Wednesday, February 23, 2011

As ek die sterre kon haal



Gaan die lewe maar net oor dit wat ons kan sien en aanraak en proe en ruik?

Is dit maar ‘n eendimensionele plek met generiese Twitter-emosies en oppervlakkige verhoudings gegrond in kompromie. Kompromie gebore uit ‘n vrees vir eensaamheid en ‘n drang na aanvaarding? Is al ons ondervindings maar vlietende gebeure; vlugtig sigbaar voordat dit vir altyd in die vergetelheid wegsak en net ‘n verwaterde herinnering draal?

Of is daar ‘n dieper dimensie waarin ons bewustheid resoneer? Waarin ons menswees in die onderbewussyn koppelings maak en ‘n gedeelde oomblik die gewig van ‘n lewenskeuse dra. ‘n Plek waar ons nie verstaan wat ons doen nie en keuses nie sin maak nie, maar ons doen dit in elk geval.

Ek glo in daardie bestaan (Peter Hoeg en Thomas Harris se werk, ongelukkig. Want ‘ignorance is bliss’). Ek weet nie of ek dit noodwendig ervaar nie, maar, soos Meg Ryan se karakter in You’ve Got Mail sê: Daar’s die droom.

In sy lewe het die humeurige hakkelaar prins Albert (Colin Firth), hertog van York, twee sulke “drome” gehad, blyk uit Tom Hooper se uiters genotvolle The King’s Speech (foto: thewritersideoflife.wordpress.com), wat voorspelbaar genoeg die Baftas oorheers het. Die een was die prins se vrou (Helena Bonham Carter); die ander die Australiese spraakterapeut Lionel Logue (Geoffrey Rush). Daar’s geen verrassings in dié storie nie; die vreugde lê eerder in die wonderlike vertolkings en Hooper se duiselende visuele benadering. Baie van die kameraskote is in daardie derde-formaat; dit skep ‘n treffende kontrapunt vir die uiteindelike harmonie wat tussen die karakters vorm aanneem.

Ek’s nie ‘n Firth-aanhanger nie. Hy was aanvanklik heel kykbaar in Fever Pitch (en kyk wat vermag Mark Strong deesdae), maar daarna was dit maar ‘n geneukery. Tot verlede jaar se wonderlike A Single Man en nou dié vertolking. Dis ‘n indrukwekkende metamorfose, hoewel dit nie noodwendig van Firth ‘n interessante kêrel maak nie. Sy Albert is ‘n koninklike sonder ‘n troon; ‘n onseker seun-in-grootmens-gestalte oordonder deur sy pa en ouer broer. En daardie keelklanke is genoeg om ‘n mens naar te maak.

Teen die wette van die heelal in kry hy ‘n wonderlike vrou. Carter, vir ‘n verandering nie grotesk as Burton-fantasie nie (sy het, after all, aanvanklik bekend geword danksy periodedramas soos The Wings of the Dove), se vertolking oorheers elke toneel waarin sy haar verskyning maak. “Onderspeel” kry ‘n nuwe betekenis in die manier hoe haar mondhoeke van ingehoue humor krul en wanneer sy in ‘n weggooitoneel haar liefde vir haar man verklaar, is dit of ‘n nuwe konstellasie lewe kry.

Rush, wat vir my die vergestalting van die kunstenaar se lag-en-traan is, verskaf die fliek se momentum. Mens kan nie meer dieselfde na hom kyk ná sy naamrol-vertolking in The Life and Death of Peter Sellers nie, en tog kry hy dit elke keer reg om nog ‘n lagie van sy talent te ontbloot. Sy Logue is ‘n enigma, maar as (eksentrieke) Jan Alleman is hy die een – in sy onbevange omgang met die koninklikes; sy werk; sy gesin – met wie mens identifiseer. Sy selfvertroue en halsstarrigheid is soveel indrukwekkender as die prinses s’n omdat hy dit homself toegeëien het.

En hoewel daar ‘n grens tussen koninklike en bevolking is wat nooit oorgesteek kan word nie, is dit uiteindelik die adellikheid wat in ons elkeen se are vloei – of jy nou vigswesies help en of jy nie oordeel wanneer jy te na gekom voel nie – wat die ware orators van die hakkelaars skei.

Thursday, February 10, 2011

Hart van hoop



Daar’s ‘n “redneck”-mafia en hoewel sy “godfather” na Kersvader lyk en persoonlike higiëne en vrouebemagtiging nie hoog op sy lys is nie, maak dit hom nie minder gevaarlik nie.

Vra maar vir die arme, 17-jarige Brie Dolly (Jennifer Lawrence) van die onverbiddelike Ozarkberggebied in Missouri wat in die Oscar-benoemde Winter's Bone (foto: www.makingof.com) vergeefs by “haar mense” – dis nou skynbaar armlastige drinkebroers met ‘n voorliefde vir dwelmmiddels en vuurwapens – om hulp gaan aanklop wanneer die owerheid laat weet sy, haar swaksinnige ma en ‘n jonger broer en suster se huis kan weggeneem word. Haar pa is soek nadat hy op parool vrygelaat is weens sy dwelmvervaardiging. Dit sou nie so ‘n groot probleem gewees het as hy nie hul grond as sekuriteit gegee het nie. Brie het skaars ‘n week om die kêrel op te spoor.

