Friday, December 30, 2011

Die goue droom


Drive is ‘n sprokie.

Maar ‘n sprokie soos A Fistful of Dollars en Wild at Heart ‘n sprokie is.

Dis ‘n sprokie wat met liefde geskep is en uitgebeeld word – van die amper anderwêreldse klankbaan en die vloeiende, pienk letters van die titel en akteurs se naam tot die nabyskote van sy hoofspeler en die kleurspel van toneel tot toneel.

Waarin die Deense regisseur Nicolas Winding Refn in maar sy tweede Engelstalige fliek so uitmuntend slaag is om ‘n parallelle heelal te skep waarin daar geen afdraaipad of maklike uitweg is nie. Dis ‘n wêreld waarin die kyker hom nie kan begeef nie, soos blyk uit die histeriese gelag van EI-lose fliekgangers wanneer die bloed eers begin spat. Dis ‘n wêreld waarin ander dalk die septer swaai, maar waarin Ryan Gosling se waaghals-en-wegkom-bestuurder die laaste sê het.

Gosling het eintlik maar twee of drie stukkies insiggewende dialoog in die fliek: wanneer hy sy werketiek aan voornemende kliënte verduidelik en wanneer hy sy oulike buurvrou, Irene (Mulligan), ‘n vlietende blik in sy hart gee. Andersins sê hy min en laat sy hande en voete die werk doen. Dis ‘n dans waarvan mens nie kan wegkyk nie; so mooi soos dit is, so vreesaanjaend is dit ook. Die waarskuwing van dit wat kom, is allermins subtiel: ‘n Voormalige “kliënt” knoop ‘n geselsie aan en Gosling se reaksie gryp die lug uit mens se longe.

Dis ‘n voorbode.

Nog ‘n voorbode is die heelwat rooi wat in talle skote gebruik word. Refn skep met sy gebruik van kleur – nogmaals rooi; ‘n bietjie blou – die soort atmosfeer wat Wong Kar Wai in In the Mood for Love oor die groot skerm laat spoel het. Dit word afgewissel deur “droomtonele” soos die een waarin die bestuurder Irene en haar seun op ‘n uitstappie in die vloedwaterkanale neem.

Maar dan slaan die harde en onvermydelike werklikheid met die komplimente van ‘n skynbaar wenkbroulose Albert Brooks en stiksienige Ron Perlman toe en dit tref mens soos ‘n hamerslag teen die voorkop. Refn wys nogmaals daarop, soos Michael Haneke dikwels regkry, dat woorde onnodig is wanneer jou beelde en akteurs sterk genoeg is. Dit word die beste geïllustreer in die ysingwekkende hysbaktoneel; ‘n sekwens wat Irene verwese en alleen laat.

Ja, daar’s raakpunte met Walter Hill se 70’s-riller The Driver met Ryan O’Neal en Isabelle Adjani, maar Drive is veel wanhopiger, bloot omdat Gosling se karakter, anders as O’Neal s’n, vir ‘n oomblik gehoop het op méér as die adrenalien wat die wegkom-jaagtog bied. Soos alle goeie sprokies is dié ‘n tragiese een.

Hierdie fliek, geskryf deur Hossein Amini (Jude en The Wings of the Dove, maar ongelukkig ook Killshot; gegrond op James Sallis se roman) behoort in gelyke mate aan Gosling en Refn. Hulle vertel hulle het die idee daarvoor gekry terwyl hulle in Los Angeles rondgery en na musiek geluister het. Hoewel dit ‘n gestroopte prent is wat dialoog en intrige betref, maak dit die impak daarvan nie minder nie. Die ontknoping is bietjie uitgerek, maar dis eerder ‘n waarneming as kritiek.

Dis ‘n versugting, maar mens hoop tog meer flieks soos Drive sien die lig. Dis ‘n prent wat die kyker uitdaag om sy grense te verskuif en mense met AAS uit sulke teaters behoort te hou.

Ka-ching, Oscar


Moneyball is ‘n langerige, groot en belangrike fliek – boonop met groot name (behalwe nou Steven Soderbergh s’n wat glo die pad gevat het ‘n paar dae voordat met verfilming begin sou word) – waarin eintlik maar ‘n baie eenvoudige punt gemaak word (lyk dit baie na).

Lewe in die oomblik.
Geniet elke deel daarvan; sonder om dit noodwendig te wil ontleed of in konteks te wil plaas. Moenie wag vir wat jy dalk dink die “groot oomblik” is nie. In The Handmaid’s Tale merk Margaret Atwood se hoofkarakter in ‘n stadium tereg op: “(Ondanks hul omstandighede en probleme) … was ons gelukkig en ons het dit nie eens besef nie.”

Moneyball, gegrond op Michael Lewis se gelyknamige 2003-roman en met die Capote-regisseur Bennett Miller aan die stuur, is eintlik maar ‘n halfbiografiese fliek oor die oudbofbalspeler en nou hoofbestuurder Billy Beane (Brad Pitt), wat steeds probeer om sy Oakland A’s na ‘n World Series-titel te stuur. Dis ironies. Veral wanneer mens na talle flieks kyk wat kwansuis op die werklikheid gegrond is: In baie gevalle is dit eerder op ‘n klein deel van die werklikheid gegrond. Soos in dié geval: Een, merkwaardige seisoen.

En hoewel dit seker maar oor bofbal gaan, gaan dit veel eerder oor Beane en die opdraandestryd wat hy op allerlei vlakke voer. Dié is ‘n fliek wat om Pitt gebou is soos Invictus om Morgan Freeman se behoefte aan ‘n Oscar vir ‘n Mandela-vertolking gebou is. Daar’s talle skote van Beane wat rigtingloos in sy SUV ry; van Beane wat sy kantoormeubels verinneweer; van Beane wat sy jong dogter verseker sy werk is nie in die gedrang nie. Baie van dit lewer nie veel van ‘n bydrae tot die storie nie. Hoeveel van Beane se gedagtes kan die kyker nou peil deur in die skemerte na die blink van sy een oog te kyk?

Maar dis nog altyd moeilik om nie van Pitt te hou nie en hier kry hy ‘n mens gou weer in sy hoek. Sy Beane beweeg van ‘n enigmatiese teenwoordigheid in die kantoor en ‘n bestuurder verwyderd van sy spelers na iemand wat die manne in die kleedkamer moed inpraat en jou waarlik ‘n bietjie emosie wys – hier ‘n klop op die skouer; daar ‘n stukkie raad. Dis in dié dele, en ook wanneer Beane in die bemagtigende lig van sy nuwe visie aan’t spelers verkwansel is of wanneer hy skaars sy ongeduld en frustrasie kan beteuel in sy onderonsies met sy afrigter, Art Howe (‘n besonder nors en bot Philip Seymour Hoffman; die antitese van sy titelkarakter in Capote), dat Pitt werklik skitter.

Die motivering vir sy houding word in ‘n mate in deurlopende terugflitse verskaf na sy werwing vir die topliga terwyl hy nog op skool was. Dit verleen aan die uitbeelding van sy karakter besondere diepte, veral omdat die jonger Beane haas g’n woord spraak nie. Die middeljarige Beane is ‘n man wat een ding baie goed ken: teleurstelling.

Daarby, en hoewel die hele uitgangspunt gegrond is op die objektiwiteit wat in ‘n wetenskaplike benadering bewerkstellig word, lê Moneyball se bekoring paradoksaal in daardie “iets” wat van die goeie sportfliek ‘n halfmagiese ervaring maak. Want maak nie saak hoe goed jou spelers, spankeuse en strategie is nie; as die sportgode daardie dag nie vir jou glimlag nie, kan jy maar vergeet. Een van Moneyball se beste tonele is die een waarin Bean se groep ervare talentsoekers kandidate bespreek. Die een word summier buite rekening gelaat omdat hy ‘n lelike meisie het. Dit dui op ‘n gebrek aan selfvertroue, sien?

Die man wat Beane die lig laat sien, is die bleeksiel-syferman-en-rekenaarfoendi Peter Brand (Jonah Hill). Dis ‘n fiktiewe karakter wat glo gegrond is op Beane se voormalige assistant, Paul DePodesta, ‘n man wat aan Harvard studeer het en deesdae talent vir die New York Mets opspoor en ontgin. Die normaalweg maniese Hill lewer stewige spel as Beane se onwaarskynlike bondgenoot en bied as waarnemer eintlik maar die kykerperspektief. Dis ‘n slim manier om die kyker nog verder te betrek.

Miller is ‘n man wat weet om ‘n storie te skik, soos hy in Capote gewys het. In Moneyball slaag hy weer daarin om ‘n flink pas te handhaaf en, ondanks die fliek se looptyd van langer as twee uur, voel dit nooit na ‘n uitgerekte affêre nie. Mens kan kritiek uitspreek wanneer daar nogmaals syfers en statistieke op die skerm geflits word om die boodskap tuis te bring, maar dis ‘n klein irritasie.

Maak seker ook nie eintlik saak nie, want dié is Pitt se fliek.
En bofbal s’n.

Tuesday, November 29, 2011

Jy laat my lag. En dis g'n grap


Twee dinge waarmee ons saamleef:
1. Die rol wat ouers in hul kinders se benadering tot die lewe speel, is bepalend; en
2. Sommige lesse gaan mens dalk nooit leer nie.

Ek kan seker byvoeg daar’s weinig absolute waarhede en mens moet nooit “nooit” sê nie, maar dis nie tersaaklik in dié bespreking van Beginners, een van die jaar se beste flieks, nie. Dis wel belangrik om te glo daar’s vir ons elkeen ‘n pasmaat. “True love and all that,” soos sy lyfbediende en later ook Frasier in een van dié sitkom se episodes verklaar.

