Sunday, June 5, 2011

Diep pyn; vlak storie



Almal sê altyd mens moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie.

Deesdae geld dit enigiets van brandstof en jou meisie tot ononderbreekte kragvoorsiening en mense sonder ‘n chip op die skouer.

Sit Robert Duvall se naam maar ook op dié lysie. Kyk ‘n mens na sy verrinneweerde gelaat waarin die oë nog helder brand, is dit of die jare wegval en hy’s weer Boo Radley in To Kill a Mockingbird. Van Days of Thunder en Gone in Sixty Seconds (dalk moet hy wegbly van kar-flieks?) probeer ‘n mens vergeet, maar sy ontstellende The Prophet en daardie oubekende onverbiddelikheid in Open Range is darem ook in die geheue vasgebrand.

In Get Low is daar ‘n bietjie van albei laasgenoemde karakters in Duvall se Felix Bush, ‘n kluisenaar wat dekades reeds aan die mense van sy dorpie heerlike bangmaakstories verskaf. Dit kry oornag opnuut momentum wanneer hy aankondig hy hou sy eie begrafnispartytjie. Boonop kan mense, teen ‘n skamele $5 per kaartjie, ‘n kans “koop” om sy grond in ‘n trekking te wen.

Wat die “goeie mense van die wêreld” (met permissie van Sheryl Crow) nie besef nie, is dat hulle blote toeskouers is. Dis die sterk punt van dié draaiboek, geskryf deur onder andere C. Gaby Mitchell, wat ook aan Blood Diamond se storie gewerk het. Soos die kerkman Charlie Jackson (Bill Cobb) tereg opmerk: Bush het ‘n manier om ander mense sover te kry om sy wil te doen.

Die geleidelike delf in Bush se motiewe, en Duvall se oudergewoonte oorrompelende, veelvlakkige spel, maak van Get Low ‘n stewige fliek. Daarby het Aaron Schneider, regisseur, die goeie geluk dat die wonderlike Sissy Spacek, ‘n (genadiglik) rustiger Bill Murray en die onderbenutte Lucas Black van American Gothic-faam goeie steun verskaf. Schneider laat hulle hul ding gepas teen ‘n agtergrond van ryk winterkleure doen, maar hy hamer onnodiglik sy boodskap van die boetvaardige-siel-in-limbo vs. die-lewe-wat-aangaan tuis met die kontras wat hy tussen die amper-sepia-bruin van Bush se eiendom en die skynbaar permanente sonskyn by die begrafnisondernemer skep.

Die goeie spel vergoed ook nie vir die gebreke in die draaiboek nie. Bush word as ‘n amper-magiese, onpeilbare karakter gestel, maar die ontknoping skiet ver tekort van die verwagting wat daar geskep word. As ‘n mens so ‘n groot bohaai van 40 jaar se afsondering wil maak, moet jy sorg dat die rede daarvoor iets werklik aardskuddend is – of dit minstens op ‘n aardskuddende manier aanbied. En een van sterk storielyne, dat mense die partytjie mag bywoon as hulle bereid is om aan Bush ‘n “Bush-storie” te vertel, word nooit opgevolg nie.

Die einde is blote melodrama en eintlik maar mosterd ná die maal.

Get Low is in die eerste plek ‘n fliek wat jou laat besef briljante akteurs soos Duvall, Spacek en Murray gaan nie meer lank met ons wees nie. ‘n Mens kan jou daarom opnuut in hul boeiende spel verlustig. Maar Nobody’s Fool of The Short Story is dit gewis nié.

Wednesday, June 1, 2011

Weer sonder donder




Is Thor ‘n fliek?
Ja, dit is.

Is dit iets waaroor ‘n mens opgewonde raak?
As jy nie kan wag dat The Avengers uitgereik word nie, ja.

Dan is dit die moeite werd om van Thor kennis te neem.
Want dit dreun en donder en blits dalk 3D-blinkgepoets, maar dis ook al. Daar gebeur nie veel in Thor wat noemenswaardig is nie, maar dis noemenswaardig dat die fliek gemaak is, want Hollywood kan nie die Avengers-koei melk as ál die spene (net Captain America kort nog) nie daar is nie.

Soos van die meeste superheld-flieks is daar vooraf groot gewag gemaak van dié een. En dis elke keer dieselfde: Jippie, daar kom ‘n fliek van (skryf jou gunsteling se naam hier)! Maar nee, kyk net wie’s betrokke! Dis skokkend! Nee, dis nie! Het jy nie gesien wat hulle op ComicCon gewys het nie?! En so gaan dit tot vervelens toe aan.

