Wednesday, July 27, 2011

Jy kry wat jy sien



Hollywood-grootkoppe hou daarvan om die yslike begroting van die regtige duur flieks te verdedig deur te sê dié (hopelike) lokettreffers se verdienste stel hulle in staat om kleiner flieks met groter “artistieke meriete” te kan maak.

Beteken dit mens moet die groot ateljees ‘n fliek soos Transformers: Dark of the Moon vergewe omdat daar in dieselfde tyd ook ’n fliek soos Win Win uitgereik word? Nie een van die twee is noodwendig ‘n voorbeeld van die beste (of slegste) wat in hul onderskeie genres moontlik is nie, maar so vervelig en kouepampoen is eersgenoemde dit maak van Win Win, wat hoogstens maar ’n bogemiddelde drama is, ’n eksponensieel genotvoller fliek.

En terwyl die klem in Transformers op rekenaareffekte en produkplasing (dis reg, ons held Shia gaan loer sommer op die Duiste motorvervaardiger se webblad na sy meisie se nuwe tjor) val, is dit in Win Win uitsluitlik op die vaardighede van sy sterk rolverdeling.

’n Mens is die skrywer en regisseur Alexander Payne oneindig dankbaar vir Sideways, aangesien dié bekroonde fliek Paul Giamatti van betroubare byspeler tot oorrompelende hoofspeler omvorm het. Sedertdien is sy rolkeuse effe eklekties (van Cinderella Man en Lady in the Water tot Shoot ’Em Up en vroeër vanjaar se uitstekende Barney’s Version), maar dit weerspieël ’n avontuurlustigheid wat hom net tot krediet strek.

In Win Win bevind Giamatti hom in ’n rol wat hom soos ’n handskoen pas: dié van ’n middeljarige kêrel wat, ondanks sy foute, hard probeer om sy kop eerlik bo water te hou te midde van die lewe se aanslae. En hoewel hy nie die diepte haal wat hy in Barney’s Version vertoon het nie, kry hy die kyker nogmaals sonder moeite in sy hoek. Dis daardie algehele gebrek aan dubbelsinnigheid; die ontwapenende alledaagsheid van sy benadering wat die deurslag gee. Giamatti se sukkelende prokureur Mike Flaherty kan enige van ons se pa, oom of man wees.

Teenoor hom is die nuweling Alex Shaffer (hy was gepas verlede jaar die deelstaat New Jersey se o.17-stoeikampioen, berig IMDb.com) se Kyle allermins die stereotipiese, gekwelde tiener. Gooi daarby ’n wonderlike vertolking (die antitese van haar karakter in Gone Baby Gone) deur Amy Ryan as Flaherty se vuurvreter-vrou en Bobby Cannavale op sy beste as Flaherty se beste vriend en die skrywer en regisseur Thomas McCarthy (The Station Agent) wys opnuut hy’t g’n moeite om groot emosie in ’n kleindorpse bestaan raak te boor nie.

Mens kan seker kla oor die storie, wat allermins waterskeidend is, of oor die effe gemaklike ontknoping, wat nooit in gedrang is nie. Dit neem niks weg van die doeltreffendheid van McCarthy se gestroopte benadering en gepaardgaande voorliefde vir natuurlike beligting of van Giamatti en Kie. se stewige spel nie.

Wat Win Win so te midde van Transformers se siellose oordondering opnuut bewys, is dis die flieks met die “klein” oomblikke wat mens bybly en maak dat jy weer en weer daarna kan kyk.

Monday, July 4, 2011

Die vertroue beskaam nie



Wat’s dit wat mense in die oggend laat opstaan?

Gesig was, aantrek, die kinders regkry vir skool en gaan sloeg by die werk. Dis seker maar gewoonte, maar dalk is dit ook potensiaal, oftewel die moontlikheid van iets beter wat kan kom – of dit nou ‘n Stormers-sege, ‘n LED-TV of die volmaakte lewensmaat is.

