Thursday, August 25, 2011

'Dis net nie meer veilig vir jou hier nie'


J.J. Abrams se Super 8 is so ‘n onbeskaamde en eenvoudige oefening in die nostalgie mens vergewe hom al die gate in sy storie.

En dis nie sommer enige nostalgie nie, maar die Steven Spielberg-soort van die 70’s en 80’s. Spielberg, medevervaardiger van Super 8, se klassieke VVV-flieks Close Encounters of the Third Kind en E.T.: The Extra-Terrestrial lyk na die bronmateriaal vir Abrams se weergawe van kinders wat beter “sien” as grootmense en (veral) gesinstrauma beter kan hanteer omdat hulle soveel meer “in die oomblik” (om dit postmodernisties te hou) leef.

Maar ‘n huldeblyk is noodwendig ook ‘n viering van die onderwerp se sleuteleienskappe en derhalwe clichés. In “die ewige seun” Spielberg se geval is dit die te-slim-vir-hul-eie-beswil kinders wat bo hul moeilike huislike omstandighede uitstyg; stiksienige en eendimensionele volwassenes en onbuigsame gesagsfigure; en ‘n minder dreigende besoeker van die buitenste ruim wat graag sy weg huis toe wil vind.

Oorspronklik is Super 8 dus allermins, maar as ‘n “huldeblyk” slaag dit 100%. Dit begin reeds by die titel, want Spielberg se generasie rolprentmakers het as skoolseuns reeds 8 mm-tuisflieks begin maak en dié verhaal speel in 1979 af. Abrams skep daardie 70’s-gevoel en -voorkoms reeds van die atmosfeer gelaaide openingstonele en behou dit deurgaans. Mens kan verstaan waarom ‘n storie wat uit ‘n kind se oogpunt vertel word, soveel trefkrag het, want dis dadelik universeel en daardie gevoel van magteloosheid onder die grootmens-samelewing se aanslag is onlosmaaklik deel van kindwees.

Abrams ontlok stewige vertolkings van sy kinderakteurs (dieselfde kan nie van die volwasse akteurs gesê word nie, maar hulle’s in elk geval net klankborde vir die kinders se emosies en kanonvoer vir die “besoeker”) en gee hul wisselwerking a la Woody Allen bykomende oemf deur hulle mekaar te laat doodpraat. In dié chaotiese kolking van puberteit se aanslag is die bykomende krisis waarin die karakters gedompel word net nog ‘n aanslag wat afgeweer moet word.

Joel Courtney is geloofwaardig as die hoofkarakter, Joe, maar dis Elle Fanning as die vrouehoofkarakter, Alice, en Riley Griffiths as die amateur-rolprentmaker en Joe se beste vriend, Charles, wat uitstaande spel lewer. Alice se eerste toneel in Charles se zombie-fliek laat die manne gepas sprakeloos en van daar is net afdraande soos sy al die tonele kaap waarin sy verskyn. En hoewel die volwasse karakters maar hoofsaaklik vensterversiering is, slaag Abrams tog daarin om van hulle in enkele tonele ‘n skynsel diepte te gee, al is dit dan net vir ‘n bietjie afleiding. Dit geld veral die plaaslike fotografiewinkel-werker, wat loshande met die fliek se beste stukkie dialoog (“I can do disco again”) spog.

Baie teleurstellend, ironies genoeg, is die intrige om die ruimtebesoeker, wat die katalisator is. Die “punchline” is iets waarmee Abrams nog altyd sukkel – dink maar aan Mission: Impossible III – en hom tot dusver keer om ‘n meesterstuk te kan maak. Dalk ook maar omdat sy agtergrond in TV is, waar ‘n reeks oor maande strek. Mens kan verstaan dat die ruimtewese nie veronderstel is om die hooffokus te wees nie, maar sy bekendstelling aan die gehoor en gedrag maak min sin.

