Thursday, January 27, 2011

'Interster' nou op DVD!




Dis een van daardie wonderlike frases wat ‘n mens sommerso klakkeloos napraat, want hy lê so lekker op die tong.
Dis daardie warm-om-die-hart-gevoel.
Dis die reuk van katpiepie.
Dis vir ‘n teikenmark skep en met jou oog op die winsmarge.

Dis ook hoe The Concert (foto:media.nyunews.com), die Franse fliek met hoofsaaklik Russiese dialoog, deur sommige resensente beskryf is. Hulle kon dit veel eerder as volg bemark het: Dis soos As It Is In Heaven, maar sonder die susterkerk-lidmate wat die teaterstoele week ná week warm sit.
Dis soos ‘n Timur Bekmambetov-fliek sonder die cool en die geweld.
Slaptjips sonder asyn.
‘n V-twin met ‘n standaardpyp.
The Concert is hoofsaaklik ‘n bron van hoogstens bekwame irritasie. (Dit val my nou by, ‘n nog beter vergelyking is met die ewe kotssmakerige The Chorus, self ‘n gewilde keuse op die “kunskringloop”.) Hy begin nie eens belowend nie en vandaar is dit net verder afdraande. Nie eens die pragtige Mélanie Laurent van Inglourious Basterds-faam kan hom red nie; allermins die hoofkarakter (Aleksey Guskov se naby-aan-floute Andrey Filipov). Hy dryf mens van die heel eerste toneel na happe van jou stoel se armleuningstoffasie, want hy kom versteurd eerder as geniaal of bekoorlik voor. Alles opoffer vir dié imbecile? I think not.
Russiese flieks is soos Australiese flieks: Die karakters is eiesoortig en spog dikwels met net die regte mengsel eiesoortigheid en makabere humor dat ‘n mens bekoor word. Soms kry Radu Mihaileanu, regisseur en medeskrywer, dit goed reg, soos met die sigeuners (wat lyk of hul spuit-sonbrandsessies lelik skeefgeloop het) en die stukkies Tsjaikofski wat absoluut hemels is, my skatties, maar die meeste van die tyd voel dit of die karakters, wat skreeu eerder as praat, op ‘n mens spoeg so vol staan hul gesig die skerm vol (geen probleem as dit ‘n hottie is nie, maar die eks-KGB-man is nié). Die gevolg: Teen die einde van die fliek sit jy heel agter in die teater met die sambreel wat jy ná 5 min. by die Joodse tannie in die stoel voor jou afgerokkel het byderhand. Dis nou as die voorspelbaarheid daarvan jou nie tot raserny dryf nie (toegegee, om in ‘n fliekteater agter ‘n sambreel te skuil, sal reeds effe af lyk). Wenk: Net omdat dit in ‘n taal anders as Engels is, maak nie noodwendig van dit ‘n goeie fliek nie.
Dié resepmatige prent – van sy oorbekende storie en karikatuuragtige karakters tot sy ongelooflik absurde en total onnodige terugflitse - is soos ‘n Toyota: Tevredenheid is gewaarborg op daardie vlak waar die hart nie meer klop nie.
Mélanie is darem pragtig.

Friday, January 14, 2011

Dié strate hét 'n naam



Nee, Ben Affleck is nie ‘n goeie akteur nie.
Die jurie het so effe gewik en weeg en Affleck het ‘n mens twee keer laat dink met sy spel in die skitterende Changing Lanes (2002), maar sy jongste, The Town (foto: static.blogcritics.org), bevestig wat ons lank reeds weet.

As regisseur is dit genadiglik ‘n heel ander storie.
Gone Baby Gone (2007), sy debuut as regisseur en met kleinboet Casey op sy beste, is een van daardie flieks wat jou aan die knaters beetkry elke keer dat jy hom op TV raakloop. Voordat jy jou kom kry, is die wasgoed en tandeborsel vergete en jy plak jou met ‘n glas wyn en die eerste beste versnapering op die bank neer. Dié fliek het ‘n anderwêreldse gehalte; ‘n tegelyk swewende en tuimelende element wat vir oomblikke van suiwer fliekhemel sorg.
The Town, het ‘n mens aanvanklik gedink, kan nouliks misluk. Afflek is op bekende terrein in die strate van Boston; die gegewe klink of dit potensiaal het; die rolverdeling sluit ‘n staatmaker of twee van Gone Baby Gone in en die Oscar-benoemde Jeremy Renner (The Hurt Locker, 2010) is lid daarvan in sy eerste rol sedert die gloriereën. Good times, soos ‘n vriendin sou sê.
Maar dan sit jy in die teater en sake neem hul verloop en kort voor lank besef jy, o wee, Affleck ontgin geen nuwe grond nie (allermins as akteur; hoe is dat dit Keanu Reeves met al sy standbeeld-vaardighede ‘n mens so maklik in sy hoek kan kry, maar Affleck nie?). Hy maak daardie ou, ou fout deur nie ‘n rapport tussen sy hoofspelers en die gehoor te bewerkstellig nie, want (jammer, ou seun) die kyker het maar bloot ‘n terloopse belangstelling in die spelers se lot. Hy prober, ja, maar daar is geen oorrompelende element in die tonele tussen hom en Rebecca Hall nie en in watter stadium van die geveg is ‘n mens veronderstel om dit as ‘n epiese liefde te sien?

