Friday, August 27, 2010

Die wortel van die kwaad


Waaraan het die geskiedenis die Nazi's te danke?

Was dit suiwer daardie nasionaal-sosialistiese drang tot selfgelding en die skep van 'n opperryk, gepas vir 'n superras?
Hoekom is die arme Jode so vervolg en gemartel?
Hoekom was die Nazi's so bloeddorstig?
Waarom doen mense die dinge wat hulle doen; beskou hulle hul as verhewe bo ander?

Die rolprentmaker Michael Haneke, 'n man wat talle fliekgangers erg afskrik, bied in sy bekroonde The White Ribbon (Palm D'Or in Cannes; foto: csmonitor.com) 'n nuwe en, durf ek sê effe simplistiese?, blik op van die redes vir die Tweede Wêreldoorlog se afgryslikhede. Dis 'n sielkundige riller, maak geen fout nie, en in tipiese Haneke-styl los hy die ergste vir dit wat sy fliekgangers se verbeelding kan oplewer. En hoewel sy redenasie dalk oorvereenvoudig is, beteken dit nie dis 'n eenvoudige fliek nie. (Die dag wanneer ek kan sê Haneke het 'n "eenvoudige" fliek gemaak, sal ek begin bekommerd raak.)

The White Ribbon is 'n onthutsende blik op vaders se vergrype; die godsdiens-rottang; en kinders wat lank nie meer kinders is nie.

Die verhaal speel hom kort voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 'n plaasdorpie in die noorde van Duitsland af. Die verteller is die dorp se skynbaar naïewe onderwyser (net genoem "die onderwyser"), wat uit die staanspoor verklaar sy vertelling kan lig werp op "wat later in ons land gebeur het". Die dorp, waarvan die meeste inwoners vir die feudale heerser ("die baron") werk, word vasgevang in 'n rits vreemde en onverklaarbare gebeure.
Eers struikel "die dokter" se perd en die geneesheer word beseer; 'n vrou wat vir die baron werk sterf wanneer sy in die meule beland; die baron se koolkoppe loop deur; sy jong seun word aangerand; "die voorman" van die baron se baba word onverklaarbaar siek; later loop ook die vroedvrou se verstandelik gestremde seun deur. In laasgenoemde geval is daar 'n nota by: Die kinders sal weens hul vaders se oortredings gestraf word, word verklaar.
Ook sentraal staan "die pastoor" en sy vorm van dissipline: 'n rottang in die een hand en in die ander 'n wit lint vir sy dwalende skapies; 'n herinnering van hul onskuld en suiwerheid. In die slottoneel pryk dié linte nog opsigtelik aan sy twee oudste kinders, maar teen dié tyd weet die kyker dis 'n futiele en ironiese teregwysing.

Haneke is 'n meester wanneer dit by die kombinering van skoonheid en boosheid kom en hier verbeeld hy dit in die sproetgesig-dorpskinders se onheilspellende teenwoordigheid en optrede. Dit blyk reeds in die openingstoneel en word algaande versterk. Teenoor hulle staan die skynheiligheid van die manskarakters en hul impotente pogings tot selfgelding en die handhawing van orde. (Soos hy reeds in flieks Funny Games en Cache gewys het, sien Haneke kinders allermins as onskuldige bloedjies.)
Elke toneel is gelaai van die onheil, baie soos Roman Polanski in sy onlangse The Ghost Writer vermag het. Dit dwing jou om die raampies op 'n half-teensinnige manier deur te kyk op soek na die geringste leidraad. Daar is geen musiek in dié fliek nie en dit, tesame met die uitstekende fotografie, dra tot die kriewelrige gevoel wat die fliek 'n mens gee. Die besonderse swart-wit-tekstuur, terloops, is verkry deur in kleur te skiet en die kleur in die rederingsproses te dreineer (soos die geval was met Pleasantville).

