Tuesday, November 15, 2011

Die kaalkop-waarheid


Dis waagmoedig om ‘n kankerstryd as ‘n komedie te bemark; mense neem tog so vinnig en uit beginsel aanstoot.

Maar hoewel 50/50 die verwagte emosionele knoppies druk wanneer hy sy deurslaggewende slottonele bereik, is die komedie-element allermins ‘n oorrompelende een.

Dis nogal moeilik om besonder entoesiasties te raak oor dié fliek, wat met ‘n sterk rolverdeling en hope belofte spog. Die groot probleem is daar’s niks nuut of grensverskuiwend nie. En dis ‘n slegte ding om van ‘n Joseph Gordon-Levitt-fliek te moet sê, want baie van sy flieks – Mysterious Skin, Brick en The Lookout – was nog altyd spesiaal. Maar in 50/50 bevind hy hom tussen die boom en die bas.

‘n Mens kan verstaan wat Gordon-Levitt en Jonathan Levine, regisseur, met Adam, die hoofkarakter, wil doen. Hy’s ‘n stil, netjiese kêrel wat geen kanse waag nie en doen wat van hom verwag word. Hy raak nie eens ontsteld oor die feit dat sy loskop-kunstenaarsmeisie (Bryce Dallas Howard) maande laas met hom seks gehad het nie. Selfs sy kankerdiagnose en -behandeling word heel rustig verwerk. Die probleem is, Adam is so ‘n vaal seun en toon so ‘n gebrek aan emosie dis moeilik om enigsens by hom of sy uitdagings – dis nou enigiets van sy vrees om te bestuur en sy “moeilike” ma (Anjelica Houston) ¬tot sy onervare berader (die oulike Anna Kendrick van Up in the Air-faam) – aanklank te kan vind.

Dis waar Seth Rogen as Kyle, Adam se beste vriend, in die prentjie kom. Hy’s die teenoorgestelde van Adam; luidrugtig; nie bang om laat te wees vir werk nie; en ‘n haan onder die henne. ‘n Tipiese Rogen-vertolking, dus, behalwe vir die feit dat sy karakter nie sukkel om aantreklike vroue huis toe te vat nie.

Levine, veral bekend om die tienerriller All the Boys Love Mandy Lane, volg nogmaals die gebaande weg. Hy daag nie die genre-grense uit nie en ontlok geen aardskukkende vertolkings van sy hoofspelers nie. Die probleem lê dalk by die skrywer, Will Reiser, se stereotipiese karakters; hulle is amper lagwekkend eendimensioneel en hul optrede voorspelbaar – van die kankerhandleidings en ondersteuningsgroepe wat in die geheim gepleeg word tot die kroegbesoeke om die kanker as verleidingstaktiek te kan gebruik. Dis veel gesê as talentvolle akteurs soos Gordon-Levitt en Houston sukkel om te oortuig.

Daar’s wel ‘n paar snaakse en aangrypende tonele, maar dit sal met dié gegewe moeilik wees om dit nié te kan vermag nie. Uiteindelik is die uitdaging van dié storie, om ‘n jong man se kankerstryd op ‘n humoristiese manier uit te beeld, te groot vir Levine en Reiser.

Wat was hul doen-lysie toe hulle met die verfilming begin het? En, wees eerlik, dit kan omtrent enige soortgelyke storie geld:
1. Hoofkarakter teruggetrokke en kommunikeer sleg; kankerdiagnose laat hom familie, vriende opnuut waardeer.
2. Meisie “cope” nie met situasie nie en verhouding verbrokkel.
3. Vriende, familie doen hul deel om hom te help.
4. Onverwagse band met jong, onervare berader.

Tiek, tiek, tiek en tiek.
Gaap.
DVD-winkel: Vanishing Point!

Friday, October 7, 2011

Net in die flieks, pragtig


Anders as wat die geval met die vervelige No Strings Attached was, kan mens jou wrintiewaar bly sit totdat die slottoneel in Friends With Benefits vervaag.