Die fliek word gebou om die gedagte van die kinders wat iets vreemd afneem, maar die kyker sien die wese lank voordat daar gewys word wat op die film is. En wanneer mens dit wel die eerste keer sien, voeg dit niks by dit wat reeds gewys is nie. Dis ‘n onsinnige ontknoping. Daarby laat sy gedrag mens ook met vrae, soos wat doen hy met die mense wat hy ontvoer (die afleiding is hy eet hulle) en wat’s die verband tussen die ondergrondse konstruksie (bloot ‘n skuilplek?) en die watertoring (sy ontsnapmiddel)?

Maar dit terloops.

Dit gaan nie oor die ruimtewese of die leuenaar-owerheid nie, maar oor die bande met mense met mekaar vorm en die manier waarop trauma daardie bande verstewig of verbreek. En as ‘n herinnering van ‘n tyd toe sulke “eenvoudige” stories die loketrekords laat spat het, slaag Super 8 uitstekend in sy doel.

Tuesday, August 23, 2011

Die lewe is supereenvoudig


Praat van ‘n superkrag.

Die superversadigingspunt vir superheldflieks is al amper op ons.
As hy nie reeds in die supertruspieëltjie verdwyn nie.

Want die een strokiesuperheld ná die ander vind sy/haar weg na die supersilwerdoek (3D, sien?) en, in die meeste gevalle, is dit maar hoogstens supermiddelmatige vermaak. Dis tog jammer geld laat die aarde skommel (draai hy nog? Moeilik om te sê). As dit nie vir Hollywood se beheptheid met miljardrand-lokettreffers was nie, kon ‘n mens ‘n beter gehalte mega-uitreikings (jip, so goed was die onlangse Pirates-flieks nié) verwag. En hier is Marvel Studios deels te verkwalik. Dink daaraan.

Voorheen was ‘n superheldfliek ‘n skaars dier. Mens het dalk een ‘n jaar gesien. Deesdae is dit eerder drie of vier ‘n jaar. Noem daardie magiese “miljard” (ook nie meer vir lank nie, gegewe hoeveel van dié verdieners daar teen dié tyd is) en die pakdraers in die Stad van Engele kry skoon die ritteltits. Vinniger, groter, méér, kreun hulle en doen ‘n vinnige kosteberaming. Kan ons ‘n A-lyster bekostig? Tik-tik-tik. Hmmm…

En van oorspronklik wees is daar nie eintlik meer sprake nie. Ghost Rider kry opnuut lewe; weer met Nicolas Cage. Die Spider-Man- en Superman-konsessies word weer gemelk. Christopher Nolan kan nogmaals aan sy beeld van onaantasbaarheid skaaf wanneer sy derde Batman die lig sien (sou hy graag vir Leo in die naamrol wou sien?). En die lys eindig nie daar nie.

Maar terug by Marvel, wat sy aanvoorwerk vir die uitreiking van The Avengers, vir eers die moeder van alle superheldflieks, nou met Captain America afgehandel het. En dis nogmaals ‘n heel stewige produksie, so in die lyn van Iron Man, The Incredible Hulk en Thor, maar daar kom tog iets kort. Dis daardie gevoel van oppervlakkigheid; van jaag teen die spertyd-duiwel, wat aan mens knaag. En dis superironies, want die Marvel-helde is veronderstel om geteisterde, veelvlakkige wesens te wees.

Iron Man, veral die eerste een, hét dit. Dalk is dit danksy Robert Downey Jr. se magic. Daardie vermoë om ‘n hele storie in ‘n enkele skoot te kan vertel. Dalk is dit Jon Favreau se stewige regisseurshand. Of die geskakeerde wisselwerking tussen Downey Jr. en Gwyneth Paltrow.

Hulk het so bietjie daarvan. Die eerste het Ang Lee se magiese visie, maar die mal pa in die drinkwater het hom gekelder. Die tweede het Edward Norton se behendigheid en Liv Tyler se groot oë, maar super-Norton is nie meer met ons nie. Thor is op sy beurt ‘n knap glansfliek sonder veel van enigiets en, behalwe vir hier heel teen die einde, bevind Captain America hom in dieselfde heelal.

