Friday, December 30, 2011

Die goue droom


Drive is ‘n sprokie.

Maar ‘n sprokie soos A Fistful of Dollars en Wild at Heart ‘n sprokie is.

Dis ‘n sprokie wat met liefde geskep is en uitgebeeld word – van die amper anderwêreldse klankbaan en die vloeiende, pienk letters van die titel en akteurs se naam tot die nabyskote van sy hoofspeler en die kleurspel van toneel tot toneel.

Waarin die Deense regisseur Nicolas Winding Refn in maar sy tweede Engelstalige fliek so uitmuntend slaag is om ‘n parallelle heelal te skep waarin daar geen afdraaipad of maklike uitweg is nie. Dis ‘n wêreld waarin die kyker hom nie kan begeef nie, soos blyk uit die histeriese gelag van EI-lose fliekgangers wanneer die bloed eers begin spat. Dis ‘n wêreld waarin ander dalk die septer swaai, maar waarin Ryan Gosling se waaghals-en-wegkom-bestuurder die laaste sê het.

Gosling het eintlik maar twee of drie stukkies insiggewende dialoog in die fliek: wanneer hy sy werketiek aan voornemende kliënte verduidelik en wanneer hy sy oulike buurvrou, Irene (Mulligan), ‘n vlietende blik in sy hart gee. Andersins sê hy min en laat sy hande en voete die werk doen. Dis ‘n dans waarvan mens nie kan wegkyk nie; so mooi soos dit is, so vreesaanjaend is dit ook. Die waarskuwing van dit wat kom, is allermins subtiel: ‘n Voormalige “kliënt” knoop ‘n geselsie aan en Gosling se reaksie gryp die lug uit mens se longe.

Dis ‘n voorbode.

Nog ‘n voorbode is die heelwat rooi wat in talle skote gebruik word. Refn skep met sy gebruik van kleur – nogmaals rooi; ‘n bietjie blou – die soort atmosfeer wat Wong Kar Wai in In the Mood for Love oor die groot skerm laat spoel het. Dit word afgewissel deur “droomtonele” soos die een waarin die bestuurder Irene en haar seun op ‘n uitstappie in die vloedwaterkanale neem.

Maar dan slaan die harde en onvermydelike werklikheid met die komplimente van ‘n skynbaar wenkbroulose Albert Brooks en stiksienige Ron Perlman toe en dit tref mens soos ‘n hamerslag teen die voorkop. Refn wys nogmaals daarop, soos Michael Haneke dikwels regkry, dat woorde onnodig is wanneer jou beelde en akteurs sterk genoeg is. Dit word die beste geïllustreer in die ysingwekkende hysbaktoneel; ‘n sekwens wat Irene verwese en alleen laat.

Ja, daar’s raakpunte met Walter Hill se 70’s-riller The Driver met Ryan O’Neal en Isabelle Adjani, maar Drive is veel wanhopiger, bloot omdat Gosling se karakter, anders as O’Neal s’n, vir ‘n oomblik gehoop het op méér as die adrenalien wat die wegkom-jaagtog bied. Soos alle goeie sprokies is dié ‘n tragiese een.

Hierdie fliek, geskryf deur Hossein Amini (Jude en The Wings of the Dove, maar ongelukkig ook Killshot; gegrond op James Sallis se roman) behoort in gelyke mate aan Gosling en Refn. Hulle vertel hulle het die idee daarvoor gekry terwyl hulle in Los Angeles rondgery en na musiek geluister het. Hoewel dit ‘n gestroopte prent is wat dialoog en intrige betref, maak dit die impak daarvan nie minder nie. Die ontknoping is bietjie uitgerek, maar dis eerder ‘n waarneming as kritiek.

Dis ‘n versugting, maar mens hoop tog meer flieks soos Drive sien die lig. Dis ‘n prent wat die kyker uitdaag om sy grense te verskuif en mense met AAS uit sulke teaters behoort te hou.

Ka-ching, Oscar


Moneyball is ‘n langerige, groot en belangrike fliek – boonop met groot name (behalwe nou Steven Soderbergh s’n wat glo die pad gevat het ‘n paar dae voordat met verfilming begin sou word) – waarin eintlik maar ‘n baie eenvoudige punt gemaak word (lyk dit baie na).

Lewe in die oomblik.
Geniet elke deel daarvan; sonder om dit noodwendig te wil ontleed of in konteks te wil plaas. Moenie wag vir wat jy dalk dink die “groot oomblik” is nie. In The Handmaid’s Tale merk Margaret Atwood se hoofkarakter in ‘n stadium tereg op: “(Ondanks hul omstandighede en probleme) … was ons gelukkig en ons het dit nie eens besef nie.”

