Monday, July 26, 2010

Hoe ver wil jy dan hardloop?

Al wat The Runaways vir my uitgerig het, was die skep van 'n drang na die luister van Joan Jett se grootste treffers. Toegegee, benewens die een of twee oorspronklike nommertjies is daar heelwat covers, maar wat dié musiek so luisterbaar maak, is die ongebreidelde entoesiasme waarmee Jett en haar manskollegas die materiaal takel.

Hulle hou nie terug nie.

Daarom is Kristen Stewart se keuse vir die rol van Jett in The Runaways nogal vreemd, hoewel sy nie noodwendig droogmaak nie. Dis net dat Stewart maar 'n uitdrukkinglose soort aktrise is. Verstommend hoe mense gaande raak oor haar transformasie van emo kid in die Twilight-gemors tot wilde rocker. Nee, die feit dat sy 'n kitaar tokkel, dwelms gebruik en op 'n ander band se kitare piepie, maak nie skielik van haar 'n beter aktrise nie. En ja, wat jy sien is wat jy kry: Die Stewart van The Runaways is die Stewart van Twilight is die Stewart van The Messengers. Snaaks genoeg hou ek om die een of ander onverklaarbare rede nogal van haar. Dalk is dit maar die tipiese mansding van skynbaar weerlose vroue wat onweerstaanbaar is. Versigtig, pappa, hul byt is die bitterste (of so iets, sê Jerry Maguire, dan nie?).

Nog minder van 'n verrassing is die voormalige kinderster Dakota Fanning se weergawe van Penny Lane, maar sonder die klas. Haar vertolking van die prikkelpop-meisie-van-langsaan Cherie Currie is so veelvlakkig soos die gemiddelde TV-advertensie vir 'n lewenspolis: "You're a slave to the money than you die." Beweeg aan. Dit sou ook die boodskap aan Floria Sigismondi, regisseur van The Runaways, wees. Want haar fliek lyk meer na 'n versameling video-dagboekinskrywings as narratiewe geheelbeeld en 'n mens kry die indruk sy kon nie wag om daardie laaste telefoongesprek tussen Jett en Currie te redigeer nie. Dalk is dit omdat sy meer bekend is as regisseur van musiekvideo's - of dalk omdat sy self Currie se outobiografie as draaiboek verwerk het.

Hoe dit ook sy, The Runaways is (ondanks Michael Shannon se prettige Kim Fowley) so boeiend soos die koerantrubrieke van Suid-Afrikaanse musieksterre. "Ek't net weer besef hoeveel awesome fans ek het. Ja, daar's ongelukkig die poepholle ook, maar hul geld ruik net so lekker."

So, ek kan The Runaways op my lysie tiek. Vader, nou vir Creation ...