
Tussen al die gemors deur wat in die Kersvakansie, daardie gesinsvakansie van gesinsvakansies, uitgereik word, is daar nie ‘n beter fliek as Lisa Cholodenko se snydende en soms skreeusnaakse The Kids are All Right (foto: feministspectator.blogspot.com) nie.
Daar is soveel prettige spelings in die titel dat mens jou terstond tot poësie wil wend, maar kom ons los dit maar vir die platemaatskappye en radio-aanbieders. Want die kinders in dié gesinsdrama - anders as die vreesaanjaende bloedsuiers wat deesdae as tieners paradeer - is oukei; dis die ouers en volwassenes wat hulp nodig het.
En dan veral die lesbiese egpaar Nic (Annette Bening) and Jules (Julianne Moore), wat deur hul tienerkinders se drang na hul biologiese pa gekonfronteer word. Yann Martel skryf in sy Man Booker-bekroonde The Life of Pi diere vrees onsekerheid die meeste. Maar dis ook waar van mense en veral gesinne. Onsekerheid is nie die gewenste kolfmaat nie en daardie kerndinamika se verhouding tot die groter wêreld word dikwels deur die ons-en-hulle-benadering gekenmerk. Die gesin kom eerste en vat so, wêreld!
Bygesê, danksy daardie wonderlike verskynsel van sosiale netwerke gaan die gesin nooit weer dieselfde wees nie, want jy’t nie ‘n persoonlike verhouding nodig met enigiemand nie; solank hulle net die foto’s van jou jongste hoed-koopsessie op jou profiel kan sien.
Nic en Jules moet blitsig hul thinking caps opsit wanneer Joni (Mia Wasikowska) en Laser (Josh Hutcherson) in tipiese generasie Y-styl oornag ‘n nuwe troeteldier aanneem in die gedaante van die vrygees-restaurateur Paul (Mark Ruffalo). Hy’s soos ‘n vars briesie in die kinders se lewe en selfs Jules vind aanklank by hom, maar Nic se nekhare rys behoorlik. Daar’s nie plek vir meelopers wanneer dit kom by ‘n gesin bestuur nie, boeta.
Wat aan die fliek sy trefkrag verleen, is die onopgesmukte manier waarop Cholodenko, ook medeskrywer, die karakters uitbeeld, asook die manier waarop hulle die uitdagings hanteer. Baie flieks, meestal soetsappig, is al oor die lewe ná die “gelukkig getroud” gemaak, maar min van hulle kan met dieselfde veelvlakkige karakters en ontwapenende vertolkings deur net mooi elke akteur in die rolverdeling spog.
Die sleutel lê in Jules se mini-toespraak aan haar gesinslede: die huwelik is nie ‘n grap nie; dis bleddie harde werk. Soms bevind jou in die absurdste situasies en veroordeling en tou opgooi is die maklike uitweg, maar hou jy jou oog op die prys, is die beloning liefde en kameraadskap wat die oortredings laat vervaag.
Is suksesvolle verhoudings dan ‘n geval van “rather the devil you know”? In The Kids are All Right is dit of Cholodenko wil sê absoluut – die een wat jy ken én liewer het as enigiemand.
No comments:
Post a Comment