Thursday, January 27, 2011

'Interster' nou op DVD!




Dis een van daardie wonderlike frases wat ‘n mens sommerso klakkeloos napraat, want hy lê so lekker op die tong.
Dis daardie warm-om-die-hart-gevoel.
Dis die reuk van katpiepie.
Dis vir ‘n teikenmark skep en met jou oog op die winsmarge.

Dis ook hoe The Concert (foto:media.nyunews.com), die Franse fliek met hoofsaaklik Russiese dialoog, deur sommige resensente beskryf is. Hulle kon dit veel eerder as volg bemark het: Dis soos As It Is In Heaven, maar sonder die susterkerk-lidmate wat die teaterstoele week ná week warm sit.
Dis soos ‘n Timur Bekmambetov-fliek sonder die cool en die geweld.
Slaptjips sonder asyn.
‘n V-twin met ‘n standaardpyp.
The Concert is hoofsaaklik ‘n bron van hoogstens bekwame irritasie. (Dit val my nou by, ‘n nog beter vergelyking is met die ewe kotssmakerige The Chorus, self ‘n gewilde keuse op die “kunskringloop”.) Hy begin nie eens belowend nie en vandaar is dit net verder afdraande. Nie eens die pragtige Mélanie Laurent van Inglourious Basterds-faam kan hom red nie; allermins die hoofkarakter (Aleksey Guskov se naby-aan-floute Andrey Filipov). Hy dryf mens van die heel eerste toneel na happe van jou stoel se armleuningstoffasie, want hy kom versteurd eerder as geniaal of bekoorlik voor. Alles opoffer vir dié imbecile? I think not.
Russiese flieks is soos Australiese flieks: Die karakters is eiesoortig en spog dikwels met net die regte mengsel eiesoortigheid en makabere humor dat ‘n mens bekoor word. Soms kry Radu Mihaileanu, regisseur en medeskrywer, dit goed reg, soos met die sigeuners (wat lyk of hul spuit-sonbrandsessies lelik skeefgeloop het) en die stukkies Tsjaikofski wat absoluut hemels is, my skatties, maar die meeste van die tyd voel dit of die karakters, wat skreeu eerder as praat, op ‘n mens spoeg so vol staan hul gesig die skerm vol (geen probleem as dit ‘n hottie is nie, maar die eks-KGB-man is nié). Die gevolg: Teen die einde van die fliek sit jy heel agter in die teater met die sambreel wat jy ná 5 min. by die Joodse tannie in die stoel voor jou afgerokkel het byderhand. Dis nou as die voorspelbaarheid daarvan jou nie tot raserny dryf nie (toegegee, om in ‘n fliekteater agter ‘n sambreel te skuil, sal reeds effe af lyk). Wenk: Net omdat dit in ‘n taal anders as Engels is, maak nie noodwendig van dit ‘n goeie fliek nie.
Dié resepmatige prent – van sy oorbekende storie en karikatuuragtige karakters tot sy ongelooflik absurde en total onnodige terugflitse - is soos ‘n Toyota: Tevredenheid is gewaarborg op daardie vlak waar die hart nie meer klop nie.
Mélanie is darem pragtig.

Friday, January 14, 2011

Dié strate hét 'n naam



Nee, Ben Affleck is nie ‘n goeie akteur nie.
Die jurie het so effe gewik en weeg en Affleck het ‘n mens twee keer laat dink met sy spel in die skitterende Changing Lanes (2002), maar sy jongste, The Town (foto: static.blogcritics.org), bevestig wat ons lank reeds weet.