Geen raaisels in The White Ribbon word opgelos nie. Geen skuldige ry aan die pen nie en dié mense wat die pad vat of verdwyn, los nie gerieflikheidshalwe briefies agter ter verduideliking nie. Soos dit 'n goeie rolprentmaker betaam, stel Haneke sy saak op sy manier en hy laat dit aan die kyker oor om sy eie gevolgtrekkings te maak.
In hierdie geval wil jy amper sê: Siestog, die arme Nazi's. As my pa streng was; as my pa my betas het; as my baas my (na my mening) bevark het, sou ek ook miljoene mense uitgemoor het.

Dalk is ek oorkrities.

Dalk plant Haneke bloot die saadjie wat so twee dekades later tot uitbarsting gekom het. Vir my was die fliek se sleuteltoneel aanvanklik die bombastiese baron se moedelose vrou se opmerking oor die dorp en sy inwoners: Sy kan die afguns, haat en nydigheid nie meer verdra en vat die pad.
Maar nog 'n toneel sluit nou daarby aan: Die pastoor se een seun merk teenoor die onderwyser op: "Ek het God die kans gegee om my dood te maak en hy het nie; dit beteken ek's spesiaal."
Dis soos om te sê, elke keer wanneer jy by die werk of die huis kom: "Ek het die noodlot getart en dit oorleef; ek's bestem vir groter dinge."

So gesien is The White Ribbon amper 'n meesterstuk. Ek hou in elk geval van die fliek, selfs al is dit net omdat Haneke geen musiek gebruik nie. Dit skep 'n nog onheilspellender atmosfeer (of dalk is dit omdat Christopher Nolan 'n mens in Inception van begin tot einde met oorverdowende musiek bombardeer dat ek die stilte kan waardeer).

Monday, August 16, 2010

Ondergeskik aan die 'kuns'


Mense freak uit oor Inception.

Meer as een vriend van my verklaar sommer hier in Augustus reeds dis die beste fliek van die jaar. Elkeen het 'n teorie oor die verloop; die einde; die "kicks"; Leonardo DiCaprio se groeiende status as voorslag-akteur ... en wie's daai awesome dude wat "pointman" speel?

Dis Joseph Gordon-Levitt, een van die min jong akteurs wat by Ryan Gosling kan kers vashou (kyk na die lysie titels regs vir Gordon-Levitt se beste sover). En hy is awesome, ja. Nie dat hy - soos almal behalwe Leo met sy kenmerkende seunsfronsie en adolessente stoppel - veel te doen het nie. En selfs probeer Leo hoe hard, die lieflike Marion Cotillard steel die kollig elke keer wanneer sy haar abrupte en dikwels pleinweg vreesaanjaende verskyning maak. Ek kry maar nie byt aan die kêrel nie; dis of hy ondanks stoere pogings (hy was heel kykbaar in Shutter Island) nog te maklik na eendimensionaliteit neig.

Maar Leo se spel - en sy kollegas se gebrek daaraan - is nie die probleem met Inception nie.

Christopher Nolan is.

Nolan, skrywer en regisseur, is besig om in dieselfde skynbaar onvermydelike slaggat as ander monster-fliekmakers te trap: Hy raak te slim vir homself. En ek sê dit met respek, want dieselfde het al heelwat beter fliekmakers as hy - van Steven Spielberg tot Wes Anderson - oorgekom. Gaan dit noodwendig met die al hoe groter begroting gepaard dat die karakters se ontwikkeling in die slag bly soos die rekenaareffekte en aksie toeneem? En ja, die rammelende Avatar is 'n uitstekende voorbeeld. Dis pateties dat die suksesvolste flieks in die geskiedenis ook met van die eendimensioneelste karakters en eenvoudigste storielyne sit. Ek sidder byvoorbeeld om te dink wat Neill Blomkamp met die "onbeperkte" begroting vir sy volgende fliek gaan aanvang. Dalk is ek onnodig pessimisties; hy verras ons dalk aangenaam (hoop ek vuriglik).

Is Nolan 'n visioenêre rolprentmaker, soos hy deur talle mense bestempel word?

