Sunday, December 19, 2010

Een kyk is genoeg





Hoe is dit dat die grootste verhale se hart van ‘n onvernietigbare liefde klop?

Is ons nou maar uitgelewer aan die massamedia en sy totale aanslag van enkelloperskap = ongelukkigheid en jy gaan nooit vervuld wees as jy nie Die Een gevind (of ouerskap gesmaak) het nie?

Dalk.
Soos Hollywood, op sy onthoubaarste in die gedaante van Bette Davis, so dikwels verklaar: Dis maar ‘n stamperige rit. In ‘n welkome aanval van fliekironie is dié rit in dié geval die Spaanstalige Argentynse riller The Secret in Their Eyes (foto: http://www.brightestyoungthings.com/), wat vanjaar weldverdiend met die Oscar vir beste anderstalige prent bekroon is. Die ander twee was A Prophet (nie gesien nie) en Michael Haneke se gestroopte The White Ribbon (resensie elders op blog).

Daar’s maar net bepaalde tonele in flieks wat ‘n mens bybly; in die grotes is daar baie. En dié is een van hulle. Soos Barbra Streisand in Sunset Boulevard sing: Al wat haar karakter nodig het, is een kyk ...
En hoewel die manne sulke kyke kan gee - Gérard Depardieu en Ralph Fiennes is van die beste; Kevin Costner ook – is dit vroue wat loshande wen. Helen Hunt en Joan Allen mag maar en so ook Emmanuelle Béart. Juliette Binoche kán en Isabelle Huppert ook.
Dis daai kyk wat jou asem in jou keel laat vassteek en klank uitdoof. Wat jou hoendervel gee en laat wonder of jy ‘n skoon onderbroek aanhet. En of jou sokkies heel is.

Op die oog af lyk die oudregsman Benjamin Esposito (Ricardo Darin) heel, maar hy’t nog allermins vrede gemaak met ‘n moord-en-verkragtingsaak van jare gelede (hy droom en skryf die frase "ek's bevrees" neer), om nie eens van sy liefde vir sy destydse baas, Irene Hastings (die pragtige Soledad Villamil), te praat nie. Hy wil ‘n boek oor die saak skryf en by wie beter om hulp te vra as juis sy; deesdae getroud en met twee kinders?

Die aanvanklike ondersoek na die verkragting van en moord op ‘n pragtige jong vrou ontvou in terugflitste; so ook Esposito se toenemende gevoelens vir sy baas. En hoewel die fokus grotendeels op die ondersoek val, is dit daardie oomblikke tussen Darin en Villamil wat ‘n mens bybly – veral danksy Juan José Campanella, regisseur en medeskrywer, se uitstekende skikking van die gebeure. Hier lê geen los drade rond nie en Campanella sukkel genadiglik nie in tipiese Hollywood-formaat met foefies om sy storie meer trefkrag te gee nie (voorbeelde: die vreesaanjaende ondervragingstoneel; die anderwêreldsheid van die latere hysbakrit).
En, as ‘n bykomende bonus, is die humor fyn en ongedwonge soos hoofsaaklik verskaf deur Esposito se suiplap-kollega.

Van die tonele is so treffend soos enigiets wat ‘n mens al gesien het en ek gaan maar een of twee uitsonder: Esposito se aankoms by die moordtoneel; die stadiumtoneel waarin hulle die verdagte jaag, is so vreesaanjaend soos enigiets in Cloverfield; daarteenoor stel Campanella die absurditeit van Esposito se onderonsie met ‘n regter en sy inbraak by ‘n verdagte se ouerhuis (wie van ons wou nie al ‘n jack russell skop dat hy stilbly nie?).

