Friday, April 1, 2011

Hou my vas, korporaal


Daar was ‘n tyd toe Nicolas Cage ‘n mens se aandag gehou het.


Hy was ‘n onvoorspelbare akteur wat ‘n aweregse silwerdoek-lewe met besonderhede en nuanse kon vul – van malkop-kinderontvoerder tot eks-soldaat-reisiger-met-‘n-swak-knie tot laura dern se effe nihilistiese minnaar met sy slangvelbaadjie. ‘n Tom Cruise vir die eenkant-mense.


Maar Con Air het gekom, en later National Treasure, en tussendeur die een pynlike poging ná die ander. Daar was darem uitsonderings soos Leaving Las Vegas, Matchstick Men en die vermaaklike Lord of War, maar van die Cage van weleer was daar min teken. In Werner Herzog se surrealistiese The Bad Lieutenant: Port of Call - New Orleans verlede jaar was daar opflikkerings van die “ou” Cage, maar van The Rock tot Gone in Sixty Seconds het hy verval in karikatuur-spel wat mens se senuwees soos Graeme Smith se verskonings laat rafel.


Dalk van pas dan dat hy hom in Drive Angry 3D (foto: thewallpapers.org) nogmaals in ‘n fliek bevind waar hy nie veel hoef te doen nie. Mens kan jou wel verwonder aan die belaglike, gebleikte haredos, maar lanklaas het Cage so futloos geklink en gelyk – en so kort soos hy in werklikheid is. Veel vermaakliker is Amber Heard (van All the Boys Love Mandy Lane-faam) se denim-sjoebroekie en, nog beter, ‘n kalm-soos-die-windstil-see William Fichtner as die onderaardse se rekenmeester wat ‘n muntstuk met groot gesag gebruik.


Cage het ontsnap uit die hel, sien? Sy dogter se baba is in die kloue van ‘n groepie hillbilly-Sataniste onder leiding van ‘n brandmaer en camp Billy Burke en hy gaan nie toelaat dat sy geoffer word nie. Patrick Lussier, regisseur, lewer getrou aan sy onindrukwekkende rekord ‘n road movie a la Planet Terror waarin die V8’s brul, die wiele tol en die aanmaak-bloed spat. En, voorspelbaar genoeg, nie veel anders nie.


Die geheim lê daarin om nie te onderskei tussen die genot wat mens uit die verorbering van jou springmielies en uit die grootskerm-gebeure put nie, andersins begin die foutlyne so wyd gaap mens val sommer reguit hel toe. Hou die kake werkende en tonele soos die een waarin Cage ‘n kelnerin tot ekstase bring, ‘n sigaar rook, alkolhol gebruik en terselfdertyd ‘n groepie aanvallers die ewigheid instuur is prettig (hoewel ek eerder weer na ‘n soortgelyke toneel in Shoot ’Em Up sal kyk), om nie eens van die Rekenmeester se aanbieding van sy aardse bona fides te praat nie.


Dink te veel na oor die verwysing na die duiwel as ‘n sensitiewe, belese siel en die kake weier en die gedagtes dwaal na die voorportaal, waar mens ‘n algehele afwesigheid van Bybelslaners opgelet het. Mens sou dink hulle sou beswaard wees oor dié verromantisering van dié aartskurk, maar dalk is dit cool, want dit is darem ‘n Cage-fliek. En dis veel sinvoller om oor gemorskos, Liewe Heksie en Bakkies Botha se “skoonmaak”-tegniek te kla.

Thursday, March 24, 2011

Dans soos 'n stootskraper


Daar’s oomblikke wanneer dit voel of mens nie asem kry nie.
As jy gelukkig is, bly dit net ‘n oomblik.
Vir sommige is dit ‘n leefstyl; ‘n koue, harde hand wat jou hart so klem dat dit die lewe uit jou pers en jou gehawend deur die lewe laat strompel.

Dalk is jy gelukkig en daar’s ‘n vangnet.
Maar hoe gemaak as dié “veiligheid” ewe knellend kan wees?