En dis waarmee die vernuftig vervaardigde wetenskapfiksie-whodunit Source Code van die regisseur Duncan Jones (David Bowie se seun) sy karakters laat: potensiaal. Maar ook, soos dit ‘n behoorlike fliek betaam, met stukkies vlymskerp insig in die basiese elemente van die mens se bestaan. En ‘n skop-in-die-maag-ontknoping waarvoor jy tot die laaste tonele moet wag. Daarby, en in deesdae se oorvloed breinlose vermaak sonder ‘n ons subtiliteit, is Source Code ‘n welkome uitsondering met dié dat hy nooit sy kyker as vanselfsprekend aanvaar en nie sy intelligensie onderskat nie.

Dis ‘n fliek waarin mens nooit jou sit kry nie, want, soos die arme helikoptervlieënier Colter Stevens (Jake Gyllenhaal), weet jy nie wat de hel hier aangaan nie. Hy word in ‘n wildvreemde man se lyf wakker en het net 8 minute tyd om op ‘n voortsnellende verdiepingtrein na ‘n bomplanter te soek, anders word almal op die trein uitgewis - en daar’s ‘n dreigement van nog ‘n aanval. Veel meer vir sy bevelvoerders hom nie vertel nie.

‘n Voor die hand liggende vergelyking is met die vervelige stukkie wetenskapfiksie-romantiek The Adjustment Bureau, wat Philip K. Dick seker in sy graf laat omdraai. Dié se uitgangspunt, dat die liefde selfs ‘n “hoër hand” van plan kan laat verander, vervaag na niksseggendheid langs Source Code se elke-minuut-tel-slaankrag. Laasgenoemde is amper soos ‘n wetenskapfiksie-weergawe van 24 se vroeëre werklikheid gekruis met Groundhog Day-elemente.

Colter, wat boonop met ‘n paar demone van sy eie worstel, moet sy medepassasiers in ‘n oogwink opsom om die moontlike bomplanter te kan identifiseer. Soos die fliek vorder, verskuif sy fokus al hoe meer na hul menswees, en veral na dié van sy “dop” se kollega, die oulike onderwyseres Christina Warren (Michelle Monaghan). Sy amper terloopse waarnemings van haar karaktereienskappe speel toenemend ‘n bepalende rol in sy besluitneming en uiteindelik is die vraag waarmee hy gelaat word, ‘n eenvoudige een: wat doen mens as jy weet jy lewe nog net een minuut?

En dis waar die geheim van Source Code se sukses lê. Dis ‘n wekroep oor die manier waarop mens die wêreld en sy mense benader.

In ‘n ketting-e-pos wys die skrywer op die psigiater Redford Williams se langtermynstudie waarin hy bevind het daar’s ‘n sterk band tussen hartsiekte en “negatiewe” emosies. Mense met ‘n sterk gevoel van vyandigheid – soos ‘n siniese en wantrouige lewensbenadering – se kans is sewe keer groter om nie hul 51ste verjaardag te haal nie, meen Williams.

Midde-in die belangrikste opdrag van sy lewe tref dit Colter soos ‘n voorhamerhou: Hoewel hy nie een van sy medepassasiers kan vertrou nie, gaan dit hom nie help om die bomplanter op te spoor nie. Deur in elkeen van hulle eerder die groter potensiaal van hul beste eienskappe of ‘n oomblik van uitbundig lag te kan eien, maak dit vir hom moontlik om die moelikste besluit van sy lewe te kan neem.

Soos Edward Norton dit aan die einde van sy fliek Keeping the Faith, en ter nagedagtenis van sy pa, stel: Mens moet nooit jou geloof in jou medemens verloor nie.

Monday, June 13, 2011

Vinnig al hoe flouer


‘n Mens kan veel – en nie veel daarvan goed nie – van die vyfde Fast & Furious-fliek sê, maar een ding staan soos ‘n paal bo water: In die snikhete Rio de Janeiro is Dwayne Johnson se FBI-karakter die enigste een wat deurgaans soos ‘n vark sweet.

Dit daar gelaat.

