Friday, September 24, 2010

Jy's net so goed soos jou plan B



In die 80's was The A-Team enige tyd so cool soos MacGyver.
Dalk selfs cooler, want hoewel dié oudsoldate niemand raak geskiet het nie, het hulle darem hul vuurwapens op 'n dreigende manier rondgeswaai. En die girls wat vir Face geval het, was in die algemeen meer yummy as die Voortrekker-koekies wat oor die Mac geswymel het.

Kyk 'n mens nou terug, herinner Richard Dean Anderson se karakter 'n mens eintlik meer aan die metroman-avonturiers van die Discovery-kanaal as 'n hardebaard-avonturier wat 'n diktator se ganse militêre bewind met 'n motorbattery en 'n turksvy kan stuit. En hy sal nooit, ooit lelik praat van sy ma, sy hond of sy kunssinnige meisie nie.


So, absoluut betroubaar, maar terselfdertyd voorspelbaar en vervééélig.

En daar's net geen verskoning vir daai bullshit nie. Gee my enige dag 'n karakter met issues (jip, pretty much die hele Marvel-heelal en Batman) en ek wys jou 'n wêreld waarin wit en swart aan grys 'n bestaansreg gee. Dis die mense in die krake wat van die wêreld 'n beter plek maak; nie die 25-jarige maagde op hul morele skoppelmaai nie. Kyk na Hal Hartley se Henry Fool en verlustig jou aan 'n properse anti-held. Soos hy tereg opmerk: "An honest man is always on the run." En moenie dié eerlikheid met die nie-vertel van leuens verwar nie. Dis soos mense wat deure uit vrees sluit, maar nie die sleutel weggooi nie.
Wat ek éintlik wil sê, is die fliekweergawe van The A-Team (foto: babbleon5.wordpress.com) is soos een van daai maagde: Propvol belofte, maar uiteindelik net te veel moeite. En sodra jy oopmond soen moet jy waarskynlik ouers vra. En daarna mag jy nooit weer die lig aanskakel nie. Of hulle hou deurgaans hul oë toe.


En daar's net geen verskoning vir daai bullshit nie.

Ja, Bradley Cooper as Face en ons eie Sharlto Copley as Murdock werk absoluut (om nie eens van Patrick Wilson te praat nie!), maar dis omtrent al. Liam Neeson is alles wat hy nié in Taken was nie; Jessica Biel probeer so hard mean lyk dit raak lagwekkend; en wie ook die dude is wat veronderstel is om B.A. te wees, lyk of hy enige oomblik in trane kan uitbars. Ek bedoel, eerlikwaar, die ander oudsoldaat wat die bad guy is, boesem meer vrees by 'n mens in as enige van die A-span se lede. En die belaglike einde is ewe flou en voorspelbaar.


Nou hoe maak 'n mens nog sulke foute ná al dié jare?

Nee wat, as dit die A-span is wat my uit my verknorsing moet red, is dit maar beter dat hy so moeilik is om in die hande te kry soos die gruisstem-man aan die einde sê. Dan poke ek eerder vir Richard Dean Anderson. Ek wed jou hy's op Facebook.

Tuesday, September 14, 2010

Net te laf, engel


Wat's die bohaai om Salt?

Want ek verstaan dit nie.
Dis 'n standaard-nuwe-millennium-aksiefliek, maar met Angelina Jolie in die hoofrol.

Ek ontken nie vir 'n oomblik Jolie is nié omgewe van 'n spesiale aura nie, maar sy's hier allermins die Jolie waaraan 'n mens gewoond geraak het. In Tomb Raider jaag sy behoorlik jou bloeddruk op; in A Mighty Heart en Changeling gryp sy jou aan die hart. Maar in Salt (foto: blacknailedreviews.blogspot.com) val haar vertolking van 'n tawwie tienie met 'n sagte hart by die krake in, want sy's nie warm of koud nie. En ons weet wat gebeur met diégene ...

Ek kan sommer sien hoe dié karakter verder "ontwikkel" gaan word: Nog twee vervolgflieks a la Jason Bourne waarin die eendimensionele Evelyn Salt bietjie lyf gegee word (en Jolie het dit nodig, al is dit net op fisieke vlak, want sy's net te maar; waar's die lyflike vrou van voorheen?). 'n Spook uit die geskiedenis hier; 'n nuwe liefde daar en siedaar! 'n Kitsproduk van 'n vae gedagte.

Die bemarkingsveldtog om Salt berus skynbaar grootliks op dié gedagte van Bourne-aksie, maar met 'n hot chick in die hoofrol. Gaap! Jy moet heelwat beter doen as in Salt, Angie. Enigeen van Alien se Ripley en Resident Evil se Alice tot Michelle Yeoh en die gemiddelde 24-vrouekarakter sal Salt se gat skop. En in Ultraviolet het Milla Jovovich net soveel beter met lang, swart hare gelyk.