Dié twee romantiese komedies is nog een van daardie Hollywood-verskynsels soos mens ook met Armageddon en Deep Impact; Dante’s Peak en Volcano gesien het: Melk die koei vir al wat hy werd is en die beste deel van die hele oefening is dat mens nog jare later a la Lou Reed se Wild Child laataand en vele alkoholiese drankies later kan redekawel oor watter een beter is. (Dis ‘n hartseerpartytjie op enige dag, daai.)

Teen die Justin Timberlake-verwagting in is Friends With Benefits ‘n heel vermaaklike fliek. Ja, die skynbaar onvermydelike “kyk, ek’s ‘n wêreldbekende sanger en danser”-tonele is daar, maar Timberlake is nie so steurend dat die rabbedoe Mila Kunis se groot oë (onder meer) nie die herinnering daarvan kan laat vervaag nie.

En, wonder bo wonder vir ‘n romantiese komedie, is die slottoneel nie ‘n jaagtog of swemtog of valskermsprong of deurdrenk van Hollywood-reën nie. Dié het in elk geval nog net omtrent twee keer gewerk – in Breakfast at Tiffany’s en Four Weddings and a Funeral – en dit hoort nooit weer in die slottoneel van ‘n romantiese komedie nie. Dis eerder ‘n fliek wat deurgaans sy momentum behou en nie op goed soos toilethumor of karikatuuragtige karakters of totaal onvanpaste storie-afwykings steun nie.

Dis ‘n pluimpie vir die regisseur Will Gluck, wat nog ‘n groot fliek gaan maak. Sy debuut was die uitsonderlik prettige skoolkomedie Fired Up! en hy het dit vroeër vanjaar met die Emma Stone-baken Easy A opgevolg. Terloops, dis inderdaad Stone se gesig op die foon wanneer Timberlake se eks hom bel. Nog ‘n Easy A-verwysing is die naambordjie van O. Penderghast wat Kunis se karakter op die lughawe annekseer.

Benewens sy hoofspelers se ewewigtige spel – hoewel Kunis se manewales soms oordadig is; sy’t nie die inherente coolheid van iemand soos Zooey Deschanel of Lizzy Caplan nie – lê die fliek se bekoring in die rustige pas wat Gluck handhaaf en die balans wat hy tussen die onderskeie elemente vind. Dis amper of die fliek sy eie weg vind, soos dit seker veronderstel is om in verhoudings te gebeur. En hoewel mens moet wonder hoe die nuut aangestelde en onervare kreatiewe direkteur van ‘n tydskrif soos GQ skynbaar min tyd op kantoor hoef deur te bring, moet mens onthou die werklikheid het net plek-plek plek in Hollywood. En die onderskeie brandpunt-kwessies – soos Timberlake se hantering van sy pa (die altyd kykbare Richard Jenkins) se siekte – word wel heel gerieflik opgelos, maar dis nie regtig waaroor dit gaan nie.

Eintlik doen Gluck en sy drie medeskrywers heel goed daarmee om aan die storie ‘n skynsel diepte te gee en dit word versterk deur nog gerekende byspelers soos Patricia Clarkson as die nou-hier-nou-daar-ma en Woody Harrelson as die gay kollega.
As jou hoofkarakters liggewigte soos Timberlake en Kunis is, kan die byspelers sake dikwels beredder (nie dat dit hier nodig is nie). Dis nou maar die Hollywood-resep en daarmee moet ‘n mens verlief neem: Die hoofkarakters het altyd oulike, vreemde, anderster vriende en/of familie wat ampertjies die kollig steel, maar hulle’s net effentjies te dwarstrekkig vir opgevoede geselskap. Dis soos mense met kinders – verdra moet hulle verdra word.

