Tuesday, October 12, 2010

"I did it my way"


Oliver Stone doen Nora Ephron.
Ek verwys na die soort fliek; nie die intrapersoonlike verkenning van mekaar se holtes nie. Hoewel verkenning nogal 'n hooftema in Wall Street: Money Never Sleeps (wie't die lagwekkende titel uitgedink?; foto: obsessedwithfilm.com) is.
Die altyd likeable Shia LaBeouf en die skynbaar onvermydelik onskuldige Carey Mulligan se potensiële diepte as akteurs word verken; so ook Michael Douglas se terugkeer-waarde in die gedaante van Gordon Gekko; Stone se volgehoue onvermoë om as byspeler te beïndruk (Hitchcock was soveel beter in North by Northwest); en, les bes, die gierigheid onderliggend aan die ineenstorting van die Amerikaanse ekonomie.
Tsk tsk, geld is die wortel van alle kwaad en so aan. Dit weet ons. Maar Stone gee dit so 'n tipiese daytime-inspuiting en slaag daarin om selfs van Frank Langella 'n simpatie wekkende miljardêr te maak.
Daar's 'n rede waarom 'n mens na sekere vermaak as "ontsnap"-goed verwys, want om 'n doeltreffende ontvanger daarvan te kan wees, vereis die afskaffing van aansprake op geloofwaardigheid. Stone verbeeld dit treffend soetsappig in die slottonele en bevestig daarmee dat hy eintlik maar 'n sentimentele seun is. Hy's dalk net lank in denial gewees. Of hy's agterstallig met sy huispaaiemente.
Dié vervolgfliek is hip, man. Oumense, vroumense en kinders kan ook daarna gaan kyk. Daar's verdeelde skerms en byderwetse kameraskote en liedjies so reg van die Grey's Anatomy-klankbaan; die manne jaag met motorfietse om te wys hulle is geld-slim én adrenalienvrate; die woonstelle is funky; die held en heldin gepas ek-gaan-die-wêreld-muisklik-vir-muisklik verander; die skurk gepas gewetenloos; en Douglas ... wel, is maar 'n vae skadu van die Gekko van ouds. Laat jou meer lus kry om weer na Wonder Boys te kyk.
Dis 'n heel kykbare fliek (op 'n Saterdag 22:45-manier), maar in tipiese Stone-styl is daar nie veel subtiliteit of subteks nie (veral ironies in die lig van die Hitchcock-verwysing). Dis oudergewoonte maar politiekery en storm en drang en alles in die oortreffende trap - van die karakters se emosies tot die arme Josh Brolin se aftakeling. Nee, Oliver, hy hoef nie noodwendig die skildery stukkend te slaan nie; dis so 80's. Jy's 'n Oscar-bekroonde fliekmaker; kry 'n nuwe manier om dit te sê.
Maar dis pret soos The Devil Wears Prada en Confessions of a Shopaholic pret is; jy kan regtig die tekstuur van jou springmielies geniet.