En tog is daardie oomblikke tussen Esposito en Villamil soos die vure wat die wagters op die berge aansteek in The Return of the King. Sommer vroeg reeds verklaar hy die wese daarvan; die rede waarom die saak hom so teister: Dis die liefde wat hy in die moordslagoffer se man se oë vir dié se pragtige vrou sien wat hom aanspoor.
En so, want dit bemagtig hom mos, blaker hy dit sommer uit ook.
Maar ‘n mens vergewe die arme Esposito, want ook sy oë kan nie lieg nie. En soms, net soms, wanneer die jare wegval en jy die soveelste keer – en ook die eerste keer – deur daardie deur stap, maak niks anders ter wêreld saak as dat twee pare oë vir die eerste keer vreesloos die waarheid vertel nie.

Wednesday, December 8, 2010

Te vinnig vir lagkans


Faster laat ‘n mens met ‘n oorweldigende gevoel van verligting.

Dankie tog, Dwayne Johnson in iets wat nié deur Disney vervaardig is nie. En kan dit wees die regisseur George Tillman Jr. het sy vrotsige Men of Honor- en Notorious-mantels afgeskud?

Dié aksierit van vergelding is die antitese van vorige Johnson-skuimpies soos The Game Plan en Tooth Fairy, maar dis ook nie The Rundown nie, want Johnson, wat ‘n lieflike sin vir tydsberekening het, glimlag nie eens één keer nie. Dis ernstige sake dié, broer. Mense word vermoor en die bloed vloei mildelik. Daar’s dwelms en korrupsie en ‘n metroman-huurmoordenaar met ‘n swak selfbeeld en ‘n eksistensiële krisis.

Ai, die wonderlike wêreld van TV en flieks waarin daar in die een tot in mense se tandvulsels geloer word en in ‘n ander real-time updates flikker soos Kersliggies. Nie in Faster (foto: 4.bp.blogspot.com) nie, nee.
Hier jaag ons held vir ‘n vale en skiet die een booswig ná die ander in volkleur. En van satellietbeelde en helikopters is daar net mooi g’n teken nie. Nie deel van dié storie nie, sien? Driver, soos Johnson se karakter bekend staan, is so ontwykend soos die Coen-broers se psigopatiese huurmoordenaar in No Country for Old Men. (Die vraag is dus: Is die werklikheid meer Bourne Ultimatum en 24 of skuil hy êrens tussenin?)
Maar dis darem heerlike vermaak wanneer Johnson met daai uitsonderlik beneukte stappie van hom by ‘n vergeldingsteiken opdaag. Hy draai nie doekies om nie en behalwe vir een tranerige, charismatiese oomblik in die sand van versoening is dit woordelose en onmiddellike geregtigheid wat uitgedeel word. Moenie bodder om te smeek nie, span; Driver is nie hier om tronkstories te vertel nie.

Die probleem lê ook nie by Billy Bob Thornton se uitgewaste Cop nie, hoewel sy storie allermins oorspronklik is. In ‘n wonderlike stukkie ironie bedien hy sy vervreemde seun van bofbal-raad. Onthou nog vir Thornton as die verloorder Buttermaker in Richard Linklater se bofbalkomedie Bad News Bears? Dis klassiek, man.

Eisj, but no. Die probleem is by die belaglike karakter van Killer (die onbekende Brit Oliver Jackson-Cohen), wat ‘n lagwekkende toevoeging is. Hier’s nou ‘n rolmodel vir generasie Y met sy beheptheid van oppervlakkigheid; sindroom van aandagafleibaarheid; en smagting na erkenning vir... hmmm, presies wat nou weer?
Wie gee om? Hy’t ‘n goeie pak slae so reg uit Tillman se heel kykbare gesinsdrama Soul Food nodig. En die irriterende Maggie Grace van Taken-faam as kolskoot-nimfomaan? Asseblief. Die skrywers, terloops, is die Gayton-broers Tony (Murder by Numbers; The Salton Sea) en Joe (Bulletproof). Ek sou dalk daarop geld verwed dat Joey die Killer-deel geskryf het...

Nee wat, Faster werk om een rede: Johnson sê nie veel nie en is die vinnigste. En dis al wat saakmaak.

