Thursday, November 18, 2010

Onkeerbaar getroef


Tony Scott is ‘n fliekmaker wat een ding goed doen: Hy slaag altyd daarin om jou op die punt van jou stoel te hou.


Op die punt van spanning en afwagting.
Of op die punt om op te staan en uit te loop.

Scott, broer van die meer gerekende Ridley, het my in sy hoek gekry met flieks soos The Last Boy Scout (1991), True Romance (1993; vir 20 punte: Wie is Christian Slater?) en die Alan J. Pakula-agtige Spy Game (2001). ‘n Mens moet byvoeg die draaiboek en vertonings deur sy hoofspelers was in dié gevalle eersteklas.
Maar hy’t hard probeer om sy aanhangers se goeie guns nekom te draai met flou produkte soos Days of Thunder (1990), die Keira Knightley-flop Domino (2005; Knightley as ‘n aksieheldin? Regtig?) en verlede jaar se remake van The Taking of Pelham 1 2 3. Tussendeur was daar hoogstens kykbare pogings soos Enemy of the State (1998) en Man on Fire (2004).
Eersgenoemde was prente waarin ‘n hardekoejawel-fliekganger sy tande kon slaan en selfs ‘n traan of twee wegpink wanneer die held ‘n korstondige, eksistensiële krisis beleef: Eers die sigaret aansteek of eers die skurk skiet?
Taai een.

Scott het ‘n effe beter visuele balans met Deja Vu gevind, maar sy voorliefde vir loshande die irriterendste redigeringsbenadering in Hollywood huiwer maar soos daardie gewaarborgde Protea-mislukking-in-oorwinning in ‘n mens se agterkop.

Scott span in Unstoppable (foto: shuttervoice.com), sy jongste, weer saam met die altyd betroubare Denzel Washington, sy Deja Vu-, Man on Fire- en Crimson Tide-held, in dié doller-as-kopaf-rit wat op ware gebeure gegrond is. Dalk genadiglik, want ons man Tony en gelade retoriek is nie juis die gemaklikste bedmaats nie.
Die skynbaar onvermydelike persoonlike krisisse in die hoofkarakters se lewe, burokratiese getjommel en air punches (Louis Gossett jr. kan daai nonsens kortknip, hoewel ek nie oor die Hooters-hoek kla nie) is alles daar, maar Scott hou die leisels deurgaans stewig vas en die intrige raak darem nie te Armageddon nie.

Hierdie keer werk die redigering van skielike en oorverdowende trein-skote heel goed en dit dra wrintiewaar selfs tot die spanning by. Daar gebeur eintlik bitter min, maar Scott slaag daarin om die onderskeie storielyne – van die wisselwerking tussen die onderskeie karakters tot die TV-dekking – so af te wissel dat die jaagtog ‘n mens behoorlik uitasem laat.
Daarby hou ‘n mens nie net van Washington se karakter nie, maar ook van die wonderlike Rosario Dawson se geen-nonsens-beheerkamerbestuurder.
Scott se benadering is eintlik so kykbaar ‘n mens hoop dit voorspel goeie dinge vir sy volgende projekte.


Dalk kan hy selfs weer vir Brad Pitt inspan.
Of Bruce Willis.

Tuesday, October 12, 2010

"I did it my way"