Vergeet mens van ‘n paar superspronge word daar nie veel van die soldaat Steve Rogers se superkragte gemaak nie en mens wonder wat presies Joe Johnston, regisseur, met dié halfterloopse aanslag probeer bereik. Johnston was ook verantwoordelik vir onder meer die genotvolle The Rocketeer (ongelukkig ook vir The Wolfman), maar Captain America het nie naastenby die menslikheid wat in The Rocketeer te bespeur is nie. Daar word gejaag na daardie ontknoping; sonder veel oorweging vir die moontlikhede wat monsterakteurs soos Hugo Weaving, Tommy Lee Jones en Stanley Tucci ‘n storie bied.

Jones kry darem kans vir so twee prettige uitlatings, maar behalwe daarvoor is Captain America ‘n fliek waarin daar streng by die ateljeeriglyne gehou word. Soos: Onthou, Joe, die teikenmark is tienjarige selfoongebruikers, so, baie ontploffings en tonele in stadige aksie, oukei? Die “fanboys” gaan in elk geval kyk, so moenie te veel oor hulle bekommer nie.

Nee wat, ek mis superheldflieks soos die wonderlike Tank Girl en min gewaardeerde Constantine. Klein pogings sonder ‘n vervaldatum. Maar die karakters en storie suig jou in en maak jou deel van daardie wêreld waarin die held miskien superkragte het, maar hy, of sy, is steeds eerstens mens (en verkieslik een wat nie lyk of daar te veel woorde in sy stukkies dialoog is nie).


Sunday, August 14, 2011

Dis koue pampoen, oom


As jy ’n hele fliek op ’n onwaarskynlike sameloop van omstandighede bou, moet jy seker maak dis ’n boeiende affêre.

Anders sit mens deurgaans en wonder of dit als die moeite werd is. En dan begin die lewe effe beklemmend raak, want die feit dat die springmielies vir ’n verandering vars en smaaklik is en daar’s ys in jou koeldrank begin na die hoogtepunt-kant van jou dag neig.

In die skrywer en regisseur Nick Tomnay se The Perfect Host is die skarnier ’n yslike stukkie toeval waaraan die storiedeur maar swaar hang. Gaan staan en dink jy te diep daaroor na, neig die fliek na ’n amper niksseggende oefening, want die toeval is net te groot. Die trekkrag rus daarom vierkant op die smal skouers van almal se gunsteling-TV-sielkundige se nog neurotieser broer.

Die hoofkarakter is die voortvlugtige bankrower John Taylor (Clayne Crawford), wat hom as ’n vriend van ’n vriend voordoen om toegang te verkry tot ’n voorstedelike huis waar hy kan skuil. Die huis behoort aan die bleeksiel Warwick Wilson (David Hyde Pierce) en hy’s maar te behulpsaam, hoewel Taylor se onverwagte teenwoordigheid sy aandete-planne in die wiele ry. Daar’s ’n slang in die gras; hoe dan anders?

Tomnay se benadering is bepaald lae-begroting en daar’s geen sagte beligting of ’n buitensporige lagie glans nie. Dié kan eerder ’n werklikheidsreeks as fiksie wees. Maar hoe dan gemaak met Wilson se gaste?

Dis goeie bemarking vir ’n onbekende fliekmaker en sy finansiers om ’n bekende akteur in ’n rol te plaas wat die antitese van sy beeld is. Doen hulle dit boonop in ’n heel ander genre is jy reeds gewaarborg van ’n mate van belangstelling. Dié natuurlike sin vir nuuskierigheid – jip, dis die rede waarom die verkeer ook staan in die baan waar die ongeluk nié gebeur het nie – is iets wat Tomnay, waarskynlik onbewus, tot die uiterste misbruik.