Dis skynbaar die geval vir die bokser Micky Ward (Mark Wahlberg) in David O. Russell se briljante biografie The Fighter (foto: moviemobsters.com), ‘n opstopper van ‘n fliek gestroop van oordrewe sentiment en georkestreerde goedvoel-oomblikke. Uit die staanspoor, wanneer ‘n brandmaer Christian Bale (as Micky se halfbroer en afrigter Dicky Eklund) hom op daardie rusbank tuismaak en lostrek (is Wahlberg dan nie die hoofkarakter nie?), het Russell sy kyker op die agtervoet. Dis ‘n posisie waarvan hy in die grootste deel van die fliek nooit verwissel nie.

Micky herstel paaie wanneer sy ma en bestuurder (Melissa Leo) hom nie as kragvoer vir belowender boksers inspan nie. In ‘n surrealistiese gesin – daar’s meer susters as wat mens wil tel; Micky hou skynbaar almal aan die lewe; emosionele manipulasie is die voorkeurwapen – en in hul ewe voos tuisdorp, Lowell (ook Jack Kerouac se geboorteplek), in Massachusetts, is Dicky, ‘n volslae crack-verslaafde, die ster. As jong bokser het hy sy man teen die grote Sugar Ray Leonard gestaan en hy’s doodseker sy comeback lê net om die draai.

Die vonk in die kruitvat is Micky se ontmoeting met die kroegmeisie Charlene Fleming (Amy Adams). Soos so dikwels gebeur, is dit ‘n buitestander wat sake in perspektief plaas en in dié geval Micky die moed gee om Dicky en sy ma onder hul gat te skop. Wat die storie nog meer trefkrag gee, is dat (die nou suksesvoller) Micky besef hy sal nooit ‘n titel sonder Dicky, en derhalwe sy ma, kan verower nie.

Ek’s al van Flirting with Disaster se dae ‘n aanhanger van Russell se werk, hoewel hy met I Heart Huckabees hard probeer het om mens te vervreem. In The Fighter vind hy daardie volmaakte balans tussen werklikheid en drome (wat sy protagonis eintlik maar te bang is om te droom) en drama en humor. Sy dokumentêragtige aanslag werk uitstekend en bevestig waarnemers se opmerkings dat dié ‘n relatief getroue weergawe van die Ward-sage is. Daarby is tonele soos dié waarin Dicky telkens by sy crack-huis se venster uitspring geniaal beplan en so snaaks dit laat mens se oë traan.

In ‘n sterk rolverdeling is dit veral Bale, verdienstelik bekroon met die Oscar, wat verstom. Hy ondergaan nogmaals ‘n transformasie as die naïewe Dicky wat op die soustrein van uitgediende glorie ry en wanneer hy met daardie windmeul-arms straat af hardloop, is hy haas onherkenbaar van enigiets wat hy dalk voorheen gedoen het.

Leo en Adams is ook stewig, terwyl Wahlberg (ook in Russell se Three Kings te sien) maar dieselfde ou Wahlberg is. Darem weet mens boks is deel van dié akteur se daaglikse oefenroetine, so oor sy tegniese vaardighede is daar geen twyfel nie. Sy rustige Micky is ‘n eiland in ‘n siedende see.

The Fighter het nie die gewigtigheid van ‘n Million Dollar Baby nie, maar as boksfliek is daar min wat by hom kan kers vashou. Russel en sy span lewer ‘n uitklophou – en watter plesier is dit nie om dié een op die ken te vat nie.

Sunday, March 13, 2011

'See me running through that open door'




True Grit, die Coen-broers se weergawe van die gelyknamige boek en John Wayne-fliek, lyk na ‘n rocking good time in die lokprent.

Dis nie.