Die kunstenaar Oliver Fields (Ewan McGregor) is alleen. Hy’s ook baie hartseer. Op ‘n onmiddellike vlak moet hy die onlangse afsterwe van sy terminal siek pa, Hal (Christopher Plummer), hanteer wat hy versorg het. Op ‘n dieper vlak worstel hy met sy onvermoë om verhoudings te laat werk. Die rede is die ooglopende ongelukkigheid in sy ouers se dekades lange huwelik. Ná sy ma se afsterwe vind hy uiteindelik die werklike rede daarvoor uit: Sy pa kondig aan hy’s eintlik gay. So ‘n ongelukkige verhouding is iets wat Oliver geen lewensmaat wil aandoen nie.

Maar, in die wonderlike strydigheid wat die lewe dikwels bied, gee hy nie moed op nie. Wanneer sy pa hom na sy mislukte verhoudings uitvra, sê Hal: Wag mens vir die leeu, of aanvaar jy die kameelperd wanneer dié opdaag?
Hy wag eerder vir die leeu, sê Oliver.

Die “leeu” daag op in die gedaante van die aktrise Anna (Mélanie Laurent), wat haar eie ouer-bagasie saamsleep. En, oudergewoonte wanneer iets wat al ‘n cliché (veral die “meet cute”) is op ‘n vars manier aangebied word, verhef die aweregse uitbeelding van hul ontmoeting en ontluikende romanse Beginners se intrige na die vlak van dié in Eternal Sunshine of the Spotless Mind en 500 Days of Summer. Dis Oliver en Anna se storie, ja, maar dis ook ‘n verhaal van liefde oor grense heen en van kanse vat in die geloof dat die moontlike beloning veel swaarder as die moontlike mislukking weeg.

Dis ‘n kragtoer deur die skrywer en regisseur Mike Mills, wat die aandag met die grootword-drama Thumbsucker (2005) getrek het. Sy skikking en aanbieding van die storie is allermins hoofstroom. Hy vertel die storie in terugflitse, wat die trefkrag van dié tonele verhoog omdat Oliver sy pa se afsterwe nog verwerk én dié lesse op sy verhouding met Anna van toepassing moet maak. En Mills maak a la Jason Reitman in Thank You for Smoking mildelik van grafika en argiefmateriaal gebruik. Daarby is die beligting natuurlik, wat sake veel geloofwaardiger as in die gemiddelde Hollywood-produk maak.

Mills slaag boonop daarin om uitsonderlike vertolkings van letterlik al sy spelers te verkry, waarskynlik omdat hy aan elkeen meer as genoeg gee om mee te kan werk. McGregor en Plummer is so goed soos hulle al op hul beste was, terwyl Laurent se spel ‘n openbaring is. Daarby verleen Goran Visnjic as Hal se minnaar en Mary Page Keller as Oliver se ma aan hul karakters ‘n diepte wat verbyster. Veral Keller skep een van die mees tragiese karakters vanjaar op die groot skerm.

En so groots as die vertolkings is, so intiem is Mills se fokus op die klein oomblikke – die tonele wat ‘n fliek tot ‘n kunswerk verhef en in die geheue laat vassteek. Dit geld van Oliver en sy ma se bestuursaanwysings tot die verliefdes se rolskaats-avontuur en park-manewales. Dis veel gesê dat nie eens ‘n hond se onderskrif-gedagtes sake beduiwel nie.

Beginners het die dramatiese trefkrag van Gus Van Sant se Milk of Tom Ford se A Single Man en die romantiese bekoring van Sunshine en Summer, maar staan sy eie skoene met gemak vol. Dis ‘n volmaakte oefening in fliekmaak.

Tuesday, November 15, 2011

Die kaalkop-waarheid


Dis waagmoedig om ‘n kankerstryd as ‘n komedie te bemark; mense neem tog so vinnig en uit beginsel aanstoot.

Maar hoewel 50/50 die verwagte emosionele knoppies druk wanneer hy sy deurslaggewende slottonele bereik, is die komedie-element allermins ‘n oorrompelende een.

Dis nogal moeilik om besonder entoesiasties te raak oor dié fliek, wat met ‘n sterk rolverdeling en hope belofte spog. Die groot probleem is daar’s niks nuut of grensverskuiwend nie. En dis ‘n slegte ding om van ‘n Joseph Gordon-Levitt-fliek te moet sê, want baie van sy flieks – Mysterious Skin, Brick en The Lookout – was nog altyd spesiaal. Maar in 50/50 bevind hy hom tussen die boom en die bas.

‘n Mens kan verstaan wat Gordon-Levitt en Jonathan Levine, regisseur, met Adam, die hoofkarakter, wil doen. Hy’s ‘n stil, netjiese kêrel wat geen kanse waag nie en doen wat van hom verwag word. Hy raak nie eens ontsteld oor die feit dat sy loskop-kunstenaarsmeisie (Bryce Dallas Howard) maande laas met hom seks gehad het nie. Selfs sy kankerdiagnose en -behandeling word heel rustig verwerk. Die probleem is, Adam is so ‘n vaal seun en toon so ‘n gebrek aan emosie dis moeilik om enigsens by hom of sy uitdagings – dis nou enigiets van sy vrees om te bestuur en sy “moeilike” ma (Anjelica Houston) ¬tot sy onervare berader (die oulike Anna Kendrick van Up in the Air-faam) – aanklank te kan vind.

Dis waar Seth Rogen as Kyle, Adam se beste vriend, in die prentjie kom. Hy’s die teenoorgestelde van Adam; luidrugtig; nie bang om laat te wees vir werk nie; en ‘n haan onder die henne. ‘n Tipiese Rogen-vertolking, dus, behalwe vir die feit dat sy karakter nie sukkel om aantreklike vroue huis toe te vat nie.

Levine, veral bekend om die tienerriller All the Boys Love Mandy Lane, volg nogmaals die gebaande weg. Hy daag nie die genre-grense uit nie en ontlok geen aardskukkende vertolkings van sy hoofspelers nie. Die probleem lê dalk by die skrywer, Will Reiser, se stereotipiese karakters; hulle is amper lagwekkend eendimensioneel en hul optrede voorspelbaar – van die kankerhandleidings en ondersteuningsgroepe wat in die geheim gepleeg word tot die kroegbesoeke om die kanker as verleidingstaktiek te kan gebruik. Dis veel gesê as talentvolle akteurs soos Gordon-Levitt en Houston sukkel om te oortuig.

Daar’s wel ‘n paar snaakse en aangrypende tonele, maar dit sal met dié gegewe moeilik wees om dit nié te kan vermag nie. Uiteindelik is die uitdaging van dié storie, om ‘n jong man se kankerstryd op ‘n humoristiese manier uit te beeld, te groot vir Levine en Reiser.

Wat was hul doen-lysie toe hulle met die verfilming begin het? En, wees eerlik, dit kan omtrent enige soortgelyke storie geld:
1. Hoofkarakter teruggetrokke en kommunikeer sleg; kankerdiagnose laat hom familie, vriende opnuut waardeer.
2. Meisie “cope” nie met situasie nie en verhouding verbrokkel.
3. Vriende, familie doen hul deel om hom te help.
4. Onverwagse band met jong, onervare berader.

Tiek, tiek, tiek en tiek.
Gaap.
DVD-winkel: Vanishing Point!

Friday, October 7, 2011

Net in die flieks, pragtig


Anders as wat die geval met die vervelige No Strings Attached was, kan mens jou wrintiewaar bly sit totdat die slottoneel in Friends With Benefits vervaag.

Dié twee romantiese komedies is nog een van daardie Hollywood-verskynsels soos mens ook met Armageddon en Deep Impact; Dante’s Peak en Volcano gesien het: Melk die koei vir al wat hy werd is en die beste deel van die hele oefening is dat mens nog jare later a la Lou Reed se Wild Child laataand en vele alkoholiese drankies later kan redekawel oor watter een beter is. (Dis ‘n hartseerpartytjie op enige dag, daai.)

Teen die Justin Timberlake-verwagting in is Friends With Benefits ‘n heel vermaaklike fliek. Ja, die skynbaar onvermydelike “kyk, ek’s ‘n wêreldbekende sanger en danser”-tonele is daar, maar Timberlake is nie so steurend dat die rabbedoe Mila Kunis se groot oë (onder meer) nie die herinnering daarvan kan laat vervaag nie.

En, wonder bo wonder vir ‘n romantiese komedie, is die slottoneel nie ‘n jaagtog of swemtog of valskermsprong of deurdrenk van Hollywood-reën nie. Dié het in elk geval nog net omtrent twee keer gewerk – in Breakfast at Tiffany’s en Four Weddings and a Funeral – en dit hoort nooit weer in die slottoneel van ‘n romantiese komedie nie. Dis eerder ‘n fliek wat deurgaans sy momentum behou en nie op goed soos toilethumor of karikatuuragtige karakters of totaal onvanpaste storie-afwykings steun nie.

Dis ‘n pluimpie vir die regisseur Will Gluck, wat nog ‘n groot fliek gaan maak. Sy debuut was die uitsonderlik prettige skoolkomedie Fired Up! en hy het dit vroeër vanjaar met die Emma Stone-baken Easy A opgevolg. Terloops, dis inderdaad Stone se gesig op die foon wanneer Timberlake se eks hom bel. Nog ‘n Easy A-verwysing is die naambordjie van O. Penderghast wat Kunis se karakter op die lughawe annekseer.

Benewens sy hoofspelers se ewewigtige spel – hoewel Kunis se manewales soms oordadig is; sy’t nie die inherente coolheid van iemand soos Zooey Deschanel of Lizzy Caplan nie – lê die fliek se bekoring in die rustige pas wat Gluck handhaaf en die balans wat hy tussen die onderskeie elemente vind. Dis amper of die fliek sy eie weg vind, soos dit seker veronderstel is om in verhoudings te gebeur. En hoewel mens moet wonder hoe die nuut aangestelde en onervare kreatiewe direkteur van ‘n tydskrif soos GQ skynbaar min tyd op kantoor hoef deur te bring, moet mens onthou die werklikheid het net plek-plek plek in Hollywood. En die onderskeie brandpunt-kwessies – soos Timberlake se hantering van sy pa (die altyd kykbare Richard Jenkins) se siekte – word wel heel gerieflik opgelos, maar dis nie regtig waaroor dit gaan nie.