Die probleem is dat nóg Crawford nóg Hyde Pierce die aandag hou. Crawford se skisofreniese vertolking wek geen simpatie nie en Hyde Pierce probeer sy TV-beeld so hard nekomdraai dat sy vertolking karikatuuragtig raak. En hoe later hoe kwater. Dit help allermins dat Tomnay so halfpad deur kunsmatig simpatie vir sy karakters probeer skep. Dit kom aangeplak voor en laat die fliek nog verder na bisar oorhel.

The Perfect Host is veronderstel om ’n swart komedie te wees, maar benewens ’n uitstekende godsdiensverwysing is daar nie veel galgehumor nie en die swak verskuilde kinkels is so buitensporig dit maak nie sin nie. Dit herinner eerder aan beter pogings in dié genre – Oxygen en Memento kom ter sprake – en lyk na ’n fliek wat om ’n gedagte en een of twee sleuteltonele – die openingsekwens en die swembadtoneel – gebou is.

Dis nooit goeie nuus wanneer mens na ’n riller kyk en die gehalte van die springmielies en koeldrank lei jou aandag af nie. Koue pampoen hoort nie saam met warm eetgoed nie.

'Epic' insig, pappa


In een toneel in As Good As It Gets sê Greg Kinnear se karakter aan Jack Nicholson se Melvin: “Jou grootste bate is jou bereidwilligheid om jouself te verneder.”

Dis skynbaar ook waar van Afrikaners, veral wanneer dit by Engels kom. ‘n Afrikaner sal hom mos baie makliker in die troebel water van Engels-uitspraak begeef as wat ‘n Engelsman hom dit sal verwerdig om die kombuistaal te besig.

Deesdae, en veral “danksy” sosiale netwerke, is die “gawe” van jou naam plank verhef tot iets wat met beskrywings soos “epic fail” begroet kan word. Dis lank nie meer vernederend om verneder te word nie; eerder die grondslag van ‘n suksesvolle loopbaan as TV-werklikheidster of radiopersoonlikheid. In Suid-Afrika is daar die sprekende voorbeeld van die aanbieder wat in albei dié bedrywe werk en, sodra sy agent meen sy openbare profiel is effe aan’t kwyn, word hy aangemoedig om die een of ander banaliteit oor die lug kwyt te raak en siedaar!

Daar word dan vir ‘n vale geskryf en getwiet oor iets wat binne drie dae tot net-so-goed-soos-nooit-gebeur-nie-status verlaag word. Hierdie lewe-in-die-oomblik-benadering sien ‘n mens toenemend – van die Waterkloof-vier en die 4x4-tref-en-trap-bestuurder tot die Britse jeugdiges wat tekere gaan of daar geen môre is nie. Soos Graeme Smith en Peter de Villiers so graag sê: Dis altyd iemand anders se skuld.

Dis nogal ‘n situasie waarin die karakter Annie (Kristen Wiig) haar in die komedie Bridesmaids bevind. So verinneweer is haar selfbeeld en so groot haar teleurstelling wanneer haar beste vriend haar vir die cool meisie “verruil” sy slaan die oorblyfsels van haar naam met ‘n sjokoladefontein-plank. Dis die toppunt van haar vernedering as beste vriendin en strooimeisie. Hier’s ‘n wenk: Die kombuistee-geleentheid is dalk nie die beste plek om jou frustrasie met genoemde beste vriendin te deel nie.

Maar wag, daar is mos nie meer ‘n regte of verkeerde manier nie. So leer werklikheidstelevisie en sosiale netwerke ons juis.

Want daar’s nie meer ‘n skeiding tussen die openbare en private; dit wat in goeie smaak sou val of as goeie maniere beskou kan word en hul teenpole nie. Soos die modeghoeroes oor hul voete val om te kan verklaar: Als is aanvaarbaar. Solank mense getrou aan hul natuur bly, sien? Moet asb. net nie die natuur skade berokken of jou hibriedmotor stamp nie.