Oliver Stone doen Nora Ephron.
Ek verwys na die soort fliek; nie die intrapersoonlike verkenning van mekaar se holtes nie. Hoewel verkenning nogal 'n hooftema in Wall Street: Money Never Sleeps (wie't die lagwekkende titel uitgedink?; foto: obsessedwithfilm.com) is.
Die altyd likeable Shia LaBeouf en die skynbaar onvermydelik onskuldige Carey Mulligan se potensiële diepte as akteurs word verken; so ook Michael Douglas se terugkeer-waarde in die gedaante van Gordon Gekko; Stone se volgehoue onvermoë om as byspeler te beïndruk (Hitchcock was soveel beter in North by Northwest); en, les bes, die gierigheid onderliggend aan die ineenstorting van die Amerikaanse ekonomie.
Tsk tsk, geld is die wortel van alle kwaad en so aan. Dit weet ons. Maar Stone gee dit so 'n tipiese daytime-inspuiting en slaag daarin om selfs van Frank Langella 'n simpatie wekkende miljardêr te maak.
Daar's 'n rede waarom 'n mens na sekere vermaak as "ontsnap"-goed verwys, want om 'n doeltreffende ontvanger daarvan te kan wees, vereis die afskaffing van aansprake op geloofwaardigheid. Stone verbeeld dit treffend soetsappig in die slottonele en bevestig daarmee dat hy eintlik maar 'n sentimentele seun is. Hy's dalk net lank in denial gewees. Of hy's agterstallig met sy huispaaiemente.
Dié vervolgfliek is hip, man. Oumense, vroumense en kinders kan ook daarna gaan kyk. Daar's verdeelde skerms en byderwetse kameraskote en liedjies so reg van die Grey's Anatomy-klankbaan; die manne jaag met motorfietse om te wys hulle is geld-slim én adrenalienvrate; die woonstelle is funky; die held en heldin gepas ek-gaan-die-wêreld-muisklik-vir-muisklik verander; die skurk gepas gewetenloos; en Douglas ... wel, is maar 'n vae skadu van die Gekko van ouds. Laat jou meer lus kry om weer na Wonder Boys te kyk.
Dis 'n heel kykbare fliek (op 'n Saterdag 22:45-manier), maar in tipiese Stone-styl is daar nie veel subtiliteit of subteks nie (veral ironies in die lig van die Hitchcock-verwysing). Dis oudergewoonte maar politiekery en storm en drang en alles in die oortreffende trap - van die karakters se emosies tot die arme Josh Brolin se aftakeling. Nee, Oliver, hy hoef nie noodwendig die skildery stukkend te slaan nie; dis so 80's. Jy's 'n Oscar-bekroonde fliekmaker; kry 'n nuwe manier om dit te sê.
Maar dis pret soos The Devil Wears Prada en Confessions of a Shopaholic pret is; jy kan regtig die tekstuur van jou springmielies geniet.

Friday, September 24, 2010

Jy's net so goed soos jou plan B



In die 80's was The A-Team enige tyd so cool soos MacGyver.
Dalk selfs cooler, want hoewel dié oudsoldate niemand raak geskiet het nie, het hulle darem hul vuurwapens op 'n dreigende manier rondgeswaai. En die girls wat vir Face geval het, was in die algemeen meer yummy as die Voortrekker-koekies wat oor die Mac geswymel het.

Kyk 'n mens nou terug, herinner Richard Dean Anderson se karakter 'n mens eintlik meer aan die metroman-avonturiers van die Discovery-kanaal as 'n hardebaard-avonturier wat 'n diktator se ganse militêre bewind met 'n motorbattery en 'n turksvy kan stuit. En hy sal nooit, ooit lelik praat van sy ma, sy hond of sy kunssinnige meisie nie.


So, absoluut betroubaar, maar terselfdertyd voorspelbaar en vervééélig.

En daar's net geen verskoning vir daai bullshit nie. Gee my enige dag 'n karakter met issues (jip, pretty much die hele Marvel-heelal en Batman) en ek wys jou 'n wêreld waarin wit en swart aan grys 'n bestaansreg gee. Dis die mense in die krake wat van die wêreld 'n beter plek maak; nie die 25-jarige maagde op hul morele skoppelmaai nie. Kyk na Hal Hartley se Henry Fool en verlustig jou aan 'n properse anti-held. Soos hy tereg opmerk: "An honest man is always on the run." En moenie dié eerlikheid met die nie-vertel van leuens verwar nie. Dis soos mense wat deure uit vrees sluit, maar nie die sleutel weggooi nie.
Wat ek éintlik wil sê, is die fliekweergawe van The A-Team (foto: babbleon5.wordpress.com) is soos een van daai maagde: Propvol belofte, maar uiteindelik net te veel moeite. En sodra jy oopmond soen moet jy waarskynlik ouers vra. En daarna mag jy nooit weer die lig aanskakel nie. Of hulle hou deurgaans hul oë toe.


En daar's net geen verskoning vir daai bullshit nie.

Ja, Bradley Cooper as Face en ons eie Sharlto Copley as Murdock werk absoluut (om nie eens van Patrick Wilson te praat nie!), maar dis omtrent al. Liam Neeson is alles wat hy nié in Taken was nie; Jessica Biel probeer so hard mean lyk dit raak lagwekkend; en wie ook die dude is wat veronderstel is om B.A. te wees, lyk of hy enige oomblik in trane kan uitbars. Ek bedoel, eerlikwaar, die ander oudsoldaat wat die bad guy is, boesem meer vrees by 'n mens in as enige van die A-span se lede. En die belaglike einde is ewe flou en voorspelbaar.