Moneyball, gegrond op Michael Lewis se gelyknamige 2003-roman en met die Capote-regisseur Bennett Miller aan die stuur, is eintlik maar ‘n halfbiografiese fliek oor die oudbofbalspeler en nou hoofbestuurder Billy Beane (Brad Pitt), wat steeds probeer om sy Oakland A’s na ‘n World Series-titel te stuur. Dis ironies. Veral wanneer mens na talle flieks kyk wat kwansuis op die werklikheid gegrond is: In baie gevalle is dit eerder op ‘n klein deel van die werklikheid gegrond. Soos in dié geval: Een, merkwaardige seisoen.

En hoewel dit seker maar oor bofbal gaan, gaan dit veel eerder oor Beane en die opdraandestryd wat hy op allerlei vlakke voer. Dié is ‘n fliek wat om Pitt gebou is soos Invictus om Morgan Freeman se behoefte aan ‘n Oscar vir ‘n Mandela-vertolking gebou is. Daar’s talle skote van Beane wat rigtingloos in sy SUV ry; van Beane wat sy kantoormeubels verinneweer; van Beane wat sy jong dogter verseker sy werk is nie in die gedrang nie. Baie van dit lewer nie veel van ‘n bydrae tot die storie nie. Hoeveel van Beane se gedagtes kan die kyker nou peil deur in die skemerte na die blink van sy een oog te kyk?

Maar dis nog altyd moeilik om nie van Pitt te hou nie en hier kry hy ‘n mens gou weer in sy hoek. Sy Beane beweeg van ‘n enigmatiese teenwoordigheid in die kantoor en ‘n bestuurder verwyderd van sy spelers na iemand wat die manne in die kleedkamer moed inpraat en jou waarlik ‘n bietjie emosie wys – hier ‘n klop op die skouer; daar ‘n stukkie raad. Dis in dié dele, en ook wanneer Beane in die bemagtigende lig van sy nuwe visie aan’t spelers verkwansel is of wanneer hy skaars sy ongeduld en frustrasie kan beteuel in sy onderonsies met sy afrigter, Art Howe (‘n besonder nors en bot Philip Seymour Hoffman; die antitese van sy titelkarakter in Capote), dat Pitt werklik skitter.

Die motivering vir sy houding word in ‘n mate in deurlopende terugflitse verskaf na sy werwing vir die topliga terwyl hy nog op skool was. Dit verleen aan die uitbeelding van sy karakter besondere diepte, veral omdat die jonger Beane haas g’n woord spraak nie. Die middeljarige Beane is ‘n man wat een ding baie goed ken: teleurstelling.

Daarby, en hoewel die hele uitgangspunt gegrond is op die objektiwiteit wat in ‘n wetenskaplike benadering bewerkstellig word, lê Moneyball se bekoring paradoksaal in daardie “iets” wat van die goeie sportfliek ‘n halfmagiese ervaring maak. Want maak nie saak hoe goed jou spelers, spankeuse en strategie is nie; as die sportgode daardie dag nie vir jou glimlag nie, kan jy maar vergeet. Een van Moneyball se beste tonele is die een waarin Bean se groep ervare talentsoekers kandidate bespreek. Die een word summier buite rekening gelaat omdat hy ‘n lelike meisie het. Dit dui op ‘n gebrek aan selfvertroue, sien?

Die man wat Beane die lig laat sien, is die bleeksiel-syferman-en-rekenaarfoendi Peter Brand (Jonah Hill). Dis ‘n fiktiewe karakter wat glo gegrond is op Beane se voormalige assistant, Paul DePodesta, ‘n man wat aan Harvard studeer het en deesdae talent vir die New York Mets opspoor en ontgin. Die normaalweg maniese Hill lewer stewige spel as Beane se onwaarskynlike bondgenoot en bied as waarnemer eintlik maar die kykerperspektief. Dis ‘n slim manier om die kyker nog verder te betrek.

Miller is ‘n man wat weet om ‘n storie te skik, soos hy in Capote gewys het. In Moneyball slaag hy weer daarin om ‘n flink pas te handhaaf en, ondanks die fliek se looptyd van langer as twee uur, voel dit nooit na ‘n uitgerekte affêre nie. Mens kan kritiek uitspreek wanneer daar nogmaals syfers en statistieke op die skerm geflits word om die boodskap tuis te bring, maar dis ‘n klein irritasie.

Maak seker ook nie eintlik saak nie, want dié is Pitt se fliek.
En bofbal s’n.