Het ek hardop gelag in Bridesmaids?
Absoluut. ‘n Hele paar keer. Hoe dan anders? Dis vreksnaaks en die karakters oortuig grootliks as moontlik “regte” mense eerder as karikature. Daarby is daar relatief min wriemel- en toilethumor en dit wat daar wel is, soos die rokpas-ramp, word cool uitgebeeld (die heildronktoneel kon gebly het). En hoe kan mens nie van ‘n fliek hou waarin die oulike hoofkarakter (wie’t geweet Kristen Wiig lyk so goed in ‘n bra en broekie?) so laag daal; net om uiteindelik tog ‘n reddingsboei binne bereik te sien dryf nie?

Maar ek’t ook in groot dele met my hand voor my mond gesit. Daar’s so vae ongemaklikheid êrens onder al die springmielies en koeldrank gewees. Ek vermoed dis oor my onderbewuste besef ek sou nie noodwendig ‘n armer mens gewees het as ek nié ‘n blik in dié karakters se binnekamer gehad het nie.

Wednesday, July 27, 2011

Jy kry wat jy sien



Hollywood-grootkoppe hou daarvan om die yslike begroting van die regtige duur flieks te verdedig deur te sê dié (hopelike) lokettreffers se verdienste stel hulle in staat om kleiner flieks met groter “artistieke meriete” te kan maak.

Beteken dit mens moet die groot ateljees ‘n fliek soos Transformers: Dark of the Moon vergewe omdat daar in dieselfde tyd ook ’n fliek soos Win Win uitgereik word? Nie een van die twee is noodwendig ‘n voorbeeld van die beste (of slegste) wat in hul onderskeie genres moontlik is nie, maar so vervelig en kouepampoen is eersgenoemde dit maak van Win Win, wat hoogstens maar ’n bogemiddelde drama is, ’n eksponensieel genotvoller fliek.

En terwyl die klem in Transformers op rekenaareffekte en produkplasing (dis reg, ons held Shia gaan loer sommer op die Duiste motorvervaardiger se webblad na sy meisie se nuwe tjor) val, is dit in Win Win uitsluitlik op die vaardighede van sy sterk rolverdeling.

’n Mens is die skrywer en regisseur Alexander Payne oneindig dankbaar vir Sideways, aangesien dié bekroonde fliek Paul Giamatti van betroubare byspeler tot oorrompelende hoofspeler omvorm het. Sedertdien is sy rolkeuse effe eklekties (van Cinderella Man en Lady in the Water tot Shoot ’Em Up en vroeër vanjaar se uitstekende Barney’s Version), maar dit weerspieël ’n avontuurlustigheid wat hom net tot krediet strek.

In Win Win bevind Giamatti hom in ’n rol wat hom soos ’n handskoen pas: dié van ’n middeljarige kêrel wat, ondanks sy foute, hard probeer om sy kop eerlik bo water te hou te midde van die lewe se aanslae. En hoewel hy nie die diepte haal wat hy in Barney’s Version vertoon het nie, kry hy die kyker nogmaals sonder moeite in sy hoek. Dis daardie algehele gebrek aan dubbelsinnigheid; die ontwapenende alledaagsheid van sy benadering wat die deurslag gee. Giamatti se sukkelende prokureur Mike Flaherty kan enige van ons se pa, oom of man wees.

Teenoor hom is die nuweling Alex Shaffer (hy was gepas verlede jaar die deelstaat New Jersey se o.17-stoeikampioen, berig IMDb.com) se Kyle allermins die stereotipiese, gekwelde tiener. Gooi daarby ’n wonderlike vertolking (die antitese van haar karakter in Gone Baby Gone) deur Amy Ryan as Flaherty se vuurvreter-vrou en Bobby Cannavale op sy beste as Flaherty se beste vriend en die skrywer en regisseur Thomas McCarthy (The Station Agent) wys opnuut hy’t g’n moeite om groot emosie in ’n kleindorpse bestaan raak te boor nie.