Eintlik doen Gluck en sy drie medeskrywers heel goed daarmee om aan die storie ‘n skynsel diepte te gee en dit word versterk deur nog gerekende byspelers soos Patricia Clarkson as die nou-hier-nou-daar-ma en Woody Harrelson as die gay kollega.
As jou hoofkarakters liggewigte soos Timberlake en Kunis is, kan die byspelers sake dikwels beredder (nie dat dit hier nodig is nie). Dis nou maar die Hollywood-resep en daarmee moet ‘n mens verlief neem: Die hoofkarakters het altyd oulike, vreemde, anderster vriende en/of familie wat ampertjies die kollig steel, maar hulle’s net effentjies te dwarstrekkig vir opgevoede geselskap. Dis soos mense met kinders – verdra moet hulle verdra word.

Nog ‘n bron van irritasie is die fiktiewe fliek waarna Kunis-hulle en waarvan die gebeure in die storielyn neerslag vind. Sulke foefies laat mens altyd wonder of die fliekmakers nie genoeg vertroue in hul storie en karakters het dat dié op hul eie bene kan staan nie.

Gelukkig vir die bogemiddelde kyker – dis nou die fliekganger wat toemond kou en nie in die teater SMS nie – probeer Friends With Benefits niks meer wees as al sy dele saam nie. En onthou, New York is koning, of so iets.

Sunday, October 2, 2011

Vars soos afspraak-verkragting

‘n Vriendin se geskeide kêrel is ‘n welgestelde, Engelse Jood van Kaapstad se suidelike voorstede. Hy’t ‘n 18-jarige seun en ‘n 14-jarige dogter en my vriendin vertel die vreesaanjaendste goed van hoe die tieners in dié kringe tekere gaan.

Die 14-jarige se 17-jarige kêrel kom kuier en hy slaap sommer oor. En nie in ‘n afsonderlike vertrek nie. Hul idee van ‘n gesinsete aan tafel is, wel, bloot ‘n gedagte.

Ek’t daaraan, en aan voorslag-Afrikaner-adel soos die Waterkloof-vier, gedink toe die storie in die Australiese fliek Wasted on the Young sy voete vind. Dis ‘n riller oor ‘n oulike matriekmeisie by ‘n private skool wat op ‘n partytjie deur die swemspan se kaptein en sy regterhand verkrag word en die rol wat sosiale media in die teistering van ‘n persoon kan speel.

Ben C. Lucas, skrywer en regisseur, het ‘n fliek gemaak wat mens tot ‘n punt laat kriewel. Die vrae wat hy stel is pertinent, hoewel hy nie sy woorde versigtig kies nie. Dis jammer hy raak gaandeweg so meegevoer dat sy fliek verval in onwaarskynlikhede en ‘n grandiose, idealistiese ontknoping. Sy visuele foefies – veral die SMS-taal wat bo-oor die karakters vertoon word – help ook net deels; die flikkerbeelde wat as waarskuwing teen skoolslagtings moet dien, is uiteindelik maar koue pampoen. Dit maak van Wasted on the Young meer Eva Mendes se Live! as Gus Van Sant se Elephant.

Daar’s ‘n sterk ooreenkoms met Rian Johnson se supercool Brick in die oorbeligte, amper mafia-agtige uitbeelding van die skoolhiërargie en die verwyderdheid van enige gesagsfiguur. Vir dié kinders is ouers en onderwysers nie te onderskei van die swembadtoerusting en swartbord nie en hulle dien een doel: Gee daardie geld – ook vir dwelms – en koop daardie kar, skootrekenaar en slimfoon en moenie vrae vra nie!

Nog iets tel in Wasted on the Young se guns: Lucas het sy akteurs goed gekies in die sin dat die hoofspelers sag op die oog is; sonder dat hulle na ekstras in High School Musical lyk. Die spel is wel middelmatig, maar dis van sekondêre belang soos Lucas sy skuiwe op die redigeer-bord maak. Dat die boodskap gebring word, is hier belangriker as die boodskap se inhoud.

En die boodskap is, soos, so verlede jaar. Nie een van die kinders pluk eens ‘n iPad uit nie.

Monday, September 19, 2011

Jy is ook ek, jou monster


‘n Mens kan verstaan waarom ‘n genre soos gruwelflieks gewild is; Jan Alleman wil steeds ontvlug, maar dis darem lekker om te sien hoe die bloed fantasties spat en die moordenaar skynbaar net nie daardie donker dors geles kry nie.

Alleman kan uiteindelik ‘n sug van verligting slaak, want die gebeure is so vergesog hy kan hom daarin verkneukel, terwyl hy homself terselfdertyd op die skouer kan klop omdat hy hom waarskynlik nooit in ‘n soortgelyke, lewensbedreigende posisie sal bevind nie.

‘n Goue middeweg, dus.

Min mense hou daarvan om deur die harde werklikheid gekonfronteer te word wanneer hulle eintlik vir ‘n wyle van daardie werklikheid wil ontsnap. Onthou, Alleman is eintlik sielsongelukkig, sal sielkundiges verklaar. Hoe anders verkoop verkoop mens ontvlugting? Wat’s ‘n sosiale netwerk anders as vriendskap sonder enige verpligting?

Daarom is dit maar moeilik om deur flieks soos Funny Games, In the Bedroom of Savior te sit (millenniale kan in elk geval nie langer as 42 min. op een ding fokus nie). Dis net “te veel (werklikheid)”, sal fliekgangers verklaar. Waarom ‘n storie sonder ‘n silwerrantjie vertel en boonop geld betaal om daarna te gaan kyk? En tog bied sulke flieks, dink maar aan Paradise Now en White Ribbon ook, ‘n blik op die menslike toestand wat mens vasgenael hou.

Die Oscar-benoemde Incendies, gegrond op Wajdi Mouawad se gelyknamige verhoogstuk, hoort in dié geselskap. Dis ‘n skokkende ontdekkingsreis en blik op ‘n vrou en ma se gees wat in sy laaste stuiptrekkings die hardste en triomfantelikste uitroep. ‘n Tuiskoms, maak nie saak hoe traumaties die reis of die bestemming se plek nie, is steeds ‘n tuiskoms.

Die vaderlose Kanadese tweeling Jeanne en Simon se reis tel spoed op met die lees van hul ma, Nawal, ‘n vrou wat hulle nie verstaan het nie, se testament. “Gaan na die Midde-Ooste (die land word nooit geïdentifiseer nie) en vind jul pa.” Dit gedaan, wag daar nog twee briewe…

Denis Villeneuve, regisseur, skik sy storie soos ‘n kruising tussen ‘n dokumentêre prent en ‘n riller; die deurslaggewende oomblikke word verskuil en tref mens soos ‘n hamerhou teen die voorkop, terwyl die soms groteske gebeure as ‘n onveranderlike gegewe voorgehou word. Die voordeel van ‘n terugblik, seker. Dit slaag grootliks, hoewel Villeneuve die kyker tog, skynbaar doelbewus, met dié aanslag ook op ‘n afstand hou. Dit versag die fliek se impak effens, iets waaraan Funny Games se Michael Haneke hom nie sommer skuldig maak nie.

As die geteisterde Nawal lewer Lubna Azabal van onder meer Paradise Now-faam ‘n ontsagwekkende vertolking. Sy skep die beeld van ‘n later afgestompte vrou; skynbaar magteloos teen die aanslae van ‘n wêreld waarin ideologieë swaarder as menslikheid weeg. Dis eers in die ontknoping dat mens daaraan herinner word afgestomptheid is maar net nog ‘n front wat die sleutel tot oorlewing – in dié geval met jong kinders en boonop in ‘n vreemde land – kan hou.

Incendies, met sy treffende teenstelling van die droë, sondeurdrenkte Midde-Ooste en die vaal koue van Kanada, is ‘n vreesaanjaende huldeblyk aan mense wat nie tou opgooi nie; aan nooit ophou glo daar’s meriete in enigeen en elkeen se seining nie. Soms word jy daartoe gedwing; ander kere is dit ‘n eienskap wat jy op eie houtjie moet ontdek. Die hoop beskaam nie dat ons pad nie dieselfde roete as Nawal s’n (hoef te) volg nie.

Wednesday, September 14, 2011

Kap dit af, kap dit af


Een van twee benaderings word vir The Tree of Life vereis.

Een:
Moenie geld bestee om daarna te gaan kyk nie, want dis ontsaglik selfbewus en vervelig.

Twee:
Leef jou vooraf in ‘n besonder swewende, peinsende, metafisiese luim in (die pretensieuse kollegas bekend aan ons almal) en beskou die National Geographic-agtige gegewe as soortgelyk aan dié in The Thin Red Line, maar sonder die aksie, progressiewe storie, stewige vertolkings of minstens halfvolgbare dialoog.

Want The Tree of Life is skynbaar veronderstel om die kluisenaar-fliekmaker Terrence Malik se 2001: A Space Odyssey te wees; sy blik op die lewe, die heelal en sommer alles. Als aan die hand van ‘n wanfunksionerende gesin van Texas in die 1950’s se wedervaringe – van sy drie seuns se geboorte totdat hulle daar wegtrek en die gesinslede mekaar uiteindelik op ‘n strand in die hiernamaals weer raakloop.

Ja, ons weet die lewe is morsig en onregverdig en niemand is volmaak nie en pa’s kan diktators wees en ma’s die sout van die aarde en kinders vang kattekwaad aan, dankie. Daarby voeg Malick niks. En die tonele waarin Sean Penn as die nou volwasse probleemseun (Hunter McCracken vergestalt sekerlik een van die mees onsimpatieke karakters sedert George W. Bush in Fahrenheit 9/11) die wêreld uitdrukkingloos beloer, is so onnodig soos verduidelikings oor waarom Bismarck du Plessis teen die All Blacks van die veld gehaal is.