Nou hoe maak 'n mens nog sulke foute ná al dié jare?

Nee wat, as dit die A-span is wat my uit my verknorsing moet red, is dit maar beter dat hy so moeilik is om in die hande te kry soos die gruisstem-man aan die einde sê. Dan poke ek eerder vir Richard Dean Anderson. Ek wed jou hy's op Facebook.

Tuesday, September 14, 2010

Net te laf, engel


Wat's die bohaai om Salt?

Want ek verstaan dit nie.
Dis 'n standaard-nuwe-millennium-aksiefliek, maar met Angelina Jolie in die hoofrol.

Ek ontken nie vir 'n oomblik Jolie is nié omgewe van 'n spesiale aura nie, maar sy's hier allermins die Jolie waaraan 'n mens gewoond geraak het. In Tomb Raider jaag sy behoorlik jou bloeddruk op; in A Mighty Heart en Changeling gryp sy jou aan die hart. Maar in Salt (foto: blacknailedreviews.blogspot.com) val haar vertolking van 'n tawwie tienie met 'n sagte hart by die krake in, want sy's nie warm of koud nie. En ons weet wat gebeur met diégene ...

Ek kan sommer sien hoe dié karakter verder "ontwikkel" gaan word: Nog twee vervolgflieks a la Jason Bourne waarin die eendimensionele Evelyn Salt bietjie lyf gegee word (en Jolie het dit nodig, al is dit net op fisieke vlak, want sy's net te maar; waar's die lyflike vrou van voorheen?). 'n Spook uit die geskiedenis hier; 'n nuwe liefde daar en siedaar! 'n Kitsproduk van 'n vae gedagte.

Die bemarkingsveldtog om Salt berus skynbaar grootliks op dié gedagte van Bourne-aksie, maar met 'n hot chick in die hoofrol. Gaap! Jy moet heelwat beter doen as in Salt, Angie. Enigeen van Alien se Ripley en Resident Evil se Alice tot Michelle Yeoh en die gemiddelde 24-vrouekarakter sal Salt se gat skop. En in Ultraviolet het Milla Jovovich net soveel beter met lang, swart hare gelyk.

Geen grense word in Salt verskuif nie ­- behalwe dié van geloofwaardigheid - en dis gou duidelik dié fliek dien net een doel: Om 'n konsessie bekend te stel. Salt is maar 'n vroueweergawe van Mission: Impossible se Ethan Hunt. Darem kan 'n tweede Salt-fliek net beter wees as M:I II en M:I III sáám, so dis iets om na uit te sien (op 'n masochistiese manier).

Ek het nog altyd ontvlugting in die fliekteater gevind. Soos Joan Allen se karakter in The Contender opmerk wanneer sy in die Amerikaanse kongresgebou staan: Dié is my tempel. Hier aanbid ek. Maar as Salt die soort "intelligente aksiefliek" is waarmee ek tevrede moet wees, is my geloof aan't wankel. Dis maar net nog van dieselfde ou Hollywood-wors.

En van die eerste proesel was dit maar af.

Sunday, September 5, 2010

Roofdiere sonder byt


Adrien Brody is 'n cool dude.

Hy maak soms effe vreemde rolkeuses (soos ons almal maar), maar hy's een van dié kunstenaars wat sy eweknieë se respek afdwing én 'n kultusnavolging het.

En hy's sommer net acid, china. Soos enigiemand sal getuig wat na die riller Oxygen (1999) gekyk het. En ja, lank voordat sy een van die gekwelde mediese werkers in ER was, was Maura Tierney nog meer gekwel as 'n speurder gewikkel in 'n stryd om oorlewing met Brody se psigopatiese karakter in dié laebegroting-riller. Wonderlike fliek, terloops.

En so reg uit Oxygen stap Brody tien jaar later by Predators in, lyk dit.

Hy sê min; het weer daardie effe geamuseerde, oukei-ko's-doen-dit-en-kry-klaar-uitdrukking op sy gesig; en spog boonop met 'n gekamoefleerde BFG en 'n nog amper groter mes. O ja, en vir so 2 min. kan jy die resultaat van kreatien, proteïenskommels en swaar gewigte bewonder (foto: justjared.buzznet.com). Maar dit, en 'n wonderlike openingstoneel, is maar dit wat betref Predators.

