Sunday, June 5, 2011

Diep pyn; vlak storie



Almal sê altyd mens moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie.

Deesdae geld dit enigiets van brandstof en jou meisie tot ononderbreekte kragvoorsiening en mense sonder ‘n chip op die skouer.

Sit Robert Duvall se naam maar ook op dié lysie. Kyk ‘n mens na sy verrinneweerde gelaat waarin die oë nog helder brand, is dit of die jare wegval en hy’s weer Boo Radley in To Kill a Mockingbird. Van Days of Thunder en Gone in Sixty Seconds (dalk moet hy wegbly van kar-flieks?) probeer ‘n mens vergeet, maar sy ontstellende The Prophet en daardie oubekende onverbiddelikheid in Open Range is darem ook in die geheue vasgebrand.

In Get Low is daar ‘n bietjie van albei laasgenoemde karakters in Duvall se Felix Bush, ‘n kluisenaar wat dekades reeds aan die mense van sy dorpie heerlike bangmaakstories verskaf. Dit kry oornag opnuut momentum wanneer hy aankondig hy hou sy eie begrafnispartytjie. Boonop kan mense, teen ‘n skamele $5 per kaartjie, ‘n kans “koop” om sy grond in ‘n trekking te wen.

Wat die “goeie mense van die wêreld” (met permissie van Sheryl Crow) nie besef nie, is dat hulle blote toeskouers is. Dis die sterk punt van dié draaiboek, geskryf deur onder andere C. Gaby Mitchell, wat ook aan Blood Diamond se storie gewerk het. Soos die kerkman Charlie Jackson (Bill Cobb) tereg opmerk: Bush het ‘n manier om ander mense sover te kry om sy wil te doen.

Die geleidelike delf in Bush se motiewe, en Duvall se oudergewoonte oorrompelende, veelvlakkige spel, maak van Get Low ‘n stewige fliek. Daarby het Aaron Schneider, regisseur, die goeie geluk dat die wonderlike Sissy Spacek, ‘n (genadiglik) rustiger Bill Murray en die onderbenutte Lucas Black van American Gothic-faam goeie steun verskaf. Schneider laat hulle hul ding gepas teen ‘n agtergrond van ryk winterkleure doen, maar hy hamer onnodiglik sy boodskap van die boetvaardige-siel-in-limbo vs. die-lewe-wat-aangaan tuis met die kontras wat hy tussen die amper-sepia-bruin van Bush se eiendom en die skynbaar permanente sonskyn by die begrafnisondernemer skep.

Die goeie spel vergoed ook nie vir die gebreke in die draaiboek nie. Bush word as ‘n amper-magiese, onpeilbare karakter gestel, maar die ontknoping skiet ver tekort van die verwagting wat daar geskep word. As ‘n mens so ‘n groot bohaai van 40 jaar se afsondering wil maak, moet jy sorg dat die rede daarvoor iets werklik aardskuddend is – of dit minstens op ‘n aardskuddende manier aanbied. En een van sterk storielyne, dat mense die partytjie mag bywoon as hulle bereid is om aan Bush ‘n “Bush-storie” te vertel, word nooit opgevolg nie.

Die einde is blote melodrama en eintlik maar mosterd ná die maal.

Get Low is in die eerste plek ‘n fliek wat jou laat besef briljante akteurs soos Duvall, Spacek en Murray gaan nie meer lank met ons wees nie. ‘n Mens kan jou daarom opnuut in hul boeiende spel verlustig. Maar Nobody’s Fool of The Short Story is dit gewis nié.

No comments:

Post a Comment