Nog ‘n bron van irritasie is die fiktiewe fliek waarna Kunis-hulle en waarvan die gebeure in die storielyn neerslag vind. Sulke foefies laat mens altyd wonder of die fliekmakers nie genoeg vertroue in hul storie en karakters het dat dié op hul eie bene kan staan nie.

Gelukkig vir die bogemiddelde kyker – dis nou die fliekganger wat toemond kou en nie in die teater SMS nie – probeer Friends With Benefits niks meer wees as al sy dele saam nie. En onthou, New York is koning, of so iets.

Sunday, October 2, 2011

Vars soos afspraak-verkragting

‘n Vriendin se geskeide kêrel is ‘n welgestelde, Engelse Jood van Kaapstad se suidelike voorstede. Hy’t ‘n 18-jarige seun en ‘n 14-jarige dogter en my vriendin vertel die vreesaanjaendste goed van hoe die tieners in dié kringe tekere gaan.

Die 14-jarige se 17-jarige kêrel kom kuier en hy slaap sommer oor. En nie in ‘n afsonderlike vertrek nie. Hul idee van ‘n gesinsete aan tafel is, wel, bloot ‘n gedagte.

Ek’t daaraan, en aan voorslag-Afrikaner-adel soos die Waterkloof-vier, gedink toe die storie in die Australiese fliek Wasted on the Young sy voete vind. Dis ‘n riller oor ‘n oulike matriekmeisie by ‘n private skool wat op ‘n partytjie deur die swemspan se kaptein en sy regterhand verkrag word en die rol wat sosiale media in die teistering van ‘n persoon kan speel.

Ben C. Lucas, skrywer en regisseur, het ‘n fliek gemaak wat mens tot ‘n punt laat kriewel. Die vrae wat hy stel is pertinent, hoewel hy nie sy woorde versigtig kies nie. Dis jammer hy raak gaandeweg so meegevoer dat sy fliek verval in onwaarskynlikhede en ‘n grandiose, idealistiese ontknoping. Sy visuele foefies – veral die SMS-taal wat bo-oor die karakters vertoon word – help ook net deels; die flikkerbeelde wat as waarskuwing teen skoolslagtings moet dien, is uiteindelik maar koue pampoen. Dit maak van Wasted on the Young meer Eva Mendes se Live! as Gus Van Sant se Elephant.

Daar’s ‘n sterk ooreenkoms met Rian Johnson se supercool Brick in die oorbeligte, amper mafia-agtige uitbeelding van die skoolhiërargie en die verwyderdheid van enige gesagsfiguur. Vir dié kinders is ouers en onderwysers nie te onderskei van die swembadtoerusting en swartbord nie en hulle dien een doel: Gee daardie geld – ook vir dwelms – en koop daardie kar, skootrekenaar en slimfoon en moenie vrae vra nie!

Nog iets tel in Wasted on the Young se guns: Lucas het sy akteurs goed gekies in die sin dat die hoofspelers sag op die oog is; sonder dat hulle na ekstras in High School Musical lyk. Die spel is wel middelmatig, maar dis van sekondêre belang soos Lucas sy skuiwe op die redigeer-bord maak. Dat die boodskap gebring word, is hier belangriker as die boodskap se inhoud.

En die boodskap is, soos, so verlede jaar. Nie een van die kinders pluk eens ‘n iPad uit nie.

Monday, September 19, 2011

Jy is ook ek, jou monster


‘n Mens kan verstaan waarom ‘n genre soos gruwelflieks gewild is; Jan Alleman wil steeds ontvlug, maar dis darem lekker om te sien hoe die bloed fantasties spat en die moordenaar skynbaar net nie daardie donker dors geles kry nie.

Alleman kan uiteindelik ‘n sug van verligting slaak, want die gebeure is so vergesog hy kan hom daarin verkneukel, terwyl hy homself terselfdertyd op die skouer kan klop omdat hy hom waarskynlik nooit in ‘n soortgelyke, lewensbedreigende posisie sal bevind nie.

‘n Goue middeweg, dus.