Dis wel ‘n middelmagtige stukkie nostalgie van die “Old West” – ‘n plek waar geregtigheid geseëvier het as ‘n regsman vinniger en beter kon skiet as die skurke (en as hy nie kon nie, moes hy hulle onkant betrap en in die rug skiet, verkieslik). Nie ‘n fliek wat mens uitsonderlik lank gaan bybly nie, maar dis ‘n inskrywing in nog ‘n boksie (“tradisionele western” ná die “moderne western” No Country for Old Men) van die Coens se oeuvre wat hulle kan tiek.

En dis jammer dat mens ‘n Coen-fliek as sulks kan beskryf, want dis die een ding wat (die meeste) van hul flieks nog altyd was: onthoubaar.

Maar dié True Grit (foto: getthebigpicture.net) is stapelkos eerder as haute cuisine. Dit verloop sonder veel, hogere drama of aksie; die dialoog (dit wat mens kan uitmaak) is nie waffers nie; en die vertolkings is, ondanks die oesie Oscar-benoemings, hoogstens stewig. Die bietjie plesier wat daar te vinde is, is in die karig gemeubileerde subteks en die Coens besprinkel die storie so spaarsamig daarmee mens wonder of dit enigsens die moeite werd is.

Gaan staan jy wel bietjie breinkrag daaraan af, kruip daardie nostalgie teen jou ruggraat op en hy gaan maak hom tuis daar êrens tussen die sagte plekkies wat jy vir Big Fish en Ride the High Country het. Dit skuil in die band tussen drie vreemdelinge wat mekaar aanvanklik nie kan veel nie en nooit weer sien nie; in wilde verhale van die teuels in jou mond en ‘n skoppende rewolwer in elke hand; ‘n vrou wat nooit weer ‘n man kry wat haar so veilig laat voel nie; ‘n hardebaard wat nooit ophou hunker na die kinders wat sy kwasterigheid hom ontneem het nie.

Lei jy ‘n waardevolle lewe en is jou bydrae kosbaar?
Of is dit maar ‘n oorlewingstryd waarin daar meer misses as hits is en jy kan maar net hoop vir ‘n skramse blik van ‘n tier in die sneeu?
Van iemand wat jou vashou of hulle nooit weer gaan los nie?

Krummels kan mens enduit voed, blyk dit.

Thursday, March 3, 2011

Die valdeur na stilte




Wanneer is ‘n fliek regtig goed?

Want daar’s ‘n paar treffers waarna ek weer en weer kan kyk wat nooit die Oscar-lysie sal haal nie. En dan’s daar dié wat wel die lysie haal, of amper, of dalk nie, maar wat jou in die maag skop en by die teater laat uitstrompel en reguit na, verkieslik, die baarmoeder en ‘n staat van voor-bewussyn.

Darren Aronofsky se Black Swan (foto: thebuzzmedia.com) is een van laasgenoemde. Lanklaas het ek strykdeur ‘n fliek op so ‘n gereelde grondslag hoendervel gehad. Ek’t amper begin kekkel van magteloosheid soos Aronofsky mens met elke onafwendbare beklemmende raampie teen die kop gooi en die brandmaer Natalie Portman se oë al hoe wilder raak.

Sonder om die vloer onder die ballerina uit te ruk, skep Aronofsky ‘n sielkundige riller wat of op ‘n gebaande weg sy hoofkarakter in haar moer stuur. En wat so in die gehoktheid van haar magteloosheid – en uiteindelik ontvlugting – vir geen oomblik stoom verloor nie. Want die arme Portman se lot is lank gelede reeds verseël, vermoed ‘n mens. Toe liewe Mamma nie die mas kon opkom nie.

Aronofsky – hy van Pi, Requiem for a Dream en The Wrestler-faam – hou van die dikwels onwenbare stryd teen die mensvreters wat aan elkeen van ons se psige knibbel. Dis of hy wil sê die skramse oorwinning wat daar soms is, is vlietende oomblikke van persoonlike triomf. Soms besef mens dit nie eens nie; ander kere het jy ‘n volgepakte gemeenskapsaal of konsertgebou aan jou voete.