Mens kan seker kla oor die storie, wat allermins waterskeidend is, of oor die effe gemaklike ontknoping, wat nooit in gedrang is nie. Dit neem niks weg van die doeltreffendheid van McCarthy se gestroopte benadering en gepaardgaande voorliefde vir natuurlike beligting of van Giamatti en Kie. se stewige spel nie.

Wat Win Win so te midde van Transformers se siellose oordondering opnuut bewys, is dis die flieks met die “klein” oomblikke wat mens bybly en maak dat jy weer en weer daarna kan kyk.

Monday, July 4, 2011

Die vertroue beskaam nie



Wat’s dit wat mense in die oggend laat opstaan?

Gesig was, aantrek, die kinders regkry vir skool en gaan sloeg by die werk. Dis seker maar gewoonte, maar dalk is dit ook potensiaal, oftewel die moontlikheid van iets beter wat kan kom – of dit nou ‘n Stormers-sege, ‘n LED-TV of die volmaakte lewensmaat is.

En dis waarmee die vernuftig vervaardigde wetenskapfiksie-whodunit Source Code van die regisseur Duncan Jones (David Bowie se seun) sy karakters laat: potensiaal. Maar ook, soos dit ‘n behoorlike fliek betaam, met stukkies vlymskerp insig in die basiese elemente van die mens se bestaan. En ‘n skop-in-die-maag-ontknoping waarvoor jy tot die laaste tonele moet wag. Daarby, en in deesdae se oorvloed breinlose vermaak sonder ‘n ons subtiliteit, is Source Code ‘n welkome uitsondering met dié dat hy nooit sy kyker as vanselfsprekend aanvaar en nie sy intelligensie onderskat nie.

Dis ‘n fliek waarin mens nooit jou sit kry nie, want, soos die arme helikoptervlieënier Colter Stevens (Jake Gyllenhaal), weet jy nie wat de hel hier aangaan nie. Hy word in ‘n wildvreemde man se lyf wakker en het net 8 minute tyd om op ‘n voortsnellende verdiepingtrein na ‘n bomplanter te soek, anders word almal op die trein uitgewis - en daar’s ‘n dreigement van nog ‘n aanval. Veel meer vir sy bevelvoerders hom nie vertel nie.

‘n Voor die hand liggende vergelyking is met die vervelige stukkie wetenskapfiksie-romantiek The Adjustment Bureau, wat Philip K. Dick seker in sy graf laat omdraai. Dié se uitgangspunt, dat die liefde selfs ‘n “hoër hand” van plan kan laat verander, vervaag na niksseggendheid langs Source Code se elke-minuut-tel-slaankrag. Laasgenoemde is amper soos ‘n wetenskapfiksie-weergawe van 24 se vroeëre werklikheid gekruis met Groundhog Day-elemente.

Colter, wat boonop met ‘n paar demone van sy eie worstel, moet sy medepassasiers in ‘n oogwink opsom om die moontlike bomplanter te kan identifiseer. Soos die fliek vorder, verskuif sy fokus al hoe meer na hul menswees, en veral na dié van sy “dop” se kollega, die oulike onderwyseres Christina Warren (Michelle Monaghan). Sy amper terloopse waarnemings van haar karaktereienskappe speel toenemend ‘n bepalende rol in sy besluitneming en uiteindelik is die vraag waarmee hy gelaat word, ‘n eenvoudige een: wat doen mens as jy weet jy lewe nog net een minuut?

En dis waar die geheim van Source Code se sukses lê. Dis ‘n wekroep oor die manier waarop mens die wêreld en sy mense benader.

In ‘n ketting-e-pos wys die skrywer op die psigiater Redford Williams se langtermynstudie waarin hy bevind het daar’s ‘n sterk band tussen hartsiekte en “negatiewe” emosies. Mense met ‘n sterk gevoel van vyandigheid – soos ‘n siniese en wantrouige lewensbenadering – se kans is sewe keer groter om nie hul 51ste verjaardag te haal nie, meen Williams.