Ongelukkig, want ek't nogal uitgesien na dié een. Dis 'n cool konsessie; die stamboom is daar; Brody is kickass; Robert Rodriguez is die vervaardiger; en Nimrod Antal, wat die kykbare Vacancy (2007) gemaak het, die regisseur. Maar Predators, wat skynbaar veronderstel is om op die eerste een met Arnie te volg, is vervééélig. En dis so blêrrie voorspelbaar jy wil huil.
Hier's 'n goeie idee: As jy agterkom jou fliek se vermaakwaarde neig na dié van 'n idiotiese staker met 'n vuvuzela en vinnige voete, en jy sit met die oulike Alice Braga in een van die hoofrolle, laat een van die Predators dan haar hemp afruk. Of so iets. Enigiets, man, enigiets. Net solank dit my actually lus maak om na die skerm te kyk. Nie eens die betroubare Laurence Fishburne, wat sy bes probeer om 'n Dennis Hopper op ons ass te trek, kan sake beredder nie.

Dankie tog ek't in Eastgate na Predators gaan kyk, want die beeld en klank was so swak en my mede-teatergangers so vermaaklik ek't amper kaartjies na Joburg Day begin uitdeel.
As die groepie te-cool-vir-my-wit-wessie-hoërskoolseuntjies links van die paadjie nie kliphard kommentaar lewer nie, is dit die gesinnetjie van vyf wat hom so driekwart deur in die ry agter ons kom tuismaak en terstond begin selfone en selfoonfunksies vergelyk. Ek kla nie, hoor. Want dis die seuns se reaksie wat my opnuut laat besef het op watter mark dié soort flieks deesdae gemik is.

Ek en my destydse swaer - 20 jaar my senior - het nog saam na John McTiernan se Predator (1987) gekyk. En dit ewe veel geniet. Ons het gedink dis friggin' awesome. Maar Predators, soos die meeste hoofstroomflieks deesdae, is op snotneuse met ADD of wanhopige, middeljarige vroue gemik. Dis 'n verbeeldinglose fliek wat opnuut, soos soveel flieks deesdae, die indruk skep dis om 'n vae gedagte en een of twee goeie tonele gebou.

Dis miskien cool vir generasie Y, maar nie vir iemand wat dit deur die dag kan maak sonder om Facebook of Twitter te acces nie.

Friday, August 27, 2010

Die wortel van die kwaad


Waaraan het die geskiedenis die Nazi's te danke?

Was dit suiwer daardie nasionaal-sosialistiese drang tot selfgelding en die skep van 'n opperryk, gepas vir 'n superras?
Hoekom is die arme Jode so vervolg en gemartel?
Hoekom was die Nazi's so bloeddorstig?
Waarom doen mense die dinge wat hulle doen; beskou hulle hul as verhewe bo ander?

Die rolprentmaker Michael Haneke, 'n man wat talle fliekgangers erg afskrik, bied in sy bekroonde The White Ribbon (Palm D'Or in Cannes; foto: csmonitor.com) 'n nuwe en, durf ek sê effe simplistiese?, blik op van die redes vir die Tweede Wêreldoorlog se afgryslikhede. Dis 'n sielkundige riller, maak geen fout nie, en in tipiese Haneke-styl los hy die ergste vir dit wat sy fliekgangers se verbeelding kan oplewer. En hoewel sy redenasie dalk oorvereenvoudig is, beteken dit nie dis 'n eenvoudige fliek nie. (Die dag wanneer ek kan sê Haneke het 'n "eenvoudige" fliek gemaak, sal ek begin bekommerd raak.)

The White Ribbon is 'n onthutsende blik op vaders se vergrype; die godsdiens-rottang; en kinders wat lank nie meer kinders is nie.

