Tuesday, May 3, 2011

Grenslose irritasie



Die vlees is gewillig, maar die storie nié.

Op ‘n ooglopend gepaste manier is die titel van die fliek Limitless (foto: mjbstar.com) ironies, want ‘n rolprentmaker kan omtrent enigiets met dié storie aanvang.

Gelukkig vir die minder kieskeurige fliekganger het die regisseur, Neil Burger, besluit om die beproefde en voorspelbare resep van oordadige, visuele foefies in te span om die gate in die draaiboek (gegrond op Alan Glynn se gelyknamige roman) te probeer verdoesel. Plaas daarby die fokus vierkant op die charismatiese hoofspeler, in dié geval Bradley Cooper, en Bobbie is jou oom. Dis dan geen verrassing dat Limitless so ‘n grenslose bron van irritasie is nie, want Burger is ook die man wat daarin kon slaag om The Illusionist, met Edward Norton, na ‘n B-klas-TV-fliek te laat lyk.

Cooper, daardie flou bleeksiel van Alias wat sedertdien in die “nuwe Brad Pitt” ontpop het, is die spil waarom sake draai. Hy’s verloorder, dinamiese held, ek-verteller en supermens als in een. Daarby is sy oë so blou Hitler sou afgunstig wees én hy kry die kans om Robert De Niro in sy moer te stuur. Ai, die lewe van ‘n Hollywood-hartebreker, darem.

O ja, en moenie van die vereiste maar onwaarskynlike bakleitoneel vergeet waarin SuperSarel (’skies, Van) se 100% funksionerende brein hom in staat stel om by Bruce Lee te gaan leen en sewe sluipers te verinneweer nie. Dit laat mens skoon nostalgies aan Jude Law se manewales in The Wisdom of Crocodiles dink. Of aan swak redigering in ‘n King of the Cage-episode.

Burger het darem bietjie gaan sit en dink en toe onthou hy van al die bloed wat so spat in Bound en hoe hot like that Gina Gershon was en dit was dalk die saadjie vir die fliek se beste toneel, maar andersins laat Limitless ‘n mens hoofsaaklik met ‘n drang na iets veel sterker wat jy oor jou springmielies of in jou Cream Soda kan gooi.

Dis een van daai flieks wat vir twee tot drie minute se rigtinglose debatvoering sorg terwyl jy vir jou cappuccino wag en wat onvermydelik uitloop op die soort stelling dat die soetsappige Phenomenon ‘n veel realistieser blik op verhoogde breinfunksie bied. Maar dié speel op die platteland af en Bradley Cooper in ontwerperspakke sou eenvoudig nie in ‘n droë mielieland werk nie. Selfs nie met ál Abbie Cornish se donker eyeliner net in die voorlaaste toneel nie.

Eintlik laat Limitless ‘n mens met net een vaagweg interessante vraag: Kan die Stormers-ondersteuners dit nou al bekostig om so windgat te wees?

Friday, April 29, 2011

Om nog 'n oor te kon trek



In geen stadium van die geveg kan ‘n mens kla oor die feit dat Natalie Portman skielik in drie, vier flieks te sien is nie.

Hoewel haar rolkeuses in die verlede effe eklekties was, was haar kultusstatus nog nooit in die gedrang nie (hoewel, vermoed ‘n mens, ‘n paar klipharde aanhangers kan kla oor die populistiese erkenning in Oscar-gestalte). Eintlik was die grootste probleem dat mens jou nie op ‘n gereelder grondslag in haar kon verlustig nie.

Tot vanjaar.

En, meer spesifiek, die romantiese komedie No Strings Attached (foto: http://www.behindthehype.com/), waarin me. Portman hard poog om haar oeuvre uit te brei deur haar op die veld deurtrap van Sandra Bullock, Kate Hudson en Jennifer Aniston te begeef. Aan haar sy is die skynbaar ewe kieskeurige Ashton Kutcher, wie se beste spel, ironies genoeg, in die wetenskapfiksie-riller The Butterfly Effect te sien was.

In Strings is hy die gawe seun met die goeie hart wat sy geluk nie kan glo wanneer die siniese dokter (Portman) instem om bedmaats te wees nie. Sy is (skokkend genoeg) nie lus vir seerkry nie en wil sake fisiek hou. Hy’s bietjie van ‘n ploeteraar wat in sy beroemde pa (‘n karikatuuragtige, vermorste Kevin Kline) se skadu leef (nog ‘n kinkel) en glo alles sal nog regkom.