Thursday, November 18, 2010

Onkeerbaar getroef


Tony Scott is ‘n fliekmaker wat een ding goed doen: Hy slaag altyd daarin om jou op die punt van jou stoel te hou.


Op die punt van spanning en afwagting.
Of op die punt om op te staan en uit te loop.

Scott, broer van die meer gerekende Ridley, het my in sy hoek gekry met flieks soos The Last Boy Scout (1991), True Romance (1993; vir 20 punte: Wie is Christian Slater?) en die Alan J. Pakula-agtige Spy Game (2001). ‘n Mens moet byvoeg die draaiboek en vertonings deur sy hoofspelers was in dié gevalle eersteklas.
Maar hy’t hard probeer om sy aanhangers se goeie guns nekom te draai met flou produkte soos Days of Thunder (1990), die Keira Knightley-flop Domino (2005; Knightley as ‘n aksieheldin? Regtig?) en verlede jaar se remake van The Taking of Pelham 1 2 3. Tussendeur was daar hoogstens kykbare pogings soos Enemy of the State (1998) en Man on Fire (2004).
Eersgenoemde was prente waarin ‘n hardekoejawel-fliekganger sy tande kon slaan en selfs ‘n traan of twee wegpink wanneer die held ‘n korstondige, eksistensiële krisis beleef: Eers die sigaret aansteek of eers die skurk skiet?
Taai een.

Scott het ‘n effe beter visuele balans met Deja Vu gevind, maar sy voorliefde vir loshande die irriterendste redigeringsbenadering in Hollywood huiwer maar soos daardie gewaarborgde Protea-mislukking-in-oorwinning in ‘n mens se agterkop.

Scott span in Unstoppable (foto: shuttervoice.com), sy jongste, weer saam met die altyd betroubare Denzel Washington, sy Deja Vu-, Man on Fire- en Crimson Tide-held, in dié doller-as-kopaf-rit wat op ware gebeure gegrond is. Dalk genadiglik, want ons man Tony en gelade retoriek is nie juis die gemaklikste bedmaats nie.
Die skynbaar onvermydelike persoonlike krisisse in die hoofkarakters se lewe, burokratiese getjommel en air punches (Louis Gossett jr. kan daai nonsens kortknip, hoewel ek nie oor die Hooters-hoek kla nie) is alles daar, maar Scott hou die leisels deurgaans stewig vas en die intrige raak darem nie te Armageddon nie.

Hierdie keer werk die redigering van skielike en oorverdowende trein-skote heel goed en dit dra wrintiewaar selfs tot die spanning by. Daar gebeur eintlik bitter min, maar Scott slaag daarin om die onderskeie storielyne – van die wisselwerking tussen die onderskeie karakters tot die TV-dekking – so af te wissel dat die jaagtog ‘n mens behoorlik uitasem laat.
Daarby hou ‘n mens nie net van Washington se karakter nie, maar ook van die wonderlike Rosario Dawson se geen-nonsens-beheerkamerbestuurder.
Scott se benadering is eintlik so kykbaar ‘n mens hoop dit voorspel goeie dinge vir sy volgende projekte.


Dalk kan hy selfs weer vir Brad Pitt inspan.
Of Bruce Willis.

Tuesday, October 12, 2010

"I did it my way"