Die verhaal speel hom kort voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 'n plaasdorpie in die noorde van Duitsland af. Die verteller is die dorp se skynbaar naïewe onderwyser (net genoem "die onderwyser"), wat uit die staanspoor verklaar sy vertelling kan lig werp op "wat later in ons land gebeur het". Die dorp, waarvan die meeste inwoners vir die feudale heerser ("die baron") werk, word vasgevang in 'n rits vreemde en onverklaarbare gebeure.
Eers struikel "die dokter" se perd en die geneesheer word beseer; 'n vrou wat vir die baron werk sterf wanneer sy in die meule beland; die baron se koolkoppe loop deur; sy jong seun word aangerand; "die voorman" van die baron se baba word onverklaarbaar siek; later loop ook die vroedvrou se verstandelik gestremde seun deur. In laasgenoemde geval is daar 'n nota by: Die kinders sal weens hul vaders se oortredings gestraf word, word verklaar.
Ook sentraal staan "die pastoor" en sy vorm van dissipline: 'n rottang in die een hand en in die ander 'n wit lint vir sy dwalende skapies; 'n herinnering van hul onskuld en suiwerheid. In die slottoneel pryk dié linte nog opsigtelik aan sy twee oudste kinders, maar teen dié tyd weet die kyker dis 'n futiele en ironiese teregwysing.

Haneke is 'n meester wanneer dit by die kombinering van skoonheid en boosheid kom en hier verbeeld hy dit in die sproetgesig-dorpskinders se onheilspellende teenwoordigheid en optrede. Dit blyk reeds in die openingstoneel en word algaande versterk. Teenoor hulle staan die skynheiligheid van die manskarakters en hul impotente pogings tot selfgelding en die handhawing van orde. (Soos hy reeds in flieks Funny Games en Cache gewys het, sien Haneke kinders allermins as onskuldige bloedjies.)
Elke toneel is gelaai van die onheil, baie soos Roman Polanski in sy onlangse The Ghost Writer vermag het. Dit dwing jou om die raampies op 'n half-teensinnige manier deur te kyk op soek na die geringste leidraad. Daar is geen musiek in dié fliek nie en dit, tesame met die uitstekende fotografie, dra tot die kriewelrige gevoel wat die fliek 'n mens gee. Die besonderse swart-wit-tekstuur, terloops, is verkry deur in kleur te skiet en die kleur in die rederingsproses te dreineer (soos die geval was met Pleasantville).

Geen raaisels in The White Ribbon word opgelos nie. Geen skuldige ry aan die pen nie en dié mense wat die pad vat of verdwyn, los nie gerieflikheidshalwe briefies agter ter verduideliking nie. Soos dit 'n goeie rolprentmaker betaam, stel Haneke sy saak op sy manier en hy laat dit aan die kyker oor om sy eie gevolgtrekkings te maak.
In hierdie geval wil jy amper sê: Siestog, die arme Nazi's. As my pa streng was; as my pa my betas het; as my baas my (na my mening) bevark het, sou ek ook miljoene mense uitgemoor het.

Dalk is ek oorkrities.

Dalk plant Haneke bloot die saadjie wat so twee dekades later tot uitbarsting gekom het. Vir my was die fliek se sleuteltoneel aanvanklik die bombastiese baron se moedelose vrou se opmerking oor die dorp en sy inwoners: Sy kan die afguns, haat en nydigheid nie meer verdra en vat die pad.
Maar nog 'n toneel sluit nou daarby aan: Die pastoor se een seun merk teenoor die onderwyser op: "Ek het God die kans gegee om my dood te maak en hy het nie; dit beteken ek's spesiaal."
Dis soos om te sê, elke keer wanneer jy by die werk of die huis kom: "Ek het die noodlot getart en dit oorleef; ek's bestem vir groter dinge."

So gesien is The White Ribbon amper 'n meesterstuk. Ek hou in elk geval van die fliek, selfs al is dit net omdat Haneke geen musiek gebruik nie. Dit skep 'n nog onheilspellender atmosfeer (of dalk is dit omdat Christopher Nolan 'n mens in Inception van begin tot einde met oorverdowende musiek bombardeer dat ek die stilte kan waardeer).

Monday, August 16, 2010

Ondergeskik aan die 'kuns'


Mense freak uit oor Inception.

Meer as een vriend van my verklaar sommer hier in Augustus reeds dis die beste fliek van die jaar. Elkeen het 'n teorie oor die verloop; die einde; die "kicks"; Leonardo DiCaprio se groeiende status as voorslag-akteur ... en wie's daai awesome dude wat "pointman" speel?