As regisseur is dit genadiglik ‘n heel ander storie.
Gone Baby Gone (2007), sy debuut as regisseur en met kleinboet Casey op sy beste, is een van daardie flieks wat jou aan die knaters beetkry elke keer dat jy hom op TV raakloop. Voordat jy jou kom kry, is die wasgoed en tandeborsel vergete en jy plak jou met ‘n glas wyn en die eerste beste versnapering op die bank neer. Dié fliek het ‘n anderwêreldse gehalte; ‘n tegelyk swewende en tuimelende element wat vir oomblikke van suiwer fliekhemel sorg.
The Town, het ‘n mens aanvanklik gedink, kan nouliks misluk. Afflek is op bekende terrein in die strate van Boston; die gegewe klink of dit potensiaal het; die rolverdeling sluit ‘n staatmaker of twee van Gone Baby Gone in en die Oscar-benoemde Jeremy Renner (The Hurt Locker, 2010) is lid daarvan in sy eerste rol sedert die gloriereën. Good times, soos ‘n vriendin sou sê.
Maar dan sit jy in die teater en sake neem hul verloop en kort voor lank besef jy, o wee, Affleck ontgin geen nuwe grond nie (allermins as akteur; hoe is dat dit Keanu Reeves met al sy standbeeld-vaardighede ‘n mens so maklik in sy hoek kan kry, maar Affleck nie?). Hy maak daardie ou, ou fout deur nie ‘n rapport tussen sy hoofspelers en die gehoor te bewerkstellig nie, want (jammer, ou seun) die kyker het maar bloot ‘n terloopse belangstelling in die spelers se lot. Hy prober, ja, maar daar is geen oorrompelende element in die tonele tussen hom en Rebecca Hall nie en in watter stadium van die geveg is ‘n mens veronderstel om dit as ‘n epiese liefde te sien?

Daarby is die einde vroeg reeds voorspelbaar. Hoe anders kan dié outjie dan eindig? En die aksie is maar die hiperrealisme waaraan fliekgangers die laaste dekade of wat blootgestel is en nouliks beter as die gemiddelde 24-aksie. Daar is een of twee uitstaantonele, soos die een waarin Affleck kruissny tussen Hall met haar tone in die water en Hall met haar arms om sy lyf (simboliek so subtiel soos sy tatoeëermerke). En die keuse van die non-uitrustings en die hoeveelheid emosie wat daar in die rowers se oë skuil, tref ook.

Maar dit verhef The Town nouliks bo die vlak van bekwame genre-prent en as bevestiging van Affleck se suigelingreputasie as regisseur met hope pontesiaal. Eerder as dat dié fliek op sy eie bene staan, laat hy mens dink aan menere soos Heat (1995) en Dog Day Afternoon (1975), en dis sleg, Ben.