Geen grense word in Salt verskuif nie ­- behalwe dié van geloofwaardigheid - en dis gou duidelik dié fliek dien net een doel: Om 'n konsessie bekend te stel. Salt is maar 'n vroueweergawe van Mission: Impossible se Ethan Hunt. Darem kan 'n tweede Salt-fliek net beter wees as M:I II en M:I III sáám, so dis iets om na uit te sien (op 'n masochistiese manier).

Ek het nog altyd ontvlugting in die fliekteater gevind. Soos Joan Allen se karakter in The Contender opmerk wanneer sy in die Amerikaanse kongresgebou staan: Dié is my tempel. Hier aanbid ek. Maar as Salt die soort "intelligente aksiefliek" is waarmee ek tevrede moet wees, is my geloof aan't wankel. Dis maar net nog van dieselfde ou Hollywood-wors.

En van die eerste proesel was dit maar af.

Sunday, September 5, 2010

Roofdiere sonder byt


Adrien Brody is 'n cool dude.

Hy maak soms effe vreemde rolkeuses (soos ons almal maar), maar hy's een van dié kunstenaars wat sy eweknieë se respek afdwing én 'n kultusnavolging het.

En hy's sommer net acid, china. Soos enigiemand sal getuig wat na die riller Oxygen (1999) gekyk het. En ja, lank voordat sy een van die gekwelde mediese werkers in ER was, was Maura Tierney nog meer gekwel as 'n speurder gewikkel in 'n stryd om oorlewing met Brody se psigopatiese karakter in dié laebegroting-riller. Wonderlike fliek, terloops.

En so reg uit Oxygen stap Brody tien jaar later by Predators in, lyk dit.

Hy sê min; het weer daardie effe geamuseerde, oukei-ko's-doen-dit-en-kry-klaar-uitdrukking op sy gesig; en spog boonop met 'n gekamoefleerde BFG en 'n nog amper groter mes. O ja, en vir so 2 min. kan jy die resultaat van kreatien, proteïenskommels en swaar gewigte bewonder (foto: justjared.buzznet.com). Maar dit, en 'n wonderlike openingstoneel, is maar dit wat betref Predators.

Ongelukkig, want ek't nogal uitgesien na dié een. Dis 'n cool konsessie; die stamboom is daar; Brody is kickass; Robert Rodriguez is die vervaardiger; en Nimrod Antal, wat die kykbare Vacancy (2007) gemaak het, die regisseur. Maar Predators, wat skynbaar veronderstel is om op die eerste een met Arnie te volg, is vervééélig. En dis so blêrrie voorspelbaar jy wil huil.
Hier's 'n goeie idee: As jy agterkom jou fliek se vermaakwaarde neig na dié van 'n idiotiese staker met 'n vuvuzela en vinnige voete, en jy sit met die oulike Alice Braga in een van die hoofrolle, laat een van die Predators dan haar hemp afruk. Of so iets. Enigiets, man, enigiets. Net solank dit my actually lus maak om na die skerm te kyk. Nie eens die betroubare Laurence Fishburne, wat sy bes probeer om 'n Dennis Hopper op ons ass te trek, kan sake beredder nie.

Dankie tog ek't in Eastgate na Predators gaan kyk, want die beeld en klank was so swak en my mede-teatergangers so vermaaklik ek't amper kaartjies na Joburg Day begin uitdeel.
As die groepie te-cool-vir-my-wit-wessie-hoërskoolseuntjies links van die paadjie nie kliphard kommentaar lewer nie, is dit die gesinnetjie van vyf wat hom so driekwart deur in die ry agter ons kom tuismaak en terstond begin selfone en selfoonfunksies vergelyk. Ek kla nie, hoor. Want dis die seuns se reaksie wat my opnuut laat besef het op watter mark dié soort flieks deesdae gemik is.

Ek en my destydse swaer - 20 jaar my senior - het nog saam na John McTiernan se Predator (1987) gekyk. En dit ewe veel geniet. Ons het gedink dis friggin' awesome. Maar Predators, soos die meeste hoofstroomflieks deesdae, is op snotneuse met ADD of wanhopige, middeljarige vroue gemik. Dis 'n verbeeldinglose fliek wat opnuut, soos soveel flieks deesdae, die indruk skep dis om 'n vae gedagte en een of twee goeie tonele gebou.

Dis miskien cool vir generasie Y, maar nie vir iemand wat dit deur die dag kan maak sonder om Facebook of Twitter te acces nie.