Friday, October 7, 2011

Net in die flieks, pragtig


Anders as wat die geval met die vervelige No Strings Attached was, kan mens jou wrintiewaar bly sit totdat die slottoneel in Friends With Benefits vervaag.

Dié twee romantiese komedies is nog een van daardie Hollywood-verskynsels soos mens ook met Armageddon en Deep Impact; Dante’s Peak en Volcano gesien het: Melk die koei vir al wat hy werd is en die beste deel van die hele oefening is dat mens nog jare later a la Lou Reed se Wild Child laataand en vele alkoholiese drankies later kan redekawel oor watter een beter is. (Dis ‘n hartseerpartytjie op enige dag, daai.)

Teen die Justin Timberlake-verwagting in is Friends With Benefits ‘n heel vermaaklike fliek. Ja, die skynbaar onvermydelike “kyk, ek’s ‘n wêreldbekende sanger en danser”-tonele is daar, maar Timberlake is nie so steurend dat die rabbedoe Mila Kunis se groot oë (onder meer) nie die herinnering daarvan kan laat vervaag nie.

En, wonder bo wonder vir ‘n romantiese komedie, is die slottoneel nie ‘n jaagtog of swemtog of valskermsprong of deurdrenk van Hollywood-reën nie. Dié het in elk geval nog net omtrent twee keer gewerk – in Breakfast at Tiffany’s en Four Weddings and a Funeral – en dit hoort nooit weer in die slottoneel van ‘n romantiese komedie nie. Dis eerder ‘n fliek wat deurgaans sy momentum behou en nie op goed soos toilethumor of karikatuuragtige karakters of totaal onvanpaste storie-afwykings steun nie.

Dis ‘n pluimpie vir die regisseur Will Gluck, wat nog ‘n groot fliek gaan maak. Sy debuut was die uitsonderlik prettige skoolkomedie Fired Up! en hy het dit vroeër vanjaar met die Emma Stone-baken Easy A opgevolg. Terloops, dis inderdaad Stone se gesig op die foon wanneer Timberlake se eks hom bel. Nog ‘n Easy A-verwysing is die naambordjie van O. Penderghast wat Kunis se karakter op die lughawe annekseer.

Benewens sy hoofspelers se ewewigtige spel – hoewel Kunis se manewales soms oordadig is; sy’t nie die inherente coolheid van iemand soos Zooey Deschanel of Lizzy Caplan nie – lê die fliek se bekoring in die rustige pas wat Gluck handhaaf en die balans wat hy tussen die onderskeie elemente vind. Dis amper of die fliek sy eie weg vind, soos dit seker veronderstel is om in verhoudings te gebeur. En hoewel mens moet wonder hoe die nuut aangestelde en onervare kreatiewe direkteur van ‘n tydskrif soos GQ skynbaar min tyd op kantoor hoef deur te bring, moet mens onthou die werklikheid het net plek-plek plek in Hollywood. En die onderskeie brandpunt-kwessies – soos Timberlake se hantering van sy pa (die altyd kykbare Richard Jenkins) se siekte – word wel heel gerieflik opgelos, maar dis nie regtig waaroor dit gaan nie.

Eintlik doen Gluck en sy drie medeskrywers heel goed daarmee om aan die storie ‘n skynsel diepte te gee en dit word versterk deur nog gerekende byspelers soos Patricia Clarkson as die nou-hier-nou-daar-ma en Woody Harrelson as die gay kollega.
As jou hoofkarakters liggewigte soos Timberlake en Kunis is, kan die byspelers sake dikwels beredder (nie dat dit hier nodig is nie). Dis nou maar die Hollywood-resep en daarmee moet ‘n mens verlief neem: Die hoofkarakters het altyd oulike, vreemde, anderster vriende en/of familie wat ampertjies die kollig steel, maar hulle’s net effentjies te dwarstrekkig vir opgevoede geselskap. Dis soos mense met kinders – verdra moet hulle verdra word.

Nog ‘n bron van irritasie is die fiktiewe fliek waarna Kunis-hulle en waarvan die gebeure in die storielyn neerslag vind. Sulke foefies laat mens altyd wonder of die fliekmakers nie genoeg vertroue in hul storie en karakters het dat dié op hul eie bene kan staan nie.

Gelukkig vir die bogemiddelde kyker – dis nou die fliekganger wat toemond kou en nie in die teater SMS nie – probeer Friends With Benefits niks meer wees as al sy dele saam nie. En onthou, New York is koning, of so iets.

Sunday, October 2, 2011

Vars soos afspraak-verkragting

‘n Vriendin se geskeide kêrel is ‘n welgestelde, Engelse Jood van Kaapstad se suidelike voorstede. Hy’t ‘n 18-jarige seun en ‘n 14-jarige dogter en my vriendin vertel die vreesaanjaendste goed van hoe die tieners in dié kringe tekere gaan.

Die 14-jarige se 17-jarige kêrel kom kuier en hy slaap sommer oor. En nie in ‘n afsonderlike vertrek nie. Hul idee van ‘n gesinsete aan tafel is, wel, bloot ‘n gedagte.

Ek’t daaraan, en aan voorslag-Afrikaner-adel soos die Waterkloof-vier, gedink toe die storie in die Australiese fliek Wasted on the Young sy voete vind. Dis ‘n riller oor ‘n oulike matriekmeisie by ‘n private skool wat op ‘n partytjie deur die swemspan se kaptein en sy regterhand verkrag word en die rol wat sosiale media in die teistering van ‘n persoon kan speel.

Ben C. Lucas, skrywer en regisseur, het ‘n fliek gemaak wat mens tot ‘n punt laat kriewel. Die vrae wat hy stel is pertinent, hoewel hy nie sy woorde versigtig kies nie. Dis jammer hy raak gaandeweg so meegevoer dat sy fliek verval in onwaarskynlikhede en ‘n grandiose, idealistiese ontknoping. Sy visuele foefies – veral die SMS-taal wat bo-oor die karakters vertoon word – help ook net deels; die flikkerbeelde wat as waarskuwing teen skoolslagtings moet dien, is uiteindelik maar koue pampoen. Dit maak van Wasted on the Young meer Eva Mendes se Live! as Gus Van Sant se Elephant.

Daar’s ‘n sterk ooreenkoms met Rian Johnson se supercool Brick in die oorbeligte, amper mafia-agtige uitbeelding van die skoolhiërargie en die verwyderdheid van enige gesagsfiguur. Vir dié kinders is ouers en onderwysers nie te onderskei van die swembadtoerusting en swartbord nie en hulle dien een doel: Gee daardie geld – ook vir dwelms – en koop daardie kar, skootrekenaar en slimfoon en moenie vrae vra nie!

Nog iets tel in Wasted on the Young se guns: Lucas het sy akteurs goed gekies in die sin dat die hoofspelers sag op die oog is; sonder dat hulle na ekstras in High School Musical lyk. Die spel is wel middelmatig, maar dis van sekondêre belang soos Lucas sy skuiwe op die redigeer-bord maak. Dat die boodskap gebring word, is hier belangriker as die boodskap se inhoud.

En die boodskap is, soos, so verlede jaar. Nie een van die kinders pluk eens ‘n iPad uit nie.