Thursday, March 24, 2011

Dans soos 'n stootskraper


Daar’s oomblikke wanneer dit voel of mens nie asem kry nie.
As jy gelukkig is, bly dit net ‘n oomblik.
Vir sommige is dit ‘n leefstyl; ‘n koue, harde hand wat jou hart so klem dat dit die lewe uit jou pers en jou gehawend deur die lewe laat strompel.

Dalk is jy gelukkig en daar’s ‘n vangnet.
Maar hoe gemaak as dié “veiligheid” ewe knellend kan wees?

Dis skynbaar die geval vir die bokser Micky Ward (Mark Wahlberg) in David O. Russell se briljante biografie The Fighter (foto: moviemobsters.com), ‘n opstopper van ‘n fliek gestroop van oordrewe sentiment en georkestreerde goedvoel-oomblikke. Uit die staanspoor, wanneer ‘n brandmaer Christian Bale (as Micky se halfbroer en afrigter Dicky Eklund) hom op daardie rusbank tuismaak en lostrek (is Wahlberg dan nie die hoofkarakter nie?), het Russell sy kyker op die agtervoet. Dis ‘n posisie waarvan hy in die grootste deel van die fliek nooit verwissel nie.

Micky herstel paaie wanneer sy ma en bestuurder (Melissa Leo) hom nie as kragvoer vir belowender boksers inspan nie. In ‘n surrealistiese gesin – daar’s meer susters as wat mens wil tel; Micky hou skynbaar almal aan die lewe; emosionele manipulasie is die voorkeurwapen – en in hul ewe voos tuisdorp, Lowell (ook Jack Kerouac se geboorteplek), in Massachusetts, is Dicky, ‘n volslae crack-verslaafde, die ster. As jong bokser het hy sy man teen die grote Sugar Ray Leonard gestaan en hy’s doodseker sy comeback lê net om die draai.

Die vonk in die kruitvat is Micky se ontmoeting met die kroegmeisie Charlene Fleming (Amy Adams). Soos so dikwels gebeur, is dit ‘n buitestander wat sake in perspektief plaas en in dié geval Micky die moed gee om Dicky en sy ma onder hul gat te skop. Wat die storie nog meer trefkrag gee, is dat (die nou suksesvoller) Micky besef hy sal nooit ‘n titel sonder Dicky, en derhalwe sy ma, kan verower nie.

Ek’s al van Flirting with Disaster se dae ‘n aanhanger van Russell se werk, hoewel hy met I Heart Huckabees hard probeer het om mens te vervreem. In The Fighter vind hy daardie volmaakte balans tussen werklikheid en drome (wat sy protagonis eintlik maar te bang is om te droom) en drama en humor. Sy dokumentêragtige aanslag werk uitstekend en bevestig waarnemers se opmerkings dat dié ‘n relatief getroue weergawe van die Ward-sage is. Daarby is tonele soos dié waarin Dicky telkens by sy crack-huis se venster uitspring geniaal beplan en so snaaks dit laat mens se oë traan.

In ‘n sterk rolverdeling is dit veral Bale, verdienstelik bekroon met die Oscar, wat verstom. Hy ondergaan nogmaals ‘n transformasie as die naïewe Dicky wat op die soustrein van uitgediende glorie ry en wanneer hy met daardie windmeul-arms straat af hardloop, is hy haas onherkenbaar van enigiets wat hy dalk voorheen gedoen het.

Leo en Adams is ook stewig, terwyl Wahlberg (ook in Russell se Three Kings te sien) maar dieselfde ou Wahlberg is. Darem weet mens boks is deel van dié akteur se daaglikse oefenroetine, so oor sy tegniese vaardighede is daar geen twyfel nie. Sy rustige Micky is ‘n eiland in ‘n siedende see.

The Fighter het nie die gewigtigheid van ‘n Million Dollar Baby nie, maar as boksfliek is daar min wat by hom kan kers vashou. Russel en sy span lewer ‘n uitklophou – en watter plesier is dit nie om dié een op die ken te vat nie.

Sunday, March 13, 2011

'See me running through that open door'




True Grit, die Coen-broers se weergawe van die gelyknamige boek en John Wayne-fliek, lyk na ‘n rocking good time in die lokprent.

Dis nie.

Dis wel ‘n middelmagtige stukkie nostalgie van die “Old West” – ‘n plek waar geregtigheid geseëvier het as ‘n regsman vinniger en beter kon skiet as die skurke (en as hy nie kon nie, moes hy hulle onkant betrap en in die rug skiet, verkieslik). Nie ‘n fliek wat mens uitsonderlik lank gaan bybly nie, maar dis ‘n inskrywing in nog ‘n boksie (“tradisionele western” ná die “moderne western” No Country for Old Men) van die Coens se oeuvre wat hulle kan tiek.