Daar’s veral hoopvol na Thor se koms uitgesien, want die regisseur is Kenneth Branagh, daardie gewaardeerde Shakespeare-liefhebber met ‘n gepaste sin vir die teatrale. Want wat anders as grootse teater is Thor (Chris Hemsworth) se verhaal nie? Aan die hemelse hof van koning Odin (Anthony Hopkins) is hy die heethoof wat alles wil regdonner, terwyl broer Loki (Tom Hiddleston) die bedaarde goëlaar is. Wanneer Thor en sy bende amper ‘n tussenplanetêre oorlog ontketen, vervies Odin hom so hy werp Thor (sans sy magte) en dié se magtige hamer, Mjolnir, op die aarde en verval terstond in ‘n diep slaap.

En dis waar die wiele afval.

Want op aarde het die storie soveel trefkrag soos ‘n Natalie Portman-one-liner; Branagh en sy CG-mense het Asgard eenvoudig net te blink en, kom ons wees eerlik, awesome gemaak. Skaars laai Portman se wetenskaplike-karakter en dié se maats die gevalle held op of agent Coulson en sy S.H.I.E.L.D.-makkers konfiskeer als. En skaars wurm Thor, wat, gepas vir ‘n god buff soos môre heeldag lyk, hom in die wetenskaplike se eks se klere in en besef dié aardling is die Die Een (en vice versa) of die hemelse magte tree opnuut tussenbeide.

Dis nou playing by numbers, Marvel. En as jy nie down met die info oor die gebeure in dié heelal is nie, gaan ‘n klomp goed so sinvol soos ‘n verkiesingsveldtog wees. Soos Jeremy Renner met sy pyl-en-boog. En die toneel met Nick Fury héél aan die einde. Als daarop gemik om mooi in te pas wanneer Captain America en later Joss Whedon en sy Avengers eindelik hul opwagting maak.

Intussen kan ‘n mens terugsit en die volkleur-fliekgeboorte van die geteisterde Marvel-helde geniet. En dis nogal iets om te sien, want Marvel Studios het die leisels van dié span perde ferm in die hande en hy weet presies waarheen om te jaag. En ‘n mens kan goeie geld daarop verwed dis nie na Ang Lee se voordeur nie.

Tuesday, May 10, 2011

Soos U2-konsert; met diepte



Hoe oordeel ons mense?

Aan hul dade (ook wat hulle nié doen nie)?
En indien wel, oordeel jy iemand aan sy “gemiddelde” optrede, of is een flater genoeg om ‘n vriendskap of verhouding te kelder?

Die vet weet, daar’s geen formule vir vergifnis nie. Dis seker maar veronderstel om soos aanvaarding te wees: onvoorwaardelik. Maar elkeen het daardie één ding wat nie vergewe kan word nie. Vir sommige is dit wreedheid teenoor bejaardes, kelners en diere; vir ander as dit ‘n soen; vir nog mense seks; vir sommige die verkeerde geloof of vriende.

Waaraan sal ons die TV-vervaardiger Barney Panofsky (Paul Giamatti) oordeel? Hy’s effe van ‘n slonskous en selfsugtig, maar ook ‘n lojale vriend en eggenoot en ‘n goeie pa en seun. Hy drink te veel, maar hy’s ook ‘n hardkoppige kêrel wat niks in sy pad laat staan wanneer hy eers ‘n besluit geneem het nie.

En Barney is vreesbevange. Hy glo (om goeie rede) al lank sy vrou gaan hom vir ‘n alfa-bobbejaan-vriend los en dié vrees word op die spits gedryf wanneer sy (om goeie rede) alleen by hul seun – en die bobbejaan – in New York gaan kuier. Hy drink oudergewoonte te veel; ontmoet ‘n aanvallige vrou; en sy lewe val in ‘n oogwink uitmekaar.

Natuurlik hoef Barney nie te bieg nie. Maar sy gewete vreet hom op. En sy vrou hoef hom nie – vir die bobbejaan – te los nie. Maar haar pa het haar ma herhaaldelik en oor jare heen verneuk en Barney se een keer is vir haar genoeg. Ondanks die feit dat sy, ironies genoeg, in geen stadium vooraf van plan was om hom te los nie.