Oliver Stone doen Nora Ephron.
Ek verwys na die soort fliek; nie die intrapersoonlike verkenning van mekaar se holtes nie. Hoewel verkenning nogal 'n hooftema in Wall Street: Money Never Sleeps (wie't die lagwekkende titel uitgedink?; foto: obsessedwithfilm.com) is.
Die altyd likeable Shia LaBeouf en die skynbaar onvermydelik onskuldige Carey Mulligan se potensiële diepte as akteurs word verken; so ook Michael Douglas se terugkeer-waarde in die gedaante van Gordon Gekko; Stone se volgehoue onvermoë om as byspeler te beïndruk (Hitchcock was soveel beter in North by Northwest); en, les bes, die gierigheid onderliggend aan die ineenstorting van die Amerikaanse ekonomie.
Tsk tsk, geld is die wortel van alle kwaad en so aan. Dit weet ons. Maar Stone gee dit so 'n tipiese daytime-inspuiting en slaag daarin om selfs van Frank Langella 'n simpatie wekkende miljardêr te maak.
Daar's 'n rede waarom 'n mens na sekere vermaak as "ontsnap"-goed verwys, want om 'n doeltreffende ontvanger daarvan te kan wees, vereis die afskaffing van aansprake op geloofwaardigheid. Stone verbeeld dit treffend soetsappig in die slottonele en bevestig daarmee dat hy eintlik maar 'n sentimentele seun is. Hy's dalk net lank in denial gewees. Of hy's agterstallig met sy huispaaiemente.
Dié vervolgfliek is hip, man. Oumense, vroumense en kinders kan ook daarna gaan kyk. Daar's verdeelde skerms en byderwetse kameraskote en liedjies so reg van die Grey's Anatomy-klankbaan; die manne jaag met motorfietse om te wys hulle is geld-slim én adrenalienvrate; die woonstelle is funky; die held en heldin gepas ek-gaan-die-wêreld-muisklik-vir-muisklik verander; die skurk gepas gewetenloos; en Douglas ... wel, is maar 'n vae skadu van die Gekko van ouds. Laat jou meer lus kry om weer na Wonder Boys te kyk.
Dis 'n heel kykbare fliek (op 'n Saterdag 22:45-manier), maar in tipiese Stone-styl is daar nie veel subtiliteit of subteks nie (veral ironies in die lig van die Hitchcock-verwysing). Dis oudergewoonte maar politiekery en storm en drang en alles in die oortreffende trap - van die karakters se emosies tot die arme Josh Brolin se aftakeling. Nee, Oliver, hy hoef nie noodwendig die skildery stukkend te slaan nie; dis so 80's. Jy's 'n Oscar-bekroonde fliekmaker; kry 'n nuwe manier om dit te sê.
Maar dis pret soos The Devil Wears Prada en Confessions of a Shopaholic pret is; jy kan regtig die tekstuur van jou springmielies geniet.

Friday, September 24, 2010

Jy's net so goed soos jou plan B



In die 80's was The A-Team enige tyd so cool soos MacGyver.
Dalk selfs cooler, want hoewel dié oudsoldate niemand raak geskiet het nie, het hulle darem hul vuurwapens op 'n dreigende manier rondgeswaai. En die girls wat vir Face geval het, was in die algemeen meer yummy as die Voortrekker-koekies wat oor die Mac geswymel het.

Kyk 'n mens nou terug, herinner Richard Dean Anderson se karakter 'n mens eintlik meer aan die metroman-avonturiers van die Discovery-kanaal as 'n hardebaard-avonturier wat 'n diktator se ganse militêre bewind met 'n motorbattery en 'n turksvy kan stuit. En hy sal nooit, ooit lelik praat van sy ma, sy hond of sy kunssinnige meisie nie.


So, absoluut betroubaar, maar terselfdertyd voorspelbaar en vervééélig.

En daar's net geen verskoning vir daai bullshit nie. Gee my enige dag 'n karakter met issues (jip, pretty much die hele Marvel-heelal en Batman) en ek wys jou 'n wêreld waarin wit en swart aan grys 'n bestaansreg gee. Dis die mense in die krake wat van die wêreld 'n beter plek maak; nie die 25-jarige maagde op hul morele skoppelmaai nie. Kyk na Hal Hartley se Henry Fool en verlustig jou aan 'n properse anti-held. Soos hy tereg opmerk: "An honest man is always on the run." En moenie dié eerlikheid met die nie-vertel van leuens verwar nie. Dis soos mense wat deure uit vrees sluit, maar nie die sleutel weggooi nie.
Wat ek éintlik wil sê, is die fliekweergawe van The A-Team (foto: babbleon5.wordpress.com) is soos een van daai maagde: Propvol belofte, maar uiteindelik net te veel moeite. En sodra jy oopmond soen moet jy waarskynlik ouers vra. En daarna mag jy nooit weer die lig aanskakel nie. Of hulle hou deurgaans hul oë toe.