In Portman se geval is die stryd nie net teen haar eie, skrikwekkende monsters nie, maar ook teen haar emosioneel manipulerende ma – vreesaanjaend vertolk deur Barbara Hershey – s’n. Voeg daarby ‘n regisseur – Vincent Cassel, oudergewoonte uitstekend – wat die onmoontlike van dié onderdrukte vrou-kind vra, en jy’t ‘n resep so reg uit ‘n kruising tussen Forman se Amadeus en Haneke se The Piano Teacher.

Soos Haneke dit baie goed regkry, skep Aronofsky ook op ‘n briljante manier kontras tussen wonderskone oomblikke en die donkerste hoekies van die karakters se bestaan. In dié onhoubare balanstoertjie floreer Portman, welverdiend bekroon met ‘n Oscar. Daar’s heelwat uitsonderbare oomblikke, maar die masturbasietoneel, om nie eens van die koek-een (uhm...) te praat nie, is hoogtepunte in haar en Aronofsky se samewerking. O, wag, en die een waarin Cassel haar opvryf; en dié in die trein; en die Swart Swaan se triomf; en en en.

Met dié stukke rolprent-genialiteit kry Aronofsky en sy span iets reg waarna van die karakters so desperaat streef: verlossing in ‘n vlietende oomblik van volmaaktheid.

Wednesday, February 23, 2011

As ek die sterre kon haal



Gaan die lewe maar net oor dit wat ons kan sien en aanraak en proe en ruik?

Is dit maar ‘n eendimensionele plek met generiese Twitter-emosies en oppervlakkige verhoudings gegrond in kompromie. Kompromie gebore uit ‘n vrees vir eensaamheid en ‘n drang na aanvaarding? Is al ons ondervindings maar vlietende gebeure; vlugtig sigbaar voordat dit vir altyd in die vergetelheid wegsak en net ‘n verwaterde herinnering draal?

Of is daar ‘n dieper dimensie waarin ons bewustheid resoneer? Waarin ons menswees in die onderbewussyn koppelings maak en ‘n gedeelde oomblik die gewig van ‘n lewenskeuse dra. ‘n Plek waar ons nie verstaan wat ons doen nie en keuses nie sin maak nie, maar ons doen dit in elk geval.

Ek glo in daardie bestaan (Peter Hoeg en Thomas Harris se werk, ongelukkig. Want ‘ignorance is bliss’). Ek weet nie of ek dit noodwendig ervaar nie, maar, soos Meg Ryan se karakter in You’ve Got Mail sê: Daar’s die droom.

In sy lewe het die humeurige hakkelaar prins Albert (Colin Firth), hertog van York, twee sulke “drome” gehad, blyk uit Tom Hooper se uiters genotvolle The King’s Speech (foto: thewritersideoflife.wordpress.com), wat voorspelbaar genoeg die Baftas oorheers het. Die een was die prins se vrou (Helena Bonham Carter); die ander die Australiese spraakterapeut Lionel Logue (Geoffrey Rush). Daar’s geen verrassings in dié storie nie; die vreugde lê eerder in die wonderlike vertolkings en Hooper se duiselende visuele benadering. Baie van die kameraskote is in daardie derde-formaat; dit skep ‘n treffende kontrapunt vir die uiteindelike harmonie wat tussen die karakters vorm aanneem.

Ek’s nie ‘n Firth-aanhanger nie. Hy was aanvanklik heel kykbaar in Fever Pitch (en kyk wat vermag Mark Strong deesdae), maar daarna was dit maar ‘n geneukery. Tot verlede jaar se wonderlike A Single Man en nou dié vertolking. Dis ‘n indrukwekkende metamorfose, hoewel dit nie noodwendig van Firth ‘n interessante kêrel maak nie. Sy Albert is ‘n koninklike sonder ‘n troon; ‘n onseker seun-in-grootmens-gestalte oordonder deur sy pa en ouer broer. En daardie keelklanke is genoeg om ‘n mens naar te maak.