Eisj, die lewe darem. En dis maar net een – maar wel die deurlopende – tema van die biografiese drama Barney’s Version (foto: cinewallpaper.com), wat gegrond is op Mordechai Richler se gelyknamige roman. Richard J. Lewis het van dié gegewe ‘n priemende, twee uur lange studie van menswees gemaak. En die trefkrag lê nie net in sy sterk rolverdeling, onder wie ook Rosamund Pike, Dustin Hoffman, Scott Speedman en Minnie Driver, se oortuigende spel nie, maar in die subteks wat hy (hoofsaaklik) geslaagd verskaf.

Lewis se boodskap is duidelik: Trap versigtig wanneer jy mense teenkom; oordeel eers wanneer jy die prentjie volledig kan sien. Hy en Giamatti leer mens dié les op die harde manier. En in terugflitse. Soos dit ons siening van Barney geld; geld dit ook syne van sy beste vriend (Speedman). Dis doeltreffend, want die mensdom dwing hom mos maar moeilik om van ‘n ramp weg te kyk.

Maar Barney’s Version is nie bedoel om ‘n neerdrukkende affêre te wees nie. Teen die tyd dat die klippies gepak word, wens mens jy was Pike se karakter; dat jy Barney kan vashou en van hom weer ‘n sielsgelukkige mens kan maak. Want sien, Barney is die vergestalting van daardie dikwels verborge eienskappe in ons elkeen wat ons desperaat hoop ‘n spesiale persoon sien raak.


En dis genoeg vir ‘n leeftyd.

Tuesday, May 3, 2011

Grenslose irritasie



Die vlees is gewillig, maar die storie nié.

Op ‘n ooglopend gepaste manier is die titel van die fliek Limitless (foto: mjbstar.com) ironies, want ‘n rolprentmaker kan omtrent enigiets met dié storie aanvang.

Gelukkig vir die minder kieskeurige fliekganger het die regisseur, Neil Burger, besluit om die beproefde en voorspelbare resep van oordadige, visuele foefies in te span om die gate in die draaiboek (gegrond op Alan Glynn se gelyknamige roman) te probeer verdoesel. Plaas daarby die fokus vierkant op die charismatiese hoofspeler, in dié geval Bradley Cooper, en Bobbie is jou oom. Dis dan geen verrassing dat Limitless so ‘n grenslose bron van irritasie is nie, want Burger is ook die man wat daarin kon slaag om The Illusionist, met Edward Norton, na ‘n B-klas-TV-fliek te laat lyk.

Cooper, daardie flou bleeksiel van Alias wat sedertdien in die “nuwe Brad Pitt” ontpop het, is die spil waarom sake draai. Hy’s verloorder, dinamiese held, ek-verteller en supermens als in een. Daarby is sy oë so blou Hitler sou afgunstig wees én hy kry die kans om Robert De Niro in sy moer te stuur. Ai, die lewe van ‘n Hollywood-hartebreker, darem.

O ja, en moenie van die vereiste maar onwaarskynlike bakleitoneel vergeet waarin SuperSarel (’skies, Van) se 100% funksionerende brein hom in staat stel om by Bruce Lee te gaan leen en sewe sluipers te verinneweer nie. Dit laat mens skoon nostalgies aan Jude Law se manewales in The Wisdom of Crocodiles dink. Of aan swak redigering in ‘n King of the Cage-episode.

Burger het darem bietjie gaan sit en dink en toe onthou hy van al die bloed wat so spat in Bound en hoe hot like that Gina Gershon was en dit was dalk die saadjie vir die fliek se beste toneel, maar andersins laat Limitless ‘n mens hoofsaaklik met ‘n drang na iets veel sterker wat jy oor jou springmielies of in jou Cream Soda kan gooi.

Dis een van daai flieks wat vir twee tot drie minute se rigtinglose debatvoering sorg terwyl jy vir jou cappuccino wag en wat onvermydelik uitloop op die soort stelling dat die soetsappige Phenomenon ‘n veel realistieser blik op verhoogde breinfunksie bied. Maar dié speel op die platteland af en Bradley Cooper in ontwerperspakke sou eenvoudig nie in ‘n droë mielieland werk nie. Selfs nie met ál Abbie Cornish se donker eyeliner net in die voorlaaste toneel nie.

Eintlik laat Limitless ‘n mens met net een vaagweg interessante vraag: Kan die Stormers-ondersteuners dit nou al bekostig om so windgat te wees?