Vele brullende motors, testosteroon, sjoebroekies en niksseggende Neanderdal-geluide vermom as “dialoog” later is die einde vir die Fast & Furious-konsessie skynbaar steeds nie in sig nie.

Van Rob Cohen se oorspronklike, genotvolle daai-wilde-manne-en-hul-bokspringende-krismislig-renmotors-fliek is daar min oor. Dáár was darem nog ‘n tikkie oorspronklikheid en joie de vivre te bespeur; selfs ‘n poging tot karakterontwikkeling, sou mens kon sê. Die Vin Diesel/Paul Walker-kombinasie het goed gewerk en het Cohen se stout-seuns-met-duurder-speelgoed-benadering mooi aangevul. Selfs bleeksiele in 1,1 liter-motortjies het hulle op pad terug huis toe verbeel hulle looi daai tjor dat hy rook en tuis wag ‘n warm Amasone in ‘n denimbroekie en wit T-hemp, gewapen met ‘n bier en ‘n moersleutel.

Sedertdien, en sonder Cohen en stuk-stuk ook sonder Diesel en Walker, het die wiele van Tokio tot Mexiko maar erg afgeval. Diesel is darem sedert no. 4 terug, maar al die silinders wil steeds nie vuur nie, hoewel Justin Lin, regisseur sedert no. 3, hard probeer om die jaagtoertjies so skouspelagtig moontlik te maak. En paradoksaal is dit darem een aspek van no. 5 wat wrintiewaar werk.

Die redenasie agter dié soort flieks is foutloos. Die teikenmark is pragtig vergestalt deur die jeugdige viertal met hul selfone, gebrekkige humorsin en aandag afleibaarheid in die ry agter my. En as daar nou een ding is wat Hollywood goed kan doen, is dit om dié teikenmark vir elke liewe sent van daddy en mommy se geld te melk. Dit verg nie veel nie: Mooi mense in skrapse kleertjies; een of twee one-liners; en ‘n verskoning om chaos te kan saai.

‘n Mens is nie te bekommerd oor Walker se loopbaan nie. Sy beste fliek is Pleasantville en net omdat Reese Witherspoon hom “pin” en so die kleurrevolusie ontketen. Maar die hart bloei vir Diesel en Johnson, wat albei beter as hul gemiddelde fliek is. En in dié fliek blyk dit nog duideliker, want daar’s geen kans om enige mate van identiteit of teenwoordigheid te vestig as elke karakter se totale dialoog uit 25 woorde bestaan nie. So, al wat jy eintlik hoef te doen vir daardie tjek van miljoene rande, is om op te daag.

En daarby, en dis een van die groot Hollywood-ironieë, ondergrawe flieks soos Fast & Furious se aksietonele net mooi al die goeie werk wat deur hiperrealistiese treffers soos The Bourne Identity gedoen word. Maar die teaterstoele word naweek ná naweek volgepak en daarom sal mens seker die een of ander tyd moet besef: Nee, Hollywood, onderskat nié mense se intelligensie nie.

Sunday, June 5, 2011

Diep pyn; vlak storie



Almal sê altyd mens moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie.

Deesdae geld dit enigiets van brandstof en jou meisie tot ononderbreekte kragvoorsiening en mense sonder ‘n chip op die skouer.

Sit Robert Duvall se naam maar ook op dié lysie. Kyk ‘n mens na sy verrinneweerde gelaat waarin die oë nog helder brand, is dit of die jare wegval en hy’s weer Boo Radley in To Kill a Mockingbird. Van Days of Thunder en Gone in Sixty Seconds (dalk moet hy wegbly van kar-flieks?) probeer ‘n mens vergeet, maar sy ontstellende The Prophet en daardie oubekende onverbiddelikheid in Open Range is darem ook in die geheue vasgebrand.

In Get Low is daar ‘n bietjie van albei laasgenoemde karakters in Duvall se Felix Bush, ‘n kluisenaar wat dekades reeds aan die mense van sy dorpie heerlike bangmaakstories verskaf. Dit kry oornag opnuut momentum wanneer hy aankondig hy hou sy eie begrafnispartytjie. Boonop kan mense, teen ‘n skamele $5 per kaartjie, ‘n kans “koop” om sy grond in ‘n trekking te wen.