En in tipiese Hollywood-styl hou die “verrassings” nie daar op nie.
Al die tiek-lysie se inskrywings is daar: ‘n gawe kêrel wat soos Ashton Kutcher lyk sukkel om ‘n meisie te kry (tiek); die een hoofkarakter gaan meer van die verhouding wil hê (tiek); die hoofkarakters word albei deur vreemde en aweregse – en selfs gay! – vriende omring (tiek); een of albei hoofkarakters se ouer/s se kop raas (tiek); en die een hoofkarakter se beroepslewe gaan onverwags tekens van lewe toon (tiek).

En tussendeur probeer Portman hard ‘n romantiese hoofspeler wees. Die ding is, sy is nie die tipiese romantiese hoofspeler nie. In elk geval geoordeel na wat sy tot dusver vermag het. Genade, die snaaksste ding wat sy tot nog toe op die silwerdoek gedoen het, was om aan haar oor te trek toe Zach Braff se pel begin vuurpyle in die agterplaas skiet.

Die snaaksste element in No Strings Attached is Ludacris se uitdrukkinglose spel as Kutcher se kroegeienaar-vriend met die klein hart; die hartseerste, naas Kline, is die feit dat Ivan Reitman, regisseur, teen die draai van die millennium laas ‘n kykbare fliek gemaak het.

Tuesday, April 19, 2011

Allermins aksie-satisfaksie



Daar’s ‘n eenvoudige rede waarom kêrels soos Jason Bourne en Jack Bauer sulke gewilde uitdelers van reg en geregtigheid is: hulle faal nie.

En in die postmoderne, metroman-wêreld word hulle ook gepas geteister deur allerhande demone, net sodat mense kan sien hulle’s eintlik diep seuns wat veel te sê sou hê sou hulle die kans kry om hul internetprofiel te kan verfris. Anti-held-helde, as’t ware.

‘n Welkome toevoeging tot hul geledere daar uit die linkerbuiteveld was die onwaarskynlike Liam Neeson se karakter in Taken, wat, vermoed ‘n mens, die weg gebaan het vir Unknown (foto: onlinemovieshut.com). Weer is dit ‘n geval van ‘n Amerikaner wat hom in moeilike omstandighede in ‘n vreemde Europese hoofstad bevind, maar dié fliek laat mens met nog meer vrae as eersgenoemde.

Daar’s boonop nie veel aksie nie. Vir diegene wat amper die helfte van hul springmielies kwytraak soos hul hande beef van aksie-afwagting is daar slegte nuus: Die storie wentel om Neeson se bioloog-karakter, wat aan geheueverlies ly ná ‘n fratsongeluk. Hy’s ‘n bleeksiel, haha, en die aksie is so terloops soos die intrige.

Die probleem begin by die draaiboek deur Oliver Butcher (gepas, want hy’t dié een gewis geslag) en Stephen Cornwell (John LeCarre se seun, nogal). Dit lyk of hulle by flieks soos The Bourne Identity en Roman Polanski se skitterende Frantic gaan leen het. Van oorspronklikheid of geloofwaardigheid is daar nie veel sprake nie, maar wel van bo-aardse en geykte toevallighede. Die regisseur, Jaume Collet-Serra, was ook aan die stuur van flops soos The House of Wax en Goal II en van uitstyg bo sulke omstandighede is daar hier nie veel sprake nie. Sake is so verbeeldingloos en word met soveel flair uitgevoer as die gemiddelde Lions-agterlynbeweging.

Almal probeer hard deurmekaar, gevaarlik of geheimsinnig lyk, maar om onder meer Diane Kruger as ‘n wildewragtag- deeltydse taxibestuurder uit te beeld, hou soveel water as Meg Ryan as ‘n breinchirurg. Die enigste een wat naastenby lyk of hy weet wat hom te doen staan, is Der Untergang se Bruno Ganz as ‘n trotse oud-Stasi-man.

Is dit nie verstommend hoe die owerheid/skurke/fundamentaliste in die een fliek letterlik oral is nie en in die volgende nêrens in sig nie? In die een kan die held en fraaie nooi-in-nood hulle skaars roer of ‘n swerm lewensontnemers sak op hulle toe en in die volgende kry die tweetjies selfs nog kans om kinderlik ontskuldig uit te sien na ‘n nuwe begin; sonder dubbele identiteite, ontploffings en ander nare goed.

