Wednesday, September 19, 2012

'n Welkome oordeel gevel

Soos Sigurd sou sê: Dankie, Ra!

Want Dredd, die jongste fliekweergawe van die gewelddadige Britse strokiesboekreeks Judge Dredd, is soos ‘n welkome baan sonlig in die neerdrukkende donkerte van ateljeeverpakte, OL13-flieks gegrond op strokiesboekkarakters waaraan volwasse fliekgangers die laaste paar jaar toenemend blootgestel is. En soos Robert Redford se karakter in An Unfinished Life oor Jehovasgetuies verklaar: Daar’s geen verskoning vir daai nonsens nie.

Want in geen stadium van die geveg is die Dredd-gegewe gesinsvriendelik nie. En in die gees van dié weiering om te konformeer dis Pete Travis, regisseur, en Alex Garland, draaiboekskrywer, ‘n stylvolle orgie van bloed, dwelms en ‘n propperse breinnaai op. En die beste van alles? Dredd is wáárlik Dredd: ‘n Man agter ‘n masker wat min praat en deurslaggewend optree.

Internasionaal ly Dredd onder vergelykings met die Indonesiese aksietreffer The Raid, wat met ‘n soortgelyke storielyn spog, maar laasgenoemde is nog nie in Suid-Afrika uitgereik nie. So, met ‘n relatief skoon palet kan mens die meeste van dié fliekondervinding maak. En dis sommer gou duidelik Dredd skud die nare nalatenskap van Sylvester Stallone se Judge Dredd met gemak af. Van laasgenoemde se kampgeit, belaglike blou kontaklense en Rob Schneider is daar genadiglik geen teken nie. (Mens mis wel Diane Lane, maar dit geld enige fliek waarin sy nié in ‘n nousluitende uitrusting verskyn nie.)

Die man agter die masker – en daai masker word nooit afgehaal nie, Sly – is Karl Urban en lanklaas was ‘n mond en ken so ‘n dwingende teenwoordigheid op ‘n rolprentskerm. Urban maak Dredd se dreigende en onheilspellende teenwoordigheid sy eie en kry dit reg om selfs met die sê van net een woord ‘n toneel te oorheers. Jip, jy wil weet Dredd handhaaf reg en orde “daarbuite”, maar jy wil hom so waar as wragtig nie vir ‘n braai nooi nie.

Vir die vorming van enige soort emosionele band met die karakters laat dit die kyker met die jong Olivia Thirlby, wat die rol van die nuweling Anderson vertolk. Sy’s ‘n begaafde “psychic”, maar ‘n onderpresteerder in die polisie-akademie. Onder Dredd se wakende oog kry sy vir oulaas kans om te bewys sy hoort in die Judges se geledere. Dit blyk weldra ‘n selfmoordsending te wees, want die twee geregsdienaars word in een van die wolkekrabbers in Mega-City One vasgekeer wanneer hulle die teregstelling van drie mans ondersoek. Die gebou word met ‘n ysterhand regeer deur die oudprostituut en deesdae dwelmtsaar Ma-Ma (‘n belittekende, vreesaanjaende Lena Headey), wat nie kan bekostig dat Dredd-hulle enige van haar handlangers by die polisiekantoor ondervra nie.


Ma-Ma se houvas word verpand in die vorm van die dwelmmiddel Slo-Mo, wat dit laat voorkom of tyd stadiger verloop. Al die dwelmneem-sekwense word in stadige aksie uitgebeeld – die treffendste is die eerste skote van Ma-Ma en ‘n skietgeveg tussen Dredd en ‘n paar verslaafdes – en dit dra tot Dredd se anderwêreldse, bloedbevlekte gehalte by. Thirlby – onthou haar nog as Juno se beste maatjie? – kwyt haar uitstekend van haar taak. Haar karakter se groei is deurgaans oortuigend en daarin laat Dredd die kyker met geen illusies oor wat dié nihilistiese toekomswêreld van sy polisiemag vereis nie. Dit verskaf die subteks wat aan Dredd, wat met ‘n bedrieglik eenvoudige storielyn spog, ‘n onverwagse diepte verleen. Dit laat mens besef agter daardie masker en onsimpatieke mond en gruis-stem skuil eindelik tog maar ‘n man van wie daar dag ná dag die onmoontlike verwag word. En wat dag ná dag daardie helm opsit.

Travis – op sy kerfstok is onder meer die belowende maar onvoldoende terreurriller Vantage Point – slaag in Dredd twee deurslaggewende toetse: Hy span sy stadige-aksie-skote oordeelkundig in én benut wraggies die 3D-tegnologie tot sy beskikking. En alles word gebaai in skakerings van swart, groen en bruin. Dis duidelik Dredd spog nie met die onlangse Batman-trilogie se begroting nie, maar die fliek lyk genadiglik nie “goedkoop” nie. ‘n Bonus vir Suid-Afrikaners en veral Kapenaars is die feit dat die grondvlak van Ma-Ma se gebou by KunsteKaap en die burgersentrum verfilm is.

Min strokiesboek-flieks laat reg aan die bronmateriaal geskied. Te dikwels word die boeke se boodskap in gesinsvriendelike sedelessies en bloedlose geweld verpak en dis maar ‘n handvol wat getrou aan hul oorsprong bly. Tim Burton se Batman, Watchmen, Constantine, Sin City en Tank Girl is maar ‘n paar. En nou kan mens Dredd by dié uitverkore groepie voeg.

No comments:

Post a Comment