Wat die “goeie mense van die wêreld” (met permissie van Sheryl Crow) nie besef nie, is dat hulle blote toeskouers is. Dis die sterk punt van dié draaiboek, geskryf deur onder andere C. Gaby Mitchell, wat ook aan Blood Diamond se storie gewerk het. Soos die kerkman Charlie Jackson (Bill Cobb) tereg opmerk: Bush het ‘n manier om ander mense sover te kry om sy wil te doen.

Die geleidelike delf in Bush se motiewe, en Duvall se oudergewoonte oorrompelende, veelvlakkige spel, maak van Get Low ‘n stewige fliek. Daarby het Aaron Schneider, regisseur, die goeie geluk dat die wonderlike Sissy Spacek, ‘n (genadiglik) rustiger Bill Murray en die onderbenutte Lucas Black van American Gothic-faam goeie steun verskaf. Schneider laat hulle hul ding gepas teen ‘n agtergrond van ryk winterkleure doen, maar hy hamer onnodiglik sy boodskap van die boetvaardige-siel-in-limbo vs. die-lewe-wat-aangaan tuis met die kontras wat hy tussen die amper-sepia-bruin van Bush se eiendom en die skynbaar permanente sonskyn by die begrafnisondernemer skep.

Die goeie spel vergoed ook nie vir die gebreke in die draaiboek nie. Bush word as ‘n amper-magiese, onpeilbare karakter gestel, maar die ontknoping skiet ver tekort van die verwagting wat daar geskep word. As ‘n mens so ‘n groot bohaai van 40 jaar se afsondering wil maak, moet jy sorg dat die rede daarvoor iets werklik aardskuddend is – of dit minstens op ‘n aardskuddende manier aanbied. En een van sterk storielyne, dat mense die partytjie mag bywoon as hulle bereid is om aan Bush ‘n “Bush-storie” te vertel, word nooit opgevolg nie.

Die einde is blote melodrama en eintlik maar mosterd ná die maal.

Get Low is in die eerste plek ‘n fliek wat jou laat besef briljante akteurs soos Duvall, Spacek en Murray gaan nie meer lank met ons wees nie. ‘n Mens kan jou daarom opnuut in hul boeiende spel verlustig. Maar Nobody’s Fool of The Short Story is dit gewis nié.

Wednesday, June 1, 2011

Weer sonder donder




Is Thor ‘n fliek?
Ja, dit is.

Is dit iets waaroor ‘n mens opgewonde raak?
As jy nie kan wag dat The Avengers uitgereik word nie, ja.

Dan is dit die moeite werd om van Thor kennis te neem.
Want dit dreun en donder en blits dalk 3D-blinkgepoets, maar dis ook al. Daar gebeur nie veel in Thor wat noemenswaardig is nie, maar dis noemenswaardig dat die fliek gemaak is, want Hollywood kan nie die Avengers-koei melk as ál die spene (net Captain America kort nog) nie daar is nie.

Soos van die meeste superheld-flieks is daar vooraf groot gewag gemaak van dié een. En dis elke keer dieselfde: Jippie, daar kom ‘n fliek van (skryf jou gunsteling se naam hier)! Maar nee, kyk net wie’s betrokke! Dis skokkend! Nee, dis nie! Het jy nie gesien wat hulle op ComicCon gewys het nie?! En so gaan dit tot vervelens toe aan.

Daar’s veral hoopvol na Thor se koms uitgesien, want die regisseur is Kenneth Branagh, daardie gewaardeerde Shakespeare-liefhebber met ‘n gepaste sin vir die teatrale. Want wat anders as grootse teater is Thor (Chris Hemsworth) se verhaal nie? Aan die hemelse hof van koning Odin (Anthony Hopkins) is hy die heethoof wat alles wil regdonner, terwyl broer Loki (Tom Hiddleston) die bedaarde goëlaar is. Wanneer Thor en sy bende amper ‘n tussenplanetêre oorlog ontketen, vervies Odin hom so hy werp Thor (sans sy magte) en dié se magtige hamer, Mjolnir, op die aarde en verval terstond in ‘n diep slaap.