In sekere opsigte, soos die skikking van sy stories en sy hiper-realistiese aanslag, is hy in 'n mate, ja. Maar dit wil voorkom of hy in dieselfde rigting as James Cameron beweeg. Dié het ook met sterker karakters in sy flieks begin, maar hul rol algaande deur die jare afgeskaal tot by die punt waarin daar nie veel plek vir enigiemand anders as die plankdun hoofkarakter en duisende ure rekenaareffekte is nie. Nolan het almal laat regop sit met die briljante Memento, myns insiens steeds sy beste fliek. Hy't Guy Pearce ruimte gegee om sy karakter lyf te gee en dit, tesame met die innoverende storie-verloop, het van dié "mind fuck" 'n meesterstuk gemaak.


Insomnia was niks om oor opgewonde te raak nie, terwyl The Prestige met sy anderwêreldse kloustrofobie weer 'n tree in die regte rigting was.


Die Batman-flieks? Nouja, goed soos hulle is, is hulle nie meesterstukke nie. Nolan het hulle van die strokiekarakter se fantastiese elemente gestroop en van DC se donkerste held 'n skoongesig thirtysomething sonder 'n libido gemaak. Interessant genoeg hang dit nou saam sy steriele uitbeelding van geweld. Daar's baie geweld, maar min bloed. ('n Wyer gehoor is altyd welkom, hoor jy die ateljeemense koer; soveel makliker om 'n 13OL-fliek as 'n 18TGSN-een te bemark.)

Die redenasie agter flieks soos dié, asook Inception, se gewildheid is natuurlik hul andersheid. In Nolan se flieks sukkel hy nog erg om sy kinkels te verbloem en in dié opsig steek hy maar sleg af teen iemand soos David Fincher. Net soos in The Prestige (ironies genoeg, haha!) is die "prestige" in sy flieks dikwels teen so driekwart deur reeds duidelik. En hoewel sy flieks suiwer op meriete geoordeel deurgaans minstens goed is, is dit die lokprente en die internet-babbel wat hulle tot iets meer verhef. Sou The Dark Knight, byvoorbeeld, so goed gedoen het as Heath Ledger nie die emmer geskop het nie? Sou ons opgewonde geraak het oor Inception as ons nie in die lokprent gesien het hoe die geboue oor mekaar gevou word nie?
Hoeveel keer kan ek na 'n Nolan-fliek kyk? Hoeveel keer WIL ek?

Eisj, nie eintlik nie.


Cloverfield is weer op DStv. Nog 'n fliek wat danksy slim bemarking aanvanklik die rekords laat spat en toe stoom verloor het. En tog kyk ek eerder weer na hom, en na Tim Burton se Batman, as na The Dark Knight. Of Inception.

Friday, August 6, 2010

Wanneer God nie kan help


Kreasionis of evolusie-aanhanger?

Moet ek skuldig voel oor die feit dat ek nie te veel daaroor wonder nie?

Kwantumfisika is onlangs die gesprekspunt oor middagete by die werk. Dit gaan als oor golwe en parallel-wêrelde en hoe jy en ek en ons almal van net een werklikheid bewus is, word daar aan my verduidelik. En ek dog dit gaan oor die Oerknal, wat my terugbring by die eerste vraag.

Ek weet nie.
En ek gee nie om nie; ek's bietjie meer gestres oor die hier en die nou.
Kortsigtig, waarsku die gelowiges my.

Ek weet dit is, maar hoe gemaak? Ek's nie bewus van enige ander werklikheid as dié een waarin ek nie slaap nie en die hunkering na iemand aan my vreet soos die bloedlus aan 'n 750 jarige vampier wat pas uit hibernasie gekom het. Want dit gaan oor selfvergifnis, sien? Want daarsonder kan jy nie aanbeweeg nie. En vader behoed ons tog as ons nie kan "aanbeweeg" nie. Is daar 'n groter sonde as dié onvermoë? Is daar nog goeie goeie padkafees?

Dit (die selfvergifnis; nie die kafees nie) is die tema van die sleuteltoneel in die uitstekende biografiese drama Creation (foto: http://www.collider.com/), waarin die regte egpaar Bettany - Paul en Jennifer - die rolle van Charles Darwin en vroutjie takel.