Midde-in die belangrikste opdrag van sy lewe tref dit Colter soos ‘n voorhamerhou: Hoewel hy nie een van sy medepassasiers kan vertrou nie, gaan dit hom nie help om die bomplanter op te spoor nie. Deur in elkeen van hulle eerder die groter potensiaal van hul beste eienskappe of ‘n oomblik van uitbundig lag te kan eien, maak dit vir hom moontlik om die moelikste besluit van sy lewe te kan neem.

Soos Edward Norton dit aan die einde van sy fliek Keeping the Faith, en ter nagedagtenis van sy pa, stel: Mens moet nooit jou geloof in jou medemens verloor nie.

Monday, June 13, 2011

Vinnig al hoe flouer


‘n Mens kan veel – en nie veel daarvan goed nie – van die vyfde Fast & Furious-fliek sê, maar een ding staan soos ‘n paal bo water: In die snikhete Rio de Janeiro is Dwayne Johnson se FBI-karakter die enigste een wat deurgaans soos ‘n vark sweet.

Dit daar gelaat.

Vele brullende motors, testosteroon, sjoebroekies en niksseggende Neanderdal-geluide vermom as “dialoog” later is die einde vir die Fast & Furious-konsessie skynbaar steeds nie in sig nie.

Van Rob Cohen se oorspronklike, genotvolle daai-wilde-manne-en-hul-bokspringende-krismislig-renmotors-fliek is daar min oor. Dáár was darem nog ‘n tikkie oorspronklikheid en joie de vivre te bespeur; selfs ‘n poging tot karakterontwikkeling, sou mens kon sê. Die Vin Diesel/Paul Walker-kombinasie het goed gewerk en het Cohen se stout-seuns-met-duurder-speelgoed-benadering mooi aangevul. Selfs bleeksiele in 1,1 liter-motortjies het hulle op pad terug huis toe verbeel hulle looi daai tjor dat hy rook en tuis wag ‘n warm Amasone in ‘n denimbroekie en wit T-hemp, gewapen met ‘n bier en ‘n moersleutel.

Sedertdien, en sonder Cohen en stuk-stuk ook sonder Diesel en Walker, het die wiele van Tokio tot Mexiko maar erg afgeval. Diesel is darem sedert no. 4 terug, maar al die silinders wil steeds nie vuur nie, hoewel Justin Lin, regisseur sedert no. 3, hard probeer om die jaagtoertjies so skouspelagtig moontlik te maak. En paradoksaal is dit darem een aspek van no. 5 wat wrintiewaar werk.

Die redenasie agter dié soort flieks is foutloos. Die teikenmark is pragtig vergestalt deur die jeugdige viertal met hul selfone, gebrekkige humorsin en aandag afleibaarheid in die ry agter my. En as daar nou een ding is wat Hollywood goed kan doen, is dit om dié teikenmark vir elke liewe sent van daddy en mommy se geld te melk. Dit verg nie veel nie: Mooi mense in skrapse kleertjies; een of twee one-liners; en ‘n verskoning om chaos te kan saai.

‘n Mens is nie te bekommerd oor Walker se loopbaan nie. Sy beste fliek is Pleasantville en net omdat Reese Witherspoon hom “pin” en so die kleurrevolusie ontketen. Maar die hart bloei vir Diesel en Johnson, wat albei beter as hul gemiddelde fliek is. En in dié fliek blyk dit nog duideliker, want daar’s geen kans om enige mate van identiteit of teenwoordigheid te vestig as elke karakter se totale dialoog uit 25 woorde bestaan nie. So, al wat jy eintlik hoef te doen vir daardie tjek van miljoene rande, is om op te daag.

En daarby, en dis een van die groot Hollywood-ironieë, ondergrawe flieks soos Fast & Furious se aksietonele net mooi al die goeie werk wat deur hiperrealistiese treffers soos The Bourne Identity gedoen word. Maar die teaterstoele word naweek ná naweek volgepak en daarom sal mens seker die een of ander tyd moet besef: Nee, Hollywood, onderskat nié mense se intelligensie nie.