Wednesday, January 18, 2012

Die waarheid is daar êrens


Dis ‘n besonder tydige uitreiking van George Clooney se dromerige huldeblyk aan diegene in die Amerikaanse politiek wat nie onder die druk swig om hul beginsels te verloën nie.

Nie dat dit is waaroor die hogere getitelde The Ides of March handel nie, o nee. Dis eerder ‘n blik op die verlies van onskuld en idealisme. So tussendeur kry die politiek bewuste Clooney sy stekies in, maar dis maar verwaterde retoriek en daar’s min verband tussen sy goew. Mike Morris se soet klinkende uitlatings en die stryd wat op die oomblik aan die partypolitieke front in die VSA woed.

Die fokus val op Morris se jong veldtogwerker en strateeg Stephen Meyers (Ryan Gosling), wat volgens skynbaar almal se mening ‘n vlymskerp mannetjie is. Maar hy’s nie skerp genoeg om te weet mens slaap nooit ooit saam met die oulike juniors, in dié geval Molly (Evan Rachel Wood), in die span nie, selfs al dring hulle hul aan jou op. Of dat jy nooit ooit in die geheim saam met die teenstanders in ‘n donker kroeg kuier nie.

Maar daar sou nie veel van ‘n storie gewees het as Meyers ‘n bietjie ‘common sense’ aan die dag gelê het nie en derhalwe sit hy met die gebakte pere en kort voor lank word die man erg ontnugter. Nie dat dit regtig anders kan nie wanneer die hoofkarakter vroeg in ‘n fliek verklaar: “Ek sal enigiets doen; solank ek daarin glo.” Eina, Osama. Daarby kom die bykomende intrige van die problematiese sen. Thompson (Jeffrey Wright) en Morris se stemwerwery in Ohio aangelas voor.

Dalk sou The Ides of March groter trefkrag gehad het as dit nie gelyk het of Gosling met sy tong in die kies op die stel opgedaag het nie. Mens vermoed iemand soos Ryan Phillippe sou beter in dié rol gepas het, want aan die gedagte van Gosling as ‘n ontnugterde blinkoog-seun sluk ‘n mens maar swaar. Dit lyk of hy sy hand oorspeel. Daarom behoort die fliek se min treffende oomblikke aan Philip Seymour Hoffman as Meyers se geen-nonsens-baas Paul Zara en die ewe betroubare Paul Giamatti as Tom Duffy, wat Meyers vir sy span wil werf. Hulle maal hom maar goed fyn.

Nog ‘n pluspunt is Clooney, wat ook aan die draaiboek (gegrond op Beau Willimon se drama Farragut North) geskaaf het, se skikking van die storie in net 101 minute en die fotograaf Phedon Papamichael se gebruik van donker kleure, wat die verhaal soos ‘n riller laat afspeel en mens aan Roman Polanski se werk laat dink. Clooney is ook slim genoeg om sy spelers die ruimte te gun om hulself te kan uitleef en as Morris is hy grootliks op die agtergrond. Ongelukkig vir hom is nog iets op die agtergrond: die media. Dis skynbaar net die The New York Times-verslaggewer Ida Horowicz (Marisa Tomei) wat dié politiekery dek. Regtig, George?

Mens verwag ‘n groot gekonkel en bloed en derms wat spat en mense wat al skreeuende in mekaar se arms val soos daar aanvanklik in The Ides of March tekere gegaan word. Maar dan kom die effe voorspelbare ontknoping en dis eerder ‘n vuurpyltjie wat ontplof as ‘n vuurwerkfabriek.

Dis ironies dat Clooney met sy mees kommersiële poging en sterkste rolverdeling tot nog toe ook sy flouste fliek gemaak het. Dalk is dit waaroor Gosling so in sy mou grinnik.

No comments:

Post a Comment