Darwin, moeg gespook met die spook van sy oudste dogter en sy "aanslag op God", oftewel sy evolusieteorie, bieg teenoor sy vrou hy kan homself nie vergewe vir sy dogter se dood nie. Hy moes haar gedwing het om warmer aan te trek daardie dag op die strand. En sy vrou kan hom ook nie vergewe nie, slinger hy haar dit teen die kop. Sy ontken dit; haar skuldlas is ewe swaar; sy meen sy - hoog swanger en reeds met drie kinders wat versorg moet word - moes 'n groter poging aangewend om by haar oudste se sterwensbed te wees.

Die egpaar bekyk mekaar met bloedbelope oë. Dis 'n katarsis wat die weg baan vir die publikasie van The Origins of Species. Die Darwins was daarna gelukkig saam tot die dag van hul dood, word in die slotnotas verklaar.

En dis die ding met Creation: Veel meer as 'n kykie na Darwin se "moord op God", soos 'n kollega van die wetenskaplike verklaar, handel die fliek oor die moord op Darwin se skuldgevoel en daarmee sy dogter se spook. En dit sorg vir aangrypende en boeiende kykstof.

Ja, die kerk word bygekom. Darwin se vriendskap met sy gemeenteleier bly in die slag wanneer einste dogter in growwe sout moet kniel en om vergifnis smeek omdat sy haar pa se teorie durf opper. Tog ironies hoe vrekbang die kerk vir 'n dwaalleer is; so of hy hom - en sommer vir sy volgelinge; namens sy volgelinge - nie opgewasse daarteen voel nie. Beproef alle dinge; solank jy net nie te veel twyfel nie.

En Darwin twyfel.

Snaaks genoeg nie soseer in sy natuurwette nie (of dalk word dit doelbewus onderspeel), maar oor die sin wat die wêreld nié meer vir hom maak nie. Waar die natuur en die oorlewing van die sterkste voorheen vir hom 'n wonder was, het dit nou 'n hok geraak waarin hy hom vasgekeer voel. In een van die fliek se treffendste tonele word sy studeerkamer in 'n droom-sekwens deur dwarrelende blare gevul. Darwin se gedagtes is self aan't dwarrel; tussen die blare en bittersoet herinneringe deur terg sy vergange dogter se stem hom nog.

Maar luister hy fyn genoeg is dit nie 'n spottende toon in haar stem nie, maar een van 'n liefdevolle dissipel se berisping oor hy afgedwaal het. Net soos hy nie kon keer dat 'n orangoetang in 'n dieretuin vrek nie, kon hy nie keer dat sy dogter doodgaan nie. Dis maar hoe dinge werk. Dié besef dwing hom terug na die oppervlak van 'n bewussyn wat deur selfverwyt verswelg is en uit voeling geraak het met daardie natuur wat hom eens op 'n tyd met soveel verwondering vervul het.

Darwin gaan soek ver daarna - in die verlede; sy notas; sy vriende; in waterterapie; in 'n woeste rugskrop - maar vind, soos ons almal seker maar, die antwoord en berusting lê dikwels veel nader as wat 'n mens vermoed.

Aanvaarding van die self, Charles, eerstens.
Geloof in dit wat jou werklikheid omskryf, want dis 'n bewys van jou vermoëns.
En dalk, as jy regtig, regtig gelukkig is, iemand wat jou onvoorwaardelik liefhet omdat jy is wie jy is - en ten spyte van wie jy is.

Vir M.

Sunday, August 1, 2010

Maak soos Tom ...


Eisj, ek lees 'n resensent skryf in 'n Afrikaanse dagblad Tom Cruise stal sy "onlangs ontdekte komiese vaardighede" met groot fanfare in Knight and Day uit.

Dis seker waar - as jy na nét dié fliek en Tropic Thunder (en as niemand voor of ná die tyd vir jou gesê dis Cruise onder die vermomming nie, het jy dit steeds nie geweet nie) verwys. Dis dan ook die uitgangspunt in dié resensie.

Maar dis 'n pot nonsens, want Cruise se komedie-tydsberekening was nog nooit onder verdenking nie. Die man se geestelike gesondheid laat volgens alle aanduidings wel veel te wense oor, maar hy kon nog altyd sy dialoog en fisieke komedie foutloos lewer. (Die hele skop-die-muur-debakel in Jerry Maguire was wel effe dik vir 'n daalder, veral vir iemand so kort soos Cruise.) Dink maar aan heerlik komiese oomblikke in flieks soos A Few Good Men ("Nobody really likes her" met verwysing na 'n aanmerking deur Demi Moore se karakter) en Minority Report ("Mr Yakamoto?!" ná sy oogoorplanting).