Ongelooflik genoeg kry die akteurs in ‘n looptyd van 2 uur en 20 minute nie veel kans vir enigiets wat as ‘n gesaghebbende vertolking bestempel kan word nie en ding op gelyke voet met die onsamehangende beeldmateriaal mee. Dit laat die kyker onbetrokke en, nog erger, onbelangstellend.

Gedane sake het g’n keer nie en die paar uur wat mens in die Tree of Life-teater verwyl, gaan jy nooit terugkry nie. Malick sou in dié geval met ‘n baie, baie sterk redigeerder kon doen. Almal weet die man versamel duisende ure beeldmateriaal en dis seker g’n maklike taak om dit tot ‘n samehangende geheel te sny nie, maar die fliek is so vervelig mens wonder hoe dit vir uitreiking op die kringloop kwalifiseer.

Dis dalk goeie bronmateriaal vir koffietafel-gesprekke deur kwasi-intellektuele wat nooit Days of Heaven gesien het nie.

Thursday, August 25, 2011

'Dis net nie meer veilig vir jou hier nie'


J.J. Abrams se Super 8 is so ‘n onbeskaamde en eenvoudige oefening in die nostalgie mens vergewe hom al die gate in sy storie.

En dis nie sommer enige nostalgie nie, maar die Steven Spielberg-soort van die 70’s en 80’s. Spielberg, medevervaardiger van Super 8, se klassieke VVV-flieks Close Encounters of the Third Kind en E.T.: The Extra-Terrestrial lyk na die bronmateriaal vir Abrams se weergawe van kinders wat beter “sien” as grootmense en (veral) gesinstrauma beter kan hanteer omdat hulle soveel meer “in die oomblik” (om dit postmodernisties te hou) leef.

Maar ‘n huldeblyk is noodwendig ook ‘n viering van die onderwerp se sleuteleienskappe en derhalwe clichés. In “die ewige seun” Spielberg se geval is dit die te-slim-vir-hul-eie-beswil kinders wat bo hul moeilike huislike omstandighede uitstyg; stiksienige en eendimensionele volwassenes en onbuigsame gesagsfigure; en ‘n minder dreigende besoeker van die buitenste ruim wat graag sy weg huis toe wil vind.

Oorspronklik is Super 8 dus allermins, maar as ‘n “huldeblyk” slaag dit 100%. Dit begin reeds by die titel, want Spielberg se generasie rolprentmakers het as skoolseuns reeds 8 mm-tuisflieks begin maak en dié verhaal speel in 1979 af. Abrams skep daardie 70’s-gevoel en -voorkoms reeds van die atmosfeer gelaaide openingstonele en behou dit deurgaans. Mens kan verstaan waarom ‘n storie wat uit ‘n kind se oogpunt vertel word, soveel trefkrag het, want dis dadelik universeel en daardie gevoel van magteloosheid onder die grootmens-samelewing se aanslag is onlosmaaklik deel van kindwees.

Abrams ontlok stewige vertolkings van sy kinderakteurs (dieselfde kan nie van die volwasse akteurs gesê word nie, maar hulle’s in elk geval net klankborde vir die kinders se emosies en kanonvoer vir die “besoeker”) en gee hul wisselwerking a la Woody Allen bykomende oemf deur hulle mekaar te laat doodpraat. In dié chaotiese kolking van puberteit se aanslag is die bykomende krisis waarin die karakters gedompel word net nog ‘n aanslag wat afgeweer moet word.

Joel Courtney is geloofwaardig as die hoofkarakter, Joe, maar dis Elle Fanning as die vrouehoofkarakter, Alice, en Riley Griffiths as die amateur-rolprentmaker en Joe se beste vriend, Charles, wat uitstaande spel lewer. Alice se eerste toneel in Charles se zombie-fliek laat die manne gepas sprakeloos en van daar is net afdraande soos sy al die tonele kaap waarin sy verskyn. En hoewel die volwasse karakters maar hoofsaaklik vensterversiering is, slaag Abrams tog daarin om van hulle in enkele tonele ‘n skynsel diepte te gee, al is dit dan net vir ‘n bietjie afleiding. Dit geld veral die plaaslike fotografiewinkel-werker, wat loshande met die fliek se beste stukkie dialoog (“I can do disco again”) spog.

Baie teleurstellend, ironies genoeg, is die intrige om die ruimtebesoeker, wat die katalisator is. Die “punchline” is iets waarmee Abrams nog altyd sukkel – dink maar aan Mission: Impossible III – en hom tot dusver keer om ‘n meesterstuk te kan maak. Dalk ook maar omdat sy agtergrond in TV is, waar ‘n reeks oor maande strek. Mens kan verstaan dat die ruimtewese nie veronderstel is om die hooffokus te wees nie, maar sy bekendstelling aan die gehoor en gedrag maak min sin.

Die fliek word gebou om die gedagte van die kinders wat iets vreemd afneem, maar die kyker sien die wese lank voordat daar gewys word wat op die film is. En wanneer mens dit wel die eerste keer sien, voeg dit niks by dit wat reeds gewys is nie. Dis ‘n onsinnige ontknoping. Daarby laat sy gedrag mens ook met vrae, soos wat doen hy met die mense wat hy ontvoer (die afleiding is hy eet hulle) en wat’s die verband tussen die ondergrondse konstruksie (bloot ‘n skuilplek?) en die watertoring (sy ontsnapmiddel)?

Maar dit terloops.

Dit gaan nie oor die ruimtewese of die leuenaar-owerheid nie, maar oor die bande met mense met mekaar vorm en die manier waarop trauma daardie bande verstewig of verbreek. En as ‘n herinnering van ‘n tyd toe sulke “eenvoudige” stories die loketrekords laat spat het, slaag Super 8 uitstekend in sy doel.

Tuesday, August 23, 2011

Die lewe is supereenvoudig


Praat van ‘n superkrag.

Die superversadigingspunt vir superheldflieks is al amper op ons.
As hy nie reeds in die supertruspieëltjie verdwyn nie.

Want die een strokiesuperheld ná die ander vind sy/haar weg na die supersilwerdoek (3D, sien?) en, in die meeste gevalle, is dit maar hoogstens supermiddelmatige vermaak. Dis tog jammer geld laat die aarde skommel (draai hy nog? Moeilik om te sê). As dit nie vir Hollywood se beheptheid met miljardrand-lokettreffers was nie, kon ‘n mens ‘n beter gehalte mega-uitreikings (jip, so goed was die onlangse Pirates-flieks nié) verwag. En hier is Marvel Studios deels te verkwalik. Dink daaraan.

Voorheen was ‘n superheldfliek ‘n skaars dier. Mens het dalk een ‘n jaar gesien. Deesdae is dit eerder drie of vier ‘n jaar. Noem daardie magiese “miljard” (ook nie meer vir lank nie, gegewe hoeveel van dié verdieners daar teen dié tyd is) en die pakdraers in die Stad van Engele kry skoon die ritteltits. Vinniger, groter, méér, kreun hulle en doen ‘n vinnige kosteberaming. Kan ons ‘n A-lyster bekostig? Tik-tik-tik. Hmmm…

En van oorspronklik wees is daar nie eintlik meer sprake nie. Ghost Rider kry opnuut lewe; weer met Nicolas Cage. Die Spider-Man- en Superman-konsessies word weer gemelk. Christopher Nolan kan nogmaals aan sy beeld van onaantasbaarheid skaaf wanneer sy derde Batman die lig sien (sou hy graag vir Leo in die naamrol wou sien?). En die lys eindig nie daar nie.

Maar terug by Marvel, wat sy aanvoorwerk vir die uitreiking van The Avengers, vir eers die moeder van alle superheldflieks, nou met Captain America afgehandel het. En dis nogmaals ‘n heel stewige produksie, so in die lyn van Iron Man, The Incredible Hulk en Thor, maar daar kom tog iets kort. Dis daardie gevoel van oppervlakkigheid; van jaag teen die spertyd-duiwel, wat aan mens knaag. En dis superironies, want die Marvel-helde is veronderstel om geteisterde, veelvlakkige wesens te wees.

Iron Man, veral die eerste een, hét dit. Dalk is dit danksy Robert Downey Jr. se magic. Daardie vermoë om ‘n hele storie in ‘n enkele skoot te kan vertel. Dalk is dit Jon Favreau se stewige regisseurshand. Of die geskakeerde wisselwerking tussen Downey Jr. en Gwyneth Paltrow.

Hulk het so bietjie daarvan. Die eerste het Ang Lee se magiese visie, maar die mal pa in die drinkwater het hom gekelder. Die tweede het Edward Norton se behendigheid en Liv Tyler se groot oë, maar super-Norton is nie meer met ons nie. Thor is op sy beurt ‘n knap glansfliek sonder veel van enigiets en, behalwe vir hier heel teen die einde, bevind Captain America hom in dieselfde heelal.

Vergeet mens van ‘n paar superspronge word daar nie veel van die soldaat Steve Rogers se superkragte gemaak nie en mens wonder wat presies Joe Johnston, regisseur, met dié halfterloopse aanslag probeer bereik. Johnston was ook verantwoordelik vir onder meer die genotvolle The Rocketeer (ongelukkig ook vir The Wolfman), maar Captain America het nie naastenby die menslikheid wat in The Rocketeer te bespeur is nie. Daar word gejaag na daardie ontknoping; sonder veel oorweging vir die moontlikhede wat monsterakteurs soos Hugo Weaving, Tommy Lee Jones en Stanley Tucci ‘n storie bied.

Jones kry darem kans vir so twee prettige uitlatings, maar behalwe daarvoor is Captain America ‘n fliek waarin daar streng by die ateljeeriglyne gehou word. Soos: Onthou, Joe, die teikenmark is tienjarige selfoongebruikers, so, baie ontploffings en tonele in stadige aksie, oukei? Die “fanboys” gaan in elk geval kyk, so moenie te veel oor hulle bekommer nie.