Teen die wette van die heelal in kry hy ‘n wonderlike vrou. Carter, vir ‘n verandering nie grotesk as Burton-fantasie nie (sy het, after all, aanvanklik bekend geword danksy periodedramas soos The Wings of the Dove), se vertolking oorheers elke toneel waarin sy haar verskyning maak. “Onderspeel” kry ‘n nuwe betekenis in die manier hoe haar mondhoeke van ingehoue humor krul en wanneer sy in ‘n weggooitoneel haar liefde vir haar man verklaar, is dit of ‘n nuwe konstellasie lewe kry.

Rush, wat vir my die vergestalting van die kunstenaar se lag-en-traan is, verskaf die fliek se momentum. Mens kan nie meer dieselfde na hom kyk ná sy naamrol-vertolking in The Life and Death of Peter Sellers nie, en tog kry hy dit elke keer reg om nog ‘n lagie van sy talent te ontbloot. Sy Logue is ‘n enigma, maar as (eksentrieke) Jan Alleman is hy die een – in sy onbevange omgang met die koninklikes; sy werk; sy gesin – met wie mens identifiseer. Sy selfvertroue en halsstarrigheid is soveel indrukwekkender as die prinses s’n omdat hy dit homself toegeëien het.

En hoewel daar ‘n grens tussen koninklike en bevolking is wat nooit oorgesteek kan word nie, is dit uiteindelik die adellikheid wat in ons elkeen se are vloei – of jy nou vigswesies help en of jy nie oordeel wanneer jy te na gekom voel nie – wat die ware orators van die hakkelaars skei.

Thursday, February 10, 2011

Hart van hoop



Daar’s ‘n “redneck”-mafia en hoewel sy “godfather” na Kersvader lyk en persoonlike higiëne en vrouebemagtiging nie hoog op sy lys is nie, maak dit hom nie minder gevaarlik nie.

Vra maar vir die arme, 17-jarige Brie Dolly (Jennifer Lawrence) van die onverbiddelike Ozarkberggebied in Missouri wat in die Oscar-benoemde Winter's Bone (foto: www.makingof.com) vergeefs by “haar mense” – dis nou skynbaar armlastige drinkebroers met ‘n voorliefde vir dwelmmiddels en vuurwapens – om hulp gaan aanklop wanneer die owerheid laat weet sy, haar swaksinnige ma en ‘n jonger broer en suster se huis kan weggeneem word. Haar pa is soek nadat hy op parool vrygelaat is weens sy dwelmvervaardiging. Dit sou nie so ‘n groot probleem gewees het as hy nie hul grond as sekuriteit gegee het nie. Brie het skaars ‘n week om die kêrel op te spoor.

Dis ‘n reis na ‘n nog groter donkerte waarop selfs Joseph Conrad trots sou gewees het (en ironies genoeg wag die antwoord ook hier ná ‘n bootvaart in ‘n rivier). Brie is van net een ding seker: Niemand neem haar gesin van haar weg nie. En dis al.

Teen die senutergende stilte en skielike, redelose geweld waarin sy haar vasloop, is ‘n mens nie opgewasse nie. In The Ghost Writer het Roman Polanski dit meesterlik reggekry om elke raampie en gesigsuitdrukking met sinspeling en afwagting te laai; hier doen Debra Granik, regisseur en medeskrywer, hom dit uitstekend na. Daar broei iets agter die oë van die mans, soos die onpeilbare Teardrop (John Hawkes), in Brie se wêreld en dit vind uiting in hul vroue se dun mond en slaafse onderdanigheid. Is dit ‘n ingebore agterdog van die lewe? Van “die man” wat daarop uit is om hulle onder sy duim te hou?