En dis waar die wiele afval.

Want op aarde het die storie soveel trefkrag soos ‘n Natalie Portman-one-liner; Branagh en sy CG-mense het Asgard eenvoudig net te blink en, kom ons wees eerlik, awesome gemaak. Skaars laai Portman se wetenskaplike-karakter en dié se maats die gevalle held op of agent Coulson en sy S.H.I.E.L.D.-makkers konfiskeer als. En skaars wurm Thor, wat, gepas vir ‘n god buff soos môre heeldag lyk, hom in die wetenskaplike se eks se klere in en besef dié aardling is die Die Een (en vice versa) of die hemelse magte tree opnuut tussenbeide.

Dis nou playing by numbers, Marvel. En as jy nie down met die info oor die gebeure in dié heelal is nie, gaan ‘n klomp goed so sinvol soos ‘n verkiesingsveldtog wees. Soos Jeremy Renner met sy pyl-en-boog. En die toneel met Nick Fury héél aan die einde. Als daarop gemik om mooi in te pas wanneer Captain America en later Joss Whedon en sy Avengers eindelik hul opwagting maak.

Intussen kan ‘n mens terugsit en die volkleur-fliekgeboorte van die geteisterde Marvel-helde geniet. En dis nogal iets om te sien, want Marvel Studios het die leisels van dié span perde ferm in die hande en hy weet presies waarheen om te jaag. En ‘n mens kan goeie geld daarop verwed dis nie na Ang Lee se voordeur nie.

Tuesday, May 10, 2011

Soos U2-konsert; met diepte



Hoe oordeel ons mense?

Aan hul dade (ook wat hulle nié doen nie)?
En indien wel, oordeel jy iemand aan sy “gemiddelde” optrede, of is een flater genoeg om ‘n vriendskap of verhouding te kelder?

Die vet weet, daar’s geen formule vir vergifnis nie. Dis seker maar veronderstel om soos aanvaarding te wees: onvoorwaardelik. Maar elkeen het daardie één ding wat nie vergewe kan word nie. Vir sommige is dit wreedheid teenoor bejaardes, kelners en diere; vir ander as dit ‘n soen; vir nog mense seks; vir sommige die verkeerde geloof of vriende.

Waaraan sal ons die TV-vervaardiger Barney Panofsky (Paul Giamatti) oordeel? Hy’s effe van ‘n slonskous en selfsugtig, maar ook ‘n lojale vriend en eggenoot en ‘n goeie pa en seun. Hy drink te veel, maar hy’s ook ‘n hardkoppige kêrel wat niks in sy pad laat staan wanneer hy eers ‘n besluit geneem het nie.

En Barney is vreesbevange. Hy glo (om goeie rede) al lank sy vrou gaan hom vir ‘n alfa-bobbejaan-vriend los en dié vrees word op die spits gedryf wanneer sy (om goeie rede) alleen by hul seun – en die bobbejaan – in New York gaan kuier. Hy drink oudergewoonte te veel; ontmoet ‘n aanvallige vrou; en sy lewe val in ‘n oogwink uitmekaar.

Natuurlik hoef Barney nie te bieg nie. Maar sy gewete vreet hom op. En sy vrou hoef hom nie – vir die bobbejaan – te los nie. Maar haar pa het haar ma herhaaldelik en oor jare heen verneuk en Barney se een keer is vir haar genoeg. Ondanks die feit dat sy, ironies genoeg, in geen stadium vooraf van plan was om hom te los nie.

Eisj, die lewe darem. En dis maar net een – maar wel die deurlopende – tema van die biografiese drama Barney’s Version (foto: cinewallpaper.com), wat gegrond is op Mordechai Richler se gelyknamige roman. Richard J. Lewis het van dié gegewe ‘n priemende, twee uur lange studie van menswees gemaak. En die trefkrag lê nie net in sy sterk rolverdeling, onder wie ook Rosamund Pike, Dustin Hoffman, Scott Speedman en Minnie Driver, se oortuigende spel nie, maar in die subteks wat hy (hoofsaaklik) geslaagd verskaf.