So hoop mens deurgaans Unknown kry binnekort rigting. Dis ‘n hoop wat sonder veel bohaai beskaam.

Thursday, April 7, 2011

Versin jou eie storie


‘n Mens kan om baie redes moed verloor en soos Billy Crystal sit en steun in die bed.


Sewe uit tien motoriste wat jou pad kruis, behoort ‘n kandidaat vir genadedood te wees. Agt punt sewe mense in ‘n fliekteater se naam kan ook maar bygevoeg word. So ook die meerderheid mense met honde, kinders en sosiale netwerke. Vir Proteas, politici, “kunstenaars” en ander pretensieuse praatsiekes behoort daar nie eens ‘n wagtyd te wees nie. Hulle kan voorkeurbemanningslede vir die volgende Space Odyssey wees.


Maar solank hoop vir ‘n ieder en elk nog deur Clint Eastwood vergestalt word, kan mens maar die veiligheidskombersie van jou afwerp en braaf voorwaarts beur.


Dis die geval in Rango (foto: simplywallpaper.net), ‘n stukkie animasie-baanbrekerswerk wat Kevin Smith waarskynlik groen van jaloesie het. En hoewel daar in die bemarking groot gewag van Johnny Depp se stemwerk (en in die fliek self van sy ander flieks) gemaak word, is dit veel eerder Industrial Light and Magic se verstommende animasie en “Eastwood” se verskyning as die Spirit of the West wat jou inspireer om nogmaals jou diensterekening te betaal en die nodige adresverandering te doen dat jou verkeersboetes by jou voordeur afgelewer kan word.


Rango is nie suiwer kindervermaak nie. Genadiglik, want daar’s genoeg vir hulle en hoekom kan animasieflieks nie vir volwassenes ook gemaak word nie? Dis ‘n stukkie eksistensiële pret toegedraai in die nostalgie van die “ou” Wilde Weste en droomtonele so reg uit die derde Pirates-fliek (ironies, aangesien die vierde aflewering amper met ons is). En dalk te verwagte, want die regisseur is juis Gore Verbinski, die man aan die stuur van dié Depp-treffers. In sy hande word Rango, hoewel die storie oorbekend is, ‘n Sergio Leone-agtige (dus, onvoorspelbaar en gewelddadig) soeke na vastrapplek in ‘n wêreld sonder water. En, vir dié wat lief is vir alles hier, ook ‘n dwarsklap na gewetenlose eiendomsontwikkelaars. Maar gaan soek mens te diep verloor jy die voor die hand liggende uit die oog: ‘n fliek so prettig as Up; met dieselfde sort aweregse karakters en in-die-kol-verwysings na popkultuur-ikone soos Hunter S. Thompson en Apocalypse Now.


Dis nostalgie sonder brieke; ‘n verkleurmannetjie van ‘n fliek waarop die man sonder naam met reg trots sou wees.

Friday, April 1, 2011

Hou my vas, korporaal


Daar was ‘n tyd toe Nicolas Cage ‘n mens se aandag gehou het.


Hy was ‘n onvoorspelbare akteur wat ‘n aweregse silwerdoek-lewe met besonderhede en nuanse kon vul – van malkop-kinderontvoerder tot eks-soldaat-reisiger-met-‘n-swak-knie tot laura dern se effe nihilistiese minnaar met sy slangvelbaadjie. ‘n Tom Cruise vir die eenkant-mense.


Maar Con Air het gekom, en later National Treasure, en tussendeur die een pynlike poging ná die ander. Daar was darem uitsonderings soos Leaving Las Vegas, Matchstick Men en die vermaaklike Lord of War, maar van die Cage van weleer was daar min teken. In Werner Herzog se surrealistiese The Bad Lieutenant: Port of Call - New Orleans verlede jaar was daar opflikkerings van die “ou” Cage, maar van The Rock tot Gone in Sixty Seconds het hy verval in karikatuur-spel wat mens se senuwees soos Graeme Smith se verskonings laat rafel.