Thursday, January 6, 2011

Harde werk die sleutel, mammas




Tussen al die gemors deur wat in die Kersvakansie, daardie gesinsvakansie van gesinsvakansies, uitgereik word, is daar nie ‘n beter fliek as Lisa Cholodenko se snydende en soms skreeusnaakse The Kids are All Right (foto: feministspectator.blogspot.com) nie.
Daar is soveel prettige spelings in die titel dat mens jou terstond tot poësie wil wend, maar kom ons los dit maar vir die platemaatskappye en radio-aanbieders. Want die kinders in dié gesinsdrama - anders as die vreesaanjaende bloedsuiers wat deesdae as tieners paradeer - is oukei; dis die ouers en volwassenes wat hulp nodig het.
En dan veral die lesbiese egpaar Nic (Annette Bening) and Jules (Julianne Moore), wat deur hul tienerkinders se drang na hul biologiese pa gekonfronteer word. Yann Martel skryf in sy Man Booker-bekroonde The Life of Pi diere vrees onsekerheid die meeste. Maar dis ook waar van mense en veral gesinne. Onsekerheid is nie die gewenste kolfmaat nie en daardie kerndinamika se verhouding tot die groter wêreld word dikwels deur die ons-en-hulle-benadering gekenmerk. Die gesin kom eerste en vat so, wêreld!
Bygesê, danksy daardie wonderlike verskynsel van sosiale netwerke gaan die gesin nooit weer dieselfde wees nie, want jy’t nie ‘n persoonlike verhouding nodig met enigiemand nie; solank hulle net die foto’s van jou jongste hoed-koopsessie op jou profiel kan sien.
Nic en Jules moet blitsig hul thinking caps opsit wanneer Joni (Mia Wasikowska) en Laser (Josh Hutcherson) in tipiese generasie Y-styl oornag ‘n nuwe troeteldier aanneem in die gedaante van die vrygees-restaurateur Paul (Mark Ruffalo). Hy’s soos ‘n vars briesie in die kinders se lewe en selfs Jules vind aanklank by hom, maar Nic se nekhare rys behoorlik. Daar’s nie plek vir meelopers wanneer dit kom by ‘n gesin bestuur nie, boeta.
Wat aan die fliek sy trefkrag verleen, is die onopgesmukte manier waarop Cholodenko, ook medeskrywer, die karakters uitbeeld, asook die manier waarop hulle die uitdagings hanteer. Baie flieks, meestal soetsappig, is al oor die lewe ná die “gelukkig getroud” gemaak, maar min van hulle kan met dieselfde veelvlakkige karakters en ontwapenende vertolkings deur net mooi elke akteur in die rolverdeling spog.
Die sleutel lê in Jules se mini-toespraak aan haar gesinslede: die huwelik is nie ‘n grap nie; dis bleddie harde werk. Soms bevind jou in die absurdste situasies en veroordeling en tou opgooi is die maklike uitweg, maar hou jy jou oog op die prys, is die beloning liefde en kameraadskap wat die oortredings laat vervaag.
Is suksesvolle verhoudings dan ‘n geval van “rather the devil you know”? In The Kids are All Right is dit of Cholodenko wil sê absoluut – die een wat jy ken én liewer het as enigiemand.

Sunday, December 19, 2010

Een kyk is genoeg





Hoe is dit dat die grootste verhale se hart van ‘n onvernietigbare liefde klop?

Is ons nou maar uitgelewer aan die massamedia en sy totale aanslag van enkelloperskap = ongelukkigheid en jy gaan nooit vervuld wees as jy nie Die Een gevind (of ouerskap gesmaak) het nie?

Dalk.
Soos Hollywood, op sy onthoubaarste in die gedaante van Bette Davis, so dikwels verklaar: Dis maar ‘n stamperige rit. In ‘n welkome aanval van fliekironie is dié rit in dié geval die Spaanstalige Argentynse riller The Secret in Their Eyes (foto: http://www.brightestyoungthings.com/), wat vanjaar weldverdiend met die Oscar vir beste anderstalige prent bekroon is. Die ander twee was A Prophet (nie gesien nie) en Michael Haneke se gestroopte The White Ribbon (resensie elders op blog).

Daar’s maar net bepaalde tonele in flieks wat ‘n mens bybly; in die grotes is daar baie. En dié is een van hulle. Soos Barbra Streisand in Sunset Boulevard sing: Al wat haar karakter nodig het, is een kyk ...
En hoewel die manne sulke kyke kan gee - Gérard Depardieu en Ralph Fiennes is van die beste; Kevin Costner ook – is dit vroue wat loshande wen. Helen Hunt en Joan Allen mag maar en so ook Emmanuelle Béart. Juliette Binoche kán en Isabelle Huppert ook.
Dis daai kyk wat jou asem in jou keel laat vassteek en klank uitdoof. Wat jou hoendervel gee en laat wonder of jy ‘n skoon onderbroek aanhet. En of jou sokkies heel is.

Op die oog af lyk die oudregsman Benjamin Esposito (Ricardo Darin) heel, maar hy’t nog allermins vrede gemaak met ‘n moord-en-verkragtingsaak van jare gelede (hy droom en skryf die frase "ek's bevrees" neer), om nie eens van sy liefde vir sy destydse baas, Irene Hastings (die pragtige Soledad Villamil), te praat nie. Hy wil ‘n boek oor die saak skryf en by wie beter om hulp te vra as juis sy; deesdae getroud en met twee kinders?