'n Veel interessanter kwessie van sy loopbaan - soos ook die geval met iemand soos Michelle Pfeiffer en Richard Gere - is die agteruitgang in hul vertolkings namate hul loopbaan vorder en hulle met "ander dinge" deurmekaar raak. In Pfeiffer se geval is dit iemand, David E. Kelly, en moederskap; in Gere s'n Boeddhisme (ek raak steeds naar elke wanneer ek na Pretty Woman kyk en dié bobbejaan kry Julia Roberts se hande in die bad in 'n gebed-greep beet); in Cruise se geval Sciëntologie (ek's jammer, maar L. Ron Hubbard se Battlefield Earth is een van my gunsteling-wetenskapfiksieboeke).

En daarby: Gaan sit 'n mens aan dink aan jou vyf gunsteling-Cruise-flieks, kom jy gou agter as jy hulle suiwer op meriete oordeel, is dit maar 'n skrale oes. Die man maak eenvoudig net nie deurgaans - of selfs die meeste van die tyd - briljante flieks nie. Gemiddeld kykbaar, ja, maar dis al.

Ek lees in 'n biografie van Sean Penn selfs in hul vroeë dae as akteurs was Cruise maar 'n ambisieuse mannetjie. Dit het deur die jare vererger tot die punt waarop 'n afbeelding van Cruise die enigste beeld op sy flieks se plakkate is. Dink maar aan die plakkate van enigiets van Mission: Impossible II en Vanilly Sky tot The Last Samurai. Eina! En daarmee saam is die aktrises vir die vrouehoofrolle baie versigtig gekies sodat hulle nie soos Len (Steal my sunshine, get it?) met Tommie maak nie. Toegegee, Thandie Newton (M:I II) is gorgeous, maar sy's allermins 'n A-lys-aktrise. Dieselfde geld flieks soos The Last Samurai (een of ander Oosterse aktrise onbekend aan Westerse gehore), Jerry Maguire (in daardie stadium die nobody Renée Zellweger), Minority Report (die vaal Samantha Morton en 'n nog valer nobody as sy vrou) en selfs die meer onlangse M:I III (die ewe gemiddelde Michelle Monaghan).

Die ding is dat Cruise nie meer die likeable outjie - sterre in die oë en net so 'n bietjie te naïef vir sy eie onthalwe - is van springmielietreffers soos Top Gun, Cocktail en A Few Good Men nie. Daardie allesomvattende persona - die bemarkingsfoefie wat sy naam geword het - het oorgeneem en van al Cruise se karakters dieselfde angstige, irriterende, pyn-in-die-gat Janneman gemaak wat dreig om enigiets positief in sy flieks te verswelg. Cruise as 'n enkelpa-dokwerker in War of the Worlds? Asseblief! Nie met daai histeriese, mal skynsel in die oë nie, nee.

Ja, Cruise gaan hom natuurlik probeer herposisioneer. Dis onvermydelik vir iemand so ambisieus soos hy. Hy't nie Jack Nicholson se bomenslike vertroue in sy eie vermoëns of die uitlaatklep van die regisseurstoel soos, sê maar, Kevin Costner nie. Nee, dis op die skerm waar Cruise sy boodskap wil tuishamer. Wat dit nog erger vir hom maak, is die besef hy't 'n bespotting geword. Ja, hy's al 'n paar keer vir 'n Oscar benoem, maar vir iemand met so 'n sterk Napoleon-kompleks is dit soos olie op die vuur.

Cruise wil weer Hollywood se prins wees, maak nie fout nie. Die kans is selfs daar hy kry dit reg. Dis skraal, maar niks is onmoontlik as jy baie geld en 'n goeie agent het nie. En in Cruise se geval ook hope prostese. Gaan kyk maar op IMDb.com aan hoeveel projekte is sy naam gekoppel ...