Min mense hou daarvan om deur die harde werklikheid gekonfronteer te word wanneer hulle eintlik vir ‘n wyle van daardie werklikheid wil ontsnap. Onthou, Alleman is eintlik sielsongelukkig, sal sielkundiges verklaar. Hoe anders verkoop verkoop mens ontvlugting? Wat’s ‘n sosiale netwerk anders as vriendskap sonder enige verpligting?

Daarom is dit maar moeilik om deur flieks soos Funny Games, In the Bedroom of Savior te sit (millenniale kan in elk geval nie langer as 42 min. op een ding fokus nie). Dis net “te veel (werklikheid)”, sal fliekgangers verklaar. Waarom ‘n storie sonder ‘n silwerrantjie vertel en boonop geld betaal om daarna te gaan kyk? En tog bied sulke flieks, dink maar aan Paradise Now en White Ribbon ook, ‘n blik op die menslike toestand wat mens vasgenael hou.

Die Oscar-benoemde Incendies, gegrond op Wajdi Mouawad se gelyknamige verhoogstuk, hoort in dié geselskap. Dis ‘n skokkende ontdekkingsreis en blik op ‘n vrou en ma se gees wat in sy laaste stuiptrekkings die hardste en triomfantelikste uitroep. ‘n Tuiskoms, maak nie saak hoe traumaties die reis of die bestemming se plek nie, is steeds ‘n tuiskoms.

Die vaderlose Kanadese tweeling Jeanne en Simon se reis tel spoed op met die lees van hul ma, Nawal, ‘n vrou wat hulle nie verstaan het nie, se testament. “Gaan na die Midde-Ooste (die land word nooit geïdentifiseer nie) en vind jul pa.” Dit gedaan, wag daar nog twee briewe…

Denis Villeneuve, regisseur, skik sy storie soos ‘n kruising tussen ‘n dokumentêre prent en ‘n riller; die deurslaggewende oomblikke word verskuil en tref mens soos ‘n hamerhou teen die voorkop, terwyl die soms groteske gebeure as ‘n onveranderlike gegewe voorgehou word. Die voordeel van ‘n terugblik, seker. Dit slaag grootliks, hoewel Villeneuve die kyker tog, skynbaar doelbewus, met dié aanslag ook op ‘n afstand hou. Dit versag die fliek se impak effens, iets waaraan Funny Games se Michael Haneke hom nie sommer skuldig maak nie.

As die geteisterde Nawal lewer Lubna Azabal van onder meer Paradise Now-faam ‘n ontsagwekkende vertolking. Sy skep die beeld van ‘n later afgestompte vrou; skynbaar magteloos teen die aanslae van ‘n wêreld waarin ideologieë swaarder as menslikheid weeg. Dis eers in die ontknoping dat mens daaraan herinner word afgestomptheid is maar net nog ‘n front wat die sleutel tot oorlewing – in dié geval met jong kinders en boonop in ‘n vreemde land – kan hou.

Incendies, met sy treffende teenstelling van die droë, sondeurdrenkte Midde-Ooste en die vaal koue van Kanada, is ‘n vreesaanjaende huldeblyk aan mense wat nie tou opgooi nie; aan nooit ophou glo daar’s meriete in enigeen en elkeen se seining nie. Soms word jy daartoe gedwing; ander kere is dit ‘n eienskap wat jy op eie houtjie moet ontdek. Die hoop beskaam nie dat ons pad nie dieselfde roete as Nawal s’n (hoef te) volg nie.

Wednesday, September 14, 2011

Kap dit af, kap dit af


Een van twee benaderings word vir The Tree of Life vereis.

Een:
Moenie geld bestee om daarna te gaan kyk nie, want dis ontsaglik selfbewus en vervelig.

Twee:
Leef jou vooraf in ‘n besonder swewende, peinsende, metafisiese luim in (die pretensieuse kollegas bekend aan ons almal) en beskou die National Geographic-agtige gegewe as soortgelyk aan dié in The Thin Red Line, maar sonder die aksie, progressiewe storie, stewige vertolkings of minstens halfvolgbare dialoog.