Friday, April 29, 2011

Om nog 'n oor te kon trek



In geen stadium van die geveg kan ‘n mens kla oor die feit dat Natalie Portman skielik in drie, vier flieks te sien is nie.

Hoewel haar rolkeuses in die verlede effe eklekties was, was haar kultusstatus nog nooit in die gedrang nie (hoewel, vermoed ‘n mens, ‘n paar klipharde aanhangers kan kla oor die populistiese erkenning in Oscar-gestalte). Eintlik was die grootste probleem dat mens jou nie op ‘n gereelder grondslag in haar kon verlustig nie.

Tot vanjaar.

En, meer spesifiek, die romantiese komedie No Strings Attached (foto: http://www.behindthehype.com/), waarin me. Portman hard poog om haar oeuvre uit te brei deur haar op die veld deurtrap van Sandra Bullock, Kate Hudson en Jennifer Aniston te begeef. Aan haar sy is die skynbaar ewe kieskeurige Ashton Kutcher, wie se beste spel, ironies genoeg, in die wetenskapfiksie-riller The Butterfly Effect te sien was.

In Strings is hy die gawe seun met die goeie hart wat sy geluk nie kan glo wanneer die siniese dokter (Portman) instem om bedmaats te wees nie. Sy is (skokkend genoeg) nie lus vir seerkry nie en wil sake fisiek hou. Hy’s bietjie van ‘n ploeteraar wat in sy beroemde pa (‘n karikatuuragtige, vermorste Kevin Kline) se skadu leef (nog ‘n kinkel) en glo alles sal nog regkom.

En in tipiese Hollywood-styl hou die “verrassings” nie daar op nie.
Al die tiek-lysie se inskrywings is daar: ‘n gawe kêrel wat soos Ashton Kutcher lyk sukkel om ‘n meisie te kry (tiek); die een hoofkarakter gaan meer van die verhouding wil hê (tiek); die hoofkarakters word albei deur vreemde en aweregse – en selfs gay! – vriende omring (tiek); een of albei hoofkarakters se ouer/s se kop raas (tiek); en die een hoofkarakter se beroepslewe gaan onverwags tekens van lewe toon (tiek).

En tussendeur probeer Portman hard ‘n romantiese hoofspeler wees. Die ding is, sy is nie die tipiese romantiese hoofspeler nie. In elk geval geoordeel na wat sy tot dusver vermag het. Genade, die snaaksste ding wat sy tot nog toe op die silwerdoek gedoen het, was om aan haar oor te trek toe Zach Braff se pel begin vuurpyle in die agterplaas skiet.

Die snaaksste element in No Strings Attached is Ludacris se uitdrukkinglose spel as Kutcher se kroegeienaar-vriend met die klein hart; die hartseerste, naas Kline, is die feit dat Ivan Reitman, regisseur, teen die draai van die millennium laas ‘n kykbare fliek gemaak het.

Tuesday, April 19, 2011

Allermins aksie-satisfaksie



Daar’s ‘n eenvoudige rede waarom kêrels soos Jason Bourne en Jack Bauer sulke gewilde uitdelers van reg en geregtigheid is: hulle faal nie.

En in die postmoderne, metroman-wêreld word hulle ook gepas geteister deur allerhande demone, net sodat mense kan sien hulle’s eintlik diep seuns wat veel te sê sou hê sou hulle die kans kry om hul internetprofiel te kan verfris. Anti-held-helde, as’t ware.

‘n Welkome toevoeging tot hul geledere daar uit die linkerbuiteveld was die onwaarskynlike Liam Neeson se karakter in Taken, wat, vermoed ‘n mens, die weg gebaan het vir Unknown (foto: onlinemovieshut.com). Weer is dit ‘n geval van ‘n Amerikaner wat hom in moeilike omstandighede in ‘n vreemde Europese hoofstad bevind, maar dié fliek laat mens met nog meer vrae as eersgenoemde.

Daar’s boonop nie veel aksie nie. Vir diegene wat amper die helfte van hul springmielies kwytraak soos hul hande beef van aksie-afwagting is daar slegte nuus: Die storie wentel om Neeson se bioloog-karakter, wat aan geheueverlies ly ná ‘n fratsongeluk. Hy’s ‘n bleeksiel, haha, en die aksie is so terloops soos die intrige.

