Tuesday, May 10, 2011

Soos U2-konsert; met diepte



Hoe oordeel ons mense?

Aan hul dade (ook wat hulle nié doen nie)?
En indien wel, oordeel jy iemand aan sy “gemiddelde” optrede, of is een flater genoeg om ‘n vriendskap of verhouding te kelder?

Die vet weet, daar’s geen formule vir vergifnis nie. Dis seker maar veronderstel om soos aanvaarding te wees: onvoorwaardelik. Maar elkeen het daardie één ding wat nie vergewe kan word nie. Vir sommige is dit wreedheid teenoor bejaardes, kelners en diere; vir ander as dit ‘n soen; vir nog mense seks; vir sommige die verkeerde geloof of vriende.

Waaraan sal ons die TV-vervaardiger Barney Panofsky (Paul Giamatti) oordeel? Hy’s effe van ‘n slonskous en selfsugtig, maar ook ‘n lojale vriend en eggenoot en ‘n goeie pa en seun. Hy drink te veel, maar hy’s ook ‘n hardkoppige kêrel wat niks in sy pad laat staan wanneer hy eers ‘n besluit geneem het nie.

En Barney is vreesbevange. Hy glo (om goeie rede) al lank sy vrou gaan hom vir ‘n alfa-bobbejaan-vriend los en dié vrees word op die spits gedryf wanneer sy (om goeie rede) alleen by hul seun – en die bobbejaan – in New York gaan kuier. Hy drink oudergewoonte te veel; ontmoet ‘n aanvallige vrou; en sy lewe val in ‘n oogwink uitmekaar.

Natuurlik hoef Barney nie te bieg nie. Maar sy gewete vreet hom op. En sy vrou hoef hom nie – vir die bobbejaan – te los nie. Maar haar pa het haar ma herhaaldelik en oor jare heen verneuk en Barney se een keer is vir haar genoeg. Ondanks die feit dat sy, ironies genoeg, in geen stadium vooraf van plan was om hom te los nie.

Eisj, die lewe darem. En dis maar net een – maar wel die deurlopende – tema van die biografiese drama Barney’s Version (foto: cinewallpaper.com), wat gegrond is op Mordechai Richler se gelyknamige roman. Richard J. Lewis het van dié gegewe ‘n priemende, twee uur lange studie van menswees gemaak. En die trefkrag lê nie net in sy sterk rolverdeling, onder wie ook Rosamund Pike, Dustin Hoffman, Scott Speedman en Minnie Driver, se oortuigende spel nie, maar in die subteks wat hy (hoofsaaklik) geslaagd verskaf.

Lewis se boodskap is duidelik: Trap versigtig wanneer jy mense teenkom; oordeel eers wanneer jy die prentjie volledig kan sien. Hy en Giamatti leer mens dié les op die harde manier. En in terugflitse. Soos dit ons siening van Barney geld; geld dit ook syne van sy beste vriend (Speedman). Dis doeltreffend, want die mensdom dwing hom mos maar moeilik om van ‘n ramp weg te kyk.

Maar Barney’s Version is nie bedoel om ‘n neerdrukkende affêre te wees nie. Teen die tyd dat die klippies gepak word, wens mens jy was Pike se karakter; dat jy Barney kan vashou en van hom weer ‘n sielsgelukkige mens kan maak. Want sien, Barney is die vergestalting van daardie dikwels verborge eienskappe in ons elkeen wat ons desperaat hoop ‘n spesiale persoon sien raak.


En dis genoeg vir ‘n leeftyd.

Tuesday, May 3, 2011

Grenslose irritasie



Die vlees is gewillig, maar die storie nié.

Op ‘n ooglopend gepaste manier is die titel van die fliek Limitless (foto: mjbstar.com) ironies, want ‘n rolprentmaker kan omtrent enigiets met dié storie aanvang.

Gelukkig vir die minder kieskeurige fliekganger het die regisseur, Neil Burger, besluit om die beproefde en voorspelbare resep van oordadige, visuele foefies in te span om die gate in die draaiboek (gegrond op Alan Glynn se gelyknamige roman) te probeer verdoesel. Plaas daarby die fokus vierkant op die charismatiese hoofspeler, in dié geval Bradley Cooper, en Bobbie is jou oom. Dis dan geen verrassing dat Limitless so ‘n grenslose bron van irritasie is nie, want Burger is ook die man wat daarin kon slaag om The Illusionist, met Edward Norton, na ‘n B-klas-TV-fliek te laat lyk.

Cooper, daardie flou bleeksiel van Alias wat sedertdien in die “nuwe Brad Pitt” ontpop het, is die spil waarom sake draai. Hy’s verloorder, dinamiese held, ek-verteller en supermens als in een. Daarby is sy oë so blou Hitler sou afgunstig wees én hy kry die kans om Robert De Niro in sy moer te stuur. Ai, die lewe van ‘n Hollywood-hartebreker, darem.

O ja, en moenie van die vereiste maar onwaarskynlike bakleitoneel vergeet waarin SuperSarel (’skies, Van) se 100% funksionerende brein hom in staat stel om by Bruce Lee te gaan leen en sewe sluipers te verinneweer nie. Dit laat mens skoon nostalgies aan Jude Law se manewales in The Wisdom of Crocodiles dink. Of aan swak redigering in ‘n King of the Cage-episode.

Burger het darem bietjie gaan sit en dink en toe onthou hy van al die bloed wat so spat in Bound en hoe hot like that Gina Gershon was en dit was dalk die saadjie vir die fliek se beste toneel, maar andersins laat Limitless ‘n mens hoofsaaklik met ‘n drang na iets veel sterker wat jy oor jou springmielies of in jou Cream Soda kan gooi.

Dis een van daai flieks wat vir twee tot drie minute se rigtinglose debatvoering sorg terwyl jy vir jou cappuccino wag en wat onvermydelik uitloop op die soort stelling dat die soetsappige Phenomenon ‘n veel realistieser blik op verhoogde breinfunksie bied. Maar dié speel op die platteland af en Bradley Cooper in ontwerperspakke sou eenvoudig nie in ‘n droë mielieland werk nie. Selfs nie met ál Abbie Cornish se donker eyeliner net in die voorlaaste toneel nie.

Eintlik laat Limitless ‘n mens met net een vaagweg interessante vraag: Kan die Stormers-ondersteuners dit nou al bekostig om so windgat te wees?