Die aanvanklike ondersoek na die verkragting van en moord op ‘n pragtige jong vrou ontvou in terugflitste; so ook Esposito se toenemende gevoelens vir sy baas. En hoewel die fokus grotendeels op die ondersoek val, is dit daardie oomblikke tussen Darin en Villamil wat ‘n mens bybly – veral danksy Juan José Campanella, regisseur en medeskrywer, se uitstekende skikking van die gebeure. Hier lê geen los drade rond nie en Campanella sukkel genadiglik nie in tipiese Hollywood-formaat met foefies om sy storie meer trefkrag te gee nie (voorbeelde: die vreesaanjaende ondervragingstoneel; die anderwêreldsheid van die latere hysbakrit).
En, as ‘n bykomende bonus, is die humor fyn en ongedwonge soos hoofsaaklik verskaf deur Esposito se suiplap-kollega.

Van die tonele is so treffend soos enigiets wat ‘n mens al gesien het en ek gaan maar een of twee uitsonder: Esposito se aankoms by die moordtoneel; die stadiumtoneel waarin hulle die verdagte jaag, is so vreesaanjaend soos enigiets in Cloverfield; daarteenoor stel Campanella die absurditeit van Esposito se onderonsie met ‘n regter en sy inbraak by ‘n verdagte se ouerhuis (wie van ons wou nie al ‘n jack russell skop dat hy stilbly nie?).

En tog is daardie oomblikke tussen Esposito en Villamil soos die vure wat die wagters op die berge aansteek in The Return of the King. Sommer vroeg reeds verklaar hy die wese daarvan; die rede waarom die saak hom so teister: Dis die liefde wat hy in die moordslagoffer se man se oë vir dié se pragtige vrou sien wat hom aanspoor.
En so, want dit bemagtig hom mos, blaker hy dit sommer uit ook.
Maar ‘n mens vergewe die arme Esposito, want ook sy oë kan nie lieg nie. En soms, net soms, wanneer die jare wegval en jy die soveelste keer – en ook die eerste keer – deur daardie deur stap, maak niks anders ter wêreld saak as dat twee pare oë vir die eerste keer vreesloos die waarheid vertel nie.

Wednesday, December 8, 2010

Te vinnig vir lagkans


Faster laat ‘n mens met ‘n oorweldigende gevoel van verligting.

Dankie tog, Dwayne Johnson in iets wat nié deur Disney vervaardig is nie. En kan dit wees die regisseur George Tillman Jr. het sy vrotsige Men of Honor- en Notorious-mantels afgeskud?

Dié aksierit van vergelding is die antitese van vorige Johnson-skuimpies soos The Game Plan en Tooth Fairy, maar dis ook nie The Rundown nie, want Johnson, wat ‘n lieflike sin vir tydsberekening het, glimlag nie eens één keer nie. Dis ernstige sake dié, broer. Mense word vermoor en die bloed vloei mildelik. Daar’s dwelms en korrupsie en ‘n metroman-huurmoordenaar met ‘n swak selfbeeld en ‘n eksistensiële krisis.

Ai, die wonderlike wêreld van TV en flieks waarin daar in die een tot in mense se tandvulsels geloer word en in ‘n ander real-time updates flikker soos Kersliggies. Nie in Faster (foto: 4.bp.blogspot.com) nie, nee.
Hier jaag ons held vir ‘n vale en skiet die een booswig ná die ander in volkleur. En van satellietbeelde en helikopters is daar net mooi g’n teken nie. Nie deel van dié storie nie, sien? Driver, soos Johnson se karakter bekend staan, is so ontwykend soos die Coen-broers se psigopatiese huurmoordenaar in No Country for Old Men. (Die vraag is dus: Is die werklikheid meer Bourne Ultimatum en 24 of skuil hy êrens tussenin?)
Maar dis darem heerlike vermaak wanneer Johnson met daai uitsonderlik beneukte stappie van hom by ‘n vergeldingsteiken opdaag. Hy draai nie doekies om nie en behalwe vir een tranerige, charismatiese oomblik in die sand van versoening is dit woordelose en onmiddellike geregtigheid wat uitgedeel word. Moenie bodder om te smeek nie, span; Driver is nie hier om tronkstories te vertel nie.