Dalk van pas dan dat hy hom in Drive Angry 3D (foto: thewallpapers.org) nogmaals in ‘n fliek bevind waar hy nie veel hoef te doen nie. Mens kan jou wel verwonder aan die belaglike, gebleikte haredos, maar lanklaas het Cage so futloos geklink en gelyk – en so kort soos hy in werklikheid is. Veel vermaakliker is Amber Heard (van All the Boys Love Mandy Lane-faam) se denim-sjoebroekie en, nog beter, ‘n kalm-soos-die-windstil-see William Fichtner as die onderaardse se rekenmeester wat ‘n muntstuk met groot gesag gebruik.


Cage het ontsnap uit die hel, sien? Sy dogter se baba is in die kloue van ‘n groepie hillbilly-Sataniste onder leiding van ‘n brandmaer en camp Billy Burke en hy gaan nie toelaat dat sy geoffer word nie. Patrick Lussier, regisseur, lewer getrou aan sy onindrukwekkende rekord ‘n road movie a la Planet Terror waarin die V8’s brul, die wiele tol en die aanmaak-bloed spat. En, voorspelbaar genoeg, nie veel anders nie.


Die geheim lê daarin om nie te onderskei tussen die genot wat mens uit die verorbering van jou springmielies en uit die grootskerm-gebeure put nie, andersins begin die foutlyne so wyd gaap mens val sommer reguit hel toe. Hou die kake werkende en tonele soos die een waarin Cage ‘n kelnerin tot ekstase bring, ‘n sigaar rook, alkolhol gebruik en terselfdertyd ‘n groepie aanvallers die ewigheid instuur is prettig (hoewel ek eerder weer na ‘n soortgelyke toneel in Shoot ’Em Up sal kyk), om nie eens van die Rekenmeester se aanbieding van sy aardse bona fides te praat nie.


Dink te veel na oor die verwysing na die duiwel as ‘n sensitiewe, belese siel en die kake weier en die gedagtes dwaal na die voorportaal, waar mens ‘n algehele afwesigheid van Bybelslaners opgelet het. Mens sou dink hulle sou beswaard wees oor dié verromantisering van dié aartskurk, maar dalk is dit cool, want dit is darem ‘n Cage-fliek. En dis veel sinvoller om oor gemorskos, Liewe Heksie en Bakkies Botha se “skoonmaak”-tegniek te kla.

Thursday, March 24, 2011

Dans soos 'n stootskraper


Daar’s oomblikke wanneer dit voel of mens nie asem kry nie.
As jy gelukkig is, bly dit net ‘n oomblik.
Vir sommige is dit ‘n leefstyl; ‘n koue, harde hand wat jou hart so klem dat dit die lewe uit jou pers en jou gehawend deur die lewe laat strompel.

Dalk is jy gelukkig en daar’s ‘n vangnet.
Maar hoe gemaak as dié “veiligheid” ewe knellend kan wees?

Dis skynbaar die geval vir die bokser Micky Ward (Mark Wahlberg) in David O. Russell se briljante biografie The Fighter (foto: moviemobsters.com), ‘n opstopper van ‘n fliek gestroop van oordrewe sentiment en georkestreerde goedvoel-oomblikke. Uit die staanspoor, wanneer ‘n brandmaer Christian Bale (as Micky se halfbroer en afrigter Dicky Eklund) hom op daardie rusbank tuismaak en lostrek (is Wahlberg dan nie die hoofkarakter nie?), het Russell sy kyker op die agtervoet. Dis ‘n posisie waarvan hy in die grootste deel van die fliek nooit verwissel nie.

Micky herstel paaie wanneer sy ma en bestuurder (Melissa Leo) hom nie as kragvoer vir belowender boksers inspan nie. In ‘n surrealistiese gesin – daar’s meer susters as wat mens wil tel; Micky hou skynbaar almal aan die lewe; emosionele manipulasie is die voorkeurwapen – en in hul ewe voos tuisdorp, Lowell (ook Jack Kerouac se geboorteplek), in Massachusetts, is Dicky, ‘n volslae crack-verslaafde, die ster. As jong bokser het hy sy man teen die grote Sugar Ray Leonard gestaan en hy’s doodseker sy comeback lê net om die draai.

Die vonk in die kruitvat is Micky se ontmoeting met die kroegmeisie Charlene Fleming (Amy Adams). Soos so dikwels gebeur, is dit ‘n buitestander wat sake in perspektief plaas en in dié geval Micky die moed gee om Dicky en sy ma onder hul gat te skop. Wat die storie nog meer trefkrag gee, is dat (die nou suksesvoller) Micky besef hy sal nooit ‘n titel sonder Dicky, en derhalwe sy ma, kan verower nie.

