Thursday, March 3, 2011

Die valdeur na stilte




Wanneer is ‘n fliek regtig goed?

Want daar’s ‘n paar treffers waarna ek weer en weer kan kyk wat nooit die Oscar-lysie sal haal nie. En dan’s daar dié wat wel die lysie haal, of amper, of dalk nie, maar wat jou in die maag skop en by die teater laat uitstrompel en reguit na, verkieslik, die baarmoeder en ‘n staat van voor-bewussyn.

Darren Aronofsky se Black Swan (foto: thebuzzmedia.com) is een van laasgenoemde. Lanklaas het ek strykdeur ‘n fliek op so ‘n gereelde grondslag hoendervel gehad. Ek’t amper begin kekkel van magteloosheid soos Aronofsky mens met elke onafwendbare beklemmende raampie teen die kop gooi en die brandmaer Natalie Portman se oë al hoe wilder raak.

Sonder om die vloer onder die ballerina uit te ruk, skep Aronofsky ‘n sielkundige riller wat of op ‘n gebaande weg sy hoofkarakter in haar moer stuur. En wat so in die gehoktheid van haar magteloosheid – en uiteindelik ontvlugting – vir geen oomblik stoom verloor nie. Want die arme Portman se lot is lank gelede reeds verseël, vermoed ‘n mens. Toe liewe Mamma nie die mas kon opkom nie.

Aronofsky – hy van Pi, Requiem for a Dream en The Wrestler-faam – hou van die dikwels onwenbare stryd teen die mensvreters wat aan elkeen van ons se psige knibbel. Dis of hy wil sê die skramse oorwinning wat daar soms is, is vlietende oomblikke van persoonlike triomf. Soms besef mens dit nie eens nie; ander kere het jy ‘n volgepakte gemeenskapsaal of konsertgebou aan jou voete.

In Portman se geval is die stryd nie net teen haar eie, skrikwekkende monsters nie, maar ook teen haar emosioneel manipulerende ma – vreesaanjaend vertolk deur Barbara Hershey – s’n. Voeg daarby ‘n regisseur – Vincent Cassel, oudergewoonte uitstekend – wat die onmoontlike van dié onderdrukte vrou-kind vra, en jy’t ‘n resep so reg uit ‘n kruising tussen Forman se Amadeus en Haneke se The Piano Teacher.

Soos Haneke dit baie goed regkry, skep Aronofsky ook op ‘n briljante manier kontras tussen wonderskone oomblikke en die donkerste hoekies van die karakters se bestaan. In dié onhoubare balanstoertjie floreer Portman, welverdiend bekroon met ‘n Oscar. Daar’s heelwat uitsonderbare oomblikke, maar die masturbasietoneel, om nie eens van die koek-een (uhm...) te praat nie, is hoogtepunte in haar en Aronofsky se samewerking. O, wag, en die een waarin Cassel haar opvryf; en dié in die trein; en die Swart Swaan se triomf; en en en.

Met dié stukke rolprent-genialiteit kry Aronofsky en sy span iets reg waarna van die karakters so desperaat streef: verlossing in ‘n vlietende oomblik van volmaaktheid.

No comments:

Post a Comment