Friday, August 6, 2010

Wanneer God nie kan help


Kreasionis of evolusie-aanhanger?

Moet ek skuldig voel oor die feit dat ek nie te veel daaroor wonder nie?

Kwantumfisika is onlangs die gesprekspunt oor middagete by die werk. Dit gaan als oor golwe en parallel-wêrelde en hoe jy en ek en ons almal van net een werklikheid bewus is, word daar aan my verduidelik. En ek dog dit gaan oor die Oerknal, wat my terugbring by die eerste vraag.

Ek weet nie.
En ek gee nie om nie; ek's bietjie meer gestres oor die hier en die nou.
Kortsigtig, waarsku die gelowiges my.

Ek weet dit is, maar hoe gemaak? Ek's nie bewus van enige ander werklikheid as dié een waarin ek nie slaap nie en die hunkering na iemand aan my vreet soos die bloedlus aan 'n 750 jarige vampier wat pas uit hibernasie gekom het. Want dit gaan oor selfvergifnis, sien? Want daarsonder kan jy nie aanbeweeg nie. En vader behoed ons tog as ons nie kan "aanbeweeg" nie. Is daar 'n groter sonde as dié onvermoë? Is daar nog goeie goeie padkafees?

Dit (die selfvergifnis; nie die kafees nie) is die tema van die sleuteltoneel in die uitstekende biografiese drama Creation (foto: http://www.collider.com/), waarin die regte egpaar Bettany - Paul en Jennifer - die rolle van Charles Darwin en vroutjie takel.

Darwin, moeg gespook met die spook van sy oudste dogter en sy "aanslag op God", oftewel sy evolusieteorie, bieg teenoor sy vrou hy kan homself nie vergewe vir sy dogter se dood nie. Hy moes haar gedwing het om warmer aan te trek daardie dag op die strand. En sy vrou kan hom ook nie vergewe nie, slinger hy haar dit teen die kop. Sy ontken dit; haar skuldlas is ewe swaar; sy meen sy - hoog swanger en reeds met drie kinders wat versorg moet word - moes 'n groter poging aangewend om by haar oudste se sterwensbed te wees.

Die egpaar bekyk mekaar met bloedbelope oë. Dis 'n katarsis wat die weg baan vir die publikasie van The Origins of Species. Die Darwins was daarna gelukkig saam tot die dag van hul dood, word in die slotnotas verklaar.

En dis die ding met Creation: Veel meer as 'n kykie na Darwin se "moord op God", soos 'n kollega van die wetenskaplike verklaar, handel die fliek oor die moord op Darwin se skuldgevoel en daarmee sy dogter se spook. En dit sorg vir aangrypende en boeiende kykstof.

Ja, die kerk word bygekom. Darwin se vriendskap met sy gemeenteleier bly in die slag wanneer einste dogter in growwe sout moet kniel en om vergifnis smeek omdat sy haar pa se teorie durf opper. Tog ironies hoe vrekbang die kerk vir 'n dwaalleer is; so of hy hom - en sommer vir sy volgelinge; namens sy volgelinge - nie opgewasse daarteen voel nie. Beproef alle dinge; solank jy net nie te veel twyfel nie.

En Darwin twyfel.

Snaaks genoeg nie soseer in sy natuurwette nie (of dalk word dit doelbewus onderspeel), maar oor die sin wat die wêreld nié meer vir hom maak nie. Waar die natuur en die oorlewing van die sterkste voorheen vir hom 'n wonder was, het dit nou 'n hok geraak waarin hy hom vasgekeer voel. In een van die fliek se treffendste tonele word sy studeerkamer in 'n droom-sekwens deur dwarrelende blare gevul. Darwin se gedagtes is self aan't dwarrel; tussen die blare en bittersoet herinneringe deur terg sy vergange dogter se stem hom nog.

Maar luister hy fyn genoeg is dit nie 'n spottende toon in haar stem nie, maar een van 'n liefdevolle dissipel se berisping oor hy afgedwaal het. Net soos hy nie kon keer dat 'n orangoetang in 'n dieretuin vrek nie, kon hy nie keer dat sy dogter doodgaan nie. Dis maar hoe dinge werk. Dié besef dwing hom terug na die oppervlak van 'n bewussyn wat deur selfverwyt verswelg is en uit voeling geraak het met daardie natuur wat hom eens op 'n tyd met soveel verwondering vervul het.

Darwin gaan soek ver daarna - in die verlede; sy notas; sy vriende; in waterterapie; in 'n woeste rugskrop - maar vind, soos ons almal seker maar, die antwoord en berusting lê dikwels veel nader as wat 'n mens vermoed.

Aanvaarding van die self, Charles, eerstens.
Geloof in dit wat jou werklikheid omskryf, want dis 'n bewys van jou vermoëns.
En dalk, as jy regtig, regtig gelukkig is, iemand wat jou onvoorwaardelik liefhet omdat jy is wie jy is - en ten spyte van wie jy is.

Vir M.

No comments:

Post a Comment