Die probleem begin by die draaiboek deur Oliver Butcher (gepas, want hy’t dié een gewis geslag) en Stephen Cornwell (John LeCarre se seun, nogal). Dit lyk of hulle by flieks soos The Bourne Identity en Roman Polanski se skitterende Frantic gaan leen het. Van oorspronklikheid of geloofwaardigheid is daar nie veel sprake nie, maar wel van bo-aardse en geykte toevallighede. Die regisseur, Jaume Collet-Serra, was ook aan die stuur van flops soos The House of Wax en Goal II en van uitstyg bo sulke omstandighede is daar hier nie veel sprake nie. Sake is so verbeeldingloos en word met soveel flair uitgevoer as die gemiddelde Lions-agterlynbeweging.

Almal probeer hard deurmekaar, gevaarlik of geheimsinnig lyk, maar om onder meer Diane Kruger as ‘n wildewragtag- deeltydse taxibestuurder uit te beeld, hou soveel water as Meg Ryan as ‘n breinchirurg. Die enigste een wat naastenby lyk of hy weet wat hom te doen staan, is Der Untergang se Bruno Ganz as ‘n trotse oud-Stasi-man.

Is dit nie verstommend hoe die owerheid/skurke/fundamentaliste in die een fliek letterlik oral is nie en in die volgende nêrens in sig nie? In die een kan die held en fraaie nooi-in-nood hulle skaars roer of ‘n swerm lewensontnemers sak op hulle toe en in die volgende kry die tweetjies selfs nog kans om kinderlik ontskuldig uit te sien na ‘n nuwe begin; sonder dubbele identiteite, ontploffings en ander nare goed.

So hoop mens deurgaans Unknown kry binnekort rigting. Dis ‘n hoop wat sonder veel bohaai beskaam.

Thursday, April 7, 2011

Versin jou eie storie


‘n Mens kan om baie redes moed verloor en soos Billy Crystal sit en steun in die bed.


Sewe uit tien motoriste wat jou pad kruis, behoort ‘n kandidaat vir genadedood te wees. Agt punt sewe mense in ‘n fliekteater se naam kan ook maar bygevoeg word. So ook die meerderheid mense met honde, kinders en sosiale netwerke. Vir Proteas, politici, “kunstenaars” en ander pretensieuse praatsiekes behoort daar nie eens ‘n wagtyd te wees nie. Hulle kan voorkeurbemanningslede vir die volgende Space Odyssey wees.


Maar solank hoop vir ‘n ieder en elk nog deur Clint Eastwood vergestalt word, kan mens maar die veiligheidskombersie van jou afwerp en braaf voorwaarts beur.


Dis die geval in Rango (foto: simplywallpaper.net), ‘n stukkie animasie-baanbrekerswerk wat Kevin Smith waarskynlik groen van jaloesie het. En hoewel daar in die bemarking groot gewag van Johnny Depp se stemwerk (en in die fliek self van sy ander flieks) gemaak word, is dit veel eerder Industrial Light and Magic se verstommende animasie en “Eastwood” se verskyning as die Spirit of the West wat jou inspireer om nogmaals jou diensterekening te betaal en die nodige adresverandering te doen dat jou verkeersboetes by jou voordeur afgelewer kan word.


Rango is nie suiwer kindervermaak nie. Genadiglik, want daar’s genoeg vir hulle en hoekom kan animasieflieks nie vir volwassenes ook gemaak word nie? Dis ‘n stukkie eksistensiële pret toegedraai in die nostalgie van die “ou” Wilde Weste en droomtonele so reg uit die derde Pirates-fliek (ironies, aangesien die vierde aflewering amper met ons is). En dalk te verwagte, want die regisseur is juis Gore Verbinski, die man aan die stuur van dié Depp-treffers. In sy hande word Rango, hoewel die storie oorbekend is, ‘n Sergio Leone-agtige (dus, onvoorspelbaar en gewelddadig) soeke na vastrapplek in ‘n wêreld sonder water. En, vir dié wat lief is vir alles hier, ook ‘n dwarsklap na gewetenlose eiendomsontwikkelaars. Maar gaan soek mens te diep verloor jy die voor die hand liggende uit die oog: ‘n fliek so prettig as Up; met dieselfde sort aweregse karakters en in-die-kol-verwysings na popkultuur-ikone soos Hunter S. Thompson en Apocalypse Now.


Dis nostalgie sonder brieke; ‘n verkleurmannetjie van ‘n fliek waarop die man sonder naam met reg trots sou wees.