Want The Tree of Life is skynbaar veronderstel om die kluisenaar-fliekmaker Terrence Malik se 2001: A Space Odyssey te wees; sy blik op die lewe, die heelal en sommer alles. Als aan die hand van ‘n wanfunksionerende gesin van Texas in die 1950’s se wedervaringe – van sy drie seuns se geboorte totdat hulle daar wegtrek en die gesinslede mekaar uiteindelik op ‘n strand in die hiernamaals weer raakloop.

Ja, ons weet die lewe is morsig en onregverdig en niemand is volmaak nie en pa’s kan diktators wees en ma’s die sout van die aarde en kinders vang kattekwaad aan, dankie. Daarby voeg Malick niks. En die tonele waarin Sean Penn as die nou volwasse probleemseun (Hunter McCracken vergestalt sekerlik een van die mees onsimpatieke karakters sedert George W. Bush in Fahrenheit 9/11) die wêreld uitdrukkingloos beloer, is so onnodig soos verduidelikings oor waarom Bismarck du Plessis teen die All Blacks van die veld gehaal is.

Ongelooflik genoeg kry die akteurs in ‘n looptyd van 2 uur en 20 minute nie veel kans vir enigiets wat as ‘n gesaghebbende vertolking bestempel kan word nie en ding op gelyke voet met die onsamehangende beeldmateriaal mee. Dit laat die kyker onbetrokke en, nog erger, onbelangstellend.

Gedane sake het g’n keer nie en die paar uur wat mens in die Tree of Life-teater verwyl, gaan jy nooit terugkry nie. Malick sou in dié geval met ‘n baie, baie sterk redigeerder kon doen. Almal weet die man versamel duisende ure beeldmateriaal en dis seker g’n maklike taak om dit tot ‘n samehangende geheel te sny nie, maar die fliek is so vervelig mens wonder hoe dit vir uitreiking op die kringloop kwalifiseer.

Dis dalk goeie bronmateriaal vir koffietafel-gesprekke deur kwasi-intellektuele wat nooit Days of Heaven gesien het nie.

Thursday, August 25, 2011

'Dis net nie meer veilig vir jou hier nie'


J.J. Abrams se Super 8 is so ‘n onbeskaamde en eenvoudige oefening in die nostalgie mens vergewe hom al die gate in sy storie.

En dis nie sommer enige nostalgie nie, maar die Steven Spielberg-soort van die 70’s en 80’s. Spielberg, medevervaardiger van Super 8, se klassieke VVV-flieks Close Encounters of the Third Kind en E.T.: The Extra-Terrestrial lyk na die bronmateriaal vir Abrams se weergawe van kinders wat beter “sien” as grootmense en (veral) gesinstrauma beter kan hanteer omdat hulle soveel meer “in die oomblik” (om dit postmodernisties te hou) leef.

Maar ‘n huldeblyk is noodwendig ook ‘n viering van die onderwerp se sleuteleienskappe en derhalwe clichés. In “die ewige seun” Spielberg se geval is dit die te-slim-vir-hul-eie-beswil kinders wat bo hul moeilike huislike omstandighede uitstyg; stiksienige en eendimensionele volwassenes en onbuigsame gesagsfigure; en ‘n minder dreigende besoeker van die buitenste ruim wat graag sy weg huis toe wil vind.

Oorspronklik is Super 8 dus allermins, maar as ‘n “huldeblyk” slaag dit 100%. Dit begin reeds by die titel, want Spielberg se generasie rolprentmakers het as skoolseuns reeds 8 mm-tuisflieks begin maak en dié verhaal speel in 1979 af. Abrams skep daardie 70’s-gevoel en -voorkoms reeds van die atmosfeer gelaaide openingstonele en behou dit deurgaans. Mens kan verstaan waarom ‘n storie wat uit ‘n kind se oogpunt vertel word, soveel trefkrag het, want dis dadelik universeel en daardie gevoel van magteloosheid onder die grootmens-samelewing se aanslag is onlosmaaklik deel van kindwees.