Nee wat, ek mis superheldflieks soos die wonderlike Tank Girl en min gewaardeerde Constantine. Klein pogings sonder ‘n vervaldatum. Maar die karakters en storie suig jou in en maak jou deel van daardie wêreld waarin die held miskien superkragte het, maar hy, of sy, is steeds eerstens mens (en verkieslik een wat nie lyk of daar te veel woorde in sy stukkies dialoog is nie).


Sunday, August 14, 2011

Dis koue pampoen, oom


As jy ’n hele fliek op ’n onwaarskynlike sameloop van omstandighede bou, moet jy seker maak dis ’n boeiende affêre.

Anders sit mens deurgaans en wonder of dit als die moeite werd is. En dan begin die lewe effe beklemmend raak, want die feit dat die springmielies vir ’n verandering vars en smaaklik is en daar’s ys in jou koeldrank begin na die hoogtepunt-kant van jou dag neig.

In die skrywer en regisseur Nick Tomnay se The Perfect Host is die skarnier ’n yslike stukkie toeval waaraan die storiedeur maar swaar hang. Gaan staan en dink jy te diep daaroor na, neig die fliek na ’n amper niksseggende oefening, want die toeval is net te groot. Die trekkrag rus daarom vierkant op die smal skouers van almal se gunsteling-TV-sielkundige se nog neurotieser broer.

Die hoofkarakter is die voortvlugtige bankrower John Taylor (Clayne Crawford), wat hom as ’n vriend van ’n vriend voordoen om toegang te verkry tot ’n voorstedelike huis waar hy kan skuil. Die huis behoort aan die bleeksiel Warwick Wilson (David Hyde Pierce) en hy’s maar te behulpsaam, hoewel Taylor se onverwagte teenwoordigheid sy aandete-planne in die wiele ry. Daar’s ’n slang in die gras; hoe dan anders?

Tomnay se benadering is bepaald lae-begroting en daar’s geen sagte beligting of ’n buitensporige lagie glans nie. Dié kan eerder ’n werklikheidsreeks as fiksie wees. Maar hoe dan gemaak met Wilson se gaste?

Dis goeie bemarking vir ’n onbekende fliekmaker en sy finansiers om ’n bekende akteur in ’n rol te plaas wat die antitese van sy beeld is. Doen hulle dit boonop in ’n heel ander genre is jy reeds gewaarborg van ’n mate van belangstelling. Dié natuurlike sin vir nuuskierigheid – jip, dis die rede waarom die verkeer ook staan in die baan waar die ongeluk nié gebeur het nie – is iets wat Tomnay, waarskynlik onbewus, tot die uiterste misbruik.

Die probleem is dat nóg Crawford nóg Hyde Pierce die aandag hou. Crawford se skisofreniese vertolking wek geen simpatie nie en Hyde Pierce probeer sy TV-beeld so hard nekomdraai dat sy vertolking karikatuuragtig raak. En hoe later hoe kwater. Dit help allermins dat Tomnay so halfpad deur kunsmatig simpatie vir sy karakters probeer skep. Dit kom aangeplak voor en laat die fliek nog verder na bisar oorhel.

The Perfect Host is veronderstel om ’n swart komedie te wees, maar benewens ’n uitstekende godsdiensverwysing is daar nie veel galgehumor nie en die swak verskuilde kinkels is so buitensporig dit maak nie sin nie. Dit herinner eerder aan beter pogings in dié genre – Oxygen en Memento kom ter sprake – en lyk na ’n fliek wat om ’n gedagte en een of twee sleuteltonele – die openingsekwens en die swembadtoneel – gebou is.

Dis nooit goeie nuus wanneer mens na ’n riller kyk en die gehalte van die springmielies en koeldrank lei jou aandag af nie. Koue pampoen hoort nie saam met warm eetgoed nie.

'Epic' insig, pappa


In een toneel in As Good As It Gets sê Greg Kinnear se karakter aan Jack Nicholson se Melvin: “Jou grootste bate is jou bereidwilligheid om jouself te verneder.”

Dis skynbaar ook waar van Afrikaners, veral wanneer dit by Engels kom. ‘n Afrikaner sal hom mos baie makliker in die troebel water van Engels-uitspraak begeef as wat ‘n Engelsman hom dit sal verwerdig om die kombuistaal te besig.

Deesdae, en veral “danksy” sosiale netwerke, is die “gawe” van jou naam plank verhef tot iets wat met beskrywings soos “epic fail” begroet kan word. Dis lank nie meer vernederend om verneder te word nie; eerder die grondslag van ‘n suksesvolle loopbaan as TV-werklikheidster of radiopersoonlikheid. In Suid-Afrika is daar die sprekende voorbeeld van die aanbieder wat in albei dié bedrywe werk en, sodra sy agent meen sy openbare profiel is effe aan’t kwyn, word hy aangemoedig om die een of ander banaliteit oor die lug kwyt te raak en siedaar!

Daar word dan vir ‘n vale geskryf en getwiet oor iets wat binne drie dae tot net-so-goed-soos-nooit-gebeur-nie-status verlaag word. Hierdie lewe-in-die-oomblik-benadering sien ‘n mens toenemend – van die Waterkloof-vier en die 4x4-tref-en-trap-bestuurder tot die Britse jeugdiges wat tekere gaan of daar geen môre is nie. Soos Graeme Smith en Peter de Villiers so graag sê: Dis altyd iemand anders se skuld.

Dis nogal ‘n situasie waarin die karakter Annie (Kristen Wiig) haar in die komedie Bridesmaids bevind. So verinneweer is haar selfbeeld en so groot haar teleurstelling wanneer haar beste vriend haar vir die cool meisie “verruil” sy slaan die oorblyfsels van haar naam met ‘n sjokoladefontein-plank. Dis die toppunt van haar vernedering as beste vriendin en strooimeisie. Hier’s ‘n wenk: Die kombuistee-geleentheid is dalk nie die beste plek om jou frustrasie met genoemde beste vriendin te deel nie.

Maar wag, daar is mos nie meer ‘n regte of verkeerde manier nie. So leer werklikheidstelevisie en sosiale netwerke ons juis.

Want daar’s nie meer ‘n skeiding tussen die openbare en private; dit wat in goeie smaak sou val of as goeie maniere beskou kan word en hul teenpole nie. Soos die modeghoeroes oor hul voete val om te kan verklaar: Als is aanvaarbaar. Solank mense getrou aan hul natuur bly, sien? Moet asb. net nie die natuur skade berokken of jou hibriedmotor stamp nie.

Het ek hardop gelag in Bridesmaids?
Absoluut. ‘n Hele paar keer. Hoe dan anders? Dis vreksnaaks en die karakters oortuig grootliks as moontlik “regte” mense eerder as karikature. Daarby is daar relatief min wriemel- en toilethumor en dit wat daar wel is, soos die rokpas-ramp, word cool uitgebeeld (die heildronktoneel kon gebly het). En hoe kan mens nie van ‘n fliek hou waarin die oulike hoofkarakter (wie’t geweet Kristen Wiig lyk so goed in ‘n bra en broekie?) so laag daal; net om uiteindelik tog ‘n reddingsboei binne bereik te sien dryf nie?

Maar ek’t ook in groot dele met my hand voor my mond gesit. Daar’s so vae ongemaklikheid êrens onder al die springmielies en koeldrank gewees. Ek vermoed dis oor my onderbewuste besef ek sou nie noodwendig ‘n armer mens gewees het as ek nié ‘n blik in dié karakters se binnekamer gehad het nie.

Wednesday, July 27, 2011

Jy kry wat jy sien



Hollywood-grootkoppe hou daarvan om die yslike begroting van die regtige duur flieks te verdedig deur te sê dié (hopelike) lokettreffers se verdienste stel hulle in staat om kleiner flieks met groter “artistieke meriete” te kan maak.

Beteken dit mens moet die groot ateljees ‘n fliek soos Transformers: Dark of the Moon vergewe omdat daar in dieselfde tyd ook ’n fliek soos Win Win uitgereik word? Nie een van die twee is noodwendig ‘n voorbeeld van die beste (of slegste) wat in hul onderskeie genres moontlik is nie, maar so vervelig en kouepampoen is eersgenoemde dit maak van Win Win, wat hoogstens maar ’n bogemiddelde drama is, ’n eksponensieel genotvoller fliek.

En terwyl die klem in Transformers op rekenaareffekte en produkplasing (dis reg, ons held Shia gaan loer sommer op die Duiste motorvervaardiger se webblad na sy meisie se nuwe tjor) val, is dit in Win Win uitsluitlik op die vaardighede van sy sterk rolverdeling.

’n Mens is die skrywer en regisseur Alexander Payne oneindig dankbaar vir Sideways, aangesien dié bekroonde fliek Paul Giamatti van betroubare byspeler tot oorrompelende hoofspeler omvorm het. Sedertdien is sy rolkeuse effe eklekties (van Cinderella Man en Lady in the Water tot Shoot ’Em Up en vroeër vanjaar se uitstekende Barney’s Version), maar dit weerspieël ’n avontuurlustigheid wat hom net tot krediet strek.

In Win Win bevind Giamatti hom in ’n rol wat hom soos ’n handskoen pas: dié van ’n middeljarige kêrel wat, ondanks sy foute, hard probeer om sy kop eerlik bo water te hou te midde van die lewe se aanslae. En hoewel hy nie die diepte haal wat hy in Barney’s Version vertoon het nie, kry hy die kyker nogmaals sonder moeite in sy hoek. Dis daardie algehele gebrek aan dubbelsinnigheid; die ontwapenende alledaagsheid van sy benadering wat die deurslag gee. Giamatti se sukkelende prokureur Mike Flaherty kan enige van ons se pa, oom of man wees.

Teenoor hom is die nuweling Alex Shaffer (hy was gepas verlede jaar die deelstaat New Jersey se o.17-stoeikampioen, berig IMDb.com) se Kyle allermins die stereotipiese, gekwelde tiener. Gooi daarby ’n wonderlike vertolking (die antitese van haar karakter in Gone Baby Gone) deur Amy Ryan as Flaherty se vuurvreter-vrou en Bobby Cannavale op sy beste as Flaherty se beste vriend en die skrywer en regisseur Thomas McCarthy (The Station Agent) wys opnuut hy’t g’n moeite om groot emosie in ’n kleindorpse bestaan raak te boor nie.