En daar's net geen verskoning vir daai bullshit nie.

Ja, Bradley Cooper as Face en ons eie Sharlto Copley as Murdock werk absoluut (om nie eens van Patrick Wilson te praat nie!), maar dis omtrent al. Liam Neeson is alles wat hy nié in Taken was nie; Jessica Biel probeer so hard mean lyk dit raak lagwekkend; en wie ook die dude is wat veronderstel is om B.A. te wees, lyk of hy enige oomblik in trane kan uitbars. Ek bedoel, eerlikwaar, die ander oudsoldaat wat die bad guy is, boesem meer vrees by 'n mens in as enige van die A-span se lede. En die belaglike einde is ewe flou en voorspelbaar.


Nou hoe maak 'n mens nog sulke foute ná al dié jare?

Nee wat, as dit die A-span is wat my uit my verknorsing moet red, is dit maar beter dat hy so moeilik is om in die hande te kry soos die gruisstem-man aan die einde sê. Dan poke ek eerder vir Richard Dean Anderson. Ek wed jou hy's op Facebook.

Tuesday, September 14, 2010

Net te laf, engel


Wat's die bohaai om Salt?

Want ek verstaan dit nie.
Dis 'n standaard-nuwe-millennium-aksiefliek, maar met Angelina Jolie in die hoofrol.

Ek ontken nie vir 'n oomblik Jolie is nié omgewe van 'n spesiale aura nie, maar sy's hier allermins die Jolie waaraan 'n mens gewoond geraak het. In Tomb Raider jaag sy behoorlik jou bloeddruk op; in A Mighty Heart en Changeling gryp sy jou aan die hart. Maar in Salt (foto: blacknailedreviews.blogspot.com) val haar vertolking van 'n tawwie tienie met 'n sagte hart by die krake in, want sy's nie warm of koud nie. En ons weet wat gebeur met diégene ...

Ek kan sommer sien hoe dié karakter verder "ontwikkel" gaan word: Nog twee vervolgflieks a la Jason Bourne waarin die eendimensionele Evelyn Salt bietjie lyf gegee word (en Jolie het dit nodig, al is dit net op fisieke vlak, want sy's net te maar; waar's die lyflike vrou van voorheen?). 'n Spook uit die geskiedenis hier; 'n nuwe liefde daar en siedaar! 'n Kitsproduk van 'n vae gedagte.

Die bemarkingsveldtog om Salt berus skynbaar grootliks op dié gedagte van Bourne-aksie, maar met 'n hot chick in die hoofrol. Gaap! Jy moet heelwat beter doen as in Salt, Angie. Enigeen van Alien se Ripley en Resident Evil se Alice tot Michelle Yeoh en die gemiddelde 24-vrouekarakter sal Salt se gat skop. En in Ultraviolet het Milla Jovovich net soveel beter met lang, swart hare gelyk.

Geen grense word in Salt verskuif nie ­- behalwe dié van geloofwaardigheid - en dis gou duidelik dié fliek dien net een doel: Om 'n konsessie bekend te stel. Salt is maar 'n vroueweergawe van Mission: Impossible se Ethan Hunt. Darem kan 'n tweede Salt-fliek net beter wees as M:I II en M:I III sáám, so dis iets om na uit te sien (op 'n masochistiese manier).