Dis Joseph Gordon-Levitt, een van die min jong akteurs wat by Ryan Gosling kan kers vashou (kyk na die lysie titels regs vir Gordon-Levitt se beste sover). En hy is awesome, ja. Nie dat hy - soos almal behalwe Leo met sy kenmerkende seunsfronsie en adolessente stoppel - veel te doen het nie. En selfs probeer Leo hoe hard, die lieflike Marion Cotillard steel die kollig elke keer wanneer sy haar abrupte en dikwels pleinweg vreesaanjaende verskyning maak. Ek kry maar nie byt aan die kêrel nie; dis of hy ondanks stoere pogings (hy was heel kykbaar in Shutter Island) nog te maklik na eendimensionaliteit neig.

Maar Leo se spel - en sy kollegas se gebrek daaraan - is nie die probleem met Inception nie.

Christopher Nolan is.

Nolan, skrywer en regisseur, is besig om in dieselfde skynbaar onvermydelike slaggat as ander monster-fliekmakers te trap: Hy raak te slim vir homself. En ek sê dit met respek, want dieselfde het al heelwat beter fliekmakers as hy - van Steven Spielberg tot Wes Anderson - oorgekom. Gaan dit noodwendig met die al hoe groter begroting gepaard dat die karakters se ontwikkeling in die slag bly soos die rekenaareffekte en aksie toeneem? En ja, die rammelende Avatar is 'n uitstekende voorbeeld. Dis pateties dat die suksesvolste flieks in die geskiedenis ook met van die eendimensioneelste karakters en eenvoudigste storielyne sit. Ek sidder byvoorbeeld om te dink wat Neill Blomkamp met die "onbeperkte" begroting vir sy volgende fliek gaan aanvang. Dalk is ek onnodig pessimisties; hy verras ons dalk aangenaam (hoop ek vuriglik).

Is Nolan 'n visioenêre rolprentmaker, soos hy deur talle mense bestempel word?

In sekere opsigte, soos die skikking van sy stories en sy hiper-realistiese aanslag, is hy in 'n mate, ja. Maar dit wil voorkom of hy in dieselfde rigting as James Cameron beweeg. Dié het ook met sterker karakters in sy flieks begin, maar hul rol algaande deur die jare afgeskaal tot by die punt waarin daar nie veel plek vir enigiemand anders as die plankdun hoofkarakter en duisende ure rekenaareffekte is nie. Nolan het almal laat regop sit met die briljante Memento, myns insiens steeds sy beste fliek. Hy't Guy Pearce ruimte gegee om sy karakter lyf te gee en dit, tesame met die innoverende storie-verloop, het van dié "mind fuck" 'n meesterstuk gemaak.


Insomnia was niks om oor opgewonde te raak nie, terwyl The Prestige met sy anderwêreldse kloustrofobie weer 'n tree in die regte rigting was.


Die Batman-flieks? Nouja, goed soos hulle is, is hulle nie meesterstukke nie. Nolan het hulle van die strokiekarakter se fantastiese elemente gestroop en van DC se donkerste held 'n skoongesig thirtysomething sonder 'n libido gemaak. Interessant genoeg hang dit nou saam sy steriele uitbeelding van geweld. Daar's baie geweld, maar min bloed. ('n Wyer gehoor is altyd welkom, hoor jy die ateljeemense koer; soveel makliker om 'n 13OL-fliek as 'n 18TGSN-een te bemark.)

Die redenasie agter flieks soos dié, asook Inception, se gewildheid is natuurlik hul andersheid. In Nolan se flieks sukkel hy nog erg om sy kinkels te verbloem en in dié opsig steek hy maar sleg af teen iemand soos David Fincher. Net soos in The Prestige (ironies genoeg, haha!) is die "prestige" in sy flieks dikwels teen so driekwart deur reeds duidelik. En hoewel sy flieks suiwer op meriete geoordeel deurgaans minstens goed is, is dit die lokprente en die internet-babbel wat hulle tot iets meer verhef. Sou The Dark Knight, byvoorbeeld, so goed gedoen het as Heath Ledger nie die emmer geskop het nie? Sou ons opgewonde geraak het oor Inception as ons nie in die lokprent gesien het hoe die geboue oor mekaar gevou word nie?
Hoeveel keer kan ek na 'n Nolan-fliek kyk? Hoeveel keer WIL ek?

Eisj, nie eintlik nie.


Cloverfield is weer op DStv. Nog 'n fliek wat danksy slim bemarking aanvanklik die rekords laat spat en toe stoom verloor het. En tog kyk ek eerder weer na hom, en na Tim Burton se Batman, as na The Dark Knight. Of Inception.