Mens kan seker kla oor die storie, wat allermins waterskeidend is, of oor die effe gemaklike ontknoping, wat nooit in gedrang is nie. Dit neem niks weg van die doeltreffendheid van McCarthy se gestroopte benadering en gepaardgaande voorliefde vir natuurlike beligting of van Giamatti en Kie. se stewige spel nie.

Wat Win Win so te midde van Transformers se siellose oordondering opnuut bewys, is dis die flieks met die “klein” oomblikke wat mens bybly en maak dat jy weer en weer daarna kan kyk.

Monday, July 4, 2011

Die vertroue beskaam nie



Wat’s dit wat mense in die oggend laat opstaan?

Gesig was, aantrek, die kinders regkry vir skool en gaan sloeg by die werk. Dis seker maar gewoonte, maar dalk is dit ook potensiaal, oftewel die moontlikheid van iets beter wat kan kom – of dit nou ‘n Stormers-sege, ‘n LED-TV of die volmaakte lewensmaat is.

En dis waarmee die vernuftig vervaardigde wetenskapfiksie-whodunit Source Code van die regisseur Duncan Jones (David Bowie se seun) sy karakters laat: potensiaal. Maar ook, soos dit ‘n behoorlike fliek betaam, met stukkies vlymskerp insig in die basiese elemente van die mens se bestaan. En ‘n skop-in-die-maag-ontknoping waarvoor jy tot die laaste tonele moet wag. Daarby, en in deesdae se oorvloed breinlose vermaak sonder ‘n ons subtiliteit, is Source Code ‘n welkome uitsondering met dié dat hy nooit sy kyker as vanselfsprekend aanvaar en nie sy intelligensie onderskat nie.

Dis ‘n fliek waarin mens nooit jou sit kry nie, want, soos die arme helikoptervlieënier Colter Stevens (Jake Gyllenhaal), weet jy nie wat de hel hier aangaan nie. Hy word in ‘n wildvreemde man se lyf wakker en het net 8 minute tyd om op ‘n voortsnellende verdiepingtrein na ‘n bomplanter te soek, anders word almal op die trein uitgewis - en daar’s ‘n dreigement van nog ‘n aanval. Veel meer vir sy bevelvoerders hom nie vertel nie.

‘n Voor die hand liggende vergelyking is met die vervelige stukkie wetenskapfiksie-romantiek The Adjustment Bureau, wat Philip K. Dick seker in sy graf laat omdraai. Dié se uitgangspunt, dat die liefde selfs ‘n “hoër hand” van plan kan laat verander, vervaag na niksseggendheid langs Source Code se elke-minuut-tel-slaankrag. Laasgenoemde is amper soos ‘n wetenskapfiksie-weergawe van 24 se vroeëre werklikheid gekruis met Groundhog Day-elemente.

Colter, wat boonop met ‘n paar demone van sy eie worstel, moet sy medepassasiers in ‘n oogwink opsom om die moontlike bomplanter te kan identifiseer. Soos die fliek vorder, verskuif sy fokus al hoe meer na hul menswees, en veral na dié van sy “dop” se kollega, die oulike onderwyseres Christina Warren (Michelle Monaghan). Sy amper terloopse waarnemings van haar karaktereienskappe speel toenemend ‘n bepalende rol in sy besluitneming en uiteindelik is die vraag waarmee hy gelaat word, ‘n eenvoudige een: wat doen mens as jy weet jy lewe nog net een minuut?

En dis waar die geheim van Source Code se sukses lê. Dis ‘n wekroep oor die manier waarop mens die wêreld en sy mense benader.

In ‘n ketting-e-pos wys die skrywer op die psigiater Redford Williams se langtermynstudie waarin hy bevind het daar’s ‘n sterk band tussen hartsiekte en “negatiewe” emosies. Mense met ‘n sterk gevoel van vyandigheid – soos ‘n siniese en wantrouige lewensbenadering – se kans is sewe keer groter om nie hul 51ste verjaardag te haal nie, meen Williams.

Midde-in die belangrikste opdrag van sy lewe tref dit Colter soos ‘n voorhamerhou: Hoewel hy nie een van sy medepassasiers kan vertrou nie, gaan dit hom nie help om die bomplanter op te spoor nie. Deur in elkeen van hulle eerder die groter potensiaal van hul beste eienskappe of ‘n oomblik van uitbundig lag te kan eien, maak dit vir hom moontlik om die moelikste besluit van sy lewe te kan neem.

Soos Edward Norton dit aan die einde van sy fliek Keeping the Faith, en ter nagedagtenis van sy pa, stel: Mens moet nooit jou geloof in jou medemens verloor nie.

Monday, June 13, 2011

Vinnig al hoe flouer


‘n Mens kan veel – en nie veel daarvan goed nie – van die vyfde Fast & Furious-fliek sê, maar een ding staan soos ‘n paal bo water: In die snikhete Rio de Janeiro is Dwayne Johnson se FBI-karakter die enigste een wat deurgaans soos ‘n vark sweet.

Dit daar gelaat.

Vele brullende motors, testosteroon, sjoebroekies en niksseggende Neanderdal-geluide vermom as “dialoog” later is die einde vir die Fast & Furious-konsessie skynbaar steeds nie in sig nie.

Van Rob Cohen se oorspronklike, genotvolle daai-wilde-manne-en-hul-bokspringende-krismislig-renmotors-fliek is daar min oor. Dáár was darem nog ‘n tikkie oorspronklikheid en joie de vivre te bespeur; selfs ‘n poging tot karakterontwikkeling, sou mens kon sê. Die Vin Diesel/Paul Walker-kombinasie het goed gewerk en het Cohen se stout-seuns-met-duurder-speelgoed-benadering mooi aangevul. Selfs bleeksiele in 1,1 liter-motortjies het hulle op pad terug huis toe verbeel hulle looi daai tjor dat hy rook en tuis wag ‘n warm Amasone in ‘n denimbroekie en wit T-hemp, gewapen met ‘n bier en ‘n moersleutel.

Sedertdien, en sonder Cohen en stuk-stuk ook sonder Diesel en Walker, het die wiele van Tokio tot Mexiko maar erg afgeval. Diesel is darem sedert no. 4 terug, maar al die silinders wil steeds nie vuur nie, hoewel Justin Lin, regisseur sedert no. 3, hard probeer om die jaagtoertjies so skouspelagtig moontlik te maak. En paradoksaal is dit darem een aspek van no. 5 wat wrintiewaar werk.

Die redenasie agter dié soort flieks is foutloos. Die teikenmark is pragtig vergestalt deur die jeugdige viertal met hul selfone, gebrekkige humorsin en aandag afleibaarheid in die ry agter my. En as daar nou een ding is wat Hollywood goed kan doen, is dit om dié teikenmark vir elke liewe sent van daddy en mommy se geld te melk. Dit verg nie veel nie: Mooi mense in skrapse kleertjies; een of twee one-liners; en ‘n verskoning om chaos te kan saai.

‘n Mens is nie te bekommerd oor Walker se loopbaan nie. Sy beste fliek is Pleasantville en net omdat Reese Witherspoon hom “pin” en so die kleurrevolusie ontketen. Maar die hart bloei vir Diesel en Johnson, wat albei beter as hul gemiddelde fliek is. En in dié fliek blyk dit nog duideliker, want daar’s geen kans om enige mate van identiteit of teenwoordigheid te vestig as elke karakter se totale dialoog uit 25 woorde bestaan nie. So, al wat jy eintlik hoef te doen vir daardie tjek van miljoene rande, is om op te daag.

En daarby, en dis een van die groot Hollywood-ironieë, ondergrawe flieks soos Fast & Furious se aksietonele net mooi al die goeie werk wat deur hiperrealistiese treffers soos The Bourne Identity gedoen word. Maar die teaterstoele word naweek ná naweek volgepak en daarom sal mens seker die een of ander tyd moet besef: Nee, Hollywood, onderskat nié mense se intelligensie nie.

Sunday, June 5, 2011

Diep pyn; vlak storie



Almal sê altyd mens moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie.

Deesdae geld dit enigiets van brandstof en jou meisie tot ononderbreekte kragvoorsiening en mense sonder ‘n chip op die skouer.

Sit Robert Duvall se naam maar ook op dié lysie. Kyk ‘n mens na sy verrinneweerde gelaat waarin die oë nog helder brand, is dit of die jare wegval en hy’s weer Boo Radley in To Kill a Mockingbird. Van Days of Thunder en Gone in Sixty Seconds (dalk moet hy wegbly van kar-flieks?) probeer ‘n mens vergeet, maar sy ontstellende The Prophet en daardie oubekende onverbiddelikheid in Open Range is darem ook in die geheue vasgebrand.

In Get Low is daar ‘n bietjie van albei laasgenoemde karakters in Duvall se Felix Bush, ‘n kluisenaar wat dekades reeds aan die mense van sy dorpie heerlike bangmaakstories verskaf. Dit kry oornag opnuut momentum wanneer hy aankondig hy hou sy eie begrafnispartytjie. Boonop kan mense, teen ‘n skamele $5 per kaartjie, ‘n kans “koop” om sy grond in ‘n trekking te wen.

Wat die “goeie mense van die wêreld” (met permissie van Sheryl Crow) nie besef nie, is dat hulle blote toeskouers is. Dis die sterk punt van dié draaiboek, geskryf deur onder andere C. Gaby Mitchell, wat ook aan Blood Diamond se storie gewerk het. Soos die kerkman Charlie Jackson (Bill Cobb) tereg opmerk: Bush het ‘n manier om ander mense sover te kry om sy wil te doen.

