
Faster laat ‘n mens met ‘n oorweldigende gevoel van verligting.
Dankie tog, Dwayne Johnson in iets wat nié deur Disney vervaardig is nie. En kan dit wees die regisseur George Tillman Jr. het sy vrotsige Men of Honor- en Notorious-mantels afgeskud?
Dié aksierit van vergelding is die antitese van vorige Johnson-skuimpies soos The Game Plan en Tooth Fairy, maar dis ook nie The Rundown nie, want Johnson, wat ‘n lieflike sin vir tydsberekening het, glimlag nie eens één keer nie. Dis ernstige sake dié, broer. Mense word vermoor en die bloed vloei mildelik. Daar’s dwelms en korrupsie en ‘n metroman-huurmoordenaar met ‘n swak selfbeeld en ‘n eksistensiële krisis.
Ai, die wonderlike wêreld van TV en flieks waarin daar in die een tot in mense se tandvulsels geloer word en in ‘n ander real-time updates flikker soos Kersliggies. Nie in Faster (foto: 4.bp.blogspot.com) nie, nee.
Hier jaag ons held vir ‘n vale en skiet die een booswig ná die ander in volkleur. En van satellietbeelde en helikopters is daar net mooi g’n teken nie. Nie deel van dié storie nie, sien? Driver, soos Johnson se karakter bekend staan, is so ontwykend soos die Coen-broers se psigopatiese huurmoordenaar in No Country for Old Men. (Die vraag is dus: Is die werklikheid meer Bourne Ultimatum en 24 of skuil hy êrens tussenin?)
Maar dis darem heerlike vermaak wanneer Johnson met daai uitsonderlik beneukte stappie van hom by ‘n vergeldingsteiken opdaag. Hy draai nie doekies om nie en behalwe vir een tranerige, charismatiese oomblik in die sand van versoening is dit woordelose en onmiddellike geregtigheid wat uitgedeel word. Moenie bodder om te smeek nie, span; Driver is nie hier om tronkstories te vertel nie.
Die probleem lê ook nie by Billy Bob Thornton se uitgewaste Cop nie, hoewel sy storie allermins oorspronklik is. In ‘n wonderlike stukkie ironie bedien hy sy vervreemde seun van bofbal-raad. Onthou nog vir Thornton as die verloorder Buttermaker in Richard Linklater se bofbalkomedie Bad News Bears? Dis klassiek, man.
Eisj, but no. Die probleem is by die belaglike karakter van Killer (die onbekende Brit Oliver Jackson-Cohen), wat ‘n lagwekkende toevoeging is. Hier’s nou ‘n rolmodel vir generasie Y met sy beheptheid van oppervlakkigheid; sindroom van aandagafleibaarheid; en smagting na erkenning vir... hmmm, presies wat nou weer?
Wie gee om? Hy’t ‘n goeie pak slae so reg uit Tillman se heel kykbare gesinsdrama Soul Food nodig. En die irriterende Maggie Grace van Taken-faam as kolskoot-nimfomaan? Asseblief. Die skrywers, terloops, is die Gayton-broers Tony (Murder by Numbers; The Salton Sea) en Joe (Bulletproof). Ek sou dalk daarop geld verwed dat Joey die Killer-deel geskryf het...
Nee wat, Faster werk om een rede: Johnson sê nie veel nie en is die vinnigste. En dis al wat saakmaak.
No comments:
Post a Comment