Friday, January 14, 2011

Dié strate hét 'n naam



Nee, Ben Affleck is nie ‘n goeie akteur nie.
Die jurie het so effe gewik en weeg en Affleck het ‘n mens twee keer laat dink met sy spel in die skitterende Changing Lanes (2002), maar sy jongste, The Town (foto: static.blogcritics.org), bevestig wat ons lank reeds weet.

As regisseur is dit genadiglik ‘n heel ander storie.
Gone Baby Gone (2007), sy debuut as regisseur en met kleinboet Casey op sy beste, is een van daardie flieks wat jou aan die knaters beetkry elke keer dat jy hom op TV raakloop. Voordat jy jou kom kry, is die wasgoed en tandeborsel vergete en jy plak jou met ‘n glas wyn en die eerste beste versnapering op die bank neer. Dié fliek het ‘n anderwêreldse gehalte; ‘n tegelyk swewende en tuimelende element wat vir oomblikke van suiwer fliekhemel sorg.
The Town, het ‘n mens aanvanklik gedink, kan nouliks misluk. Afflek is op bekende terrein in die strate van Boston; die gegewe klink of dit potensiaal het; die rolverdeling sluit ‘n staatmaker of twee van Gone Baby Gone in en die Oscar-benoemde Jeremy Renner (The Hurt Locker, 2010) is lid daarvan in sy eerste rol sedert die gloriereën. Good times, soos ‘n vriendin sou sê.
Maar dan sit jy in die teater en sake neem hul verloop en kort voor lank besef jy, o wee, Affleck ontgin geen nuwe grond nie (allermins as akteur; hoe is dat dit Keanu Reeves met al sy standbeeld-vaardighede ‘n mens so maklik in sy hoek kan kry, maar Affleck nie?). Hy maak daardie ou, ou fout deur nie ‘n rapport tussen sy hoofspelers en die gehoor te bewerkstellig nie, want (jammer, ou seun) die kyker het maar bloot ‘n terloopse belangstelling in die spelers se lot. Hy prober, ja, maar daar is geen oorrompelende element in die tonele tussen hom en Rebecca Hall nie en in watter stadium van die geveg is ‘n mens veronderstel om dit as ‘n epiese liefde te sien?

Daarby is die einde vroeg reeds voorspelbaar. Hoe anders kan dié outjie dan eindig? En die aksie is maar die hiperrealisme waaraan fliekgangers die laaste dekade of wat blootgestel is en nouliks beter as die gemiddelde 24-aksie. Daar is een of twee uitstaantonele, soos die een waarin Affleck kruissny tussen Hall met haar tone in die water en Hall met haar arms om sy lyf (simboliek so subtiel soos sy tatoeëermerke). En die keuse van die non-uitrustings en die hoeveelheid emosie wat daar in die rowers se oë skuil, tref ook.

Maar dit verhef The Town nouliks bo die vlak van bekwame genre-prent en as bevestiging van Affleck se suigelingreputasie as regisseur met hope pontesiaal. Eerder as dat dié fliek op sy eie bene staan, laat hy mens dink aan menere soos Heat (1995) en Dog Day Afternoon (1975), en dis sleg, Ben.

No comments:

Post a Comment