Abrams ontlok stewige vertolkings van sy kinderakteurs (dieselfde kan nie van die volwasse akteurs gesê word nie, maar hulle’s in elk geval net klankborde vir die kinders se emosies en kanonvoer vir die “besoeker”) en gee hul wisselwerking a la Woody Allen bykomende oemf deur hulle mekaar te laat doodpraat. In dié chaotiese kolking van puberteit se aanslag is die bykomende krisis waarin die karakters gedompel word net nog ‘n aanslag wat afgeweer moet word.

Joel Courtney is geloofwaardig as die hoofkarakter, Joe, maar dis Elle Fanning as die vrouehoofkarakter, Alice, en Riley Griffiths as die amateur-rolprentmaker en Joe se beste vriend, Charles, wat uitstaande spel lewer. Alice se eerste toneel in Charles se zombie-fliek laat die manne gepas sprakeloos en van daar is net afdraande soos sy al die tonele kaap waarin sy verskyn. En hoewel die volwasse karakters maar hoofsaaklik vensterversiering is, slaag Abrams tog daarin om van hulle in enkele tonele ‘n skynsel diepte te gee, al is dit dan net vir ‘n bietjie afleiding. Dit geld veral die plaaslike fotografiewinkel-werker, wat loshande met die fliek se beste stukkie dialoog (“I can do disco again”) spog.

Baie teleurstellend, ironies genoeg, is die intrige om die ruimtebesoeker, wat die katalisator is. Die “punchline” is iets waarmee Abrams nog altyd sukkel – dink maar aan Mission: Impossible III – en hom tot dusver keer om ‘n meesterstuk te kan maak. Dalk ook maar omdat sy agtergrond in TV is, waar ‘n reeks oor maande strek. Mens kan verstaan dat die ruimtewese nie veronderstel is om die hooffokus te wees nie, maar sy bekendstelling aan die gehoor en gedrag maak min sin.

Die fliek word gebou om die gedagte van die kinders wat iets vreemd afneem, maar die kyker sien die wese lank voordat daar gewys word wat op die film is. En wanneer mens dit wel die eerste keer sien, voeg dit niks by dit wat reeds gewys is nie. Dis ‘n onsinnige ontknoping. Daarby laat sy gedrag mens ook met vrae, soos wat doen hy met die mense wat hy ontvoer (die afleiding is hy eet hulle) en wat’s die verband tussen die ondergrondse konstruksie (bloot ‘n skuilplek?) en die watertoring (sy ontsnapmiddel)?

Maar dit terloops.

Dit gaan nie oor die ruimtewese of die leuenaar-owerheid nie, maar oor die bande met mense met mekaar vorm en die manier waarop trauma daardie bande verstewig of verbreek. En as ‘n herinnering van ‘n tyd toe sulke “eenvoudige” stories die loketrekords laat spat het, slaag Super 8 uitstekend in sy doel.

Tuesday, August 23, 2011

Die lewe is supereenvoudig


Praat van ‘n superkrag.

Die superversadigingspunt vir superheldflieks is al amper op ons.
As hy nie reeds in die supertruspieëltjie verdwyn nie.

Want die een strokiesuperheld ná die ander vind sy/haar weg na die supersilwerdoek (3D, sien?) en, in die meeste gevalle, is dit maar hoogstens supermiddelmatige vermaak. Dis tog jammer geld laat die aarde skommel (draai hy nog? Moeilik om te sê). As dit nie vir Hollywood se beheptheid met miljardrand-lokettreffers was nie, kon ‘n mens ‘n beter gehalte mega-uitreikings (jip, so goed was die onlangse Pirates-flieks nié) verwag. En hier is Marvel Studios deels te verkwalik. Dink daaraan.

