Thursday, November 18, 2010

Onkeerbaar getroef


Tony Scott is ‘n fliekmaker wat een ding goed doen: Hy slaag altyd daarin om jou op die punt van jou stoel te hou.


Op die punt van spanning en afwagting.
Of op die punt om op te staan en uit te loop.

Scott, broer van die meer gerekende Ridley, het my in sy hoek gekry met flieks soos The Last Boy Scout (1991), True Romance (1993; vir 20 punte: Wie is Christian Slater?) en die Alan J. Pakula-agtige Spy Game (2001). ‘n Mens moet byvoeg die draaiboek en vertonings deur sy hoofspelers was in dié gevalle eersteklas.
Maar hy’t hard probeer om sy aanhangers se goeie guns nekom te draai met flou produkte soos Days of Thunder (1990), die Keira Knightley-flop Domino (2005; Knightley as ‘n aksieheldin? Regtig?) en verlede jaar se remake van The Taking of Pelham 1 2 3. Tussendeur was daar hoogstens kykbare pogings soos Enemy of the State (1998) en Man on Fire (2004).
Eersgenoemde was prente waarin ‘n hardekoejawel-fliekganger sy tande kon slaan en selfs ‘n traan of twee wegpink wanneer die held ‘n korstondige, eksistensiële krisis beleef: Eers die sigaret aansteek of eers die skurk skiet?
Taai een.

Scott het ‘n effe beter visuele balans met Deja Vu gevind, maar sy voorliefde vir loshande die irriterendste redigeringsbenadering in Hollywood huiwer maar soos daardie gewaarborgde Protea-mislukking-in-oorwinning in ‘n mens se agterkop.

Scott span in Unstoppable (foto: shuttervoice.com), sy jongste, weer saam met die altyd betroubare Denzel Washington, sy Deja Vu-, Man on Fire- en Crimson Tide-held, in dié doller-as-kopaf-rit wat op ware gebeure gegrond is. Dalk genadiglik, want ons man Tony en gelade retoriek is nie juis die gemaklikste bedmaats nie.
Die skynbaar onvermydelike persoonlike krisisse in die hoofkarakters se lewe, burokratiese getjommel en air punches (Louis Gossett jr. kan daai nonsens kortknip, hoewel ek nie oor die Hooters-hoek kla nie) is alles daar, maar Scott hou die leisels deurgaans stewig vas en die intrige raak darem nie te Armageddon nie.

Hierdie keer werk die redigering van skielike en oorverdowende trein-skote heel goed en dit dra wrintiewaar selfs tot die spanning by. Daar gebeur eintlik bitter min, maar Scott slaag daarin om die onderskeie storielyne – van die wisselwerking tussen die onderskeie karakters tot die TV-dekking – so af te wissel dat die jaagtog ‘n mens behoorlik uitasem laat.
Daarby hou ‘n mens nie net van Washington se karakter nie, maar ook van die wonderlike Rosario Dawson se geen-nonsens-beheerkamerbestuurder.
Scott se benadering is eintlik so kykbaar ‘n mens hoop dit voorspel goeie dinge vir sy volgende projekte.


Dalk kan hy selfs weer vir Brad Pitt inspan.
Of Bruce Willis.