Daarby is die einde vroeg reeds voorspelbaar. Hoe anders kan dié outjie dan eindig? En die aksie is maar die hiperrealisme waaraan fliekgangers die laaste dekade of wat blootgestel is en nouliks beter as die gemiddelde 24-aksie. Daar is een of twee uitstaantonele, soos die een waarin Affleck kruissny tussen Hall met haar tone in die water en Hall met haar arms om sy lyf (simboliek so subtiel soos sy tatoeëermerke). En die keuse van die non-uitrustings en die hoeveelheid emosie wat daar in die rowers se oë skuil, tref ook.

Maar dit verhef The Town nouliks bo die vlak van bekwame genre-prent en as bevestiging van Affleck se suigelingreputasie as regisseur met hope pontesiaal. Eerder as dat dié fliek op sy eie bene staan, laat hy mens dink aan menere soos Heat (1995) en Dog Day Afternoon (1975), en dis sleg, Ben.

Thursday, January 6, 2011

Harde werk die sleutel, mammas




Tussen al die gemors deur wat in die Kersvakansie, daardie gesinsvakansie van gesinsvakansies, uitgereik word, is daar nie ‘n beter fliek as Lisa Cholodenko se snydende en soms skreeusnaakse The Kids are All Right (foto: feministspectator.blogspot.com) nie.
Daar is soveel prettige spelings in die titel dat mens jou terstond tot poësie wil wend, maar kom ons los dit maar vir die platemaatskappye en radio-aanbieders. Want die kinders in dié gesinsdrama - anders as die vreesaanjaende bloedsuiers wat deesdae as tieners paradeer - is oukei; dis die ouers en volwassenes wat hulp nodig het.
En dan veral die lesbiese egpaar Nic (Annette Bening) and Jules (Julianne Moore), wat deur hul tienerkinders se drang na hul biologiese pa gekonfronteer word. Yann Martel skryf in sy Man Booker-bekroonde The Life of Pi diere vrees onsekerheid die meeste. Maar dis ook waar van mense en veral gesinne. Onsekerheid is nie die gewenste kolfmaat nie en daardie kerndinamika se verhouding tot die groter wêreld word dikwels deur die ons-en-hulle-benadering gekenmerk. Die gesin kom eerste en vat so, wêreld!
Bygesê, danksy daardie wonderlike verskynsel van sosiale netwerke gaan die gesin nooit weer dieselfde wees nie, want jy’t nie ‘n persoonlike verhouding nodig met enigiemand nie; solank hulle net die foto’s van jou jongste hoed-koopsessie op jou profiel kan sien.
Nic en Jules moet blitsig hul thinking caps opsit wanneer Joni (Mia Wasikowska) en Laser (Josh Hutcherson) in tipiese generasie Y-styl oornag ‘n nuwe troeteldier aanneem in die gedaante van die vrygees-restaurateur Paul (Mark Ruffalo). Hy’s soos ‘n vars briesie in die kinders se lewe en selfs Jules vind aanklank by hom, maar Nic se nekhare rys behoorlik. Daar’s nie plek vir meelopers wanneer dit kom by ‘n gesin bestuur nie, boeta.
Wat aan die fliek sy trefkrag verleen, is die onopgesmukte manier waarop Cholodenko, ook medeskrywer, die karakters uitbeeld, asook die manier waarop hulle die uitdagings hanteer. Baie flieks, meestal soetsappig, is al oor die lewe ná die “gelukkig getroud” gemaak, maar min van hulle kan met dieselfde veelvlakkige karakters en ontwapenende vertolkings deur net mooi elke akteur in die rolverdeling spog.
Die sleutel lê in Jules se mini-toespraak aan haar gesinslede: die huwelik is nie ‘n grap nie; dis bleddie harde werk. Soms bevind jou in die absurdste situasies en veroordeling en tou opgooi is die maklike uitweg, maar hou jy jou oog op die prys, is die beloning liefde en kameraadskap wat die oortredings laat vervaag.
Is suksesvolle verhoudings dan ‘n geval van “rather the devil you know”? In The Kids are All Right is dit of Cholodenko wil sê absoluut – die een wat jy ken én liewer het as enigiemand.