die gedaante van Bette Davis, so dikwels verklaar: Dis maar ‘n stamperige rit. In ‘n welkome aanval van fliekironie is dié rit in dié geval die Spaanstalige Argentynse riller The Secret in Their Eyes (foto: http://www.brightestyoungthings.com/), wat vanjaar weldverdiend met die Oscar vir beste anderstalige prent bekroon is. Die ander twee was A Prophet (nie gesien nie) en Michael Haneke se gestroopte The White Ribbon (resensie elders op blog).
Daar’s maar net bepaalde tonele in flieks wat ‘n mens bybly; in die grotes is daar baie. En dié is een van hulle. Soos Barbra Streisand in Sunset Boulevard sing: Al wat haar karakter nodig het, is een kyk ...
En hoewel die manne sulke kyke kan gee - Gérard Depardieu en Ralph Fiennes is van die beste; Kevin Costner ook – is dit vroue wat loshande wen. Helen Hunt en Joan Allen mag maar en so ook Emmanuelle Béart. Juliette Binoche kán en Isabelle Huppert ook.
Dis daai kyk wat jou asem in jou keel laat vassteek en klank uitdoof. Wat jou hoendervel gee en laat wonder of jy ‘n skoon onderbroek aanhet. En of jou sokkies heel is.
Op die oog af lyk die oudregsman Benjamin Esposito (Ricardo Darin) heel, maar hy’t nog allermins vrede gemaak met ‘n moord-en-verkragtingsaak van jare gelede (hy droom en skryf die frase "ek's bevrees" neer), om nie eens van sy liefde vir sy destydse baas, Irene Hastings (die pragtige Soledad Villamil), te praat nie. Hy wil ‘n boek oor die saak skryf en by wie beter om hulp te vra as juis sy; deesdae getroud en met twee kinders?
Die aanvanklike ondersoek na die verkragting van en moord op ‘n pragtige jong vrou ontvou in terugflitste; so ook Esposito se toenemende gevoelens vir sy baas. En hoewel die fokus grotendeels op die ondersoek val, is dit daardie oomblikke tussen Darin en Villamil wat ‘n mens bybly – veral danksy Juan José Campanella, regisseur en medeskrywer, se uitstekende skikking van die gebeure. Hier lê geen los drade rond nie en Campanella sukkel genadiglik nie in tipiese Hollywood-formaat met foefies om sy storie meer trefkrag te gee nie (voorbeelde: die vreesaanjaende ondervragingstoneel; die anderwêreldsheid van die latere hysbakrit).
En, as ‘n bykomende bonus, is die humor fyn en ongedwonge soos hoofsaaklik verskaf deur Esposito se suiplap-kollega.
Van die tonele is so treffend soos enigiets wat ‘n mens al gesien het en ek gaan maar een of twee uitsonder: Esposito se aankoms by die moordtoneel; die stadiumtoneel waarin hulle die verdagte jaag, is so vreesaanjaend soos enigiets in Cloverfield; daarteenoor stel Campanella die absurditeit van Esposito se onderonsie met ‘n regter en sy inbraak by ‘n verdagte se ouerhuis (wie van ons wou nie al ‘n jack russell skop dat hy stilbly nie?).
En tog is daardie oomblikke tussen Esposito en Villamil soos die vure wat die wagters op die berge aansteek in The Return of the King. Sommer vroeg reeds verklaar hy die wese daarvan; die rede waarom die saak hom so teister: Dis die liefde wat hy in die moordslagoffer se man se oë vir dié se pragtige vrou sien wat hom aanspoor.
En so, want dit bemagtig hom mos, blaker hy dit sommer uit ook.
Maar ‘n mens vergewe die arme Esposito, want ook sy oë kan nie lieg nie. En soms, net soms, wanneer die jare wegval en jy die soveelste keer – en ook die eerste keer – deur daardie deur stap, maak niks anders ter wêreld saak as dat twee pare oë vir die eerste keer vreesloos die waarheid vertel nie.