Die geleidelike delf in Bush se motiewe, en Duvall se oudergewoonte oorrompelende, veelvlakkige spel, maak van Get Low ‘n stewige fliek. Daarby het Aaron Schneider, regisseur, die goeie geluk dat die wonderlike Sissy Spacek, ‘n (genadiglik) rustiger Bill Murray en die onderbenutte Lucas Black van American Gothic-faam goeie steun verskaf. Schneider laat hulle hul ding gepas teen ‘n agtergrond van ryk winterkleure doen, maar hy hamer onnodiglik sy boodskap van die boetvaardige-siel-in-limbo vs. die-lewe-wat-aangaan tuis met die kontras wat hy tussen die amper-sepia-bruin van Bush se eiendom en die skynbaar permanente sonskyn by die begrafnisondernemer skep.

Die goeie spel vergoed ook nie vir die gebreke in die draaiboek nie. Bush word as ‘n amper-magiese, onpeilbare karakter gestel, maar die ontknoping skiet ver tekort van die verwagting wat daar geskep word. As ‘n mens so ‘n groot bohaai van 40 jaar se afsondering wil maak, moet jy sorg dat die rede daarvoor iets werklik aardskuddend is – of dit minstens op ‘n aardskuddende manier aanbied. En een van sterk storielyne, dat mense die partytjie mag bywoon as hulle bereid is om aan Bush ‘n “Bush-storie” te vertel, word nooit opgevolg nie.

Die einde is blote melodrama en eintlik maar mosterd ná die maal.

Get Low is in die eerste plek ‘n fliek wat jou laat besef briljante akteurs soos Duvall, Spacek en Murray gaan nie meer lank met ons wees nie. ‘n Mens kan jou daarom opnuut in hul boeiende spel verlustig. Maar Nobody’s Fool of The Short Story is dit gewis nié.

Wednesday, June 1, 2011

Weer sonder donder




Is Thor ‘n fliek?
Ja, dit is.

Is dit iets waaroor ‘n mens opgewonde raak?
As jy nie kan wag dat The Avengers uitgereik word nie, ja.

Dan is dit die moeite werd om van Thor kennis te neem.
Want dit dreun en donder en blits dalk 3D-blinkgepoets, maar dis ook al. Daar gebeur nie veel in Thor wat noemenswaardig is nie, maar dis noemenswaardig dat die fliek gemaak is, want Hollywood kan nie die Avengers-koei melk as ál die spene (net Captain America kort nog) nie daar is nie.

Soos van die meeste superheld-flieks is daar vooraf groot gewag gemaak van dié een. En dis elke keer dieselfde: Jippie, daar kom ‘n fliek van (skryf jou gunsteling se naam hier)! Maar nee, kyk net wie’s betrokke! Dis skokkend! Nee, dis nie! Het jy nie gesien wat hulle op ComicCon gewys het nie?! En so gaan dit tot vervelens toe aan.

Daar’s veral hoopvol na Thor se koms uitgesien, want die regisseur is Kenneth Branagh, daardie gewaardeerde Shakespeare-liefhebber met ‘n gepaste sin vir die teatrale. Want wat anders as grootse teater is Thor (Chris Hemsworth) se verhaal nie? Aan die hemelse hof van koning Odin (Anthony Hopkins) is hy die heethoof wat alles wil regdonner, terwyl broer Loki (Tom Hiddleston) die bedaarde goëlaar is. Wanneer Thor en sy bende amper ‘n tussenplanetêre oorlog ontketen, vervies Odin hom so hy werp Thor (sans sy magte) en dié se magtige hamer, Mjolnir, op die aarde en verval terstond in ‘n diep slaap.

En dis waar die wiele afval.

Want op aarde het die storie soveel trefkrag soos ‘n Natalie Portman-one-liner; Branagh en sy CG-mense het Asgard eenvoudig net te blink en, kom ons wees eerlik, awesome gemaak. Skaars laai Portman se wetenskaplike-karakter en dié se maats die gevalle held op of agent Coulson en sy S.H.I.E.L.D.-makkers konfiskeer als. En skaars wurm Thor, wat, gepas vir ‘n god buff soos môre heeldag lyk, hom in die wetenskaplike se eks se klere in en besef dié aardling is die Die Een (en vice versa) of die hemelse magte tree opnuut tussenbeide.

Dis nou playing by numbers, Marvel. En as jy nie down met die info oor die gebeure in dié heelal is nie, gaan ‘n klomp goed so sinvol soos ‘n verkiesingsveldtog wees. Soos Jeremy Renner met sy pyl-en-boog. En die toneel met Nick Fury héél aan die einde. Als daarop gemik om mooi in te pas wanneer Captain America en later Joss Whedon en sy Avengers eindelik hul opwagting maak.

Intussen kan ‘n mens terugsit en die volkleur-fliekgeboorte van die geteisterde Marvel-helde geniet. En dis nogal iets om te sien, want Marvel Studios het die leisels van dié span perde ferm in die hande en hy weet presies waarheen om te jaag. En ‘n mens kan goeie geld daarop verwed dis nie na Ang Lee se voordeur nie.

Tuesday, May 10, 2011

Soos U2-konsert; met diepte



Hoe oordeel ons mense?

Aan hul dade (ook wat hulle nié doen nie)?
En indien wel, oordeel jy iemand aan sy “gemiddelde” optrede, of is een flater genoeg om ‘n vriendskap of verhouding te kelder?

Die vet weet, daar’s geen formule vir vergifnis nie. Dis seker maar veronderstel om soos aanvaarding te wees: onvoorwaardelik. Maar elkeen het daardie één ding wat nie vergewe kan word nie. Vir sommige is dit wreedheid teenoor bejaardes, kelners en diere; vir ander as dit ‘n soen; vir nog mense seks; vir sommige die verkeerde geloof of vriende.

Waaraan sal ons die TV-vervaardiger Barney Panofsky (Paul Giamatti) oordeel? Hy’s effe van ‘n slonskous en selfsugtig, maar ook ‘n lojale vriend en eggenoot en ‘n goeie pa en seun. Hy drink te veel, maar hy’s ook ‘n hardkoppige kêrel wat niks in sy pad laat staan wanneer hy eers ‘n besluit geneem het nie.

En Barney is vreesbevange. Hy glo (om goeie rede) al lank sy vrou gaan hom vir ‘n alfa-bobbejaan-vriend los en dié vrees word op die spits gedryf wanneer sy (om goeie rede) alleen by hul seun – en die bobbejaan – in New York gaan kuier. Hy drink oudergewoonte te veel; ontmoet ‘n aanvallige vrou; en sy lewe val in ‘n oogwink uitmekaar.

Natuurlik hoef Barney nie te bieg nie. Maar sy gewete vreet hom op. En sy vrou hoef hom nie – vir die bobbejaan – te los nie. Maar haar pa het haar ma herhaaldelik en oor jare heen verneuk en Barney se een keer is vir haar genoeg. Ondanks die feit dat sy, ironies genoeg, in geen stadium vooraf van plan was om hom te los nie.

Eisj, die lewe darem. En dis maar net een – maar wel die deurlopende – tema van die biografiese drama Barney’s Version (foto: cinewallpaper.com), wat gegrond is op Mordechai Richler se gelyknamige roman. Richard J. Lewis het van dié gegewe ‘n priemende, twee uur lange studie van menswees gemaak. En die trefkrag lê nie net in sy sterk rolverdeling, onder wie ook Rosamund Pike, Dustin Hoffman, Scott Speedman en Minnie Driver, se oortuigende spel nie, maar in die subteks wat hy (hoofsaaklik) geslaagd verskaf.

Lewis se boodskap is duidelik: Trap versigtig wanneer jy mense teenkom; oordeel eers wanneer jy die prentjie volledig kan sien. Hy en Giamatti leer mens dié les op die harde manier. En in terugflitse. Soos dit ons siening van Barney geld; geld dit ook syne van sy beste vriend (Speedman). Dis doeltreffend, want die mensdom dwing hom mos maar moeilik om van ‘n ramp weg te kyk.

Maar Barney’s Version is nie bedoel om ‘n neerdrukkende affêre te wees nie. Teen die tyd dat die klippies gepak word, wens mens jy was Pike se karakter; dat jy Barney kan vashou en van hom weer ‘n sielsgelukkige mens kan maak. Want sien, Barney is die vergestalting van daardie dikwels verborge eienskappe in ons elkeen wat ons desperaat hoop ‘n spesiale persoon sien raak.


En dis genoeg vir ‘n leeftyd.

Tuesday, May 3, 2011

Grenslose irritasie



Die vlees is gewillig, maar die storie nié.

Op ‘n ooglopend gepaste manier is die titel van die fliek Limitless (foto: mjbstar.com) ironies, want ‘n rolprentmaker kan omtrent enigiets met dié storie aanvang.

Gelukkig vir die minder kieskeurige fliekganger het die regisseur, Neil Burger, besluit om die beproefde en voorspelbare resep van oordadige, visuele foefies in te span om die gate in die draaiboek (gegrond op Alan Glynn se gelyknamige roman) te probeer verdoesel. Plaas daarby die fokus vierkant op die charismatiese hoofspeler, in dié geval Bradley Cooper, en Bobbie is jou oom. Dis dan geen verrassing dat Limitless so ‘n grenslose bron van irritasie is nie, want Burger is ook die man wat daarin kon slaag om The Illusionist, met Edward Norton, na ‘n B-klas-TV-fliek te laat lyk.

Cooper, daardie flou bleeksiel van Alias wat sedertdien in die “nuwe Brad Pitt” ontpop het, is die spil waarom sake draai. Hy’s verloorder, dinamiese held, ek-verteller en supermens als in een. Daarby is sy oë so blou Hitler sou afgunstig wees én hy kry die kans om Robert De Niro in sy moer te stuur. Ai, die lewe van ‘n Hollywood-hartebreker, darem.