Voorheen was ‘n superheldfliek ‘n skaars dier. Mens het dalk een ‘n jaar gesien. Deesdae is dit eerder drie of vier ‘n jaar. Noem daardie magiese “miljard” (ook nie meer vir lank nie, gegewe hoeveel van dié verdieners daar teen dié tyd is) en die pakdraers in die Stad van Engele kry skoon die ritteltits. Vinniger, groter, méér, kreun hulle en doen ‘n vinnige kosteberaming. Kan ons ‘n A-lyster bekostig? Tik-tik-tik. Hmmm…

En van oorspronklik wees is daar nie eintlik meer sprake nie. Ghost Rider kry opnuut lewe; weer met Nicolas Cage. Die Spider-Man- en Superman-konsessies word weer gemelk. Christopher Nolan kan nogmaals aan sy beeld van onaantasbaarheid skaaf wanneer sy derde Batman die lig sien (sou hy graag vir Leo in die naamrol wou sien?). En die lys eindig nie daar nie.

Maar terug by Marvel, wat sy aanvoorwerk vir die uitreiking van The Avengers, vir eers die moeder van alle superheldflieks, nou met Captain America afgehandel het. En dis nogmaals ‘n heel stewige produksie, so in die lyn van Iron Man, The Incredible Hulk en Thor, maar daar kom tog iets kort. Dis daardie gevoel van oppervlakkigheid; van jaag teen die spertyd-duiwel, wat aan mens knaag. En dis superironies, want die Marvel-helde is veronderstel om geteisterde, veelvlakkige wesens te wees.

Iron Man, veral die eerste een, hét dit. Dalk is dit danksy Robert Downey Jr. se magic. Daardie vermoë om ‘n hele storie in ‘n enkele skoot te kan vertel. Dalk is dit Jon Favreau se stewige regisseurshand. Of die geskakeerde wisselwerking tussen Downey Jr. en Gwyneth Paltrow.

Hulk het so bietjie daarvan. Die eerste het Ang Lee se magiese visie, maar die mal pa in die drinkwater het hom gekelder. Die tweede het Edward Norton se behendigheid en Liv Tyler se groot oë, maar super-Norton is nie meer met ons nie. Thor is op sy beurt ‘n knap glansfliek sonder veel van enigiets en, behalwe vir hier heel teen die einde, bevind Captain America hom in dieselfde heelal.

Vergeet mens van ‘n paar superspronge word daar nie veel van die soldaat Steve Rogers se superkragte gemaak nie en mens wonder wat presies Joe Johnston, regisseur, met dié halfterloopse aanslag probeer bereik. Johnston was ook verantwoordelik vir onder meer die genotvolle The Rocketeer (ongelukkig ook vir The Wolfman), maar Captain America het nie naastenby die menslikheid wat in The Rocketeer te bespeur is nie. Daar word gejaag na daardie ontknoping; sonder veel oorweging vir die moontlikhede wat monsterakteurs soos Hugo Weaving, Tommy Lee Jones en Stanley Tucci ‘n storie bied.

Jones kry darem kans vir so twee prettige uitlatings, maar behalwe daarvoor is Captain America ‘n fliek waarin daar streng by die ateljeeriglyne gehou word. Soos: Onthou, Joe, die teikenmark is tienjarige selfoongebruikers, so, baie ontploffings en tonele in stadige aksie, oukei? Die “fanboys” gaan in elk geval kyk, so moenie te veel oor hulle bekommer nie.

Nee wat, ek mis superheldflieks soos die wonderlike Tank Girl en min gewaardeerde Constantine. Klein pogings sonder ‘n vervaldatum. Maar die karakters en storie suig jou in en maak jou deel van daardie wêreld waarin die held miskien superkragte het, maar hy, of sy, is steeds eerstens mens (en verkieslik een wat nie lyk of daar te veel woorde in sy stukkies dialoog is nie).