Ek het nog altyd ontvlugting in die fliekteater gevind. Soos Joan Allen se karakter in The Contender opmerk wanneer sy in die Amerikaanse kongresgebou staan: Dié is my tempel. Hier aanbid ek. Maar as Salt die soort "intelligente aksiefliek" is waarmee ek tevrede moet wees, is my geloof aan't wankel. Dis maar net nog van dieselfde ou Hollywood-wors.

En van die eerste proesel was dit maar af.

Sunday, September 5, 2010

Roofdiere sonder byt


Adrien Brody is 'n cool dude.

Hy maak soms effe vreemde rolkeuses (soos ons almal maar), maar hy's een van dié kunstenaars wat sy eweknieë se respek afdwing én 'n kultusnavolging het.

En hy's sommer net acid, china. Soos enigiemand sal getuig wat na die riller Oxygen (1999) gekyk het. En ja, lank voordat sy een van die gekwelde mediese werkers in ER was, was Maura Tierney nog meer gekwel as 'n speurder gewikkel in 'n stryd om oorlewing met Brody se psigopatiese karakter in dié laebegroting-riller. Wonderlike fliek, terloops.

En so reg uit Oxygen stap Brody tien jaar later by Predators in, lyk dit.

Hy sê min; het weer daardie effe geamuseerde, oukei-ko's-doen-dit-en-kry-klaar-uitdrukking op sy gesig; en spog boonop met 'n gekamoefleerde BFG en 'n nog amper groter mes. O ja, en vir so 2 min. kan jy die resultaat van kreatien, proteïenskommels en swaar gewigte bewonder (foto: justjared.buzznet.com). Maar dit, en 'n wonderlike openingstoneel, is maar dit wat betref Predators.

Ongelukkig, want ek't nogal uitgesien na dié een. Dis 'n cool konsessie; die stamboom is daar; Brody is kickass; Robert Rodriguez is die vervaardiger; en Nimrod Antal, wat die kykbare Vacancy (2007) gemaak het, die regisseur. Maar Predators, wat skynbaar veronderstel is om op die eerste een met Arnie te volg, is vervééélig. En dis so blêrrie voorspelbaar jy wil huil.
Hier's 'n goeie idee: As jy agterkom jou fliek se vermaakwaarde neig na dié van 'n idiotiese staker met 'n vuvuzela en vinnige voete, en jy sit met die oulike Alice Braga in een van die hoofrolle, laat een van die Predators dan haar hemp afruk. Of so iets. Enigiets, man, enigiets. Net solank dit my actually lus maak om na die skerm te kyk. Nie eens die betroubare Laurence Fishburne, wat sy bes probeer om 'n Dennis Hopper op ons ass te trek, kan sake beredder nie.

Dankie tog ek't in Eastgate na Predators gaan kyk, want die beeld en klank was so swak en my mede-teatergangers so vermaaklik ek't amper kaartjies na Joburg Day begin uitdeel.
As die groepie te-cool-vir-my-wit-wessie-hoërskoolseuntjies links van die paadjie nie kliphard kommentaar lewer nie, is dit die gesinnetjie van vyf wat hom so driekwart deur in die ry agter ons kom tuismaak en terstond begin selfone en selfoonfunksies vergelyk. Ek kla nie, hoor. Want dis die seuns se reaksie wat my opnuut laat besef het op watter mark dié soort flieks deesdae gemik is.

Ek en my destydse swaer - 20 jaar my senior - het nog saam na John McTiernan se Predator (1987) gekyk. En dit ewe veel geniet. Ons het gedink dis friggin' awesome. Maar Predators, soos die meeste hoofstroomflieks deesdae, is op snotneuse met ADD of wanhopige, middeljarige vroue gemik. Dis 'n verbeeldinglose fliek wat opnuut, soos soveel flieks deesdae, die indruk skep dis om 'n vae gedagte en een of twee goeie tonele gebou.

Dis miskien cool vir generasie Y, maar nie vir iemand wat dit deur die dag kan maak sonder om Facebook of Twitter te acces nie.