Die probleem lê ook nie by Billy Bob Thornton se uitgewaste Cop nie, hoewel sy storie allermins oorspronklik is. In ‘n wonderlike stukkie ironie bedien hy sy vervreemde seun van bofbal-raad. Onthou nog vir Thornton as die verloorder Buttermaker in Richard Linklater se bofbalkomedie Bad News Bears? Dis klassiek, man.

Eisj, but no. Die probleem is by die belaglike karakter van Killer (die onbekende Brit Oliver Jackson-Cohen), wat ‘n lagwekkende toevoeging is. Hier’s nou ‘n rolmodel vir generasie Y met sy beheptheid van oppervlakkigheid; sindroom van aandagafleibaarheid; en smagting na erkenning vir... hmmm, presies wat nou weer?
Wie gee om? Hy’t ‘n goeie pak slae so reg uit Tillman se heel kykbare gesinsdrama Soul Food nodig. En die irriterende Maggie Grace van Taken-faam as kolskoot-nimfomaan? Asseblief. Die skrywers, terloops, is die Gayton-broers Tony (Murder by Numbers; The Salton Sea) en Joe (Bulletproof). Ek sou dalk daarop geld verwed dat Joey die Killer-deel geskryf het...

Nee wat, Faster werk om een rede: Johnson sê nie veel nie en is die vinnigste. En dis al wat saakmaak.

Thursday, November 18, 2010

Onkeerbaar getroef


Tony Scott is ‘n fliekmaker wat een ding goed doen: Hy slaag altyd daarin om jou op die punt van jou stoel te hou.


Op die punt van spanning en afwagting.
Of op die punt om op te staan en uit te loop.

Scott, broer van die meer gerekende Ridley, het my in sy hoek gekry met flieks soos The Last Boy Scout (1991), True Romance (1993; vir 20 punte: Wie is Christian Slater?) en die Alan J. Pakula-agtige Spy Game (2001). ‘n Mens moet byvoeg die draaiboek en vertonings deur sy hoofspelers was in dié gevalle eersteklas.
Maar hy’t hard probeer om sy aanhangers se goeie guns nekom te draai met flou produkte soos Days of Thunder (1990), die Keira Knightley-flop Domino (2005; Knightley as ‘n aksieheldin? Regtig?) en verlede jaar se remake van The Taking of Pelham 1 2 3. Tussendeur was daar hoogstens kykbare pogings soos Enemy of the State (1998) en Man on Fire (2004).
Eersgenoemde was prente waarin ‘n hardekoejawel-fliekganger sy tande kon slaan en selfs ‘n traan of twee wegpink wanneer die held ‘n korstondige, eksistensiële krisis beleef: Eers die sigaret aansteek of eers die skurk skiet?
Taai een.

Scott het ‘n effe beter visuele balans met Deja Vu gevind, maar sy voorliefde vir loshande die irriterendste redigeringsbenadering in Hollywood huiwer maar soos daardie gewaarborgde Protea-mislukking-in-oorwinning in ‘n mens se agterkop.

Scott span in Unstoppable (foto: shuttervoice.com), sy jongste, weer saam met die altyd betroubare Denzel Washington, sy Deja Vu-, Man on Fire- en Crimson Tide-held, in dié doller-as-kopaf-rit wat op ware gebeure gegrond is. Dalk genadiglik, want ons man Tony en gelade retoriek is nie juis die gemaklikste bedmaats nie.
Die skynbaar onvermydelike persoonlike krisisse in die hoofkarakters se lewe, burokratiese getjommel en air punches (Louis Gossett jr. kan daai nonsens kortknip, hoewel ek nie oor die Hooters-hoek kla nie) is alles daar, maar Scott hou die leisels deurgaans stewig vas en die intrige raak darem nie te Armageddon nie.