Ek’s al van Flirting with Disaster se dae ‘n aanhanger van Russell se werk, hoewel hy met I Heart Huckabees hard probeer het om mens te vervreem. In The Fighter vind hy daardie volmaakte balans tussen werklikheid en drome (wat sy protagonis eintlik maar te bang is om te droom) en drama en humor. Sy dokumentêragtige aanslag werk uitstekend en bevestig waarnemers se opmerkings dat dié ‘n relatief getroue weergawe van die Ward-sage is. Daarby is tonele soos dié waarin Dicky telkens by sy crack-huis se venster uitspring geniaal beplan en so snaaks dit laat mens se oë traan.

In ‘n sterk rolverdeling is dit veral Bale, verdienstelik bekroon met die Oscar, wat verstom. Hy ondergaan nogmaals ‘n transformasie as die naïewe Dicky wat op die soustrein van uitgediende glorie ry en wanneer hy met daardie windmeul-arms straat af hardloop, is hy haas onherkenbaar van enigiets wat hy dalk voorheen gedoen het.

Leo en Adams is ook stewig, terwyl Wahlberg (ook in Russell se Three Kings te sien) maar dieselfde ou Wahlberg is. Darem weet mens boks is deel van dié akteur se daaglikse oefenroetine, so oor sy tegniese vaardighede is daar geen twyfel nie. Sy rustige Micky is ‘n eiland in ‘n siedende see.

The Fighter het nie die gewigtigheid van ‘n Million Dollar Baby nie, maar as boksfliek is daar min wat by hom kan kers vashou. Russel en sy span lewer ‘n uitklophou – en watter plesier is dit nie om dié een op die ken te vat nie.

Sunday, March 13, 2011

'See me running through that open door'




True Grit, die Coen-broers se weergawe van die gelyknamige boek en John Wayne-fliek, lyk na ‘n rocking good time in die lokprent.

Dis nie.

Dis wel ‘n middelmagtige stukkie nostalgie van die “Old West” – ‘n plek waar geregtigheid geseëvier het as ‘n regsman vinniger en beter kon skiet as die skurke (en as hy nie kon nie, moes hy hulle onkant betrap en in die rug skiet, verkieslik). Nie ‘n fliek wat mens uitsonderlik lank gaan bybly nie, maar dis ‘n inskrywing in nog ‘n boksie (“tradisionele western” ná die “moderne western” No Country for Old Men) van die Coens se oeuvre wat hulle kan tiek.

En dis jammer dat mens ‘n Coen-fliek as sulks kan beskryf, want dis die een ding wat (die meeste) van hul flieks nog altyd was: onthoubaar.

Maar dié True Grit (foto: getthebigpicture.net) is stapelkos eerder as haute cuisine. Dit verloop sonder veel, hogere drama of aksie; die dialoog (dit wat mens kan uitmaak) is nie waffers nie; en die vertolkings is, ondanks die oesie Oscar-benoemings, hoogstens stewig. Die bietjie plesier wat daar te vinde is, is in die karig gemeubileerde subteks en die Coens besprinkel die storie so spaarsamig daarmee mens wonder of dit enigsens die moeite werd is.

Gaan staan jy wel bietjie breinkrag daaraan af, kruip daardie nostalgie teen jou ruggraat op en hy gaan maak hom tuis daar êrens tussen die sagte plekkies wat jy vir Big Fish en Ride the High Country het. Dit skuil in die band tussen drie vreemdelinge wat mekaar aanvanklik nie kan veel nie en nooit weer sien nie; in wilde verhale van die teuels in jou mond en ‘n skoppende rewolwer in elke hand; ‘n vrou wat nooit weer ‘n man kry wat haar so veilig laat voel nie; ‘n hardebaard wat nooit ophou hunker na die kinders wat sy kwasterigheid hom ontneem het nie.

Lei jy ‘n waardevolle lewe en is jou bydrae kosbaar?
Of is dit maar ‘n oorlewingstryd waarin daar meer misses as hits is en jy kan maar net hoop vir ‘n skramse blik van ‘n tier in die sneeu?
Van iemand wat jou vashou of hulle nooit weer gaan los nie?

Krummels kan mens enduit voed, blyk dit.