Teen dié amperse onmenslikheid staan die sirkeltjie van Brie se versorging van haar gesin in skrille kontras. Haar jonger broer en suster is dalk selfs gelukkig, wil ‘n mens dit waag dink. En selfs Brie is dalk – omdat sy daardie muur nog staande kan hou.
Die 20-jarige Lawrence, welverdiend benoem vir 'n Oscar, lewer 'n onvergeetlike vertolking as 'n tiener sans glitter, selfoon en Twitter. Met haar vertolking dra sy 'n fliek waarin al die akteurs stewige spel lewer. Haar Brie is tegelyk hardekwas en ook breekbaar; in haar wisselwerking met "haar mense", die owerheid en veral haar broer en suster kom daar 'n verskeidenheid fasette oortuigend na vore. En wanneer sy deur daardie redelose geweld gekonfronteer word, is haar skrik so eg dit gee mens hoendervel.

Granik, bekend vir die Vera Farmiga-kragtoer Down to the Bone (2004), maak van die ysige, kleurlose winterwêreld nog ‘n karakter. Maar meer as net ‘n karakter; ‘n teenwoordigheid so oorheersend en beklemmend soos die skaduwêreld waarin Brie haar vasloop. Dis ‘n teenwoordigheid wat ‘n mens reeds in flieks soos Boys Don’t Cry en Monster teengekom het; ‘n bestaan wat die menslikheid uit jou kan wurg.

Dan moet daar iets besonders gebeur – ‘n kind se onvoorwaardelike vertroue, dalk; ‘n tienermeisie wat lank reeds haar kinderskoene ontgroei het en weier om te gaan lê – wat mens na die lig terugdwing. Wat jou vingers oor oubekende snare kan laat streel en laat besef in dié wete kan daar ook berusting wees.

Thursday, February 3, 2011

Steen des puur plesier



Ek’t al lank ‘n sagte plekkie vir Emma Stone.

Van Superbad se dae af al.
Dis die lang, reguit hare en die kuif waardeur haar linkeroog vir mens loer wat dit vir my doen. En die heserige stem. En die feit dat sy slim en plat op die aarde voorkom; sonder Zooey Deschanel se effe feekserigheid of Alexis Bledell se irriterende grootoogigheid.

In haar jongste fliek, Easy A (foto: frsucrave.netdna-cdn.com), vertolk sy haar eerste hoofrol en haar vertolking is bemoedigend so tussen een of twee B’s en C’s deur.
En hoewel die fliek prettig is (die regisseur is dan die belaglik prettige Fired Up se Will Gluck), is dit ook ‘n effe skisofreniese oefening; ‘n tekortkoming wat soveel duideliker blyk omdat van John Hughes se ikoniesste 80’s-flieks (van The Breakfast Club tot Ferris Bueller’s Day Off) bygesleep word. Dis maar ‘n probleem met talle van die hedendaage prente – ‘n gebrek aan oorspronklikheid wat mens met ‘n volgehoue gevoel van onvergenoegdheid laat, want alles is so “reeds gedoen”.

Die skisofrenie slaan deur wanneer die storie, geskryf deur ene Bert V. Royal, by Lisa Kudrow se skoolberader-karakter en haar owerspeligheid gaan draai. Tot by daardie punt is dit suiwer tienerpret, maar dan kleur hy hom donker en dinge raak peervormig. Die gevoel daarvan sny te na aan iets soos The Opposite of Sex (of dalk is dit net omdat Kudrow dáárin ook te sien is) of die ewe vreemde Fierce People of Igby Goes Down. Maar dié is dan tienerkomedie, of hoe?

En daarby is die vonk tussen haar en die skool se sport-gelukbringer allermins oortuigend.

Die rolverdeling is gesaghebbend, van Kudrow, wat vir ‘n verandering nie oortuig nie, en Thomas Haden Church tot die staatmakers Stanley Tucci en Patricia Clarkson, wat elke toneel steel waarin hulle as Stone se vrygeestige (en amper te goed om waar te wees) ouers verskyn. Veral Clarkson se spel laat mens nogal aan haar stuitige karakter in Simply Irresistible dink.

Dit als maak van Easy A eerder ‘n C+ of B- as ‘n onderskeiding, maar ‘n mens, selfs ‘n jong Hollywood-ster, moet seker êrens begin.