O ja, en moenie van die vereiste maar onwaarskynlike bakleitoneel vergeet waarin SuperSarel (’skies, Van) se 100% funksionerende brein hom in staat stel om by Bruce Lee te gaan leen en sewe sluipers te verinneweer nie. Dit laat mens skoon nostalgies aan Jude Law se manewales in The Wisdom of Crocodiles dink. Of aan swak redigering in ‘n King of the Cage-episode.

Burger het darem bietjie gaan sit en dink en toe onthou hy van al die bloed wat so spat in Bound en hoe hot like that Gina Gershon was en dit was dalk die saadjie vir die fliek se beste toneel, maar andersins laat Limitless ‘n mens hoofsaaklik met ‘n drang na iets veel sterker wat jy oor jou springmielies of in jou Cream Soda kan gooi.

Dis een van daai flieks wat vir twee tot drie minute se rigtinglose debatvoering sorg terwyl jy vir jou cappuccino wag en wat onvermydelik uitloop op die soort stelling dat die soetsappige Phenomenon ‘n veel realistieser blik op verhoogde breinfunksie bied. Maar dié speel op die platteland af en Bradley Cooper in ontwerperspakke sou eenvoudig nie in ‘n droë mielieland werk nie. Selfs nie met ál Abbie Cornish se donker eyeliner net in die voorlaaste toneel nie.

Eintlik laat Limitless ‘n mens met net een vaagweg interessante vraag: Kan die Stormers-ondersteuners dit nou al bekostig om so windgat te wees?

Friday, April 29, 2011

Om nog 'n oor te kon trek



In geen stadium van die geveg kan ‘n mens kla oor die feit dat Natalie Portman skielik in drie, vier flieks te sien is nie.

Hoewel haar rolkeuses in die verlede effe eklekties was, was haar kultusstatus nog nooit in die gedrang nie (hoewel, vermoed ‘n mens, ‘n paar klipharde aanhangers kan kla oor die populistiese erkenning in Oscar-gestalte). Eintlik was die grootste probleem dat mens jou nie op ‘n gereelder grondslag in haar kon verlustig nie.

Tot vanjaar.

En, meer spesifiek, die romantiese komedie No Strings Attached (foto: http://www.behindthehype.com/), waarin me. Portman hard poog om haar oeuvre uit te brei deur haar op die veld deurtrap van Sandra Bullock, Kate Hudson en Jennifer Aniston te begeef. Aan haar sy is die skynbaar ewe kieskeurige Ashton Kutcher, wie se beste spel, ironies genoeg, in die wetenskapfiksie-riller The Butterfly Effect te sien was.

In Strings is hy die gawe seun met die goeie hart wat sy geluk nie kan glo wanneer die siniese dokter (Portman) instem om bedmaats te wees nie. Sy is (skokkend genoeg) nie lus vir seerkry nie en wil sake fisiek hou. Hy’s bietjie van ‘n ploeteraar wat in sy beroemde pa (‘n karikatuuragtige, vermorste Kevin Kline) se skadu leef (nog ‘n kinkel) en glo alles sal nog regkom.

En in tipiese Hollywood-styl hou die “verrassings” nie daar op nie.
Al die tiek-lysie se inskrywings is daar: ‘n gawe kêrel wat soos Ashton Kutcher lyk sukkel om ‘n meisie te kry (tiek); die een hoofkarakter gaan meer van die verhouding wil hê (tiek); die hoofkarakters word albei deur vreemde en aweregse – en selfs gay! – vriende omring (tiek); een of albei hoofkarakters se ouer/s se kop raas (tiek); en die een hoofkarakter se beroepslewe gaan onverwags tekens van lewe toon (tiek).

En tussendeur probeer Portman hard ‘n romantiese hoofspeler wees. Die ding is, sy is nie die tipiese romantiese hoofspeler nie. In elk geval geoordeel na wat sy tot dusver vermag het. Genade, die snaaksste ding wat sy tot nog toe op die silwerdoek gedoen het, was om aan haar oor te trek toe Zach Braff se pel begin vuurpyle in die agterplaas skiet.

Die snaaksste element in No Strings Attached is Ludacris se uitdrukkinglose spel as Kutcher se kroegeienaar-vriend met die klein hart; die hartseerste, naas Kline, is die feit dat Ivan Reitman, regisseur, teen die draai van die millennium laas ‘n kykbare fliek gemaak het.

Tuesday, April 19, 2011

Allermins aksie-satisfaksie



Daar’s ‘n eenvoudige rede waarom kêrels soos Jason Bourne en Jack Bauer sulke gewilde uitdelers van reg en geregtigheid is: hulle faal nie.

En in die postmoderne, metroman-wêreld word hulle ook gepas geteister deur allerhande demone, net sodat mense kan sien hulle’s eintlik diep seuns wat veel te sê sou hê sou hulle die kans kry om hul internetprofiel te kan verfris. Anti-held-helde, as’t ware.

‘n Welkome toevoeging tot hul geledere daar uit die linkerbuiteveld was die onwaarskynlike Liam Neeson se karakter in Taken, wat, vermoed ‘n mens, die weg gebaan het vir Unknown (foto: onlinemovieshut.com). Weer is dit ‘n geval van ‘n Amerikaner wat hom in moeilike omstandighede in ‘n vreemde Europese hoofstad bevind, maar dié fliek laat mens met nog meer vrae as eersgenoemde.

Daar’s boonop nie veel aksie nie. Vir diegene wat amper die helfte van hul springmielies kwytraak soos hul hande beef van aksie-afwagting is daar slegte nuus: Die storie wentel om Neeson se bioloog-karakter, wat aan geheueverlies ly ná ‘n fratsongeluk. Hy’s ‘n bleeksiel, haha, en die aksie is so terloops soos die intrige.

Die probleem begin by die draaiboek deur Oliver Butcher (gepas, want hy’t dié een gewis geslag) en Stephen Cornwell (John LeCarre se seun, nogal). Dit lyk of hulle by flieks soos The Bourne Identity en Roman Polanski se skitterende Frantic gaan leen het. Van oorspronklikheid of geloofwaardigheid is daar nie veel sprake nie, maar wel van bo-aardse en geykte toevallighede. Die regisseur, Jaume Collet-Serra, was ook aan die stuur van flops soos The House of Wax en Goal II en van uitstyg bo sulke omstandighede is daar hier nie veel sprake nie. Sake is so verbeeldingloos en word met soveel flair uitgevoer as die gemiddelde Lions-agterlynbeweging.

Almal probeer hard deurmekaar, gevaarlik of geheimsinnig lyk, maar om onder meer Diane Kruger as ‘n wildewragtag- deeltydse taxibestuurder uit te beeld, hou soveel water as Meg Ryan as ‘n breinchirurg. Die enigste een wat naastenby lyk of hy weet wat hom te doen staan, is Der Untergang se Bruno Ganz as ‘n trotse oud-Stasi-man.

Is dit nie verstommend hoe die owerheid/skurke/fundamentaliste in die een fliek letterlik oral is nie en in die volgende nêrens in sig nie? In die een kan die held en fraaie nooi-in-nood hulle skaars roer of ‘n swerm lewensontnemers sak op hulle toe en in die volgende kry die tweetjies selfs nog kans om kinderlik ontskuldig uit te sien na ‘n nuwe begin; sonder dubbele identiteite, ontploffings en ander nare goed.

So hoop mens deurgaans Unknown kry binnekort rigting. Dis ‘n hoop wat sonder veel bohaai beskaam.

Thursday, April 7, 2011

Versin jou eie storie


‘n Mens kan om baie redes moed verloor en soos Billy Crystal sit en steun in die bed.


Sewe uit tien motoriste wat jou pad kruis, behoort ‘n kandidaat vir genadedood te wees. Agt punt sewe mense in ‘n fliekteater se naam kan ook maar bygevoeg word. So ook die meerderheid mense met honde, kinders en sosiale netwerke. Vir Proteas, politici, “kunstenaars” en ander pretensieuse praatsiekes behoort daar nie eens ‘n wagtyd te wees nie. Hulle kan voorkeurbemanningslede vir die volgende Space Odyssey wees.


Maar solank hoop vir ‘n ieder en elk nog deur Clint Eastwood vergestalt word, kan mens maar die veiligheidskombersie van jou afwerp en braaf voorwaarts beur.


Dis die geval in Rango (foto: simplywallpaper.net), ‘n stukkie animasie-baanbrekerswerk wat Kevin Smith waarskynlik groen van jaloesie het. En hoewel daar in die bemarking groot gewag van Johnny Depp se stemwerk (en in die fliek self van sy ander flieks) gemaak word, is dit veel eerder Industrial Light and Magic se verstommende animasie en “Eastwood” se verskyning as die Spirit of the West wat jou inspireer om nogmaals jou diensterekening te betaal en die nodige adresverandering te doen dat jou verkeersboetes by jou voordeur afgelewer kan word.


Rango is nie suiwer kindervermaak nie. Genadiglik, want daar’s genoeg vir hulle en hoekom kan animasieflieks nie vir volwassenes ook gemaak word nie? Dis ‘n stukkie eksistensiële pret toegedraai in die nostalgie van die “ou” Wilde Weste en droomtonele so reg uit die derde Pirates-fliek (ironies, aangesien die vierde aflewering amper met ons is). En dalk te verwagte, want die regisseur is juis Gore Verbinski, die man aan die stuur van dié Depp-treffers. In sy hande word Rango, hoewel die storie oorbekend is, ‘n Sergio Leone-agtige (dus, onvoorspelbaar en gewelddadig) soeke na vastrapplek in ‘n wêreld sonder water. En, vir dié wat lief is vir alles hier, ook ‘n dwarsklap na gewetenlose eiendomsontwikkelaars. Maar gaan soek mens te diep verloor jy die voor die hand liggende uit die oog: ‘n fliek so prettig as Up; met dieselfde sort aweregse karakters en in-die-kol-verwysings na popkultuur-ikone soos Hunter S. Thompson en Apocalypse Now.


Dis nostalgie sonder brieke; ‘n verkleurmannetjie van ‘n fliek waarop die man sonder naam met reg trots sou wees.