Lewis se boodskap is duidelik: Trap versigtig wanneer jy mense teenkom; oordeel eers wanneer jy die prentjie volledig kan sien. Hy en Giamatti leer mens dié les op die harde manier. En in terugflitse. Soos dit ons siening van Barney geld; geld dit ook syne van sy beste vriend (Speedman). Dis doeltreffend, want die mensdom dwing hom mos maar moeilik om van ‘n ramp weg te kyk.

Maar Barney’s Version is nie bedoel om ‘n neerdrukkende affêre te wees nie. Teen die tyd dat die klippies gepak word, wens mens jy was Pike se karakter; dat jy Barney kan vashou en van hom weer ‘n sielsgelukkige mens kan maak. Want sien, Barney is die vergestalting van daardie dikwels verborge eienskappe in ons elkeen wat ons desperaat hoop ‘n spesiale persoon sien raak.


En dis genoeg vir ‘n leeftyd.

Tuesday, May 3, 2011

Grenslose irritasie



Die vlees is gewillig, maar die storie nié.

Op ‘n ooglopend gepaste manier is die titel van die fliek Limitless (foto: mjbstar.com) ironies, want ‘n rolprentmaker kan omtrent enigiets met dié storie aanvang.

Gelukkig vir die minder kieskeurige fliekganger het die regisseur, Neil Burger, besluit om die beproefde en voorspelbare resep van oordadige, visuele foefies in te span om die gate in die draaiboek (gegrond op Alan Glynn se gelyknamige roman) te probeer verdoesel. Plaas daarby die fokus vierkant op die charismatiese hoofspeler, in dié geval Bradley Cooper, en Bobbie is jou oom. Dis dan geen verrassing dat Limitless so ‘n grenslose bron van irritasie is nie, want Burger is ook die man wat daarin kon slaag om The Illusionist, met Edward Norton, na ‘n B-klas-TV-fliek te laat lyk.

Cooper, daardie flou bleeksiel van Alias wat sedertdien in die “nuwe Brad Pitt” ontpop het, is die spil waarom sake draai. Hy’s verloorder, dinamiese held, ek-verteller en supermens als in een. Daarby is sy oë so blou Hitler sou afgunstig wees én hy kry die kans om Robert De Niro in sy moer te stuur. Ai, die lewe van ‘n Hollywood-hartebreker, darem.

O ja, en moenie van die vereiste maar onwaarskynlike bakleitoneel vergeet waarin SuperSarel (’skies, Van) se 100% funksionerende brein hom in staat stel om by Bruce Lee te gaan leen en sewe sluipers te verinneweer nie. Dit laat mens skoon nostalgies aan Jude Law se manewales in The Wisdom of Crocodiles dink. Of aan swak redigering in ‘n King of the Cage-episode.

Burger het darem bietjie gaan sit en dink en toe onthou hy van al die bloed wat so spat in Bound en hoe hot like that Gina Gershon was en dit was dalk die saadjie vir die fliek se beste toneel, maar andersins laat Limitless ‘n mens hoofsaaklik met ‘n drang na iets veel sterker wat jy oor jou springmielies of in jou Cream Soda kan gooi.

Dis een van daai flieks wat vir twee tot drie minute se rigtinglose debatvoering sorg terwyl jy vir jou cappuccino wag en wat onvermydelik uitloop op die soort stelling dat die soetsappige Phenomenon ‘n veel realistieser blik op verhoogde breinfunksie bied. Maar dié speel op die platteland af en Bradley Cooper in ontwerperspakke sou eenvoudig nie in ‘n droë mielieland werk nie. Selfs nie met ál Abbie Cornish se donker eyeliner net in die voorlaaste toneel nie.

Eintlik laat Limitless ‘n mens met net een vaagweg interessante vraag: Kan die Stormers-ondersteuners dit nou al bekostig om so windgat te wees?