Hierdie keer werk die redigering van skielike en oorverdowende trein-skote heel goed en dit dra wrintiewaar selfs tot die spanning by. Daar gebeur eintlik bitter min, maar Scott slaag daarin om die onderskeie storielyne – van die wisselwerking tussen die onderskeie karakters tot die TV-dekking – so af te wissel dat die jaagtog ‘n mens behoorlik uitasem laat.
Daarby hou ‘n mens nie net van Washington se karakter nie, maar ook van die wonderlike Rosario Dawson se geen-nonsens-beheerkamerbestuurder.
Scott se benadering is eintlik so kykbaar ‘n mens hoop dit voorspel goeie dinge vir sy volgende projekte.


Dalk kan hy selfs weer vir Brad Pitt inspan.
Of Bruce Willis.

Tuesday, October 12, 2010

"I did it my way"


Oliver Stone doen Nora Ephron.
Ek verwys na die soort fliek; nie die intrapersoonlike verkenning van mekaar se holtes nie. Hoewel verkenning nogal 'n hooftema in Wall Street: Money Never Sleeps (wie't die lagwekkende titel uitgedink?; foto: obsessedwithfilm.com) is.
Die altyd likeable Shia LaBeouf en die skynbaar onvermydelik onskuldige Carey Mulligan se potensiële diepte as akteurs word verken; so ook Michael Douglas se terugkeer-waarde in die gedaante van Gordon Gekko; Stone se volgehoue onvermoë om as byspeler te beïndruk (Hitchcock was soveel beter in North by Northwest); en, les bes, die gierigheid onderliggend aan die ineenstorting van die Amerikaanse ekonomie.
Tsk tsk, geld is die wortel van alle kwaad en so aan. Dit weet ons. Maar Stone gee dit so 'n tipiese daytime-inspuiting en slaag daarin om selfs van Frank Langella 'n simpatie wekkende miljardêr te maak.
Daar's 'n rede waarom 'n mens na sekere vermaak as "ontsnap"-goed verwys, want om 'n doeltreffende ontvanger daarvan te kan wees, vereis die afskaffing van aansprake op geloofwaardigheid. Stone verbeeld dit treffend soetsappig in die slottonele en bevestig daarmee dat hy eintlik maar 'n sentimentele seun is. Hy's dalk net lank in denial gewees. Of hy's agterstallig met sy huispaaiemente.
Dié vervolgfliek is hip, man. Oumense, vroumense en kinders kan ook daarna gaan kyk. Daar's verdeelde skerms en byderwetse kameraskote en liedjies so reg van die Grey's Anatomy-klankbaan; die manne jaag met motorfietse om te wys hulle is geld-slim én adrenalienvrate; die woonstelle is funky; die held en heldin gepas ek-gaan-die-wêreld-muisklik-vir-muisklik verander; die skurk gepas gewetenloos; en Douglas ... wel, is maar 'n vae skadu van die Gekko van ouds. Laat jou meer lus kry om weer na Wonder Boys te kyk.
Dis 'n heel kykbare fliek (op 'n Saterdag 22:45-manier), maar in tipiese Stone-styl is daar nie veel subtiliteit of subteks nie (veral ironies in die lig van die Hitchcock-verwysing). Dis oudergewoonte maar politiekery en storm en drang en alles in die oortreffende trap - van die karakters se emosies tot die arme Josh Brolin se aftakeling. Nee, Oliver, hy hoef nie noodwendig die skildery stukkend te slaan nie; dis so 80's. Jy's 'n Oscar-bekroonde fliekmaker; kry 'n nuwe manier om dit te sê.
Maar dis pret soos The Devil Wears Prada en Confessions of a Shopaholic pret is; jy kan regtig die tekstuur van jou springmielies geniet.