En dis jammer dat mens ‘n Coen-fliek as sulks kan beskryf, want dis die een ding wat (die meeste) van hul flieks nog altyd was: onthoubaar.

Maar dié True Grit (foto: getthebigpicture.net) is stapelkos eerder as haute cuisine. Dit verloop sonder veel, hogere drama of aksie; die dialoog (dit wat mens kan uitmaak) is nie waffers nie; en die vertolkings is, ondanks die oesie Oscar-benoemings, hoogstens stewig. Die bietjie plesier wat daar te vinde is, is in die karig gemeubileerde subteks en die Coens besprinkel die storie so spaarsamig daarmee mens wonder of dit enigsens die moeite werd is.

Gaan staan jy wel bietjie breinkrag daaraan af, kruip daardie nostalgie teen jou ruggraat op en hy gaan maak hom tuis daar êrens tussen die sagte plekkies wat jy vir Big Fish en Ride the High Country het. Dit skuil in die band tussen drie vreemdelinge wat mekaar aanvanklik nie kan veel nie en nooit weer sien nie; in wilde verhale van die teuels in jou mond en ‘n skoppende rewolwer in elke hand; ‘n vrou wat nooit weer ‘n man kry wat haar so veilig laat voel nie; ‘n hardebaard wat nooit ophou hunker na die kinders wat sy kwasterigheid hom ontneem het nie.

Lei jy ‘n waardevolle lewe en is jou bydrae kosbaar?
Of is dit maar ‘n oorlewingstryd waarin daar meer misses as hits is en jy kan maar net hoop vir ‘n skramse blik van ‘n tier in die sneeu?
Van iemand wat jou vashou of hulle nooit weer gaan los nie?

Krummels kan mens enduit voed, blyk dit.

Thursday, March 3, 2011

Die valdeur na stilte




Wanneer is ‘n fliek regtig goed?

Want daar’s ‘n paar treffers waarna ek weer en weer kan kyk wat nooit die Oscar-lysie sal haal nie. En dan’s daar dié wat wel die lysie haal, of amper, of dalk nie, maar wat jou in die maag skop en by die teater laat uitstrompel en reguit na, verkieslik, die baarmoeder en ‘n staat van voor-bewussyn.

Darren Aronofsky se Black Swan (foto: thebuzzmedia.com) is een van laasgenoemde. Lanklaas het ek strykdeur ‘n fliek op so ‘n gereelde grondslag hoendervel gehad. Ek’t amper begin kekkel van magteloosheid soos Aronofsky mens met elke onafwendbare beklemmende raampie teen die kop gooi en die brandmaer Natalie Portman se oë al hoe wilder raak.

Sonder om die vloer onder die ballerina uit te ruk, skep Aronofsky ‘n sielkundige riller wat of op ‘n gebaande weg sy hoofkarakter in haar moer stuur. En wat so in die gehoktheid van haar magteloosheid – en uiteindelik ontvlugting – vir geen oomblik stoom verloor nie. Want die arme Portman se lot is lank gelede reeds verseël, vermoed ‘n mens. Toe liewe Mamma nie die mas kon opkom nie.

Aronofsky – hy van Pi, Requiem for a Dream en The Wrestler-faam – hou van die dikwels onwenbare stryd teen die mensvreters wat aan elkeen van ons se psige knibbel. Dis of hy wil sê die skramse oorwinning wat daar soms is, is vlietende oomblikke van persoonlike triomf. Soms besef mens dit nie eens nie; ander kere het jy ‘n volgepakte gemeenskapsaal of konsertgebou aan jou voete.

In Portman se geval is die stryd nie net teen haar eie, skrikwekkende monsters nie, maar ook teen haar emosioneel manipulerende ma – vreesaanjaend vertolk deur Barbara Hershey – s’n. Voeg daarby ‘n regisseur – Vincent Cassel, oudergewoonte uitstekend – wat die onmoontlike van dié onderdrukte vrou-kind vra, en jy’t ‘n resep so reg uit ‘n kruising tussen Forman se Amadeus en Haneke se The Piano Teacher.

Soos Haneke dit baie goed regkry, skep Aronofsky ook op ‘n briljante manier kontras tussen wonderskone oomblikke en die donkerste hoekies van die karakters se bestaan. In dié onhoubare balanstoertjie floreer Portman, welverdiend bekroon met ‘n Oscar. Daar’s heelwat uitsonderbare oomblikke, maar die masturbasietoneel, om nie eens van die koek-een (uhm...) te praat nie, is hoogtepunte in haar en Aronofsky se samewerking. O, wag, en die een waarin Cassel haar opvryf; en dié in die trein; en die Swart Swaan se triomf; en en en.

Met dié stukke rolprent-genialiteit kry Aronofsky en sy span iets reg waarna van die karakters so desperaat streef: verlossing in ‘n vlietende oomblik van volmaaktheid.