Dis ‘n reis na ‘n nog groter donkerte waarop selfs Joseph Conrad trots sou gewees het (en ironies genoeg wag die antwoord ook hier ná ‘n bootvaart in ‘n rivier). Brie is van net een ding seker: Niemand neem haar gesin van haar weg nie. En dis al.

Teen die senutergende stilte en skielike, redelose geweld waarin sy haar vasloop, is ‘n mens nie opgewasse nie. In The Ghost Writer het Roman Polanski dit meesterlik reggekry om elke raampie en gesigsuitdrukking met sinspeling en afwagting te laai; hier doen Debra Granik, regisseur en medeskrywer, hom dit uitstekend na. Daar broei iets agter die oë van die mans, soos die onpeilbare Teardrop (John Hawkes), in Brie se wêreld en dit vind uiting in hul vroue se dun mond en slaafse onderdanigheid. Is dit ‘n ingebore agterdog van die lewe? Van “die man” wat daarop uit is om hulle onder sy duim te hou?

Teen dié amperse onmenslikheid staan die sirkeltjie van Brie se versorging van haar gesin in skrille kontras. Haar jonger broer en suster is dalk selfs gelukkig, wil ‘n mens dit waag dink. En selfs Brie is dalk – omdat sy daardie muur nog staande kan hou.
Die 20-jarige Lawrence, welverdiend benoem vir 'n Oscar, lewer 'n onvergeetlike vertolking as 'n tiener sans glitter, selfoon en Twitter. Met haar vertolking dra sy 'n fliek waarin al die akteurs stewige spel lewer. Haar Brie is tegelyk hardekwas en ook breekbaar; in haar wisselwerking met "haar mense", die owerheid en veral haar broer en suster kom daar 'n verskeidenheid fasette oortuigend na vore. En wanneer sy deur daardie redelose geweld gekonfronteer word, is haar skrik so eg dit gee mens hoendervel.

Granik, bekend vir die Vera Farmiga-kragtoer Down to the Bone (2004), maak van die ysige, kleurlose winterwêreld nog ‘n karakter. Maar meer as net ‘n karakter; ‘n teenwoordigheid so oorheersend en beklemmend soos die skaduwêreld waarin Brie haar vasloop. Dis ‘n teenwoordigheid wat ‘n mens reeds in flieks soos Boys Don’t Cry en Monster teengekom het; ‘n bestaan wat die menslikheid uit jou kan wurg.

Dan moet daar iets besonders gebeur – ‘n kind se onvoorwaardelike vertroue, dalk; ‘n tienermeisie wat lank reeds haar kinderskoene ontgroei het en weier om te gaan lê – wat mens na die lig terugdwing. Wat jou vingers oor oubekende snare kan laat streel en laat besef in dié wete kan daar ook berusting wees.

Thursday, February 3, 2011

Steen des puur plesier



Ek’t al lank ‘n sagte plekkie vir Emma Stone.

Van Superbad se dae af al.
Dis die lang, reguit hare en die kuif waardeur haar linkeroog vir mens loer wat dit vir my doen. En die heserige stem. En die feit dat sy slim en plat op die aarde voorkom; sonder Zooey Deschanel se effe feekserigheid of Alexis Bledell se irriterende grootoogigheid.

In haar jongste fliek, Easy A (foto: frsucrave.netdna-cdn.com), vertolk sy haar eerste hoofrol en haar vertolking is bemoedigend so tussen een of twee B’s en C’s deur.
En hoewel die fliek prettig is (die regisseur is dan die belaglik prettige Fired Up se Will Gluck), is dit ook ‘n effe skisofreniese oefening; ‘n tekortkoming wat soveel duideliker blyk omdat van John Hughes se ikoniesste 80’s-flieks (van The Breakfast Club tot Ferris Bueller’s Day Off) bygesleep word. Dis maar ‘n probleem met talle van die hedendaage prente – ‘n gebrek aan oorspronklikheid wat mens met ‘n volgehoue gevoel van onvergenoegdheid laat, want alles is so “reeds gedoen”.

Die skisofrenie slaan deur wanneer die storie, geskryf deur ene Bert V. Royal, by Lisa Kudrow se skoolberader-karakter en haar owerspeligheid gaan draai. Tot by daardie punt is dit suiwer tienerpret, maar dan kleur hy hom donker en dinge raak peervormig. Die gevoel daarvan sny te na aan iets soos The Opposite of Sex (of dalk is dit net omdat Kudrow dáárin ook te sien is) of die ewe vreemde Fierce People of Igby Goes Down. Maar dié is dan tienerkomedie, of hoe?

En daarby is die vonk tussen haar en die skool se sport-gelukbringer allermins oortuigend.

Die rolverdeling is gesaghebbend, van Kudrow, wat vir ‘n verandering nie oortuig nie, en Thomas Haden Church tot die staatmakers Stanley Tucci en Patricia Clarkson, wat elke toneel steel waarin hulle as Stone se vrygeestige (en amper te goed om waar te wees) ouers verskyn. Veral Clarkson se spel laat mens nogal aan haar stuitige karakter in Simply Irresistible dink.

Dit als maak van Easy A eerder ‘n C+ of B- as ‘n onderskeiding, maar ‘n mens, selfs ‘n jong Hollywood-ster, moet seker êrens begin.