Monday, September 19, 2011

Jy is ook ek, jou monster


‘n Mens kan verstaan waarom ‘n genre soos gruwelflieks gewild is; Jan Alleman wil steeds ontvlug, maar dis darem lekker om te sien hoe die bloed fantasties spat en die moordenaar skynbaar net nie daardie donker dors geles kry nie.

Alleman kan uiteindelik ‘n sug van verligting slaak, want die gebeure is so vergesog hy kan hom daarin verkneukel, terwyl hy homself terselfdertyd op die skouer kan klop omdat hy hom waarskynlik nooit in ‘n soortgelyke, lewensbedreigende posisie sal bevind nie.

‘n Goue middeweg, dus.

Min mense hou daarvan om deur die harde werklikheid gekonfronteer te word wanneer hulle eintlik vir ‘n wyle van daardie werklikheid wil ontsnap. Onthou, Alleman is eintlik sielsongelukkig, sal sielkundiges verklaar. Hoe anders verkoop verkoop mens ontvlugting? Wat’s ‘n sosiale netwerk anders as vriendskap sonder enige verpligting?

Daarom is dit maar moeilik om deur flieks soos Funny Games, In the Bedroom of Savior te sit (millenniale kan in elk geval nie langer as 42 min. op een ding fokus nie). Dis net “te veel (werklikheid)”, sal fliekgangers verklaar. Waarom ‘n storie sonder ‘n silwerrantjie vertel en boonop geld betaal om daarna te gaan kyk? En tog bied sulke flieks, dink maar aan Paradise Now en White Ribbon ook, ‘n blik op die menslike toestand wat mens vasgenael hou.

Die Oscar-benoemde Incendies, gegrond op Wajdi Mouawad se gelyknamige verhoogstuk, hoort in dié geselskap. Dis ‘n skokkende ontdekkingsreis en blik op ‘n vrou en ma se gees wat in sy laaste stuiptrekkings die hardste en triomfantelikste uitroep. ‘n Tuiskoms, maak nie saak hoe traumaties die reis of die bestemming se plek nie, is steeds ‘n tuiskoms.

Die vaderlose Kanadese tweeling Jeanne en Simon se reis tel spoed op met die lees van hul ma, Nawal, ‘n vrou wat hulle nie verstaan het nie, se testament. “Gaan na die Midde-Ooste (die land word nooit geïdentifiseer nie) en vind jul pa.” Dit gedaan, wag daar nog twee briewe…

Denis Villeneuve, regisseur, skik sy storie soos ‘n kruising tussen ‘n dokumentêre prent en ‘n riller; die deurslaggewende oomblikke word verskuil en tref mens soos ‘n hamerhou teen die voorkop, terwyl die soms groteske gebeure as ‘n onveranderlike gegewe voorgehou word. Die voordeel van ‘n terugblik, seker. Dit slaag grootliks, hoewel Villeneuve die kyker tog, skynbaar doelbewus, met dié aanslag ook op ‘n afstand hou. Dit versag die fliek se impak effens, iets waaraan Funny Games se Michael Haneke hom nie sommer skuldig maak nie.

As die geteisterde Nawal lewer Lubna Azabal van onder meer Paradise Now-faam ‘n ontsagwekkende vertolking. Sy skep die beeld van ‘n later afgestompte vrou; skynbaar magteloos teen die aanslae van ‘n wêreld waarin ideologieë swaarder as menslikheid weeg. Dis eers in die ontknoping dat mens daaraan herinner word afgestomptheid is maar net nog ‘n front wat die sleutel tot oorlewing – in dié geval met jong kinders en boonop in ‘n vreemde land – kan hou.

Incendies, met sy treffende teenstelling van die droë, sondeurdrenkte Midde-Ooste en die vaal koue van Kanada, is ‘n vreesaanjaende huldeblyk aan mense wat nie tou opgooi nie; aan nooit ophou glo daar’s meriete in enigeen en elkeen se seining nie. Soms word jy daartoe gedwing; ander kere is dit ‘n eienskap wat jy op eie houtjie moet ontdek. Die hoop beskaam nie dat ons pad nie dieselfde roete as Nawal s’n (hoef te) volg nie.

Wednesday, September 14, 2011

Kap dit af, kap dit af


Een van twee benaderings word vir The Tree of Life vereis.

Een:
Moenie geld bestee om daarna te gaan kyk nie, want dis ontsaglik selfbewus en vervelig.

Twee:
Leef jou vooraf in ‘n besonder swewende, peinsende, metafisiese luim in (die pretensieuse kollegas bekend aan ons almal) en beskou die National Geographic-agtige gegewe as soortgelyk aan dié in The Thin Red Line, maar sonder die aksie, progressiewe storie, stewige vertolkings of minstens halfvolgbare dialoog.

Want The Tree of Life is skynbaar veronderstel om die kluisenaar-fliekmaker Terrence Malik se 2001: A Space Odyssey te wees; sy blik op die lewe, die heelal en sommer alles. Als aan die hand van ‘n wanfunksionerende gesin van Texas in die 1950’s se wedervaringe – van sy drie seuns se geboorte totdat hulle daar wegtrek en die gesinslede mekaar uiteindelik op ‘n strand in die hiernamaals weer raakloop.

Ja, ons weet die lewe is morsig en onregverdig en niemand is volmaak nie en pa’s kan diktators wees en ma’s die sout van die aarde en kinders vang kattekwaad aan, dankie. Daarby voeg Malick niks. En die tonele waarin Sean Penn as die nou volwasse probleemseun (Hunter McCracken vergestalt sekerlik een van die mees onsimpatieke karakters sedert George W. Bush in Fahrenheit 9/11) die wêreld uitdrukkingloos beloer, is so onnodig soos verduidelikings oor waarom Bismarck du Plessis teen die All Blacks van die veld gehaal is.

Ongelooflik genoeg kry die akteurs in ‘n looptyd van 2 uur en 20 minute nie veel kans vir enigiets wat as ‘n gesaghebbende vertolking bestempel kan word nie en ding op gelyke voet met die onsamehangende beeldmateriaal mee. Dit laat die kyker onbetrokke en, nog erger, onbelangstellend.

Gedane sake het g’n keer nie en die paar uur wat mens in die Tree of Life-teater verwyl, gaan jy nooit terugkry nie. Malick sou in dié geval met ‘n baie, baie sterk redigeerder kon doen. Almal weet die man versamel duisende ure beeldmateriaal en dis seker g’n maklike taak om dit tot ‘n samehangende geheel te sny nie, maar die fliek is so vervelig mens wonder hoe dit vir uitreiking op die kringloop kwalifiseer.

Dis dalk goeie bronmateriaal vir koffietafel-gesprekke deur kwasi-intellektuele wat nooit Days of Heaven gesien het nie.